Grond en die plaasnarratief sedert 1595
Ampie Coetzee
bron
Ampie Coetzee, 'n Hele os vir 'n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595. Van Schaik, Pretoria / Human & Rousseau, Kaapstad 2000
Zie voor verantwoording: http://www.dbnl.org/tekst/coet013hele01_01/colofon.php
© 2014 dbnl / Ampie Coetzee
vir grietjie
As ons grond kan kry, kan ons ons mense weer versamel en eenkant hou. Ons kan 'n rehabilitasiesentrum bou en weer dissipline leer en die danse van ouds dans.
Die Departement van Grondsake het ons grond belowe. Grond waar ons weer medisyneplante kan kry en ons kinders van die veld kan leer.
PETRUS VAALBOOI
Voorsitter van die San-vereniging in Die Burger
7 Januarie 1999
Sinopsis
Daar moet 'n rede wees vir die feit dat die plaasroman ontwikkel het tot 'n aparte genre in Afrikaans. Daar moet 'n rede wees daarvoor dat dit vandag nog geskryf word, en dat die plaas en grond nog deel van die Afrikaanse letterkunde is (so onlangs as 1999 verskyn Vos van Anna M. Louw). Daar moet 'n rede wees vir die plaasmoorde en vir die verlating van plase.
Sedert die eerste plase in 1657 aan vryburgers toegeken is, word die Afrikaner met die plaas en grond geassosieer.
Hierdie boek ondersoek die verbintenis tussen wit setlaars en boerdery, en later tussen die Afrikaner, grond en die plaas. Die moontlike ontstaan van 'n
Afrikaner-identiteit as gevolg van hierdie verbintenis, en wat van daardie identiteit sal word wanneer die nuwe Grondhervormingswet die grond van wit boere toegewys het, word nagegaan. Die vraag word gevra of ‘identiteit’ in 'n postmoderne tyd nog absolute waarde kan hê.
Die boek begin by die eerste ruiltransaksies vir vee, en die botsing as
gevolg van uiteenlopende waardes wat deur die Europeër en die indigeen aan die ruilkonsep geheg is. Dit is hier nodig om die betekenis van representasie te begryp, waaruit konflik tussen wit en swart ontstaan het. Daarna word 17de eeuse tekste waarin van botsings tussen Europeërs en Koikoi vertel word, in Afrikaans vertaal en ontleed. En die vraag word gevra hoe die gekoloniseerde se stem gehoor kan word.
Die ideologie, soos geskep in die verhouding van die plaas tot die natuur en die ekonomie; die ontstaan van klas; die verhouding tot werkers en ras en die voortsetting van koloniaal geïnspireerde rassisme gaan in die ondersoek die episode van die Afrikaner se verstedeliking vooraf. Plaasverlating en armoede het hand aan hand gegaan, en die Afrikaner het 'n versukkelde bywoner in die stad geword. Wat is dan die identiteit van die Afrikaner wat ná verstedeliking met 'n neerdrukkende gevoel van skuld bly sit? Uiteindelik dring postmodernistiese denke die moderne plaasroman binne, en konsepte soos identiteit en absolute waarde word gedekonstrueer. Aan die einde bly slegs die teks - ook 'n konstruk - as die enigste konstante werklikheid wat ons het.
Die meeste aanhalings, hetsy in Engels of in 17de eeuse Nederlands, het ek vertaal, sodat daar in hoofsaak een deurlopende Afrikaanse teks is. In sommige gevalle is die oorspronklike Nederlands aangepas.
Hierdie boek bestaan nie uit konvensionele literêre ontledings van tekste nie. Die letterkunde word hier gelees as deel van die geskiedenis van Afrikaner-bewuswording, maar ook as medebepalend in die vorming daarvan.
AMPIE COETZEE
Inleiding
Die verhaal word vertel van die eertydse swaargewig-stoeikampioen, Koos de Wet,
wat gereeld swart gevangenes teen 'n minimale bedrag gehuur het om as arbeiders
op sy plaas Traanfontein in die ou Transvaal te werk. Daar aangeland, moes hulle
die tronkklere uittrek en sakke dra, met gate vir die kop en arms. In 'n ander verhaal
word vertel dat toe een van hulle eenmaal geweier het, Koos hulle almal met die
sweep geslaan het - as inisiasie tot sy wêreld.
Van sonop tot sononder, onder toesig van die gedienstige baasboy (wat Koos
‘Bobbejaan’ noem), moes hulle ongelooflike harde arbeid verrig. Hulle kos het bestaan uit pap en weiwater en soms stampmielies. Slaapplek was op sakke in 'n donker, muwwe stoor.
In sy outobiografiese nota voor in Call me not a man sê Mtutuzeli Matshoba oor die verhale in hierdie boek:
‘I want to reflect through my works life on my side of the fence, the black side: so that whatever may happen in the future, I may not be set down as “a bloody terrorist”. So that I may say: “These were the events which shaped the Steve Bikos and the Solomon Mahlangus, and the many others who came before and after them”’ (Matshoba, 1979).
Die man wat die verhaal vertel, een van die gevangenes, het eendag in 'n mielieland, terwyl hulle besig was om te oes, 'n kobraslang doodgemaak. Koos was woedend.
Die slange eet die rotte wat sy mielies vernietig, en vir sy straf moes die verteller die dooie slang om sy nek dra. Hy het geweier, en Koos het hom aangerand en so seer gemaak met sy geweerkolf dat hy kwalik kon loop. Uiteindelik het hy ontsnap, soos vele plaasarbeiders al voorheen van dié plaas gevlug het.
Later, in 'n ander verhaal, word vertel van bendes swerwende rowers wat boere en boervrouens op hulle plase aangeval het. Byna elke dag. Die boeregemeenskap het geglo dat hierdie aanvalle georganiseerde pogings was om hulle te ontwrig, en
‘... 'n eerste stap tot swart kleinboere se uiteindelike oorname van die wit boere se groot veeplase’ (Etienne van Heerden, 1993:177).
Hierdie voorvalle is ‘gerapporteer’ in die letterkunde. Dit is dus fiksie. Maar koerantberigte ‘vertel’ dieselfde: ‘Plaasaanvalle het sedert die verkiesing in 1994 tot meer as 650 gestyg’; en statistieke opgestel deur die Suid-Afrikaanse Landbou-unie toon dat plaasmoorde sedert 1994 van 92 na 142 slagoffers in 1997 gestyg het.
1'n Artikel getitel ‘Verskroeide aarde’ handel oor blankes se verlating van plase en verstrek die volgende inligting (Wiese, 1998:17):
Die gefortifiseerde plaashuis is darem nog 'n teken van lewe; talle ander staan leeg en verlate, want die eienaar is dood of het weggetrek. Die (wit) boere word minder. Syfers van die laaste landbousensus is onbetroubaar, waarsku amptenare, want vanweë boere se agterdog oor hoe die Regering die gegewens sal aanwend, is vorms waarskynlik nie akkuraat ingevul nie.
Nietemin: in 1976 was daar 75 500 boerdery-eenhede, in 1985 omtrent 65
800 en in 1993 net sowat 58 000.
‘Killing of farmers not political, says report’, is die opskrif van 'n berig deur Mandulo Maphumulo in The Sunday Independent, 16 Augustus 1998:2. Ook die PAC het op hulle konferensie in Soshanguve besluit dat hulle met belanghebbendes soos die boere wil saamwerk om die ‘grondhonger’ uit te skakel (Die Burger: 21 Desember 1998:9).
Die moorde op plase, wat steeds plaasvind, moet volgens die Minister van Veiligheid en Sekuriteit toegeskryf word aan die misdaadepidemie wat Suid-Afrika ondervind, en het nie 'n politieke oorsprong nie. 'n Persepsie bestaan egter reeds by die
(Afrikaanse) boeregemeenskap dat dié moorde wel 'n politieke oorsaak het, en die PAC praat van 'n ‘tydbom van grondloosheid’.
Of plaasmoorde dus met politiek of misdaad verband hou, is eintlik nie meer ter sake nie: diegene wat daardeur getref word, glo dat die oorsaak polities van aard is.
Die plaasromanskrywer Etienne van Heerden se kommentaar op die slagtings som die gevoel onder Afrikaanssprekendes raak op - juis omdat daar miskien nog altyd êrens in die onbewuste iets van 'n verbintenis met 'n plaas is: ‘Daar's motorkapings en rooftogte - maar min slagtings roer soos 'n moordaanval op 'n plaasopstal.’
