• No results found

HOOFSTUK 5 OPSOMMING, BEVINDINGE EN AANBEVELINGS

5.3 BEVINDINGE

In hoofstuk 2 is daar hoofsaaklik op die uitdagings wat vroue in bestuur- en leierskapsposte ervaar, gekonsentreer. Daar is ook gevind dat die verskeie faktore in leierskap en bestuur ʼn groot rol speel by die uitdagings wat die vroue ervaar. Vervolgens word die bevindinge wat na aanleiding van die literatuurstudie en navorsingsvrae of -doelwitte verkry is, bespreek.

5.3.1 Wat is die persepsie ten opsigte van vroue in bestuur- en leierskapsposte in die onderwys?

Die eerste navorsingsvraag met betrekking tot die persepsies van vroue in bestuur- en leierskapsposte is deur die onderwysers en vrouehoofde beantwoord. ‟n Belangrike persepsie wat na vore gekom het, is die kwessie van konflik. Konflik word op verskeie vlakke ervaar, naamlik konflik tussen personeellede (veral tussen jonger en ouer personeellede), konflik tussen die hoof en personeel en konflik tussen die verskillende fases in die skool. Hier is persepsie van belang. Die persepsie van ouer personeellede is dat jonger personeellede alles bevraagteken en nie geredelik instem om sekere take te verrig nie. Aansluitend hierby is die persepsie dat vrouehoofde dit moeilik vind om verskillende fases in die skool te lei en te bestuur. In dié opsig is die persepsie dat mans, wat sterker, fermer leiers is, beter in staat is om te lei en te bestuur. Die organisatoriese vlakke van vroue word benadeel deur tradisionele, diep ingebedde patriargale waardes en praktyke wat daarop gemik is om geslagsgelykheid te devalueer. Dié persepsies en verwagtinge beïnvloed die leierskapstyle van vroue, wat meer leun na verhoudinggebaseerde style as hulle in leierskapsituasies geplaas word of in leierskapposisies aangestel word. Mans se persepsie is ooreenstemmend met die sosiale stereotipes om taakgerig, selfversekerd en gemotiveerd te wees om hul omgewing te bemeester, terwyl vroue ooreenstem met sosiale stereotipes om meer interpersoonlik, onbaatsugtig, bekommerd en warm te wees (cf. 2.4.7). Die wanpersepsies ten opsigte van konflikhantering kan verander word indien daar geluister word na die stem van elke personeellid. Beter kommunikasie is dus hier van belang. Soos hierdie navorsing en

onderhoude egter getoon het, is daar vandag baie vroue wie se bestuur- en leierskapsvermoë nie beperk is nie.

5.3.2 Wat is die ervarings van vroue in bestuurs- en leierskapposisies?

Wat die tweede navorsingsvraag betref, is daar twee belangrike aspekte wat die ervarings van vroue in bestuurs- en leierskapposisies raak: die vrouehoofde se ervarings met betrekking tot die bestuur en leierskap van die departement, en hul ervarings met betrekking tot die bestuur en leierskap van personeellede. Sommige vrouehoofde het die twee aspekte uitdagend, maar hanteerbaar gevind in hul bestuurs- en leierskapposisies in die skool. Dit blyk dat bestuur- en leierskapsvaardighede ten opsigte van die hantering van departementele aangeleenthede ‟n deurslaggewende rol gespeel het. Vrouehoofde wat krisisbestuur kon toepas, kon die onvoorspelbaarheid van die departement beter hanteer. Die vaardighede geld ook vir die hantering van personeellede, veral wanneer konflik ter sprake was. Vroue ervaar leierskap anders as hul manlike eweknieë (cf. 2.4.7). Dikwels begin hulle met ‟n agterstand as gevolg van ʼn lang gebrek aan blootstelling aan leierskap. Baie studies wat gedoen is, toon dat die meeste mans vroue se leierskap teenstaan (Eagly & Carli, 2014). Mans veroorsaak ook dat vroue ʼn lae selfbeeld ontwikkel omdat hulle deur mans ondermyn word en laat verstaan word dat hulle nie kan lei nie. Vroue wie se leierskapstyl in stryd is met vroulike stereotipes, ervaar dikwels weerstand of terugslae (cf. 2.4.7.2).

Volgens die navorsing en onderhoude wil dit voorkom asof vroue gemengde gevoelens het oor hul posisie in ʼn bestuur- of leierskapspos.

