• No results found

Hoofstuk 2: Empiriese navorsing van manipulasie in tienerverhoudings

3.2 Manipulasie – tegnieke en taktieke

3.2.3 Bedrog

Om hul doel te bereik, sal manipuleerders maklik ʼn leuen vertel en nie omgee om ander met dit wat hulle sê en doen te bedrieg nie. Die leuens kan oor absoluut enige iets wees, maar fokus veral op die manipuleerder se eie gedrag en intensies en op die karakter van die gemanipuleerde. Hoe meer onseker die gemanipuleerde van haarself is en hoe minder sy van haarself dink, hoe effektiewer is die manipulasie.

Manipuleerders bedrieg met woord en daad om hul ware bedoelings van beheer en dominering te vermom. Die manipuleerder bewys eerstens dade van liefde en toewyding aan die gemanipuleerde en dan oortuig hy haar dat sy ander dade (die wat sy ware bedoelings wys) ook maniere is om liefde en toewyding te wys. Wanneer dit nie dadelik werk nie, bewys die manipuleerder weer een van die eerste dade om die gemanipuleerde te oortuig dat hy alles doen om liefde te wys (McMillan, 2007:13). Later kom die gemanipuleerde nie agter dat die manipuleerder se ‘ander maniere van liefde wys’ juis dit was waarvoor sy moes oppas nie.

50 3.2.3.1 Lieg en bedrieg

Manipuleerders is geneig om subtiele en skelm leuens te vertel. Hulle is gewoonlik vaardig en die laaste ding wat ʼn manipuleerder wil hê, is om uitgevang te word. Wanneer ʼn manipuleerder lieg, sal hy gewoonlik ook ʼn agterdeur oop los, om die storie later te kan verander indien nodig, of wanneer hy uitgevang word, te kan sê dat die gemanipuleerde die situasie verkeerd verstaan het. Waarskynlik gevolg deur ʼn string beledigings dat die gemanipuleerde net die slegste in ander mense sien (vgl. 3.2.6.4). Die gemanipuleerde besef nie dat sy nooit ʼn eerlike reguit antwoord van die manipuleerder sal kry, as die manipuleerder dit nie wil gee nie. Simon beskryf manipuleerders se manier van jok soos volg: “Manipulators often lie by withholding a significant amount of the truth from you or by distorting the truth. They are adept at being vague when you ask them direct questions. This an especially slick way of lying by omission” (2000:86).

Verder sal die manipuleerder soms pront-uit ontken dat hy iets gesê het, al weet die gemanipuleerde dat dit wel gesê is. Die probleem daarmee is dat die gemanipuleerde dan niks het om mee te werk nie. Dit laat haar desperaat en gefrustreerd, aangesien daar geen manier is om ʼn probleem met iemand op te los wat die bestaan van die rede daarvoor ontken nie (Forward, 2002:49).

3.2.3.2 Laat twyfel en ontwapen

Die ontwikkelende verwarring van die gemanipuleerde, oor die manipuleerder se motiewe, is gewoonlik ʼn integrale deel van die manipulatiewe beheer. ʼn Effektiewe manipuleerder sal sy ware motiewe vermom, deur onder andere die gemanipuleerde te ontwapen en gerus te stel, bv. deur te sê: “Jy weet ek wil net hê dat jy gelukkig moet wees” of “Ek dink net wat die beste vir jou is” (Braiker, 2004:159). Hierdie tipe sêgoed maak hulle motiewe meer sosiaal aanvaarbaar. By tieners kan dit in drie kategorieë verdeel word, naamlik: 1) Liefde en omgee, bv. “Ek doen dit omdat ek vir jou lief is”, 2) Kundigheid, bv. “Ek sê dit net vir jou omdat ek meer ondervinding op die gebied het” en 3) Altruïsme en vrygewigheid, bv. “Ek doen dit omdat dit beter vir jou is, al kry ek niks daaruit nie” (Braiker, 2004:61).

Deurdat die gemanipuleerde gereeld ontwapen word, twyfel sy so baie in haarself dat sy later begin glo wat die manipuleerder sê, eerder as om te glo wat sy self weet. Ook sal die gemanipuleerde dan begin om die manipuleerder se redes te gebruik om sy of haar aksies te verduidelik en om haar eie toekoms te beplan. Die gemanipuleerde sal haarself waarskynlik teen die tyd ook nie meer genoeg vertrou om ʼn besluit te maak, sonder om eers die manipuleerder se toestemming te vra nie (McMillan, 2007:69).

Nog ʼn manier waarop die manipuleerder die gemanipuleerde kan ontwapen, is om te vroeg: “Ek is lief vir jou” te sê (Murray, 2001:29). Die meeste mense, veral tieners, wil graag in die romantiese geseg van liefde met die eerste oogopslag glo en wat beter vir die manipuleerder om te gebruik as dit, wanneer hy wil hê dat die verhouding aanvanklik spoedig moet ontwikkel (vgl. 3.1.1)

51

Tieners verwag normaalweg nie om in ʼn romantiese verhouding gemanipuleer te word nie, eerder is daar ʼn algemene verwagting dat liefde alles sal oorwin of regmaak. Presies die idilliese idee wat in die meeste flieks en televisiereekse aan hulle verkondig word. Omdat die gemanipuleerde nie verwag dat haar ou haar liefde sal uitbuit en haar sal manipuleer nie, is sy “...likely to use the defense mechanism of denial to protect yourself from painful—although ultimately necessary—realizations” (Braiker, 2004:159). Ongelukkig is die sogenaamde liefde vir sy meisie net nog ʼn effektiewe instrument in die manipuleerder se hand – iets wat gebruik kan word vir sy eie doeleindes, as gevolg van sy oorheersende selfliefde.