2Hierdie boek wil die verhaal van grond, grondbesit en die plaas in Suid-Afrika vertel. Nie om die verlede te herskryf nie, ook nie om die geskiedenis van die verlede in terme van die hede te vertel nie. Maar om die geskiedenis van die hede te vertel.
3In hoe 'n mate die geskiedenis van die hede in grondkonflikte gewortel is, blyk duidelik uit koerantberigte en inligtingspamflette soos Grondeise ingevolge die Wet op Herstel van Grondregte (1994) uitgegee deur die Departement van Grondsake.
Hierin word verduidelik hoe hierdie wet in November 1994 aanvaar is deur die Parlement om voorsiening te maak vir die herstel of vergoeding van regte ten opsigte van grond wat deur rasgebaseerde diskriminerende wette sedert 19 Junie 1913 ontneem is. Daarin word verduidelik wat herstel ingevolge hierdie wet beteken; wie vir herstel kwalifiseer en wie nie kwalifiseer nie; en hoe 'n eis ingevolge die wet ingedien word. Daar word verder gedebatteer en geskryf oor die probleme wat met grondhervorming gepaard kan gaan.
4'n Onlangse akademiese publikasie deur Charles van Onselen (1996) waarin die lewensverhaal van 'n swart bywoner vertel word, het dié roerende motto: ‘Die saad is myne. Die ploegskaar is myne. Die span osse is myne. Alles is myne. Net die grond behoort aan hulle’ [eie vertaling]. Ook in die onlangse Afrikaanse poësie word die bewustheid van ons verhouding tot grond opnuut verwoord. Antjie Krog se gedig
‘grond’ (1995:72) besing die liefde vir grond, dit wat meer is as net grond; grond
wat ook taal word:
onder bevele van my voorgeslagte was jy besit had ek taal kon ek skryf want jy was grond my grond maar my wou jy nooit
hoe ek ookal strek om my neer te lê in ruisende blou bloekoms
in bees wat horings sak in Diepvlei rimpelend drink die trillende keelvel in tafsytossels in leksels gom in doringbome afgegly na die leegtes mý wou jy nooit
my verduur kon jy nooit keer op keer skud jy my af rol jy my uit
grond, ek word langsaam naamloos in die mond nou word geveg om jou
beding verdeel verkamp verkoop versteel verpand ek wil ondergronds gaan met jou grond
grond wat my nie wou hê nie
grond wat nooit aan my behoort het nie grond wat ek vergeefser as vroeër liefhet
Die plaas en grond is dus dele van 'n meerstemmige gesprek, 'n dodelik ernstige debat - 'n diskoers in die ware sin van die woord.
Die prosanarratief in Afrikaans sal egter die hoofbron van die studie wees, veral die plaasroman. Nadine Gordimer het eenmaal die stelling gemaak: as jy die feite van die terugtrekking uit Moskou in 1812 wil lees, kan jy dit in 'n geskiedenisboek lees; maar as jy wil weet hoe oorlog is en hoe mense op 'n spesifieke tyd en plek daarop reageer, moet jy Oorlog en vrede lees.
5In 'n onlangse studie (Esbenshade, 1995) oor die onthou en vergeet van politieke wandade in die verlede, spesifiek met betrekking tot Oos- en Sentraal-Europa, word die roman van Milan Kundera, The book of laughter and forgetting, en van Gyorgy Konrad, The loser, as hoofbronne gebruik.
‘De genealogische opgevatte geschiedschrijving wil niet de wortels van onze identiteit terugvinden, integendeel, zij wil haar in alle
windrichtingen verstrooien; zij wil niet de huiselijke haard vinden waar wij vandaan komen, dat eerste vaderland waar wij zoals de metafysici beloven, zullen terugkeren; veeleer wil zij alle
diskontinuïteiten zichtbaar maken die ons doorkruisen’ (Foucault &
Deleuze, 1981:38).
Hierdie boek lees dus die roman as
geskiedenis. Maar nie geskiedskrywing binne 'n ideële kontinuïteit, teleologies en met 'n natuurlike aaneenskakeling van gebeurtenisse nie, waar gebeurtenis te make het met magsverhoudings, die omkeer van magsverhoudings, indringing, versteuring van lewenspatrone, of die intrede van ander heersers. As die roman ook as
geskiedskrywing gelees word, kan dit die drie eienskappe van die ‘werklike
geskiedskrywing’ bevat, aldus Nietzsche: geskiedskrywing as parodie, as karnaval, waar ons almal gedurig van identiteit verander; geskiedskrywing as ontbinding van identiteit; en geskiedskrywing as instrument tot die vernietiging van beskermende illusies, en van die eenheid van die onderwerp.
Hierin het die roman die vermoë om die verering van monumente te parodieer, die respek vir kontinuïteit te ontbind, en die sekerheid van die mens oor die onregverdighede van die verlede deur die verstrooiing van die subjek te vernietig (Foucault & Deleuze, 1981:41). Die roman ontstaan verder nie net uit die sosiale en politieke formasies waarin dit geskryf is en waarna dit direk of indirek verwys nie, maar dit skep ook konstrukte vanuit daardie formasies. Dit maak dus ook geskiedenis.
Die plaasroman word redelik nougeset gesien as dié soort roman waarin die plaas sentraal staan: ten opsigte van sake soos erfpag, opeenvolging van geslagte, die natuur, arbeid, afskeid van die plaas; maar daardeur maak dit deel uit van 'n veel groter ‘diskoers’: die diskoers oor grond en grondbesit.
‘Before approaching, with any degree of certainty, a science, or novels, or political speeches, or the oeuvre of an author, or even a single book, the material with which one is dealing is, in its raw, neutral state, a population of events in the space of discourse in general. One is led therefore to the project of a pure description of discursive events as the horizon for the search for the unities that form within it’ (Foucault, 1972:27).
Die konsep diskoers, diskursiewe gebeurtenis, kom uit die omskrywing van Michel Foucault. Dit kom daarop neer dat 'n roman byvoorbeeld saamgestel is uit verskeie elemente - of wat Foucault die enoncé, die uiting, noem - en die verspreiding en totaliteit van hierdie uitings/elemente vorm 'n diskoers.
Die diskoers oor grond bestaan dan uit uitings soos die volgende: besit, grondtoewysing, die natuur, die plaas, die plaasroman, erfreg, die nageslag.
Die Afrikaanse letterkunde is so deurtrek van die plaas, en van die natuur, as idille
of as afbrekende mag, dat selfs romans wat klaarblyklik nie as plaasromans beskou
kan word nie, ook die plaasruimte êrens betrek. Nie noodwendig as ruimte waarin
die karakters
bestaan en handel nie, maar as onderbewussyn, of as bron van taalkreatiwiteit.
Voorbeelde in moderne romans sluit in: hoofsaaklik politieke romans soos
Houd-den-Bek van André P. Brink, Blaaskans van John Miles; herskeppings van die verlede soos Uur van die engel van Karel Schoeman; en geskiedkundige
navorsingromans, soos Op soek na generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee. Daar is ook voorbeelde van plaas-‘verhale’ by die moderne kortverhaal, spesifiek by Koos Prinsloo en Etienne van Heerden.
Die navorsing vir hierdie boek is hoofsaaklik gedoen oor die plaas-roman soos dit in die Afrikaanse letterkunde voorgekom het. Die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde bevat ook sodanige romans: van Olive Schreiner se The story of an African farm, tot veral J.M. Coetzee se In the heart of the country (en die lofsang op die plaas in sy onlangse Boyhood) en Nadine Gordimer se The conservationist. Dit gaan egter hier in die eerste plek om die verhouding tussen wat mens met 'n mate van onsekerheid vandag tentatief ‘die Afrikaner’ en die plaas kan noem; oor die boer wat Boer geword het.
Eindnoten:
1 ‘Plaasaanvalle het boere in wurggreep’, Landbou '98. Bylae by alle nasionale koerante, 28 September 1998:2.
2 ‘Moord in die literatuur het dalk op plaas begin’, Die Burger, 3 September 1998:5.
3 Hierdie persepsie van geskiedskrywing kom van Michel Foucault, 1991:31. Sy siening is grootliks gebaseer op dié van Friedrich Nietzsche (vgl. Foucault & Deleuze, 1981:30).
