• No results found

Wegbeweging van godsdienstige oriëntering na ‘n wetenskaplike

3.3 Benaderings in maatskaplike werk

3.3.4 Leidinggewende praktykteoretiese perspektiewe in maatskaplike werk

3.3.4.1 Wegbeweging van godsdienstige oriëntering na ‘n wetenskaplike

aanvanklik in die sogenaamde pre-professionele en pre-wetenskaplike fase deur godsdienstige en liefdadigheidsoortuigings gerig is. ‘n Faktor waarvan maatskaplike werkers in die verwetenskaplikingsproses moet kennis neem, is die versoenbaarheid van nuwe teoretiese metodologieë met die maatskaplike werker se eie lewens- en wêreldbeskouings. Oordink en evalueer maatskaplike werkers byvoorbeeld nuwe metodologieë krities genoeg of aanvaar hulle dit slegs as wetenskaplik korrek? (Ryke 1998:29).

Tans word die ontwikkeling van maatskaplike werk as ‘n professionele beroep deur Westerse liberalisme en kapitalisme oorheers (Gilbert 2000:69). Die gevaar hieraan verbonde is dat die etiese vaardigheid in besluitneming by maatskaplike werkers nie sterk genoeg ontwikkel nie (Ryke 1998:28). Maatskaplike werkers wat nie krities ingestel is nie, kan sodoende maklik humanisties-gefundeerde teorieë gebruik, sonder dat hulle noodwendig verder nadink oor van die potensiële gevare daaraan verbonde, soos die gebruikmaking van narratiewe terapie uit ‘n postmodernistiese epistomologie.

Die veranderende politieke omstandighede in Suid-Afrika beїnvloed ook maatskaplikewerkdienslewering. ‘n Behoefte is onlangs in Suid-Afrikaanse maat- skaplikewerkliteratuur uitgespreek aan ‘n meer normatiewe en morele benadering in die professie (Ryke 1998:32). Hierdie behoefte vind waarskynlik aansluiting by die behoefte van maatskaplike werkers wêreldwyd om terug te keer na ‘n meer Bybelsgerigte benadering (Praglin 2003:2). ‘n Internet soektog het aan die lig gebring dat al hoe meer universiteite wêreldwyd pastoraal-georïenteerde modules as deel van maatskaplike werkkursusse insluit byvoorbeeld die Universiteit van

Waterloo in Canada, die Plater College in samewerking met die Oxford Universiteit in Engeland, die Universiteit van Northumbria in samewerking met die Britse Vereniging vir Beraad, Boston College in Amerika, Aquinas Instituut vir Teologie in St. Louis, die Australiese Katolieke Universiteit en die Loyola Universiteit in Chicago. Hierdie kursusse word in samewerking met Teologiese Fakulteite aangebied. Die kursusinhoudelike laat die klem op pastorale benaderings as volwaardige terapeutiese modelle val waarvolgens die geestelike dimensie verreken word. (Internetsoektog 2001 Http://luc-edu/scholars/socialwork; Http://www.ai.edu/origrams/academic; Http://www.renison.uwaterloo.ac; Http://www.plater.ac.uk/courses; Http://www.careers.ox.ac.uk; Http://bc. edu.bc; Http://acu.edu.au).

As daar krities na die rol van dekonstruksieteorieë uit ‘n Bybelse standpunt gekyk word, blyk dit dat dit nie Bybelse waarhede ondersteun nie en dat dit daarom op etiese vlak implikasies vir die gebruik in diakonologies-gefundeerde narratiewe beraad inhou. Du Toit (2000:2) is byvoorbeeld van mening dat ‘n mens die wêreldgeskiedenis in drie hoofgroepe kan indeel, te wete premoderne (voor- wetenskaplike fase), moderne (wetenskaplike fase) en dan die postmoderne (na- wetenskaplike fase). Die mens word, volgens Du Toit, in die keuses van sy wêreld- en lewensbeskouing beïnvloed deur die tydsgees van die na-wetenskaplike fase. Daarom verskil die mens se persepsie van sonde vandag drasties in vergelyking met beskouings in die voor-wetenskaplike tyd, omdat aanvalle wat destyds as van die Bose gesien is, vandag verklaar kan word (Du Toit 2000:2). ‘n Verdere voorbeeld is die siening van gedragsafwykings. Alkoholisme is byvoorbeeld aanvanklik as sonde beskou en ‘n alkoholis as ‘n sondaar. Dieselfde geld ten opsigte van homoseksualiteit. Vandag is daar ‘n sagter aanslag, moontlik ook vanweë die verrekening van sosiologiese, psigologiese en genetiese faktore. Sonde kan nie gerelativeer word nie, tog word gevind dat die styl van die premoderne kerk minder veroordelend en verdoemend is. In antwoord op Du Toit se postmodernistiese benadering argumenteer Janse Van Rensburg (2000:3) dat dit die gevolgtrekking is waartoe gekom kan word as geen vaste reëls bestaan nie. Zeeman (2002:12), Lutzer

