• No results found

Hoofstuk 2: Empiriese navorsing van manipulasie in tienerverhoudings

3.2 Manipulasie – tegnieke en taktieke

3.2.5 Besitlikheid

Die manipuleerder se behoefte aan beheer veroorsaak ook besitlike gedrag teenoor die gemanipuleerde, wat direk of indirek kan wees. Die manipuleerder kan dus soms direk vereis dat die gemanipuleerde ʼn belangstelling, vriendskap of wat ook al sal opgee, of hy kan ʼn indirekte aanval loots op die areas wat hom bedreig, of waaroor hy beheer wil hê en dit vir die gemanipuleerde so ondraaglik maak, dat sy dit liewer opgee om die vrede te bewaar. Ongeag hoe dit presies gebeur; die resultaat bly dieselfde “You have seriously limited your world to suit his needs” (Forward, 2002:56)

Vir die manipuleerder, is die gemanipuleerde daar om sy behoeftes te bevredig. Hy sal so gou as wat dit moontlik is seker maak dat die gemanipuleerde as “sý meisie” gesien word – ʼn teken dat hy onder andere ʼn aanspraak op haar tyd mag maak. Aangesien manipuleerders voel dat die gemanipuleerde ten alle tye daar moet wees vir hulle, is hulle baie jaloers. Ongelukkig het Murray gevind dat “Teens spoke openly about jealousy being synonymous with love” (2001:2)9. Die gemanipuleerde voel gevly deur die manipuleerder se behoefte dat hulle pal in mekaar se geselskap is en glo later dat sy dit ook verkies bo tyd met die ander mense wat altyd vir haar saak gemaak het. Sodoende isoleer die manipuleerder die gemanipuleerde van haar vriende en familie.

3.2.5.1 Isolasie van vriende en familie

Dit is baie moeiliker om iemand te manipuleer wanneer sy die hele tyd tussen ander mense is wat dalk die manipuleerder se verkeerde gedrag kan uitwys of die manipuleerder se beheer oor situasies kan verminder. Om die rede neem manipuleerders ongewoon baie tyd van hulle meisies in beslag. Dit klink baie romanties as ʼn mens se ou al sy tyd met jou wil spandeer, maar volgens Murray is die probleem dat hy nie lank daarna nie sal begin om vir die gemanipuleerde te sê wie sy mag sien of mee praat en wie nie. Dan gee die gemanipuleerde haar vriende op, want daar is nie meer genoeg tyd vir hulle wanneer sy elke oomblik met die manipuleerder moet spandeer nie en sodoende word sy na ʼn tyd van haar vriende en/of familie geïsoleer. Gewoonlik geld dit egter nie vir die manipuleerder nie (Murray, 2001:27).

Hierdie plan van die manipuleerder is baie effektief, aangesien die manipuleerder uiteindelik al is wat die gemanipuleerde oor het en daarom sal sy nie sommer die verhouding beëindig nie. Die gemanipuleerde sal niemand meer hê om na toe te gaan indien sy die verhouding wil bespreek, of ʼn bietjie afstand daarvan wil hê nie en voel gewoonlik nie emosioneel sterk genoeg om heeltemal alleen aan te gaan nie.

 9vgl. 2.1.3.1. Die vraelyste het aangedui dat “73% van die kandidate dink dat jaloesie in ʼn verhouding wys dat ʼn mens omgee”.

58

Die manipuleerder wil die gemanipuleerde weghou van enige iemand wat hom nie in sy missie ondersteun nie, daarom is net die vriende en familie wat sy beeld van homself en sy idee van die realiteit ondersteun welkom in die gemanipuleerde se lewe (Forward, 2002:76). Vir hom is die gevaar dat die ander persone: 1) die gemanipuleerde se aandag sal fokus op die ongesonde beheer wat die manipuleerder wil hê en haar waarsku om die manipuleerder nie te maklik te vertrou nie, 2) die gemanipuleerde se selfbeeld weer sal bou, 3) die gemanipuleerde herinner dat daar ander plekke ook is om geluk te vind, 4) haar emosioneel ondersteun, sodat sy minder van die manipuleerder afhanklik is, 5) haar wys op die gevaartekens in die manipuleerder se gedrag (McMillan, 2007:99).