4 Vergelyk byvoorbeeld die artikel ‘Ground for Hope’, deur William Beinart, 1 Junie 1995:16-18.
5 Aangehaal deur Stephen R. Clingman, 1986:1.
1 ‘My geboortereg gee my 'n serwituut oor dié grond’
Die betekenis van die plaas Begin, oorsprong, ontstaan?
'n Sterwende, bejaarde vrou roep fragmente van herinnering op uit haar verlede, en
die verlede van die voorgeslagte op die familieplaas in die Roggeveld. Een van die
skerwe uit haar geheue is die gedurige twiste wat ontstaan het oor grond en oor
bakens wat verskuif is. Sy onthou wat met Jan Baster gebeur het. Hy is verdryf van
sy grond omdat daar besluit is dat die grond waarop hy woon, die grond by die
fontein, nie aan hom behoort nie,
alhoewel hy beweer dat die grond sy vader s'n was. Hy word weggedryf van die grond, sy hartbeeshuisies afgebrand. Sy onthou hoe hy, met hoed in die hand in sy armoedige klere van gebreide velle, voor hulle deur gestaan het, ontsteld en magteloos;
en haar moeder se stem: ‘Sê vir die Hotnot dat hy moet padgee!’ En iemand wat gesê het, toe sy versukkelde wa wegry: ‘Daar gaan Jan Baster-hulle.’ Die enigste
herinnering aan hom is die naam van die plek waar hy gewoon het: Bastersfontein.
Dit is 'n toneel uit Karel Schoeman se roman, Hierdie lewe (1993), waarin die hoofkarakter stemme probeer tekstualiseer.
Bessie Head begin haar voorwoord tot Sol T. Plaatje se Native Life in South Africa (1982:ix) met die opmerking dat daar waarskynlik geen ander wetgewing was wat die lewens van swart mense in Suid-Afrika so drasties beïnvloed het as die Naturelle Grond Wet van 1913 nie. Dit het daartoe gelei, sê sy, dat die besitreg van grond onherroeplik in die hande van die wit mense gekom het; en dat daar 'n ronddwalende landlose werkersklas geskep is wie se arbeid misbruik kon word.
In 1994 is Nelson Mandela die spreker tydens die 90ste verjaardag van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie. Hy sê dat in die loop van die 90 jaar ongeveer drie miljoen mense onwettig van hulle grond verwyder is, en dat dit die taak van 'n grondkommissie sal wees om ondersoek in te stel na transaksies waar grond onteien is tydens die verskuiwing van swart mense en dat die nuwe regering verbind is tot 'n proses van grondhervorming.
6Die gemene deler hier, in fiksie en in werklikheid, is grond en grondbesit.
Die plaasroman is 'n literêre verskynsel wat sedert die 19de eeu in Suid-Afrika in die Afrikaanse en Engelse skryfkuns voorkom, maar dermate in die Afrikaanse prosakuns van veral die twintiger-, dertiger- en veertigerjare dat dit eintlik 'n afsonderlike genre vorm. Hierdie plaas-grond-diskoers keer telkens terug, veral in Afrikaans, soos Etienne van Heerden se Kikoejoe in 1996, Anna M. Louw se Vos in 1999, en die ‘plaasroman’ van J.M. Coetzee, Disgrace (1999), waarin
magsverhoudings op ontstellende wyse verskuif word.
Wat is die genealogie van die plaasroman?
Die konsep genealogie word filosofies beskou in 'n essay, ‘Nietzsche, de
genealogie, de geschiedskrywing’ (Foucault & Deleuze, 1981:8). Foucault begin sy studie op kenmerkende poëtiese wyse:
De genealogie is grijs: pietluttig en geduldig is zij met dokumenten
bezig, met ongeordende, afgekrabde, meermaals beschreven perkamenten.
Ons weet wat die verskyningsdatum is van die eerste roman waar 'n plaas die milieu is: 1883, Olive Schreiner se The story of an African farm. As 'n mens verder wil teruggaan na geskrewe tekstualiserings (want tekeninge is daar ook) van plase of plaasmense, is daar die beskrywings van die ‘boor(s)’, van plaasboere en hulle huise in Thomas Pringle se Narrative of a residence in South Africa. 'n Mens sou selfs verder in die verlede voorbeelde kon vind: die dagboeke van Johanna Duminy van 1797, waarin sy die plaaslewe en die plaasgemeenskap in die buitedistrikte beskryf - beskrywings gedoen in 'n taalvorm wat die oorgang van Nederlands na Afrikaans aandui (Franken, 1938). En in die tekste van die vroeë reisigers, avonturiers en fortuinsoekers word talle plase op hulle trekroetes genoem. Johannes Tobias Rhenius
7noem in sy dagregister van September 1724 die plase van Joannes Heufke, die weduwee Ten Damme, Jacobus Smit, Jacobus van der Heiden, Gerrit van Wijck, kaptein Bergh, Andries Grove, Daniel Hugo, die weduwee Van der Bijl en H.O.
Eksteijn. Jacobus Coetzee vertrek op 14 Julie 1760 van sy plaas by Piketberg op sy onsuksesvolle tog na die noorde om olifante te jag. Die relaas van die arme, skadelose, ongeletterde Jacobus Coetzee word die stof vir die novelle van J.M. Coetzee, waarin Jacobus verteenwoordiger is van die Boer en die Kolonis, die wrede wraaksugtige vernietiger van die Boesman en die Khoi.
8En die joernaal van Carel Frederik Brink van die tog van kaptein Hendrik Hop na Groot Namakwaland
9in 1761 noem die plase van Christiaan Bester, Witske, Pieter van Zeyl, Jochem Koekemoer, Gerrit Kloete, Theleman Roos, Pieter Marais, Abraham Meyer en Petrus Eksteen.
In sy uiteensetting van Nietzsche se opvattings oor die genealogie onderskei Foucault (1981:8-24) veral dié drie konsepte in Nietzsche se woordeskat: ‘Ursprung’, ‘Entstehung’ en ‘Herkunft’. Laasgenoemde term blyk nie van toepassing te wees binne die verband van hierdie studie nie.
Die Meulenaar (1926) van D.F. Malherbe word as die eerste werklike plaasroman in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis beskou.
Hierdie voorbeelde dui egter nie op 'n spesifieke begindatum nie, want is 'n begin 'n oorsprong of 'n ontstaan?
Oorsprong impliseer presiesheid, 'n absolute statiese begin, waar die rol van die
toeval en van die disparate geïgnoreer word, en 'n historiese aanvang gesien word
as iets verhewe, terwyl dit niks besonders hoef te wees nie. Voorheen is daar gepoog
om die soewereiniteit van die mens in sy goddelike afkoms te verklaar; nou kan
daardie geloof nie meer bestaan nie, want aan die mens se begin staan daar volgens
Nietzsche 'n aap. Ontstaan kan verwys na 'n punt van ver-
skyning, wat ononderbroke kontinuïteit impliseer, wat ontwikkel of streef na 'n eindpunt of verwerkliking; en dan word die ontstaan vanuit die eindpunt verklaar.
Op dié manier sou dit verstaanbaar wees om die huidige Suid-Afrikaanse
grondkwessie toe te skryf aan die toewysing van plase aan vryburgers sedert die 17de eeu. Dit sou egter 'n nuttelose monoloog wees wat weinig verklaar omtrent 'n enorme korpus tekste en die redes vir die ontstaan daarvan, asook die feit dat daardie tekste werklikhede was en werklikhede geskep het waarvolgens mense gehandel het.
Ontstaan moet eerder gesien word binne 'n verhouding van magte, kragte wat teen mekaar te staan kom.
‘Het ontstaan is dus het moment waarop de krachten het toneel betreden, hun irruptie, hun sprong uit de koulissen op het toneel, elk met de hun eigen jeugdigheid en kracht’ (Foucault & Deleuze, 1981:21).
