• No results found

Ekonomiese Teorie as Onweerlegbare Waarheid

TEMAS EN KERN-DEBATTE VAN DIE MODERNE EKONOMIE

4.10 Ekonomiese Teorie as Onweerlegbare Waarheid

Meeste ekonome glo dat die empiriese bewyse van die voordele wat die vryemark en internasionale handel lewer, onweerlegbaar is (sien Friedman, 1953; Von Hayek 1952; Venter, 1996a en Parsons, 2009). Die beginsels en teorie van vrye mededinging word dan byna soos ‟n ideologie of ‟n heilige geloof, en diegene wat waag om dit te bevraagteken, word as aartsketters uitgemaak (Thurow, 1983:xix). Venter (2002a:289) haal Latouche aan wat beweer “The economy is the religion of our time”. Dit skep by persone ‟n gevoel van etiese uitmuntendheid, omdat die Kapitalistiese stelsel se hoogstaande vermoë om welvaart, ontwikkeling en verligting van armoede en swaarkry te weeg te bring, alle negatiewe punte van kritiek oorskadu en uiteindelik alle swakpunte self laat verdwyn (sien Friedman, 1953). Omdat die Kapitalistiese stelsel die vermoë het om byvoorbeeld armoede te verlig en die lewensgehalte van mense te

114

verbeter, word die werking van die mark as meganisme gesien wat markdeelnemers lei om die etiese te doen en eties op te tree.

Die aannames van die Verligting (sien par 2.6 hierbo) waarvolgens indiwidue almal ewe volwasse is, ewe rasioneel optree en ook gelyke mag besit, is egter nie waar nie. Deur die eeue was daar ‟n kultuurverskuiwing aan die werk. Alreeds gedurende die Middeleeue het die relatiewe vrede van die Heilige Romeinse Ryk die opkoms van ‟n stedelike gemeenskap moontlik gemaak. Saam met hierdie stede het ‟n groeiende handelsklas tot stand gekom, te midde van die ontdekkings van verre wêrelde, en dit het die stedelike kultuur en industrialisasie gaandeweg versterk. Die ontwikkeling van hierdie stedelike kultuur het die moontlikheid van tegnies-instrumenteel verworwe kennis verhoog. Die laat-feodale landelike gemeenskappe is agtergelaat, terwyl die adel en handelsklas na die stede verhuis het. Die idee van die mark en die voordele wat dit bied, kom dus uit die dae van die keiserryk en was die gevolg van die konsentrasie van mense in stede. Die mark is nie noodwendig net ‟n fisiese plek nie, maar wel die situasie of proses waar markdeelnemers mekaar ontmoet en vraag- en aanbodfaktore meewerk. Die idee dat almal soveel voordeel uit die markproses kan geniet, word egter deur sommiges bevraagteken wanneer markdeelnemers nie gelyke bedingingsmag in die mark besit nie en sommige ook in staat is om ander uit te buit as gevolg van hul rykdom en mag in die markplek.

Die mark en handel het nog altyd bestaan en ekonomiese vryheid is ‟n belangrike vryheid. Vryheid is ‟n belangrike element wat die ekonomiese optrede van produsente en verbruikers bepaal, maar vryheid impliseer ook verantwoordelike keuses en dit word dikwels voorstanders van die markmeganisme, wat nie wil toegee dat daar magsfaktore aan die werk is nie, ingeperk (sien Bastiat se siening in afd. 2.6 hierbo). Dit word spruit uit ‟n mark meganiese siening van die mark (sien bv. afd. 4.6 hierbo en Venter, 2002a:289). Daarby wil diegene nie aanvaar dat daar samelewingsinstellings bestaan waarvan die eerste taak nie wins is nie, maar sorg, opvoeding en so meer. Die tendens is dat die hele lewe in ekonomiese terme gesien word en ekonomisme die oorheersende beginsel geword het (Venter, 2002a:289). Hierdie probleem spruit veral

115

uit die materialisme en nie alleen uit die ekonomiese nie. Diegene wat vas aan die markfundamentalisme glo, is as akademici dikwels ook onverdraagsaam teenoor teoretiese ondersoeke wat ‟n ander koers gaan.

