• No results found

DIE BASIESE EKONOMIESE BEGINSELS

3.5 Die Vryemarkbeginsel

Volgens Locke (1690:118) is die natuurlike staat van enige indiwidu die staat van volmaakte vryheid, wat volgens hom ook gelykheid tussen persone meebring. Die “suiwer ekonomiese beginsels” van mededinging en die vryemarkstelsel berus op die idee van “volmaaktheid”, wat ‟n analogie is van Plato se ideëwêreld, waar alles volmaak is. Wat die indiwidu op aarde het en doen is namaaksels daarvan. Die volmaakte markmeganisme wyk af van die werklikheid, aangesien volmaaktheid nie op aarde bereik kan word nie. “Suiwer ekonomiese beginsels” bestaan gevolglik slegs in die ideëwêreld en die Klassieke Ekonomiese aannames werk gevolglik nie so volmaak as wat die teorie veronderstel nie. Om gevolglik die ekonomiese wêreld daarop te bou, kan nie volmaak wees nie. Die nodigheid van ‟n skuif vanaf ideaaltipiese denke na

67

opdragtipe denke is hier duidelik te bespeur (sien ook afd. 4.8 hieronder). Tog word daar na die volmaakte gestrewe, ook deur ekonomiese agente.

Omdat die ekonomiese aannames dermate van die werklikheid verskil, praat ekonome dikwels van die “ekonomiese mens” of Homo Economicus7. Dit is ‟n besondere persoon

wat aan al die aannames van Ekonomie, soos rasionaliteit en volmaakte kennis, voldoen. Mill (1844:110) sê daarom reguit dat die ekonomiese wetenskap redeneer vanaf aannames wat op hipoteses gebou is en nie op feite nie8.

Talle denkers, filosowe en ekonome, soos Thomas Hodgskin, William Thompson, Francois Quesnay en Adam Smith, het die oortuiging van John Locke gedeel dat daar ‟n stel sosiale en ekonomiese wette bestaan wat, wanneer hulle vry opereer, spontaan die grenslose liefde en welwillendheid van God vir Sy skepping sal openbaar. Hulle het daarom ‟n wetenskap van die gemeenskap en ekonomie, wat beide realisties en idealisties sou wees, voorsien. Realisties deurdat dit die werklike orde van die ekonomiese gemeenskap beskryf, maar ook idealisties aangesien dit die volmaakte orde beskryf wat dit natuurlik onderlê (Stark, 1943:103).

Groot denkers soos Adam Smith het geglo dat die totaliteit van die sosiale ekonomiese proses homself sal harmoniseer (Sien afd. 2.6 hierbo). Hierdie gedagte het op historiese bronne berus. In die eerste plek was Smith daarvan oortuig dat alledaagse mededingende besluite mekaar meganies uitbalanseer. Adam Smith volg hiermee Descartes se meganiese beeld van die natuur en metamorfoseer Newton se gravitasiemodel (afd. 2.5). Verder was Smith se ander basiese idee dat daar ‟n ingeboude harmonie in die wêreld is. Hierdie idee kom oorspronklik vanaf Leibniz, wat geglo het dat onafhanklike natuurprosesse parallel in harmonie verloop (sien afd. 2.5).

7 John Neville Keynes (1917:94) haal Bagehot aan wat sê dat Engelse politieke ekonome dikwels nie van regte mense praat nie,

maar van ‟n denkbeeldige mens. Nie van ‟n gewone mens nie, maar ‟n indiwidu wat gerieflikheidshalwe veronderstel word, met eienskappe soos hulle dit veronderstel om te wees.

8

Ook Max Weber (1949:90) beweer dat die volmaakte ekonomie en Homo Economicus ontologies nie bestaan nie en nie empiries gevind kan word nie. Dis ‟n utopie.

68

Adam Smith het die natuurlike orde van die skepping en gebeure voorgestaan, en aanvaar dat gebeure deduktief vanaf a priori-kennis en oorwegings afgelei kan word (J.N. Keynes, 1917:74). Daar bestaan gevolglik volgens Smith ‟n logika in die ekonomie waarom ‟n volmaakte ekonomiese wetenskap gebou kan word. Op deduktiewe gronde het Smith ‟n doktrine oor die ewewig van pryse en lone neergelê en gekombineer met ‟n induktiewe ondersoek na oorsaak en gevolg in die ekonomiese wêreld.

Cartesiese konstruktiwisme pas die rede op indiwiduele optrede en die ontwerp van reëls vir instellings toe wat lei tot optimale sosiale uitkomste van die standaard sosio- ekonomiese wetenskapsmodel (Smith, 2008:322)9. Daar bestaan talle empiriese bewyse dat die vryemarkstelsel voortreflik is, sodat ekonome onomwonde aanvaar dat kulture waar markte ontwikkel het, spesialisasie benut, produktiwiteit en effektiwiteit verhoog, hulpbronne optimaal toewys, die voordele van ruilhandel benut en meer welvarend is as enige ander (Scully, 1988:652). Dat hier eklekties te werk gegaan word en die skryfstyl met tye onhistories is, moet egter nie uit die oog verloor word nie. Die navolging van die onrealistiese volmaakte suiwer model het dus wel voordele, maar dit moet met versigtigheid hanteer word. Die volgende afdeling ondersoek ewewig as basiese ekonomiese beginsel.