Oorsigtelik, en dus vereenvoudigend, het die Afrikaanse plaasroman in terme van kragvelde twee stuwings gehad. Die eerste stuwing kom in die twintiger- en dertigerjare, waarin magte soos die Depressie (1929-1932), die groot droogte (1932-1933), toenemende armoede onder boere en bywoners, en die verstedeliking van ongeskoolde mense inbreuk gemaak het op en die Afrikaner se lewenspatroon dramaties versteur het. Daarvan word vertel in die werke van D.F. Malherbe, Jochem van Bruggen, C.M. van den Heever en Abraham H. Jonker. Dit was die ontstaan van die eerste reeks plaasromans, geskryf binne die tradisies van die romantiek (die verlange en idealisering van die verlede) en die realisme (die poging tot weerspieëling van die werklikheid). Apartheid as staatsbeleid het in die sestigerjare gelei tot 'n ekonomiese opbloei; maar ook tot die verbreding van die perspektiewe van 'n nuwe geslag skrywers, wat hulle begin verset het teen die Afrikaner-hegemonie. Gedurende hierdie era vind die tweede stuwing plaas. Die plaasroman het weer ‘ontstaan’, maar anders: modernisties in die parodieë van Etienne Leroux en in die
simbolies-allegoriese in die familiesage van Anna M. Louw. Die naderende katastrofe van 'n politieke ontploffing in Suid-Afrika en 'n verskerpte bewustheid van die betekenis van teks binne die postmodernisme het aanleiding gegee tot die plaasromans van Karel Schoeman, Etienne van Heerden en Eben Venter.
Die apokaliptiese as vernietiger van die ou orde, 'n handeling wat inherent aan
hierdie postmoderne plaasromans is, hoef nie noodwendig 'n einde beteken nie, soos
wat in die sin van 'n teleologiese ontwikkeling na 'n einde beweeg word. Daar was
eerder 'n onderliggende wens of begeerte by die skrywers van hierdie tekste dat 'n
apokalips die koms van geregtigheid sou beteken - 'n wil tot geregtigheid, tot
vergelding, soos wat brandende
plaashuise 'n teken van wraak is. Nadine Gordimer se gebruik van die beroemde woorde van Antonio Gramsci as motto vir haar roman July's people (een van die apokaliptiese boeke), ‘Die oue sterf en die nuwe kan nie gebore word nie; in hierdie interregnum verrys daar 'n groot verskeidenheid morbiede simptome’, sou kon impliseer dat daar deur die aftakeling 'n historiese progressie tot geregtigheid en 'n ewige waarheid is. Haar roman eindig egter in vlug. Karel Schoeman se herbesoek aan die tradisionele plaasroman, Na die geliefde land (1972), word gesitueer in 'n interregnum waar die nuwe heersers bloot ‘hulle’ genoem word, waar die
verteenwoordigers van die ou hegemonie slegs in die verlede kan bestaan en die jong karakters in 'n tussenwêreld leef met nêrens om heen te gaan nie. In die
wynplaasromans van Etienne Leroux, waar die plaas 'n stigting geword het, word die apokalips gesatiriseer.
'n Mens kan dan die apokaliptiese sien as 'n versteuring van wat slegs 'n verbeelde eenheid was, 'n dissosiasie van identiteit, en nie as 'n sintese nie.
Die herhaalde terugkeer na die plaasroman, vanaf die twintiger- tot die negentigerjare, is waarskynlik nie 'n tekstuele soeke na identiteit nie, maar 'n verbintenis tot verstrooiing: ‘Om die plaas as tuiste te aanvaar, is die aanvaarding van 'n lewende dood,’ sê J.M. Coetzee (1988:66) in sy essay oor die siening van die plaas by Olive Schreiner. In hierdie werke is daar geen universele meer nie, en die eenheid van die onderwerp verdwyn - selfs die patriarg van die vroeë romans.
Uiteindelik eindig die bestaan van die teks ook, en net die spore daarvan bly oor, soos in die geval van Die stoetmeester van Etienne van Heerden.
Die Remonstrantie van die eerste aankomelinge
Op 15 Maart 1647 strand die Nieuw-Haerlem in Tafelbaai, een van 'n konvooi van drie Hollandse skepe, op weg vanaf Batavia na die Patrai. Dit was 'n ongeluk; maar indien noodlot of ongeluk as deel van geskiedskrywing gesien moet word, soos wat in hierdie studie wel die geval is, was hierdie gebeurtenis 'n betekenisvolle moment.
Onderkoopman Leendert Janszen word die kommandeur van die seelui wat hier aan die uithoek van die aarde uitgespoel het. Hulle moes nog omsien na die belange van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Vir ongeveer 'n jaar moes hulle hier bly totdat 'n retoervloot hulle kon oplaai. Hierdie verblyf in Afrika, tussen die Strandlopers (Hottentot-stam) en naby die berg het gelei tot die skepping van 'n teks: die
Remonstrantie, gerig aan die Kompanjie in Holland (E.C. Godée Molsbergen, 1912).
Die teks is gestileerd, retories gestruktureer om te kan oortuig. Dit is klaarblyklik 'n beskrywing van 'n toneel, maar dit gaan oor van beskrywing tot 'n narratief van gebeurtenisse. Dit is geskryf in die kenmerkende styl van die redevoerder, soos byvoorbeeld: ‘nieteenstaande die feit dat... wil ons dit nietemin stel...’. Daar word redes aangevoer vir die ontwikkeling van die Kaap as 'n tuin en 'n plaas, met die volgende ondersteunende feite: die swak situasie op Sint Helena wat as 'n
halfwegstasie moes dien; die groot afstand na Batavia; die groot onkoste wanneer bemanning siek word in Batavia. Daarteenoor sal daar by die Kaap vars produkte wees, sodat die bemanning gesond kan bly sonder onkoste vir die Kompanjie, met minder tuiniers en gebruikmaking van gevangenes van Sjina. Hulle gee ook 'n ontleding van die koste en beklemtoon die beskikbaarheid van vis, elande, steenbokke, voëls, walvisse en robbe.
In 'n boek oor vroeë plase in die Kaap, waarin die Kaap dan alreeds beskou kan word as die eerste plaas, is die plaas 'n onafskeidbare deel van die stigting van 'n ander volksgreep, en word die plaas deel van 'n diskoers wat al in 1647 begin het.
Die volgende uittreksel uit Dorothy Fairbridge se Historic farms of South Africa is 'n samevatting van hierdie skipbreukelinge se bevindings (1931:16):
Die grond is baie goed in die vallei... en gedurende die droë seisoen kan die water vir besproeiing gebruik word, soos benodig. Alles sal daar groei net soos in enige ander deel van die wêreld, veral pampoen, waatlemoen, kool, wortels, radyse, rape, uie, knoffel en alle ander soorte groente... Daar is ook geen twyfel dat alle soorte vrugtebome daar sal aard nie, soos lemoene, lemmetjies, appels, suurlemoene, sitroene... asseblief, dink dus hoeveel siek mense gesond gemaak kan word deur God se goedheid wanneer al die vrugte wat genoem is, in oorvloed beskikbaar is en veral wanneer 'n groot hoeveelheid beeste en skape by die inwoners geruil kan word vir voorrade teen 'n lae prys. Van die beeste kan ook botter, kaas en melk verkry word [eie vertaling].
Die eerste aankomelinge het voorgestel dat hierdie planne alles vermag kan word
‘... door't maecken van een forte ofte redoute mitsgader een thuin’ [deur die oprigting van 'n fort en dan ook sommer 'n tuin].
In Februarie 1657 kondig kommandeur Jan van Riebeeck, wat toe in beheer van
hierdie landbou-onderneming was, die eerste grondvrypagvergunnings aan vryburgers
aan. Hulle sou uit die Kompanjie se diens ontslaan word om beeste, varke en ganse
te teel:
... in werklikheid enigiets waaruit hulle profyt kan maak, hoewel die hoofbedoeling van die Kompanjie is dat hulle in die eerste plek landbou moet beoefen... Aangesien die Kompanjie groot waarde heg aan die bevordering van landbou deur vryburgers... sal hulle in vrypag soveel grond kry... as wat hulle kan ploeg... (Davenport & Hunt, 1974:2, eie vertaling).
Die verloop van grondeienaarskap geskied hierna volgens spesifieke datums: 1732 en 1743, en in 1805 is daar 'n opdrag oor die instelling van plaasgrense. In 1820 ontvang Britse Setlaars ewigdurende ‘quit-rent’, en in 1880 word besitreg vir die Boererepublieke ingestel. Ingevolge Republikeinse wetgewing is sertifikate van burgerreg op aansoek uitgereik aan goedgekeurde persone, wat aan hulle die reg verleen om 'n plaas op oop grond te kan kies (Davenport & Hunt, 1974:8).
