• No results found

Die Aanname van Volmaakte Inligting

DIE BASIESE EKONOMIESE BEGINSELS

3.3 Die Basiese Ekonomiese Aannames

3.3.1 Die Aanname van Volmaakte Inligting

Die klassieke ekonomie berus op talle “volmaaktheidsaannames”. Volgens die Klassieke Ekonomie werk die mark volmaak, dit is altyd in ewewig, alle faktore van produksie, soos kapitaalgoedere en arbeid, word optimaal effektief aangewend en benut. Die aannames van volmaakte inligting impliseer ook dat almal werk het, daar in almal se behoeftes voorsien word en almal se welvaart so hoog as moontlik is en aanhoudend besig is om te styg. Die aanname van volmaakte kennis en inligting is een van die belangrikste hoekstene waarop die moderne ekonomie gebou is.

Die ekonomiese aanname is dat die wêreld een van volmaakte sekerheid is. Volmaakte kennis van die verlede, huidige omstandighede en toekomstige ontwikkeling word aanvaar in die omgewing van die onderneming, die mark en die ekonomie as geheel. Almal het kennis van alle pryse en wat elke verbruiker bereid is om te betaal. Ondernemings weet presies hoe verbruikers se vraag- en kostefunksies lyk. Daar word

60

uit foute van die verlede geleer en gebeure van gister word in vandag se skattings van vraag en koste geïnkorporeer. Teoretiese kostekrommes is U-vormig, wat impliseer dat daar ‟n optimale uitsetvlak van produksie en verkope bestaan (Koutsoyiannis, 1991:257).

Die ekonomiese beginsel wat Mankiw en Taylor hierbo bewoord as “Markte is gewoonlik ‟n goeie manier om ekonomiese aktiwiteit te organiseer”, veronderstel dat markte volmaak funksioneer omdat daar volmaakte inligting bestaan. Die klassieke ekonomie aanvaar ook dat welvaart die hoogste is wanneer produksiefaktore vrylik kan beweeg en volmaak mobiel is (Armstrong & Taylor, 1993:60). Volmaakte inligting impliseer dat ekonomiese agente alwetend is. Dat alle ekonomiese agente altyd volmaakte inligting besit, is natuurlik nie moontlik nie en is irrasioneel. Dit impliseer ook volmaakte mobiliteit van ekonomiese agente. Die idee van volmaakte inligting herinner aan Plato se volmaakte ideëwêreld (Sien par. 2.2 hierbo in hoofstuk 2).

Hierteen mag aangevoer word dat indien die ekonomiese agent, of dit nou verbruiker, handelaar, of produsent is, nie oral gelyktydig kan wees nie, en ook nie ʼn Archimedespunt het wat hom bokant ruimte en tyd kan verhef nie, dan kan geen een van die ander volmaaktheidsaannames geld nie. Die Klassieke Ekonomie neem aan dat vooruitgang noodwendig is. Dit impliseer dat die eindpunt van die geskiedenis reeds gesien kan word. In werklikheid is dit alombekend dat dinge nie volmaak is nie (foute word gemaak en daar word nie daaruit geleer nie). Die enigste manier wat volmaaktheid gebruik kan word, is om van die eindpunt van die geskiedenis af agteruit te dink. So iets is egter net moontlik indien daar buite die geskiedenis gestaan kon word. Kant se verwagting van ʼn volmaakte liberale orde, en Marx se verwagting van ʼn volmaakte sosiale orde, kom op dieselfde neer. Die Oostenrykse ekonoom, Von Hayek, het hom teen die idee van volmaakte inligting en die implikasies waartoe dit lei uitgespreek. Von Hayek (1952) beweer dat daar nie bo die geskiedenis gestaan kan word nie, en dit is ook nie vooraf bekend of die gewenste uitkoms bereik sal word nie. Die volgende aanname wat aandag geniet, is die rol van die entrepreneur.

61 3.3.2 Die Rol van die Entrepreneur

Hetsy die eienaar, entrepreneur en/of bestuurder dieselfde persoon is, of afsonderlike indiwidue is en/of verspreid is in die onderneming, en/of aandeelhouers is, hulle streef almal dieselde doel van winsmaksimering na. Die eienaar van ‟n onderneming streef na maksimale wins, wat verkry word na inkomste en betaling van die faktore van produksie, naamlik, arbeid, kapitaalgoedere en natuurlike hulpbronne (Koutsoyiannis, 1991:257). Die vergoeding van die produksiefaktore word beskou as die enigste probleem waarmee die onderneming te make het. Die Klassieke Ekonomie tref ook nie onderskeid tussen vervaardiging en verhandeling nie. Die doel, kostestrukture en beginsels word identies beskou (sein voetnota 5 hierbo).