5.3.3 Watter uitdagings ervaar vroue in bestuurs- en leierskapposisies?

Die bevindinge het getoon dat daar verskeie uitdagings is wat vroue in opvoedkundige leierskapposisies ervaar. Dit kan intern of ekstern wees. Afgesien van die feit dat daar min vroue in bestuur- en leiersposisies is in vergelyking met hul manlike eweknieë, het die studiebevindinge getoon dat vroulike leiers of bestuurders gekonfronteer word deur ʼn aantal uitdagings, soos sosiale en kulturele stereotipes, sielkundige faktore en die probleem van balansering van verantwoordelikhede. Die balans tussen werk en lewe is een van die grootste uitdagings wat vroue in bestuursposisies ervaar. Die rolle van beide mans en vroue by die werk en die huis het verander, maar vroue bly steeds primêr verantwoordelik vir kinders se opvoeding en huishoudelike pligte, benewens hul werksverantwoordelikhede. Dit kom voor dat vroue reeds uitdagings ervaar voor hulle hulself in bestuur- en leiersposisies bevind. Dit word

bevind dat vroue hulleself baie oop maak om deel te vorm van verskeie komitees en aktiwiteite om raak gesien te word. By laerskole waar die groter deel van die personeel uit vroue bestaan, word daar baie van die vroue verwag om beheer te neem in seker situasies. Die navorsing toon dat vroue se gebrek aan belangstelling en motivering om na leierskapposisies te streef, toegeskryf kan word aan vrees vir sukses (cf. 2.4.7.2). Hulle word bang vir diegene wat wel in hul leierskapsrolle misluk, veral vroue wat veronderstel is om as rolmodelle en mentors vir aspirant- vroulike leiers op te tree (Gobena, 2014). Dit het ook na vore gekom dat vroue soms mekaar se grootste uitdaging in die werkplek is omdat hulle mekaar nie altyd ondersteun en geleenthede gun nie. Vroue moet mekaar kan bevorder en opbou in leierskapsituasies.

Madlala (2007) definieer uitdagings as faktore wat manifesteer as probleme of probleme wat vroue in onderwysleierskap in die gesig staar. Dit is duidelik dat vroue in leierskap verskeie uitdagings ervaar, waarvan die Onderwysdepartement, ouers, leerders en personeel deel uitmaak. Die groot hoeveelheid papierwerk en die verwagtinge wat deur die Onderwysdepartement gestel word, is ʼn groot uitdaging aangesien daar baie tyd daaraan spandeer moet word sodat ander verpligtinge soms eenkant toe geskuif moet word.

Daar kan aangevoer word dat die vele uitdagings wat vermeld is verantwoordelik is vir die onderverteenwoordiging van vroue in bestuurs- en leierskapposisies in skole.

5.3.4 Wat is die persepsie van vroue in bestuurs- en leierskapposisies ten opsigte van die bevordering van vroue?

In hierdie studie is bevind dat blootstelling „n belangrike rol ten opsigte van bevordering speel. Wanneer die hoof begin delegeer en die onderwysers op klein skaal leiding laat neem, loop dit oor in moontlikhede waar onderwysers op komitees begin dien. Die moontlikheid dat onderwysers as vakvoorsitters, departementshoofde en later in verdere bevorderingsposte aangestel word, word dan groter.

Vir dekades het die persepsie bestaan dat vroue benadeel is omdat hulle nie oor die nodige bestuurspotensiaal en -vaardighede beskik nie. Nie net alleen is aangevoer dat vroue ʼn tekort aan administratiewe, finansiële en toesighoudende vaardighede het nie, maar daar is ook beweer dat vroue ʼn tekort aan werkstoewyding, selfgeldingsdrang, leierskapseienskappe, ambisie en selfvertroue het en nie bereid is om risiko‟s te neem nie (cf. 2.4.7.2)

In ‟n verdere bevinding het dit aan die lig gekom dat vroue-onderwysers nie almal in mag- of leierskapsposisies wil wees nie. Vroue is naïef, tree dikwels verskonend op by die hantering van kwessies, het nie selfvertroue nie, word in sommige kulture onder mans gestel, ervaar stereotipering, word gebind deur gesinsverantwoordelikhede, ervaar vrees, word benadeel deur

patriargale en tradisionele gebruike en hul leierskap word nooit maklik aanvaar nie. Om hierdie rede is bevind dat daar wel bevorderingsmoontlikhede is, maar dat sommige vroue- onderwysers nie daarin belangstel om tot vrouehoof bevorder te word nie en tevrede is om slegs tot op die vlak van departementshoof bevorder te word. Die bevinding sluit aan by Blair- Loy (2009) se bewering dat vroue verkies om gesinsharmonie te handhaaf, eerder om in „n bestuur- of leierskapposisie te dien (cf. 2.4.7.2(ii)). Die opsie om die gesinslewe ten gunste van werk en ʼn bevordering op te offer, kom ook ter sprake wanneer vroulike leiers weier om as onbevoeg of onsuksesvol beoordeel te word. Daar is in die studie bevind dat vroue wat in leierskapposisies is baie sterk en dinamiese vroue is en hard gewerk het om te kom waar hulle is. Daar is sekere vroue wat nie bestuurs- en leierskapposisies wil beklee nie, maar daar is ook diegene wat teen al die uitdagings wat hulle in die gesig staar, veg om leierskapposisies te bereik.