Dat grond weggeneem is van die inheemse bewoners en bewerkers daarvan het vanselfsprekend gelei tot weerstand. 'n Bepaalde gebied is kragtens gewoontereg bewoon deur die Khoi, en vreemdelinge moes toestemming kry om daar te jag of om dit as weiding te gebruik. Grond is deur almal saam gebruik; dit het nie aan 'n hoofman behoort nie, kon nie vervreem raak nie en ook nie aan 'n individu oorgedra word nie.
Hier is 'n inskrywing in Van Riebeeck (1957) se dagboek oor 'n konfrontasie op 10 Februarie 1655:
Net verlede nag het dit gebeur dat ongeveer 50 van hierdie inwoners hulle hutte wou opslaan naby die walle van die moot van ons fort, en toe hulle op 'n vriendelike manier deur ons mense gesê is om 'n entjie verder weg te gaan, het hulle manhaftig te kenne gegee dat die land nie ons s'n is nie maar hulle s'n, en dat hulle hul hutte sou plaas waar hulle wou. As dit ons nie pas om hulle toe te laat om dit te doen nie, gaan hulle ons met die hulp van baie mense uit die binneland doodmaak [eie vertaling].
Daar bestaan ook 'n verslag van 'n grondtransaksie tussen die Kompanjie en die Khoi in 1676. 'n Khoi-kaptein, Cuijper, het sy kraal gebou op die plek waar die Goewerneur en sy mense hooi wou maak. Hy is gevra om sy kraal te verwyder: ‘Hy het dit, sover ons kon vasstel, aanvaar sonder ontevredenheid nadat hy getrakteer is op 'n bietjie arrak, waarmee hy baie tevrede vertrek het’ (Davenport & Hunt, 1974:11).
Die verhaal gaan voort: in 1819 verduidelik Cungwa, hoofman van die
Ggunukwebe, die ontevredenheid van die Xhosa-hoofmanne oor die verlies
van hulle grond; in 1829 stel generaal Stockenström voor dat die Khoi by die Katrivier gevestig word; in 1846 word Naturelle-reservate in Natal gevestig; in 1863 word 'n Boesman-reserwe gevestig; in 1867 vestig die Oranje-Vrystaat 'n reservaat
(Witzieshoek).
Daar is egter geen logiese historiese progressie in hierdie onteieningsproses nie (onbekende gebeurtenisse, toevallighede, wat weer eens die verloop van die geskiedenis bepaal?). In 1883 verskyn 'n verslag van 'n Regeringskommissie oor Naturelle Wette en Gebruike wat ingestel is om ‘die omstandighede van die Naturelle deur middel van wetgewende handeling’ te verbeter deur gebruike betreffende besitreg na te gaan en ‘... sodanige voorstelle te maak met betrekking tot die Besitreg van Grond wat die mees gepaste mag wees om uit te voer, waar prakties moontlik, die beleid van hierdie Kolonie in die saak van persoonlike Besitreg’ (Jacob Dirk Barry, 1883:52, 40, eie vertaling).
Die doel was skynbaar om terug te gee wat weggeneem is. In 1913, met die Naturelle Grond Wet, begin territoriale segregasie:
Dit was spesifiek daarop gemik om daardie eienskappe van Swart grondbesit en bywonerskap te verwyder wat wit boere onwenslik gevind het, en terselfdertyd om die Swart reservate groter te maak sodat arbeid vir die myne meer gerieflik gewerf kon word (Davenport & Hunt, 1974:259).
Die narratief gaan voort, maar nou in die hede. In 1994 begin die nuwe
Suid-Afrikaanse regering met onderhandelings gerig op die hertoewysing van grond.
Met die voorbeelde wat tot dusver verskaf is, word 'n aanduiding gegee van die vele uitings binne die diskoers rondom grond en grondbesit. Vervolgens word inleidende opmerkings gemaak oor een spesifieke aspek van hierdie diskoers: die plaasroman.
Die plaasroman
Sol Plaatje se Native life in South Africa is in 1916 in Londen gepubliseer. Die skryf daarvan was 'n direkte uitvloeisel van die Naturelle Grond Wet; dit het deel uitgemaak van die appèl gerig tot die Britse Imperiale Regering, wat op daardie tyd nog die bevoegdheid gehad het om wetgewing te veto wat in Suid-Afrika goedgekeur is.
Plaatje was lid van 'n afvaardiging na die Britse regering. Hy het sy boek begin skryf
op die boot na Engeland. Alhoewel hierdie boek nie net oor grond handel nie, is dit
nietemin 'n hoogs betekenisvolle narratief binne hierdie diskoers, ten spyte van die
Plaatje enige literêre meriete daarin ontken, synde 'n ‘Suid-Afrikaanse naturelle-werker’:
My verhaal is slegs 'n opregte narratief van 'n mistroostige situasie, waarin ek, met tekortkominge en al, probeer het om die swarighede van die Suid-Afrikaanse naturelle onder 'n baie vreemde wet te beskryf, sodat dit maklik verstaan kan word deur die simpatieke leser (Sol T. Plaatje, 1982:15, eie vertaling).
Die teks is ook uniek aangesien dit een van die min, miskien die enigste, tekste is oor grond en boerdery wat spesifiek deel van daardie diskoers is, geskryf deur een van die onterfdes, deur een van die gemarginaliseerdes. In 'n sekere sin is Plaatje se teks, waar dit oor grond handel, vergelykbaar met Janszen en Proot se Remonstrantie, maar met dié verskil: hulle het 'n pleidooi gelewer vir die oopstel van plase vir latere koloniste, sy appèl is vir die behoud van die grond van die indigeen.
Plaas en grond: betekenis en etimologie
Dit is nodig om vlugtig te kyk na die woord ‘plaas’ en die etimologie daarvan. Dit kom byvoorbeeld nie in Xhosa voor nie, behalwe in die vorm ‘ifama’, of ‘iplasi’, of anders moet dit omskryf word. As dit nie oorspronklik bestaan het in 'n outochtone taal nie, moet aanvaar word dat die konsep ook nie bestaan het nie; dat daar dus nie plase in die Westerse betekenis was nie. Die afwesigheid van 'n woord dui dan ook op die indringing wat met die skepping van 'n ander konsep gepaard moes gegaan het. Dit is ook opvallend dat die woord ‘grond’, as eiendom vir beoefening van landbou, akkerbou, grondverbouing, weiding, of selfs net as grond-wat-daar-lê, nie in Engels voorkom nie. Grond is grondig meer as net grond in Afrikaans.
Die Engelse woord ‘farm’ kom van Middeleeuse Latyn, ‘firma’, wat beteken ‘vaste betaling’, ‘die bevestiging van 'n dokument, die handtekening’. Die assosiasie met eiendom en besitting is klaarblyklik. Die Afrikaanse woord besit en die woord beset koppel besit aan inbesitneming. Plaas kom van die Latyn ‘platea’, 'n ruimte, 'n oopte, 'n groot patio; waarin mens sou wou lees: 'n ruimte vir jouself. Dan kan mens ook met assosiasies speel. Wat van boer? Daar is baie betekenisse: Middelnederlands:
‘(ge)bure’, Oud-Duits: ‘bur’ - woonplek, ook buur(man); later: landsman, landbewoner (Engels: ‘peasant’), takhaar, plaasjapie, ongekultiveer, onverfynd, boers, die
teenoorgestelde van die dorpsbewoner of stedeling (ook Engels: ‘boor’). Die
Oxford-woordeboek gee die volgende historiese konnotasie: ‘'n Hollandse kolonis
in Suid-Afrika betrokke by landbou of veeteelt’. Sedert die
institusionalisering van apartheid deur 'n Afrikaner-regering het boer Boer geword en 'n besliste ideologiese verbintenis gekry met polisie, weermag, mag.
Vernon February (1991) haal die geskiedskrywer F.A. van Jaarsveld aan wat beweer dat die Afrikanernasie begin het met die uitgifte van plase aan die Vryburgers in 1657.
Dit alles het op die plaas begin, daarom is dit 'n diskoers wat 'n mens ernstig moet opneem, veral sedert geskiedskrywers die idee gevestig het dat die begin van die plaas, die besit van grond, die begin van die Afrikaner was.