McMillan gebruik ʼn goeie metafoor om hierdie tegniek te illustreer. Volgens haar is die manipuleerder soos ʼn kulkunstenaar wat ʼn blink serp in die een hand heen en weer beweeg, sodat ʼn mens nie moet sien watter toertjie hy met die ander hand uitvoer nie. Hierdie tegniek staan as “misdirection” bekend (2007:87). Vir dit om effektief te werk, is ʼn goeie opbou daartoe nodig. Net soos die kulkunstenaar eers moet seker maak dat die gehoor in die regte stemming vir die toertjie is, moet die manipuleerder ook die gemanipuleerde in die regte stemming kry om nie op te let waarmee hy besig is nie. Daarvoor moet die manipuleerder seker maak dat hy die fokus plaas op die areas wat vir hom voordelig is en waarin die gemanipuleerde tekortskiet. Hierdie kwaliteite en vaardighede word dan heeltemal opgeblaas en die betekenis en waarde daarvan word so oordryf, dat die gemanipuleerde minder vaardig en waardevol voel as wat sy in werklikheid is. Sodra die gemanipuleerde so ontwapen en minderwaardig voel, is sy gereed om deur die toertjies van die manipuleerder meegevoer te word (McMillan, 2007:87).

3.2.3.3 Terugval op sjarme indien nodig

Wanneer die manipuleerder agterkom dat die gemanipuleerde begin terughoudend of bang raak, sal hy die gemanipuleerde gerusstel, sodat die proses van manipulasie kan voortgaan (McMillan, 2007:45). Die manipuleerder het ʼn “uncanny ability to know how the other would think or feel about many things” (Walker, 2009:18). Deur vir haar ou ʼn romantiese uitstappie te beplan of vir sy meisie blomme skool toe te bring7, verwag die manipuleerder dat die gemanipuleerde weer van hulle liefde verseker sal wees en ten minste vir ʼn tyd lank nie sal probeer om verhoudingsprobleme uit te wys nie. Terselfdertyd sal die gemanipuleerde se familie en vriende waarskynlik ook opmerk hoe gaaf of oulik die manipuleerder is en dus is die taktiek dubbeldoelig.

Wat sjarme aanbetref, is een van die algemeenste gedragspatrone van manipuleerders, die eenvoudige druk-en-trek-proses “It only requires the abuser to emphasise all of the advantages he has over you while at the same time telling you how marvellous you are” (McMillan, 2007:81). Met die een hand druk die manipuleerder dus die gemanipuleerde weg en laat haar voel asof sy nie waardig is om in die verhouding te wees nie, terwyl hy met die ander hand die gemanipuleerde nader trek en spesiaal laat voel.

7 Vergelyk 3.1.2

52

Manipuleerders sal soms selfs om verskoning vra vir hulle swak gedrag (alhoewel hulle dit eers sal regverdig) en sê dat dit nie weer sal gebeur nie (om te jok is vir hom geen probleem nie – vgl. 3.2.3.1) (Murray, 2001:76). Hierdie ‘berou’ hou egter gewoonlik net lank genoeg om haar weer te “rehook” (Forward, 2002:33).

Indien die manipuleerder permanent kwaad en krities sou wees, sou selfs die gemanipuleerde sukkel om dit nie raak te sien nie en om al die blaam op haarself te neem. “But between his outbursts he’s liable to be as charming and lovable as he was when you first met” (Forward, 2002:31). Ongelukkig ondersteun hierdie goeie tye wat die gemanipuleerde beleef wanneer die manipuleerder weer sjarmant is haar wanpersepsie dat die kwaai en kritiese persoon nie die “ware hy” is nie. Wanneer die manipuleerder terugval op sjarme en liefdevolle gedrag, motiveer dit die gemanipuleerde om te bly glo dat alles wonderlik sal wees van daardie oomblik af verder (Forward, 2002:31).

Dit is juis die kontras in die manipuleerder se gedrag wat vir hom so ʼn sielkundige voorsprong gee (McMillan, 2007:85). Om aan die een kant te hoor dat jou ou jammer is oor sy verkeerde gedrag en aan die ander kant te hoor dat jy die oorsaak daarvan is of om aan die een kant te hoor dat jy absoluut wonderlik is en aan die ander kant behandel te word asof jy totaal minderwaardig is, is genoeg om die wind uit enige iemand se seile te haal.

Daar is min dinge wat ʼn mens so verwar soos die emosionele wipplank van ʼn manipuleerder. Die sjarme en woede8 wat mekaar konstant afwissel skep angstigheid by die gemanipuleerde,

aangesien sy nooit kan weet wat om te verwag nie. Forward vergelyk die gemanipuleerde se belewenis met dié van ʼn dobbelverslaafde: “... they get what they want some of the time but not most of the time. Their anxiety level is sky high. But the promise of the “good stuf” keeps them hanging in there and playing” (2002:32).