• No results found

Die Natuurwetenskap van Ekonomie

TEMAS EN KERN-DEBATTE VAN DIE MODERNE EKONOMIE

4.6 Die Natuurwetenskap van Ekonomie

Aan die begin van hierdie studie is gewys op die teenstrydighede in die ekonomie tussen die burgerlike moraal en die ekonomiese praktyke waarop die burgerlike moraal veronderstel was om gebou te word. Hierbo is reeds by herhaling verwys na die verenging van die wetenskap tot natuurwetenskap in die moderne tyd, asook die verenging van die “natuur”-begrip tot die nie-rasionele aspekte van die mensdom. In hierdie afdeling word nou besondere aandag geskenk aan die wetenskapsfilosofie van die teoretiese Ekonomie. Ekonome probeer meesal om Ekonomiese wetenskappe soortgelyk aan die natuurwetenskappe, wat natuurwette onthul, te bestudeer. (daar was wel uitsonderinge, soos die Oostenrykse Skool van die Nobelpryswenner Von Hayek, sien Kleynhans (1993)). Om dit te kon vermag, moes die normatiewe karakter van die ekonomiese aspek ignoreer word, en indiwidue gereduseer word tot stereotipes wat in bepaalde situasies voorspelbaar reageer (sien par. 3.5 oor “Homo Economicus” hierbo). Dit bots wel met die vryheid en verantwoordelikheid wat dieselfde ekonome voorstaan. Friedman het byvoorbeeld sover gegaan as om te stel dat die owerheid nie in die ekonomie behoort in te meng nie, want dit is die mark wat die samelewing demokraties en vry maak (Friedman, 1953:63). Terselfdertyd het Friedman en sy medewerkers dit benadruk dat ekonomiese wette net soos fisiese wette werk (Mair & Miller, 1992:127).

97

Die diskrepansies wat soms in die ekonomiese praktyk sigbaar is, is veral weens die konflik tussen die sogenaamde wetmatige gang van die ekonomiese prosesse, wat deduktief berekenbaar is. In afdeling 2.7 is daarop gewys dat Quesnay en Adam Smith die ekonomie as ‟n natuurlike verskynsel beskou het, terwyl Wittgenstein weer reken dat dit nie die geval is nie. Daar bestaan egter reëlmatigheid in menslike optredes, wat voorspellings en afleidings moontlik maak. Thomas Hodgskin, ‟n volgeling van Jeremy Bentham, wys daarop dat die ekonomiese mikrokosmos net soos die fisiese makrokosmos deur die beginsel van spontaniteit beheer word en dat die studierigting wat dit bestudeer noodwendig die karakter van die natuurwetenskappe moet navolg (Stark, 1943:52). Hoe die verdeling van arbeid kan lei tot die samewerking van verskillende klasse van arbeiders ten einde gemeenskaplike resultaat te lewer, waarvan die produksiekrag van die geheel buite verhouding verhoog kan word, is nie die gevolg van wysheid nie, maar die gevolg van die wyse waarop die natuur werk, en behoort daarom as wetenskap bestudeer te word (Robbins, 1935:127 & Stark, 1943:52). Die welvaart van die mensdom is van die werking van hierdie natuurwette afhanklik. Hodgskin beweer daarom ook dat die politieke ekonomie nie ‟n politieke wetenskap is nie, maar ‟n natuurwetenskap. Dit berus nie bloot op spekulasie nie, maar word deur natuurwette beheer. Indien dit die geval is, is morele waardes en etiek egter irrelevant, want dan het die indiwidu nie enige beheer daaroor nie. Dit is egter nie in ‟n transendentale wêreldbeeld geanker nie, maar in die positiwisme wat die natuurwetenskap as hoogste maatstaf beskou.