Die konsep begin is in hierdie geval veral aanvegbaar, maar dit is vrugteloos om daaroor te stry. In sy essay oor die ideologie van die plaas in die plaasromans van C.M. van den Heever, beweer J.M. Coetzee die volgende:
Wat betref die hantering van die natuur is Van den Heever hoofsaaklik daarop ingestel om die natuur binne die plaas te integreer; dit wil sê, om sekere romantiese gemeenplase oor die herwinning van die mens se waarheid in die natuur te koppel aan die tese dat die Afrikaner sy
onafhanklikheid en (uiteindelik) sy identiteit sal verloor as hy sy basis in grondbesit verloor (J.M. Coetzee, 1988:110, eie vertaling).
Die ouer plaasroman het verder ook die plaasarbeider en die swart karakter
geïnskribeer binne spesifieke rolle in die Afrikaanse letterkunde, en daarom ook in die bewussyn van lesers. Jakes Gerwel se studie van 1983, Literatuur en apartheid, het al daarop gewys. Die titel van hoofstuk 3, ‘Ek het maar net saam met die baas gekom’, impliseer die projeksie van ‘die gekleurde as die ewig gedienstige en onderhorige agterryer van die... Afrikaner’. Hy verwys ook na die voorwoord van Melt Brink se Die storie van Klaas Windvoöl die ou Hotnot: ‘met die schrijven van deze storie heb ik getracht u het karakter van een Hottentot weer te geven, zoals wij er jaren gelede bij vele onzer oude Boeren-families kan aantreffen...’ (Gerwel, 1983:98, 60). Die betekenisvolste konstrukskeppende meganismes met betrekking tot sake soos identiteit, ideologie, klasseverhoudings tussen wit en swart én tussen wit en wit, en rasseverhoudings kan uit die Afrikaanse plaasroman gelees word.
Klasseverhoudings, spesifiek tussen wit en wit, kom ook pertinent na
vore in Engelse plaasromans, soos The conservationist van Nadine
Gordimer. Vergelyk byvoorbeeld die verhouding tussen die ryk eienaar
van die kleinhoewe, Mehring, en die Afrikanerbure, die De Beers.
Die vraag wat Coetzee in sy essay vra, en wat 'n verklaring kan bied vir die menige herbesoeke aan die plaasroman deur roman- en kortverhaalskrywers, literatuurteoretici, en ook hierdie boek, is: Wat is die betekenis van die plaas? Maar dan is daar ook die vermoede dat 'n antwoord wat 'n absolute waarheid wil gee, nie kan bestaan nie.
Want as daar 'n absolute antwoord is op hierdie vraag, sou dié soort roman lankal nie meer geskryf word nie.
Onderskeidende kenmerke van die plaasroman
J.M. Coetzee (1988:65-66) beskou The story of an African Farm as 'n mikrokosmos van koloniale Suid-Afrika, waar die plaas in diens staan van haar kritiek op koloniale kultuur. En Stephen Clingman
(1986:135) beskou dit as prototipies van die Suid-Afrikaanse koloniale roman.
Dit is nodig om vas te stel wat dié soort roman van ander onderskei. Waarom het dit 'n spesifieke naam gekry, en waarom sou 'n roman soos dié van Olive Schreiner, waarin die handeling op 'n plaas geskied en waar die titel duidelik wys op die verhaal van 'n plaas, nie eintlik as 'n plaasroman beskou word nie?
Daar kan op sekere eienskappe, wat nie noodwendig konstant is en altyd voorkom nie, gelet word. 'n Geslote eenheid word geskep, 'n vreedsame plek, 'n
selfonderhoudende wêreld waar bedreiging van buite afgeweer kan word, veral dreigemente van spesifieke sosiale veranderings en konfrontasies. Dit is natuurlik hierdie dreigemente, breuke, wat tot die ontstaan van die romansoort, en van individuele romans, van die vroeë roman en van die moderne en postmoderne roman kon gelei het. Nietemin, die eenheid wat daar geskep word, aanvanklik geromantiseer, sou bedreigings kon weerstaan; dit sou die persepsie wees. Hierdie eenheid kon egter ook 'n agtergrond gewees het sonder om substantief - as plaas binne die natuur, as ruimte waar die mens te staan kom teen die natuur ter wille van die produksie van lewensmiddele - deel van die handeling uit te maak. Dit is dikwels die geval in die werk van J. van Melle, waar die plaas die omringende ruimte is vir voorstellings van armoede, historiese gebeurtenisse, die stryd van die generasies, die krag van die individu, die didaktiese.
Die ruimte van die plaas word ook in die handeling geïntegreer waar die plaas self
die bron van konflik is. Daar is 'n sekere kontinuïteit by die Afrikaanse plaasroman
en dié van die ‘primordiale’ Europese tekste van byvoorbeeld Knut Hamsun en Stijn
Streuvels, waar die arbeid saam en teen die natuur konstant is: die verheerliking van
arbeid en 'n beklemtoning van die mag van die natuur. Gedurende die twintiger- en
dertigerjare, toe
armoede en vervreemding van die bekende ruimte breuke in die samelewing gebring het, is die adel van arbeid beklemtoon en teenoor luiheid en traagheid gestel. Die eienaar van die middele tot produksie was fluks, en diegene wat niks besit het nie, lui en gedegenereer. Besittings het die weg tot verlossing geword. Die plaas, die natuur, grond het ook betekenis gehad, gedefinieer in teenstelling tot die stad: die idilliese teenoor die lelike; en die plaas as konstante, as absolute, onder die beheer van die patriarg, wie se erfgenaam, die seun, dieselfde sekerhede sou erf.
Terwyl die plaasteks sekere konstante behou het, wat reeds gevind is in die Remonstrantie: 'n narratief, die natuur, gewasse - en 'n bewustheid van stilering, 'n retoriek verbind tot oortuiging - het verskuiwende sosiale strukture die uitings binne die narratief self beïnvloed. Vanselfsprekend sal literatuurhistorici dit lees as 'n ontwikkeling tot modernisme, en later postmodernisme in die plaasroman. Maar indien daar enige ontwikkeling is, moet dit liewer gesien word as 'n aanhoudende soeke na betekenis, wat telkens verskuif wanneer die sosiale formasie verander.
So het die aard van hierdie soort narratief verander en minder plaas/
grond-gesentreerd geraak na die Depressie en na die georganiseerde selfopheffing van die Afrikaner deur sy volkskapitalisme sedert die dertiger- en veertigerjare.
Byvoorbeeld, in die vroeg sestigerjare verskyn Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux, waarin die plaas 'n landgoed (‘Welgevonden’, nogal) geword het en die elemente van die narratief verander het: meer filosofies, psigologies, argetipies.
Die plaasroman het nou geword 'n peregrinasieverhaal, die inisiasie van 'n
buitestander, 'n proses van inisiasie; Jungiaans, allegories, grotesk. Hierdie roman, geskryf binne die verskeurdheid van konflikte en groeiende kritiek op die politieke stelsel, was op sigself 'n versteuring van kontinuïteite. Dit het ook die literêre establishment ontstel, maar sou ook die lewenswaardes van die volk afbreek, gelowiges laat struikel, pornografies ‘immoreel’ wees (J.C. Kannemeyer, Deel II, 1983:355). Die reaksionêre aard van die ouer plaasroman het verskuif tot 'n literêre en intellektuele radikalisme.
Leroux se Silbersteins en Een vir Azazel was 'n herbesoek aan die plaas en die plaasroman. Maar hy het nou verby die grense daarvan gegaan en die eenhede van die plaas geëksploiteer, die patriargie, orde, karaktertipes, afkoms (die vertraagde reus as afstammeling in Een vir Azazel, byvoorbeeld). Die samelewing, die sosiale formasie is gesatiriseer, en ook die primordiale plaasroman; in 'n soeke na betekenis.
Maar nuwe uitings het nou die kontinuïteit van die diskoers versteur: die verstrooiing
van die subjek het begin, die afstammeling is 'n idioot, skuld en 'n meganiese orde
is geskep deur welvaart en mag.
Die kolonis het orde geskep uit dít wat wild was, deur dit te beskryf en te tekstualiseer, soos die reisjoernaalskrywers die nuwe wêrelde in woorde weerspieël en dan ook herskep het. Maar die kolonis as boer het ook omhein. In die woorde van een van die wit voorvaders ‘wat ons almal verwek het’, Jacobus Coetzee in die herskepping van sy ‘Relaas’ deur J.M. Coetzee (1974:85):
Ons kan nie die wild tel nie. Wild is enkel omdat dit grensloos is. Ons kan vyebome tel, ons kan skape tel, omdat die boord en die plaas begrens is.