Engel gee die volgende voorbeelde van wat die manipuleerder tipies sal sê of doen om die gemanipuleerde te isoleer: Die manipuleerder sal die gemanipuleerde 1) vra om te kies tussen die manipuleerder en iets wat sy graag wil doen, (vgl. 3.2.4.4) 2) vra om iets of iemand op te gee, as ʼn bewys van haar liefde en/of 3) dreig om haar te los as sy nie verander nie (2000:156- 157).

Dit sal egter dom wees van die manipuleerder om die gemanipuleerde direk te verbied om tyd saam met iemand anders te spandeer en daarom sal hy ook tegnieke gebruik wat meer positief klink, soos om die gemanipuleerde te vly en te sê hoeveel hy na haar verlang wanneer hulle selfs ʼn kort tydjie van mekaar af weg is (McMillan, 2007:99). Die gemanipuleerde wil nie die lewe vir die manipuleerder swaar maak nie en sal hom die volgende keer eerder saam nooi as wat hy weer na haar moet verlang. Dit het egter tot gevolg dat die gemanipuleerde baie selde, indien ooit, die geleentheid het om alleen met haar familie en vriende te gesels en gevolglik het die vriende en familie nie die geleentheid om te sê wat hulle regtig van die verhouding dink nie (McMillan, 2007:101).

Een van Murray se sestienjarige pasiënte stel dit soos volg:

“She has to be with me all the time. I can’t even go anywhere with my own friends if she doesn’t come along. All my friends tell me that she’s like a parasite and is sucking the life out of me. I don’t know what to do. If I’m not with her, she gets hysterical. If I don’t start doing some more things by myself with my friends, I’m going to lose them” (Murray, 2001:134).

Wanneer die gemanipuleerde egter wel sonder die manipuleerder iewers was – in die tiener se geval waarskynlik by ʼn familiefunksie - sal die manipuleerder die gemanipuleerde onder kruisverhoor plaas, met vrae soos: “Waar was jy? Saam met wie was jy? Wat het jy/julle gedoen? Hoeveel ouens was daar? Het jy met enige van hulle gepraat? ens. (Murray, 2001:31). Die gemanipuleerde is dus die heeltyd aan die manipuleerder verantwoordbaar – iets wat eintlik in ʼn tiener se lewe net die ouers se (voor)reg is – en dit ook binne perke.

Verder kan die manipuleerder sosiale kontak met ander so onaangenaam maak dat die gemanipuleerde volgende keer besluit om eerder nie iets saam met ander te doen nie, of hy kan

59

die gemanipuleerde beledig en woede-uitbarstings kry wanneer sy ʼn voorstel maak om tyd met mense te spandeer wat hom nie ondersteun nie (Forward, 2002:59). Aan die ander kant kan hy ook 'komplimente‘ gebruik om die gemanipuleerde te oortuig om ander te vermy, soos: “Waarom wil jy tyd met jou simpel vriendinne mors? Jy het baie meer om te bied as hulle en ek is intelligente geselskap”, (Forward, 2002:77) of hy kan sy ou sjarmante self wees voor die mense, maar sodra hulle alleen is “... he launches into tirades about her rediculous friends, using her choice of them to further point out her inadequacies as a person” (Forward, 2002:78). Na so ʼn uitbarsting sal die gemanipuleerde waarskynlik voel dat die pyn wat sy moet beleef nadat hulle met vriende gekuier het nie die kuier die moeite werd maak nie.

Later in die verhouding kan die manipuleerder selfs familie-verhoudings versteur deur die gemanipuleerde se familie by haar af te maak, wat indirek ook ʼn belediging vir die gemanipuleerde self is (Forward, 2002:79).