Venter (2007:133) wys daarop dat “Adam Smith‟s „market behaviour‟ has become a metaphor for all human interaction”. Daar word deesdae aanvaar dat ekonomiese wette universeel is. Net soos die wette van fisika, word daar veronderstel dat die wette van ekonomie oral en ten alle tye van toepassing is. Dit is dan juis hierdie alles- oorheersende toepassing van ekonomiese beginsels wat ekonomisme die geloof van die tyd maak. Selfs skole, universiteite en kerkrade word as besigheidseenhede bedryf.

Daar is egter ook diegene wat die moontlike negatiewe kant van vrye mededinging, die vryemark, kapitalisme en ekonomisme tot so mate oordryf dat dit self na ‟n ideologie begin lyk (sien byvoorbeeld Simons, 2007 & Venter, 2009). Kriminele markdeelnemers wat die stelsel misbruik en hul medemens uitbuit, word as voordele gebruik om aan te toon watter negatiewe gevolge vrye mededinging kan lei. Indien iemand die stelsel misbruik of ander uitbuit, in plaas daarvan om as rentmeesters van die gemeenskap op te tree, is dit egter nie meer ‟n vryemarkstelsel nie. Dit is dan krimineel. Dit is die plig van die owerheid om geregsdienaars, soos byvoorbeeld korporatiewe forensiese deskundiges en die Mededingingskommissie daar te stel om sulke euwels uit te wis, die speelveld gelyk te hou en vryheid in die ekonomie te verseker.

Baie van die misdrywe en probleme wat in die moderne ekonomie en sakewêreld aangetref word en waaroor die probleemstelling van hierdie studie gaan, spruit voort uit die Westerse wêreld se klem op indiwidualisme. Dit lei in meeste gevalle tot selfsug en pragmatisme, waar die doel meestal die middele heilig. Die indiwiduele ekonomiese agent staan sentraal in die ekonomie en sodanige agente tree gewoonlik in eie-belang op, om hulself te bevoordeel. Die volgende gedeelte ondersoek dan indiwidualisme as hoeksteen van die moderne ekonomie.

116

4.11 Indiwidualisme

Die indiwidu is die belangrikste ekonomiese agent. Daar is in afdeling 2.5 hierbo aangetoon dat Locke egoïsme en indiwidualiteit as waarborg van universele harmonie beskou. Hoe vryer indiwidue kan optree, hoe groter is die uiteindelike sosiale voordeel (Locke, 1689:187). Daar is ook gewys dat Descartes indiwiduele verantwoordelikheid belangrik geag het. Vandag is die begrip van outentisiteit28 ‟n hoeksteen van die samelewing. Vir Lachmann, ‟n Oostenrykse ekonoom, is die subjektiwiteit van verwagtings en voorkeure van besondere belang. Die ekonomiese aanname is dat mense uit eiebelang optree en indiwidualiteit is ook deel van die Westerse kultuur (sien par. 2.5 hierbo).

Daar is wel onderskeid te tref tussen die begrippe “indiwidualiteit” en “indiwidualisme”. ‟n “isme” dui op oordrywing; in die geval van indiwidualisme is dit die oordrywing van die belang van die indiwidu. Die Christen aanvaar “indiwidualiteit” en ook indiwiduele verantwoordelikheid in-en-tot die gemeenskapsvorme waarin die ingeweef is, soos byvoorbeeld die gesin, staat en werksomgewing. In die moderne gees van outentisiteit en die moderne kompeterende ekonomie val die klem egter sodanig op die indiwidu dat indiwidualisme kenmerkend van die moderne ekonomiese stelsel geword het.

Locke (1689:186) wys egter daarop dat selfs God nie iets kan doen indien dit nie die beste vir almal is nie. Die hoogste geluk en welvaart is tog immers ‟n liefdevolle vader se begeerte vir sy kinders. ‟n Fokus op indiwidualisme lei noodwendig tot indiwiduele privaatbesit en dié word in die volgende paragrawe beskou.

28 Reeds gedurende 1935 wys Knight (1935:145) daarop dat die moderne samelewing dit as ‟n reg en selfs ‟n plig beskou dat die

117