Die kern van bome in 'n boord en skape op 'n plaas is getal. Ons bedryf met die wild is 'n onvermoeibare onderneming om daarvan boord en plaas te maak. Wanneer ons dit nie kan omhein en tel nie, reduseer ons dit op ander maniere tot getalle [eie vertaling].
'n Heining is 'n grens wat uitsluit en insluit; hulle wat ingesluit word, word besit deur die grense wat hulle gemaak het, en hulle besit die grond binne daardie grense.
Diegene wat uitgesluit is, die arbeiders, word gemarginaliseer; en dis ook belangrik om daarop te let dat diegene wat uitgesluit is, nie altyd net swart was nie.
Soos die grondbaron in die kortverhaal ‘Karoonag’ (Koos Prinsloo) wat al die boere in die distrik uitgeroei het met verbande wat hulle nie kon afbetaal nie. Eendag het 'n jong boer, toe hy die sleutel van sy plaashuis moes afgee, op die grondbaron se opstal se deur geverf:
‘Met hierdie sleutel sluit jy die poort van die hel oop en die honde sal jou nageslag se bloed oplek.’ Sy twee erfgename, seuns, is albei tragies dood.
Grond is eienaarskap, en in koloniale tye is grond toegestaan ooreenkomstig die wette van die koloniseerders, met miskenning van die gebruike van die indigeen.
Daarna, en in die oorerwing van geslag tot geslag, het 'n natuurlike reg die besit van die plaas verewig. Die patriarg het daarvoor betaal met bloed, nie met geld nie; dit is gekap uit die bos, verdedig teen barbare, makgemaak vir bewoning (vgl. J.M.
Coetzee, 1988:85). Die plaas het uiteindelik meer geword as net 'n materiële besitting.
Daarom kan Regter Lucius in Toorberg verklaar:
... My geboortereg... gee my 'n servituut oor dié grond, al sê die grondbrief
dis joue... Al is dit die duiwel s'n. Deur geboorte het ek hier 'n reg van weg
en ek sal hier dwaal, ex defectu sanguinis, uit gebrek aan nakomelinge,
op my eie, selfs ná my dood. Hoor my aan (Etienne van Heerden,
1986:125).
Die herlewing van die plaasroman in ons tyd bevestig dat hierdie narratief een van die belangrikste uitings binne die diskoers oor grond en mag is. Die Boer het vir lank saam met die grond geleef, en lank gestreef om een met die grond te word; sodat die persepsie bestaan, of bestaan het, dat grond en identiteit sinoniem is.
Daar is ook verdere verbande, want arbeid op die plaas is 'n inskripsie van eiendomlikheid, en nie net van die arbeid van die eienaar nie. Hy besit ook sy werkers.
So gesien, was die Grond Wet van 1913, wat deur geskiedskrywers geïnterpreteer is as daarop gerig ‘om die Swart reservate te vergroot ter wille van 'n meer gerieflike werwing van arbeid vir die myne’ (Davenport, 1978:259), deur die instelling van grondbesit deur toewysing ook die instelling van die besit van arbeid.
Grond en grondbesit en die plaasroman kring dan uit tot 'n veel groter diskoers:
van politieke mag, van tekste as deel van die konstruksie van 'n hegemonie. Maar nie net die hegemonie van Afrikaner-nasionalistiese heerskappy nie; ook die ontstaan van dié van die African National Congress, want die uitwerking van die wet van 1913 het van die South African Native National Congress, wat in 1912 gevorm is, meteens 'n nasionale versetbeweging gemaak. Sol Plaatje, sekretaris van die Congress, se boek het gelei tot 'n ondersoek na dié wet, en tot verhale oor diegene wat onteien is, vanuit sy perspektief, maar ook van dié van die onteienaars. Grond het betekenis geword.
Maar as dit so geskep is in die verlede, wat van die hede, wat nie noodwendig 'n opvolg op die verlede is nie?
Terugkeer, herbesoek
Dit moet beduidend wees dat baie van die plaastekste in Afrikaans, en nie net die moderne werk van Karel Schoeman en Etienne van Heerden nie, retrospektiewe skryf is, narratiewe uit die verlede. In die literatuurgeskiedenis word daar gepraat van herinneringskuns (J.C. Kannemeyer, 1983:17, 22, 25, 41, 302). In die meeste gevalle word die verlede geïdealiseer as utopies en idillies. Hierdie herinneringe aan die verbygegane is natuurlik normale nostalgie wanneer veranderinge in die
samelewing plaasvind. Maar 'n wonderlike verlede is geskep, waar onteiening en ekspropriasie nie bestaan het nie, waar lewe nog betekenis gehad het, voor die ontwrigting van Depressie, droogte en industrialisasie. Die konsep grond het dus verander, dit het nie meer die betekenis wat dit in vroeëre tye gehad het nie.
Volgens die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing is Anna M. Louw se Kroniek
van Perdepoort (1975) ‘een van die merkwaardigste romans van
die sewentigerjare’ (J.C. Kannemeyer, 1983:314). Alhoewel die soort partriarg van die verlede daarin voorkom, is veral die tekstuur van die roman, die achronologiese aard daarvan, die allegoriese neigings van belang. Dit word klaarblyklik 'n bewuste verbreking van die patroon van die ou plaasroman. Maar die mees betekenisvolle is die aard van die herbesoek: die herbegrafnis van die magtige patriarg, met 'n begeleidende selfmoord en 'n besoek van die duiwel. Dit is 'n herbesoek aan die verlede wat nóg herinnering nóg nostalgie is. In die tweede van Etienne Leroux se Welgevonden-romans, Een vir Azazel, het die landgoed (nou 'n Stigting) en die mense daarop agteruitgegaan sedert die situasie soos beskryf in die eerste roman. Hier het ons ook 'n terugkeer, nie na 'n aangename herinnering nie, maar om 'n sondebok te vind, om 'n antwoord op die onbeantwoorde te soek: Wie moet die skuld vir die verval dra? In latere romans - dié van Etienne van Heerden (Toorberg, 1986), en Alexander Strachan (Die jakkalsjagter, 1990) - het die glorie van die verlede ruïnes geword. Sentrale karakters wat terugkeer na die plase van die verlede om hulle erfenis op te eis, hulle nalatenskappe, het buitestanders geword: in die werk van Karel Schoeman ('n Lug vol helder wolke, 1967; Na die geliefde land, 1972); en dié van Eben Venter (Foxtrot van die vleiseters), waar die hoofkarakter verteller sowel as verslaggewer is. Hulle het elders betekenis gevind. Die terugkeer is ook, soos in die geval van Na die geliefde land, 'n terugkeer na 'n politieke apokalips: 'n verlede wat vervul is deur gebeurtenisse in die toekoms. Daar is egter geen gerusstelling nie, want later skryf Schoeman vanuit 'n stem uit die verlede, onophoudelik aan die praat, 'n herinnering aan dood en skuld.
‘Suid-Afrikaanse pastoraal’ verwys hier nét na die Engelse
Suid-Afrikaanse letterkunde. ‘South African Literature’ is vir die meeste Engelse Suid-Afrikaanse letterkundiges nét die Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde.
Die terugkeer van die liggaam, nie vir 'n herbegrafnis nie, maar om die swart mens se aandeel in grond op te eis, in Nadine Gordimer se The conservationist (1974), is al gelees as 'n aanduiding van die einde van die ‘Suid-Afrikaanse pastoraal’ (aangehaal en betwis deur J.M. Coetzee, 1988:81).
Dit sou miskien kon verwys na Engelse letterkunde in Suid-Afrika, waar die soeke na betekenis nooit werklik gerig is op grond en die plaas nie.
‘Die beweging van die prototipiese plaasroman is voortdurend tot die openbaring
van die plaas as 'n bron van betekenis’ (J.M. Coetzee, 1988:88). Buiten die nostalgiese
plaastekste, waarin die geluksalige idille opgeroep word in poëtiese prosa, is die
plaasroman sedert die twintigerjare, en tot laat
in die veertigerjare geskryf uit 'n besef van verlies: teenoor die natuur, teenoor die ekonomie, teenoor industrialisasie. Die soeke na die betekenis van die plaas kom vanuit 'n ontwrigting: die onteiening van die plaas. Die opeenvolging van plaasromans was 'n poging tot herbevestiging van identiteit, want identiteit sou die persepsie gebring het van die soliditeit van betekenis. Grond is gelyk aan identiteit, identiteit gelyk aan betekenis. Maar die plaas, opeenvolging van die geslagte, daardie kultuur, het van diskoers verander, in kapitaal en politieke mag. Soos geïllustreer in die gedagtes van die sterwende verteller, wat altyd buitestander was, in Schoeman se Hierdie lewe: sy onthou nou slegs wat sy gesien, maar vergeet het, en die stemme wat sy, gefragmenteer, gehoor het.