Dit is ‟n interessante standpunt indien daar in gedagte gehou word dat Thomas Hodgskin, te oordeel na sommige van sy werke, eintlik ‟n utopis was. Daar bestaan ‟n verband tussen utopiste en intellektuele pretensie. Alle utopieë vanaf Plato tot by B.F. Skinner was intellektuele ontwerpe waarin voorgegee is dat die intellektuele die struktuur van die samelewing so goed verstaan, dat dit binne hul vermoëns is om ‟n utopie te ontwerp waarin almal gelukkig sal wees. In sy “Counter Revolution of Science” sien Von Hayek (1952) dit raak, maar het gereken dat dit slegs Positiviste is wat utopies dink. Jean-Jacques Rousseau was byvoorbeeld nie ‟n Sciëntis nie, maar het wel ook utopies gedink (sien byvoorbeeld Venter, 1996a:239 & 1996b:43).

98

In sy werk “Nature, Law, Humanity – The Rise of Positivism” toon Venter (2009 & 2002b.) aan dat die werklikheid gaandeweg deur die moderne denkers vernaturaliseer is. Veral vanaf Quesnay, oor Turgot na Adam Smith en Kant tot by Comte, het dit stap- vir-stap gebeur. Kant het basies beweer dat die “geskiedenis” “natuurgebeure” is wat natuurwette volg. Die Ekonomie is ‟n geestes- of mense-wetenskap, maar dit word hoofsaaklik soos ‟n natuurwetenskap gepraktiseer (Venter, 2002a:291), met ‟n ideaal van objektiwiteit wat nie moontlik is nie omdat die mens deel daarvan is.

Hier kom Dooyeweerd (1948:41) se onderskeiding tussen “natuurwette” en “norme” te pas. Die ekonomiese modaliteite hoort by die normatiewe modaliteite – sy wet is ‟n “norm” en nie ‟n “natuurwet” nie. Norme kan oortree word, terwyl dit onmoontlik is in die geval van natuurwette. Norme kan in regsreëls, kodes en dies meer gepositiveer word. Natuurwette kan egter slegs gebruik word soos dit in die natuur aangetref en geken word.

Vir Hodgskin is die wetenskap nie net die bron van kennis nie, maar ook ‟n program vir aksie, want volgens hom lewer wetenskaplike analise ook etiese beginsels van wat behoorlik is op (Stark, 1943: 60). Die dryfveer agter materiële vooruitgang is nie in wese net die akkumulasie van kapitaal nie, maar die bevordering van kennis (Stark, 1943: 57). ‟n Ondersoek na die faktor wat die produksie van welvaart reguleer, is ‟n studie na die wette wat nasionale vooruitgang en verval bestudeer. Die wette bepaal ook die produktiewe mag, oorvloed en armoede van indiwidue. Dit bepaal die intellektuele taak van ekonome, asook die sistematiese reikwydte en metodologiese werkswyse van wetenskaplike Ekonomie. Hodgskin wys daarop dat wetenskaplike noukeurigheid en stiptheid, met die praktiese omstandighede gekombineer word in die studie van Ekonomie (Stark, 1943:53). Al die natuurlike omstandighede wat produksie en verspreiding ten alle tye en plekke bepaal, moet nagespeur word, en getoets word aan sosiale omstandighede. Dan word ekonomiese analise die vaste fondament van sosiale hervorming en verhoging van welvaart. Alle ekonomiese doktrine moet dan gegrondves wees in hierdie ekonomiese wetenskap, wat veranker is in die fundamentele waarheid –

99

onwrikbaar en onveranderlik. Die beginsels van die wetenskap van die produksie van welvaart is uitdrukkings van die natuur-feite en altyd geldend, selfs in ‟n dinamiese stelsel soos die ekonomie.

Waar empiristiese waarneming op sig self tekort skiet om die onderliggende verskynsels in die ekonomiese wetenskap bloot te lê, word wiskunde met vrug in die ontginning van nuwe kennis aangewend. Volgens Stark (1943:209) is die moderne ekonomie, wat op die model van die wiskunde en fisika gevorm is, die vervolmaking van die menslike rede. Daar is egter moderne filosowe wat hiermee sal verskil. Die volgende paragrawe ondersoek daarom die oordrewe gebruik van wiskunde en ekonometrie in die moderne ekonomie, beleggingsbestuur en die sakewêreld.