3.6 Ewewig

Tesame met die idee van volmaaktheid van die heelal gaan ook die konsep van ewewig. By ewewig bestaan daar geen neiging tot verandering nie. Kragte wat wel daarop inwerk is sodanig dat hulle mekaar neutraliseer en in balans hou. Die markmeganisme is egter dinamies, met duisende transaksies wat elke oomblik plaasvind. Die ewewig is gevolglik slegs momenteel en die ewewigsposisie verskuif

9

Naas Descartes was daar ook al ander denkers soos Hobbes, Locke en grondeleggers van die vroëere Kapitalistiese ekonomiese teorie, soos bycoorbeeld Sir William Petty (1899), wat “natuurwetmatig” en kwantitatief gedink het (Chalk, 1951:343). Venter (2001:35) beweer: “This humanly focused meaning of "natural law" was not totally divorced from the Cartesian (natural science) tradition, for social thinkers such as Petty, Hobbes and even Locke all attempted to construct deductive, quasi-mathematical social sciences”.

69

aanhoudend, maar uiteindelik kan daar wel ‟n tendens in die rigting van ewewig bespeur word.

Daar is reeds in afdeling 2.5 op Locke en Leibniz se siening van ewewig gewys, en daar word aanvaar dat dit ook op die moderne ekonomie van toepassing is. Die ekonomie bestaan uit talle onafhanklike agente, wat in harmonie tot ‟n ewewigspunt uitloop, maar wat oor tyd steeds dinamies is en aanhoudend na ‟n nuwe ewewig beweeg. Hierdie teorie is beide van toepassing op die reële markte en monetêre of finansiële markte. Die verskil is slegs dat daar op reële markte goedere vir geld verruil word, terwyl die monetêre markte geld en krediet verhandel en die prys daarvoor die rentekoers is. Die beginsel van ewewig en marginale beginsels bly egter dieselfde. Venter (2002a:296) wys egter daarop dat die Monetaristiese Ekonome reken dat daar glad nie outomatiese ewewig bestaan nie.

Die Klassieke ekonomie is realisties in die sin dat ‟n gemeenskap onafhanklike indiwidue dit beskryf en analiseer; elk met gelyke kans op sukses, wie se belange en opponerende optrede volmaak geharmoniseer word deur wat Leibniz ‟n indrukwekkende meganisme noem. Die klassieke ekonomie is egter ook idealisties,10 aangesien dit beweer en poog om te bewys dat ‟n samelewing wat tot stand kom, wanneer indiwidue totaal vry is om te handel soos hulle wil, deur die vrye werking van gelyke kragte, die heel beste sosiale gemeenskap is, wat die menslike rede tot stand kan bring (Stark, 1943:49). Dit is dan ook die rede waarom dit in 1776 moontlik was vir Adam Smith se seminale werk “The Wealth of Nations” en Watt se stoomenjin om die samelewing so dramaties te kon verander en Kapitalisme op daardie stadium as superieur beskou kon word (Stark, 1943:50). Die ekonomie het ook die suksesse van die natuurwetenskap probeer nadoen (Kleynhans, 1993:13). Die voorspelbare meganiese werking van die fisika en die ewewig van die chemiese weegskaal het gedien as voorbeeld. Net soos die weegskaal en chemiese reaksies uitbalanseer, balanseer vraag en aanbod op die mark dan ook uit. Francois Quesnay het dit ook in sy

10

Max Weber (1949:90) bestempel die idee van die vryemark en volmaakte vrye konkurensie en die resulate wat dit veronderstel is om te lewer, eenvoudig as ‟n utopie wat afwyk van die realiteit.

70

Tabuleau Oeconomique nagedoen en die idee van ‟n balans is ook in die dubbele boekhoudingstelsel van die rekeningkunde te vinde (Venter, 2002b:54) (sien ook afd. 4.7 hieronder).

Die ekonomie is dinamies en die punt van ewewig verskuif met elk van die miljoene transakies wat daagliks in die mark gesluit word. Die ekonomie verander aanhoudend. Teorieë wat jare gelede gegeld het, is nie meer dieselfde nie en ekonomie en sy teorieë moet voortdurend daarby aanpas. Thurow (1983:8) stel dit dat “When the world changes, the observed behaviour of the economic actors follow”. Die ekonomiese stelsel waarmee Karl Marx en Adam Smith te kampe gehad het, verskil dramaties van die moderne vrywemarkstelsel. Max Weber (1949:90) het ook op die historiese dinamiek van die mark gewys wat deur die geskiedenis aldeur verander. Netso is die enkele handelaar wat langs die hawe onderhandel oor die prys van sy vangs, nie maklik vergelykbaar met die vraag-en-aanbodmeganisme van moderne aandelemarkte nie. So ook is die versekering van skepe deur die VOC in die sewentiende eeu nie heeltemal vergelykbaar met moderne risikobestuur van internasionale handel nie. Soortgelyk is daar ook voortdurende ewolusie op skokke soos dié van “2001 September 11” en die ekonomiese behuisingskrisis van 2008 in die Verenigde State van Amerika.