Die aanname is dat die eienaar en entrepreneur volmaakte inligting het en ‟n onbeperkte hoeveelheid tyd tot sy beskikking het (Mair & Miller, 1992:106). Die vermoë ‟n om alle moontlikhede te ondersoek en die beste winsmaksimerende opsies te kies is onbeperk. Daar word gehandel met volmaakte rasionaliteit en daar bestaan geen beperkings op tyd, inligting of enige ander beperkings wat winsmaksimerende keuses kan verhoed nie. (Dit klink soos ‟n utopie).

In die moderne ekonomie mag bestuurders wel ander doelstellings nastrewe, maar dit is dan bloot nog ‟n koste-element vir die onderneming, wat winste beperk en daarmee saam ook ander voordele soos werksgeleenthede beperk. Die feit is ook dat dit baie kos om mededingende inligting te bekom (Viviers et al., 2008:87). Oorwegings van rasionaliteit en die beperking op bestuurders se tyd, kennis, inligting, vermoëns en hulpbronne wat ontstaan weens die kompleksiteit van moderne ondernemings, is deur verskeie navorsers in die teorie van die onderneming geïnkorporeer, soos byvoorbeeld in die behavioristiese teorie van die onderneming (sien Simon, 1955). Die besondere geval, aspekte en beperkings lei gewoonlik ook tot die maak van verdere aannames, spesifiek gerig op ‟n besondere aspek van die studie of navorsingsprojek. Die veronderstelling van winsmaksimering as eerste ekonomiese aanname word in die volgende gedeelte bespreek.

62

3.3.3 Winsmaksimering as Eerste Ekonomiese Aanname

Die winsmaksimerende hipotese berus gewoonlik op die Darwinistiese teorie van oorlewing van die sterkste (Alchian, 1950:211). In die langtermyn oorleef slegs die winsmaksimeerder in die markplek, omdat hulle die doeltreffendste is. Deur maksimale wins na te strewe, akkumuleer ondernemings finansiële bates, wat hulle in staat stel om vinniger as ondernemings wat nie winste probeer maksimeer nie te groei. Laasgenoemdes se markaandeel daal gaandeweg en uiteindelik word hulle gelikwideer en verlaat die bedryf. Winsmaksimerende ondernemings allokeer hul hulpbronne mees effektief en dit lei uiteindelik daartoe dat die ekonomiese omgewing hierdie onderneming as die sterkste en beste verkies en alle ander ondernemings elimineer. Hierdie aanname is natuurlik, net soos al die ander, uiters simplisties en bloot ‟n poging om die werking van die markmeganisme as uiters komplekse verskynsel meer hanteerbaar te maak en te verklaar. Die nastrewing van die winsmaksimerende doel en die werking van die mark, is soos Edgeworth (1881:109) dit gestel het, om mededinging in ‟n oorlog te verander (sien “die konflikmotief” in afd. 4.3 hieronder). Die volgende gedeelte verduidelik die marginale reël waarop die moderne ekonomie gebou is.

3.3.4 Die Marginale Reël

Markdeelnemers kan slegs fondse spandeer, wat hulle ontvang het. Sonder die nodige fondse kan daar nie handel gedryf word nie en kan produksie nie plaasvind nie. Fondse moet van iewers af kom. Kostes en inkomste moet uitbalanseer anders sal ‟n instelling tot stilstand kom. Wins word gevolglik gemaksimeer by die punt waar die addisionele inkome gelyk is aan die addisionele koste daaraan verbonde om ‟n produk te vervaardig. Waar addisionele inkome en kostes ewenaar, is in die vryemark ook die punt waar die “ekstra” koste van vervaardiging gelyk is aan die prys waarteen die “ekstra” eenhede van ‟n produk verhandel word. Hierdie addisionele hoeveelhede word dan ook die grenskoste en grensinkome, of marginale kostes (MK) en pryse (MI) genoem, en wins word gemaksimeer waar MK = MI (Marshall, 1892:202). Hierdie