• No results found

Die moderne filosofie begin met die aanbreek van die Renaissance. In dié tyd word die grondslae van die moderne natuurwetenskappe gelê en vind die hervorming plaas. Die Rasionalisme beleef ‟n opbloei onder denkers soos Galilei, Francis Bacon, Descartes, Newton en Leibniz, in die sogenaamde “Age of Reason” in die sewentiende eeu. Hulle poog veral om die rede en metodologie van wiskunde op alle kennis toe te pas (Kline, 1986).

Die Renaissance is dié era in die intellektuele geskiedenis waartydens die ondersoekende gees weer by persone ontwaak het. Hierdie ondersoekende gees begin in die veertiende eeu en beteken “herlewing”, omdat die ou geskrifte van die antieke tye weer ondersoek is, maar is ook modern omdat persone weer vir hulself begin dink het (Mautner, 2005:530). Daar was ‟n groeiende belangstelling na, en suksesse in die natuurwetenskappe, intellektuele ondersoek en stimulasie van denke.

Tydens die Renaissance word die natuur en die planete weer ondersoek. Copernicus beweer dat die aarde saam met die planete om die son wentel en daarmee word die unieke posisie van die mens ook verwerp (De Santillana, 1956:157). Tycho Brahe het gedetailleerde rekords van die beweging van die sterre gehou en so ook Giordano Bruno. Johannes Kepler het later Copernicus se heliosentriese teorie bewys en talle natuurwette oor die beweging van die planete ontdek, soos byvoorbeeld dat die planete in elliptiese bane beweeg (De Santillana, 1956:157).

Bruno het ook van die bestaande tradisie afgewyk deur te beweer dat elke indiwidu se visie van die wêreld van sy posisie daarin afhang (De Santillana, 1956:250). Bruno het ook beweer dat die heelal eindeloos en ruimte oneindig is. Bruno het geglo dat absolute waarheid nie haalbaar is nie, en dat kennis oneindigend is.

Kreatiwiteit en innovasie is egter steeds aan die indiwidu oorgelaat, en steeds binne perke, sodat dit nooit deel van die Westerse onderwysstelsel geword het nie. Van die

20

Middeleeuse denke is die beginsels van argument, waarheid en logika oorgeërf. Dit het veral besondere vrugte in die regte, teologie en natuurwetenskappe opgelewer. Selfs in die een-en-twintigste eeu word sulke denke as volmaak en volledig beskou, en is daar geen behoefte om te verander nie. Die waarde van innovasie en kreatiwiteit verdien wel meer aandag, maar dit was steeds gedurende die Renaissance beperk (De Bono, 2009:5).

Die grondslae van die moderne wetenskaplike metode lê by die Britse regsgeleerde en staatsman, Sir Francis Bacon. In die soeke na die waarheid is Bacon ‟n voorstaander van die induktiewe metode waar daar vanaf bepaalde feite veralgemeen word. Die wêreld moes homself van ou vooroordele en ongestaafde feite bevry (Henry, 2002:42). Sir Francis Bacon was ook ‟n voorstander van eksperimente en het hom daarvoor beywer dat die wetenskap ‟n instrument ter verbetering van die lot van die mensdom moet wees. Bacon was een van die eerste denkers wat die konsep van vooruitgang benadruk het en geglo het dat die mensdom deur middel van die wetenskap sy omgewing uiteindelik sal beheers (Modell, 1974:111).

Bacon postuleer dat “waarheid” en “nut” sinoniem is. Sir Francis Bacon se beroemde slagspreuk is “Kennis is Mag” (Stumpf & Fieser, 2007:190). Indien kennis mag is, beteken dit dat dit bruikbaar moet kan wees en daarom geld die utiliteitsbeginsel ook as eerste kriterium vir kennis en die wetenskap (Henry, 2002:42). Vir Bacon moet kennis dus bruikbaar wees.

Een van die bekendste wetenskaplikes van die Renaissance is Galileo Galilei. Galilei het verklaar dat die werking van alle wette in die natuur wiskundig beskryf kan word (Frost, 1962:254). Galilei het byvoorbeeld die traagheidwette, waarop Newton later voortgebou het, geformuleer (Modell, 1974:113). Galilei het veral van die tradisionele afgewyk deur self eksperimente te doen en het so bepaal wat die waarheid is (De Santillana, 1956:227). Galilei is veral beroemd vir sy ontdekking van Jupiter se vier mane, die rowwe oppervlakte van die maan en Saturnus se ringe, wat deur middel van ‟n teleskoop ontdek is, wat Galilei self gemaak het, ontdek het. Hierdie denker was

21

egter gedwing om sy steun van die Copernicus-teorie terug te trek, of tereggestel te word. Vir sy werke en opvattings was Galilei egter die res van sy lewe onder huisarres.

‟n Belangrike idee tydens die Renaissance was die terugkeer na die klassieke werke. Dit het idees wat die skolastiek reeds vergeet het weer uitgediep, wat weer aanleiding tot nuwe moderne denke gegee het. Een van die belangrikste denkers van die Renaissance en baanbreker akademikus van sy tyd was Desidarius Erasmus. Erasmus het die hervormingsgedagte gesteun maar nooit direk betrokke geraak nie. Hierdie denker was ‟n sterk voorstaander van die rasionalisme (Venter, 1968:64). Erasmus het die Middeleeuse betekenis van rasionalisme verander tot die moderne konnotasie (Stumpf & Fieser, 2007:198). In stede daarvan om rasionalisme in diens van die geloof te laat, het Erasmus die rede toegelaat om hom te lei in die ontleding van die tradisionele teologiese strukture wat die kerkvaders daargestel het. Hierdeur het Erasmus talle inkonsekwensies ontdek en ook die mensdom se plek in die skeppingsorde beter begryp. Erasmus het hom los gemaak van vooroordele en hom deur die suiwer rede laat lei (De Santillana, 1956:27).

Die moderne vryheid van denke wat die Renaissance ingelui het, lei daartoe dat die sewentiende eeu as die Eeu van die Rede bekend geword het en daaraan word in die volgende afdeling aandag geskenk.