Kritiek teen die idee van ewewig is daarin geleë dat dit die ekonomie staties voorstel, terwyl die ekonomie in werklikheid dinamies is (Koutsoyiannis, 1991:262). Daar is deurgaans ‟n neiging in die rigting van ewewig, maar dit word nie bereik nie. Gewone ekonomiese ewewig toon slegs ‟n statiese prentjie. Die ontoereikendheid van ‟n statiese model wat ‟n dinamiese mark probeer verklaar, kan egter tot ‟n mate omseil word deur te onderskei tussen kort-, medium- en langtermyn, waar langtermyn beskou word as die tyd wat dit neem om aan te pas of te verander. As ‟n fabriek wat teen volle kapasiteit bedryf word, wil uitbrei, moet fondse eers bekom word en die langtermyn sal dan die tyd wees wat dit neem om nog ‟n fabrieksaanleg te bou. Die dinamiese werking op die mark kan ook deur ‟n groot reeks ewewigspunte aangetoon word, byvoorbeeld om grafieke wat beweging kan aantoon, te skets. Algemene ewewigsmodelle stel ‟n matriks daar wat toon hoe alle sektore aan mekaar verwant is en wat die rimpel-effek deur die hele

71

ekonomie, wanneer een aspek verander, aantoon. Net so kan ekonometriese modelle en rekenaarprogramme die kontinuum tussen veranderlikes wat deurgaans aan mekaar verbind is en waar een gelyktydig met die ander verander, aantoon.

Die probleem is epistemologies aangesien daar beperkings op die indiwidu se voorstellingsvermoë bestaan (sien ook afd. 4.8 hieronder). Die basiese werking van die ekonomie kan in breë trekke steeds volgens die klassieke en/of Keynesiaanse ekonomiese teorieë, wat aan die einde van die negentiende eeu en vroeg twintigste eeu opgestel was, verklaar en voorspel word (Le Roux, 2009 en Mankiw & Taylor, 2011:10 & 389). Sommige aspekte van die ekonomie verander voortdurend,soos byvoorbeeld die verband tussen werkloosheid en inflasie, en die ekonomie neem aanhoudend toe in kompleksiteit; maar die wyse wat vraag en aanbod reageer op prysveranderinge bly dieselfde. Wanneer die ekonomie se komplekse dinamiese werking verklaar moet word, ontbreek eenvoudige voorstellings egter en moet daar na uiters gevorderde moduleringstegnieke oorgegaan word, wat min ekonome kan voorspel en wat ook nie in alle gevalle betroubaar is nie. Daarom dat Ekonomiekursusse begin by vraag en aanbod en op die voordele van handel wys deur na die voorbeeld van twee markdeelnemers te wys wat hul surplusse verruil en dan daarna albei beter daarvan af is. Die teorie word dan hiervandaan komplekser gemaak; geld, die regering, rentekoerse, aandeelhouding, loonkoerse en dies meer kom by. In sy kritiek wys Venter (2001) daarop dat in ‟n moderne wêreld beswaarlik aanvaar kan word dat dit nog moontlik is om met sulke antieke teorieë die hedendaagse komplekse ekonomie voor te stel. Die basiese grondslae rakende die werking van die mark werk gevolglik steeds, maar dit het baie meer kompleks geword.

Sommige kritici reken dat die normale vraag-en-antwoordmodel wat ewewig te weeg bring, nie ontologies ‟n baie goeie voorstelling van die werklikheid is nie. Venter (2002a:294) wys daarop dat vraag en aanbod nie altyd markewewig teweegbring nie, veral waar daar asimmetrie van inligting bestaan. Venter bestempel die idee van ‟n selfregulerende markmeganisme bloot as ‟n geloofsoortuiging omdat algemene ewewig nie altyd bewys kan word nie.

72

Vanuit die perspektief van die reformatoriese filosofie kan egter daarop gewys word dat selfs hierdie vereenvoudigde voorbeeld aantoon dat die indiwidu in al sy modaliteite, ekonomies handel, want magsverhoudings dui op die historiese modaliteit, en vertrouensverhoudings op die etiese.

Die situasie waar twee markdeelnemers ooreenkom om met mekaar handel te dryf, word egter as die punt van ewewig beskou en alle ander aspekte word volgens die “ceteris paribus” beginsel geïgnoreer. Hierdie beginsel en die vraag-en-aanbod meganisme word vervolgens van naderby ondersoek.