• No results found

Hoofstuk 2: Empiriese navorsing van manipulasie in tienerverhoudings

3.2 Manipulasie – tegnieke en taktieke

3.2.6 Brutaliteit

3.2.6.4 Beledigings & Beskuldigings

In baie gevalle sal die manipuleerder gereeld kla oor sake. Mense wat kla is nie noodwendig manipulerend of emosionele mishandelaars nie, maar wanneer hierdie gedrag destruktief word, of die doel daarvan spesifiek is om die ander persoon te beledig, dan is dit ʼn probleem (Engel, 2000:157). Dit is dus nie ʼn probleem wanneer die manipuleerder kla dat die ander persoon hulle laat maak vir ʼn partytjie nie, maar wanneer hy vir die gemanipuleerde sê dat sy lui, sleg, selfsugtig, nie inagnemend ens. is, omdat hulle laat is, kan dit ʼn tegniek wees om haar selfbeeld af te breek en weereens te wys dat die manipuleerder superieur is.

Behalwe dat die manipuleerder die gemanipuleerde name noem, soos in die bg. voorbeeld, kan hy moontlik later in die verhouding ook ander beledigings gee, soos: “Niemand anders sal jou wil hê nie...”, “Ek weet nie hoekom ek nog met jou uithou nie...” of “Ek is die beste wat jy ooit sal kry....” ens. (Murray, 2001:24).

Ander uitlatings word weer daarop gemik om die gemanipuleerde se vrymoedigheid om iets te sê of te doen weg te neem. Voorbeelde daarvan is: “Jy is onredelik”, “Jy raak histeries” en/of

62

“Jy wil weer net moeilikheid maak/baklei” (Engel, 2000:166). Die teendeel van hierdie uitlatings is gewoonlik juis waar in die geval van manipulasie. Dit is nie “onredelik” van iemand om nie gekritiseer of beledig te wil word, of te sê wat sy dink nie. Dit is onredelik om sulke uitlatings te maak. Ook is die kanse skraal dat iemand wat gemanipuleer word histeries sal raak, aangesien sy weet dat die manipuleerder waarskynlik kwaad of aggressief sal raak indien dit sou gebeur. So ʼn opmerking vat die gemanipuleerde se moed weg om enigsins te wys wanneer sy ongelukkig, kwaad of hartseer is en maak selfs dat sy verneder voel deur haar eie emosies. Sodra dit met die gemanipuleerde gebeur, het die manipuleerder sy doel met die beledigende opmerkings bereik.

Net so is dit bitter onwaarskynlik dat die gemanipuleerde ʼn bakleiery sal wil begin. Meeste mense wat gemanipuleer word is konflikvermyders, of het dit deur die manipulasie geword (vgl. 3.3.1.1.2) en die kanse is baie goed dat hulle eerder sal saamgaan met dit wat die manipuleerder sê, as om hom of haar teë te gaan. Die tipe opmerking, word gewoonlik gebruik om die gemanipuleerde van koers af te gooi en te verwar.

Daar is verskillende omstandighede waarin die manipuleerder kan besluit om beledigend te wees en, soos met baie ander tegnieke, kan die gemanipuleerde nie altyd voorspel wanneer die manipuleerder op die manier gaan optree nie. Dit kan selfs voorkom of die manipuleerder ʼn gesplete persoonlikheid het. Hy sal die meeste van die tyd (ten minste voor ander mense) gaaf en inagnemend wees en ander kere skielik wrede en vernederende opmerkings maak, of woedend word wanneer sy meisie nie na sy advies luister nie, of wanneer hy nie weet waar sy is nie (Murray, 2001:71); (vgl. 3.2.5).

3.2.6.5 Ondermyn dit wat jy bereik het

Een van die belangrikste aspekte van manipulasie is dat die manipuleerder die gemanipuleerde se selfbeeld en selfwaarde moet verminder, totdat sy haarself as waardeloos, of net van waarde vir die manipuleerder sien. Dugan & Hock stel dit soos volg: “To keep you, he probably broke your spirit and made you feel unworthy. Destroying your self-esteem was a very powerful strategy for controlling you” (2000:204). Elkeen van die tegnieke wat bespreek word, het tot ʼn mate ten doel om dit te bereik, maar wanneer die manipuleerder dit ondermyn wat die gemanipuleerde bereik het, is dit baie blatant.

Soos met baie ander tegnieke, begin dit gewoonlik subtiel. Die manipuleerder sal die gemanipuleerde bv. in ʼn situasie sit waar sy kan sien hoe vaardig hy is en verskonings soek om in ʼn situasie te wees waar die gemanipuleerde in die kollig staan, of waar haar talente na vore sal kom. Wanneer dit moeilik is, soos baie keer die geval is in ʼn skoolopset, sal die manipuleerder waarskynlik maak of hy baie verveeld is of nie beïndruk is deur die gemanipuleerde of die situasie nie en ʼn manier vind om die waarde van dit wat sy bereik het te minimaliseer (McMillan, 2007:83).

Natuurlik kan die manipuleerder nie nét negatief wees nie. Dit sal maak dat sy intensies dalk te voor die hand liggend kan wees vir die gemanipuleerde of vir haar familie. Die manipuleerder sal dus soms die gemanipuleerde vly en vertel hoe fantasties en raar sy is, al het

63

die gemanipuleerde niks gedoen nie (McMillan, 2007:83). Die tegniek is juis effektief, aangesien dit die gemanipuleerde verwar en die verwarring kan maak dat die gemanipuleerde se idee van wát waarde het verander. Om die rede sal baie gemanipuleerdes dinge opgee waarvoor hulle lief was, bv. ʼn sport waarin sy presteer het of ʼn posisie wat sy in die skool beklee. Dinge wat sy vroeër geniet het, word dus vir die gemanipuleerde onbelangrik, omdat die manipuleerder nie waarde daaraan heg nie en dit waaraan die manipuleerder wel waarde heg – tyd met hom – vervreem die gemanipuleerde al meer van haar identiteit vóór die manipuleerder.

Net soos die manipuleerder die gemanipuleerde geleidelik van haar vriende en familie isoleer (vgl. 3.2.5.1) en maak dat sy hulle verwerp, lei hy haar daartoe om haar aktiwiteite ook te verwerp, (Forward, 2002:79), deur dit wat sy bereik het te ondermyn.