(1998:95) en Collins (1988:17) huldig ook hierdie argument aangesien hulle van mening is dat daar slegs een stel Bybelse waardes geld en dat dit die basiese vertrekpunt vir etiese kwessies vorm wanneer byvoorbeeld oor aangeleenthede soos huweliksontrouheid of homoseksualiteit gepraat word.

3.3.4.2 ‘n Christelike benadering versus ‘n pastorale benadering

Dit blyk dat ‘n Christelike benadering in maatskaplike werk beteken dat daar uit ‘n Christelike perspektief gewerk word (Ryke 1998:23). As die woord benadering van naderby beskou word, dui dit op die manier waarvolgens ‘n vraagstuk aangepak word (Wêreldspektrum 1982:29). Die vraag ontstaan nou of die woord benadering dui op ‘n gesindheid of ‘n waardegerigtheid waarvolgens opgetree word en òf dit ‘n volledige doelgerigte gespreksmodel impliseer. Op grond van die voorafgaande literatuur blyk dit dat dit beide vorme kan aanneem, dus ‘n strategie of net ‘n teoretiese fundering waarvolgens optredes gerig word, soos ‘n Christelike benadering. Daarom kan daar gepraat word van Christelike onderwysers, Christelike maatskaplike werkers, Christelike landbounavorsers en Christelike medici. Die persoon, ongeag sy beroepskeuse, wat ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing handhaaf, benader die mense wat hy op sy lewenspad ontmoet as mede-Christene. Die onderwyser, medikus en landbounavorser tree nie met sy “kliënt” in gesprek oor die geestelike dimensie van hul lewens nie, alhoewel hulle ‘n Christelike benadering volg. Gestel die landbounavorser sou vind dat ‘n boer oneerlik is met betrekking tot navorsingsdata wat hy voorsien, sal hy uit die aard van sy Christelike beginsels die aangeleentheid ondersoek omdat dit onregverdig is teenoor die res van die boerderygemeenskap. Induktief beskou, blyk dit asof maatskaplike werkers in Suid-Afrika dieselfde benadering volg. Daar word bely en erken dat hulle Christene is en dat hulle ooreenkomstig ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing leef, maar dit impliseer nie dat daar met mense-in- nood oor die geestelike dimensie in gesprek getree word nie. Maatskaplike werkers wat beweer dat hulle volgens ‘n Christelike benadering werk, sal opnuut moet nadink oor watter wetenskaplike fundering hulle as basisteorie in die praktyksituasie benut. Is dit byvoorbeeld moontlik om ‘n ten volle humanisties- gefundeerde basisteorie te gebruik in ‘n Christelike benadering omdat dit twee verskillende epistemologieë verteenwoordig? Janse van Rensburg (2000:56a) is van

mening dat dit onmoontlik is om uit twee teenoorstaande epistemologieë te werk. ‘n Christelike religie vind sy oorsprong in Bybelse waarhede en fundeer sy epistemologiese uitgangspunte op Bybelse grondslae (Janse van Rensburg 2000:56a). In ‘n humanistiesgefundeerde epistemologie staan die mens sentraal in teenstelling met ‘n Bybelse epistemologie, waar God sentraal staan. Kritiese nadenke is noodsaaklik omdat die epistemologiese keuse waarvolgens gewerk word, rolspelend in praktykimplementering is.