In hulle soeke na betekenis kon die skrywers van die ou plaasroman nie die maatskaplike ontwrigting hanteer nie, hoofsaaklik omdat sin vir hulle moes kom uit 'n kontinuïteit met die verlede; 'n kontinuïteit wat nie bestaan het nie.
Maar die ander uitings binne hierdie diskoers oor grond, naamlik die onteiening daarvan sedert kolonisasie, die Grond Wet van 1913, die Nasionale Party se bewind - daardie stemme het nie geëindig nie. Poëties word hervestiging van die
weggeworpenes ironies gedenk in 'n strofe in dié gedig van Breyten Breytenbach (1972:22. Die name Dimbaza ens. verwys na die name van hervestigingsghetto's):
welgeluksalig is die kinders van Dimbaza, van Welcome Valley, Limehill en Stinkwater vrek
van siektes, ondervoeding, armoede -
want hulle maak die baas se gesigsveld skoon, want hulle ontkom aan die hel,
want hulle ontruim die gebied van die boer - die Boer en sy God -
- die hand van die God -
Die herbesoek aan die plaasroman sedert die sestigerjare moet dan gesien word as 'n verdere uiting binne dieselfde diskoers.
Wat beteken hierdie herbesoek dan? Die literêre voortsetting van 'n diskontinuïteit
wat voorheen nie herken is nie? Die verwerping van 'n soeke na betekenis wat nooit
in die verlede gevind is nie? Opnuut 'n soeke na betekenis? 'n Nasionale allegorie
wat nog nie vertel is nie? Dit kan ook wees dat geen breuk met die verlede besef is
nie, dat opeenvolging nog gesoek word, maar nou deur 'n veranderde literêre
skryfwyse: van die refleksie van
die realiteit in die verlede, tot 'n konstruksie van 'n werklikheid, met die erkenning dat woorde slegs betekenaars is, in die hede. Die allegorie as vertelwyse, veral die etiese en morele eienskappe daarvan, behoort binne dié soeke na betekenis gelees te word.
Die kartering van die produksie van betekenis in die plaasroman moet sekere keuses en situasies van die skrywer in ag neem, soos die rol van vertelling, fokalisasie, die gebruik van die didaktiese, die bewustheid van styl, karakters wat die outeur representeer - en wie die outeur is. In moderne tye het slegs Nadine Gordimer (The conservationist, 1972), Anna M. Louw (Kroniek van Perdepoort, 1975; Vos, 1999) en Rayda Jacobs (Eyes of the Sky, 1996) plaasromans geskryf binne dié tradisie.
Die ander skrywers is almal mans. Dan is daar ook die soeke van die literêre historikus, soos dié van J.M. Coetzee in sy genoemde boek, maar ook in sy romans, soos byvoorbeeld In the heart of the country (1976).
Die bewustheid van skryf, wat eers werklik sedert die poësie van die Dertigers na vore gekom het en in die huidige postmodernisme onafskeidbaar van skryf en skrif geword het, is in die vroeë plaasromans gemanifesteer in die nougesette beskrywings van die natuur. Literatuurhistorici het telkens geïrriteerd geraak met die
‘natuuruitweidings wat die verhaalgebeure tot 'n stilstand dwing’ (J.C. Kannemeyer, Deel I, 1984:305); maar dit moet ook gesien word as 'n sigbaar bewuste poging om die natuur, die landskap, in skrif weer te gee. Om betekenis aan die natuur te gee, nie net deur die deureenvlegting van karakters se handelinge en die beweging en fratse van die natuur nie; maar veral deur die vermensliking van die natuur in skrif self, in die beskrywende. 'n Mens sou C.M. van den Heever se Somer (1935) as 'n klaarblyklike voorbeeld kon neem. Buiten die uiterlike handeling in die novelle, waar die wisseling van seisoene, groei en doodgaan, deel van die mens se lewe is, in aankoms en vertrek, lewe en dood; soos in die volgende:
Uit die volgroeide somerlewe, die vlammende kleurgeweld om haar, die swaar geur van vrugte in die boord, die deursonde struike en plante en die groot sonnehemel so wyd-stralende oor alles, kom die boodskap na haar gewonde hart: afskeid. Dit is die ware betekenis van die lewe; dat in alles wat vir jou skoonheid was, waar jou hart aan hang of jy dit nooit kan verloor nie, die afskeid reeds te lees is (C.M. van den Heever, 1957:143).
Buiten hierdie verhaalkern is die verbintenis tussen mens en natuur geïnskribeer in
die teks self. In beelde en vergelykings: die koringhalme staan ‘vorstelik met effens
geboë hoofde eerbiediglik en luister na die komende
vrede en stilte van die aand’; ‘die koringhalme roerloos, met die deemoedige are soos in gebed voor die heerlikheid van die komende dag...’; die koring staan ‘...
skugter en ootmoedig en wag op die storm, weerloos en tog so trots, so hoog-gehalm’;
‘... net die geruis van die koring, soos 'n groot skare wat bid voordat die geweld van 'n veldslag losdreun’; ‘... die beweginkie wind wat daar nog was, het lui gaan insluimer op die ryp are van die koring’; ‘... sipresboompies wat naald-regop by die kerkhof staan, donker wagte...’; ‘... 'n gloed van hartstog straal uit die donker rose langs die windpomp, die oopgaande knoppe een wonder van tere ontroering...’ (C.M. van den Heever, 1957:13, 25, 34, 35, 50, 77, 142). Hiermee word daar 'n ontologiese
verbintenis in skrif tussen die bestaan van die mens en die natuur gemaak. Dít is die betekenis van die natuur in die konteks van die plaas in 'n vroeë plaasroman. Maar later, in die latere plaasroman, sal daar nie eens meer in woorde betekenis in die plaas te vind wees nie. Karel Schoeman (1967:6) vertel van 'n jong man wat terugkeer na die plaas wat hy erf, maar waarin hy nie belangstel nie. Hy hoor die stem van sy grootmoeder wat voorlees uit die Bybel:
Waar Kobus op die stoep staan, kan hy sy grootmoeder hoor. Waar is die skeidslyn, wonder hy, tussen daardie woorde en die wydheid van die veld hier voor hom, die mielieland, die skaaptroppe, die verre rante? Daar het geen onderskeid oorgebly nie, en haar stem gaan voort soos wolke deur die lug. Beteken dit iets?
In die ‘spekulerende geskiedenisse’ (die woorde van Magda in In the heart of the country) van Coetzee en Schoeman en Etienne van Heerden praat daar stemme in stilte, oor die verlede, oor 'n verhaal wat alreeds beëindig is; monoloë aan die beweeg deur tyd. Hulle het hulleself geskep in woorde wat vervreem (J.M. Coetzee, In the heart of the country, 1977; Karel Schoeman, Hierdie lewe, 1993; Etienne van Heerden, Die stoetmeester, 1993).
Daar is ook die bediendes, hulle wat geen grond het nie, wat altyd gesê het: ‘Mies is die mies’, ‘Ja mies’, ‘Dankie mies’, ‘Dankie baas’ - hulle stemme kan nie meer onthou word nie. Of hulle hakkel van verslaenheid, soos Jan Baster.
Die diskoers van die onterfdes van die grond het begin; miskien sal hulle betekenis vind, identiteit. Die plaasroman van die Afrikaanse skrywer kon dit tot nog toe nie volledig genoeg daar vind nie, behalwe in die visioene van 'n apokalips.
Eindnoten:
9 ‘Dag Register, gehouden op den Landtogt gedaan door het Land der Kleyne en Groote Namacquas, onder het Commando van der Capitain der Burger Cavallery Sr. Hendrik Hop om het binnewaards ten Noorden van Cabo de Goede Hoop leggende land nader te ontdekken’
(E.E. Mossop, 1947:1-71).