• No results found

Indeling van die navorsingsverslag

Die navorsingsverslag bestaan uit sewe hoofstukke.

Hoofstuk Een dien as oriëntering van die navorsing en bied 'n kort oorsig van die beplanning van die navorsing. Eerstens is die navorsingsprobleem waardeur die studie gerig word, bespreek. Tweedens is die navorsingsvrae en doel van die studie uiteengesit. Die metodologie wat in die die ondersoek gevolg is, geniet vervolgens aandag. Ten slotte is konsepte wat in die verslag gebruik word en wat as 't ware as 'n raamwerk vir die uitvoering van die ondersoek dien, toegelig.

In Hoofstuk Twee word eerstens aandag gegee aan 'n teologiesgefundeerde antropologie, en die rol van die verbond, sonde, genade en verlossing. Tweedens word stilgestaan by 'n teologiese antroplogie wat die basiese funderings van 'n Bybelse georïenteerde mensbeskouing omskryf. Derdens word die mens as verhoudingswese bespreek deur na die basiese verhoudings waarin 'n mens hom bevind, te wete tot homself, sy medemens, sy omgewing, en tot God te verwys. Ten slotte word ‘n verkenning van die verskillende aspekte vir die doeleindes van 'n narratief-pastorale benadering in maatskaplike werk bespreek.

Hoofstuk Drie skets, in die eerste plek, die domeinverkennings van maatskaplike werk. Daar word gelet op die rol wat Christelike waardes en beginsels in die onstaan van maatskaplike werk gespeel het en waarom vandag daarvan wegbeweeg word, en òf die insluit van 'n pastorale benadering vir maatskaplike werk ‘n geskikte oplossing om die geestelike dimensie te verreken bied. Ten einde 'n afleiding te kan maak of maatskaplike werk op 'n interdissiplinêre wyse versoenbaar is met pastorale benaderings word die ontwerp van pastorale modelle verken deur aandag te gee aan die invloed wat sielkundige benaderings op pastorale terapie het.

In Hoofstuk Vier word vir die gebruik van narratief-pastorale benaderings in maatskaplike werk perspektiewe vir 'n basisteorie geformuleer. 'n Verkennende ondersoek aan die hand van beskikbare literatuur word geloods om die eiesoortigheid van narratief-pastorale benaderings in 'n diakonologiese epistemologie na te gaan, en hoe dié benadering van ‘n postmodernistiese epistemologie verskil.

Hoofstuk Vyf handel oor ‘n pastoraal-narratiewe basisteorie vir praktykteoretiese perspektiewe wat deur maatskaplike werkers as ‘n geheelbenadering benut kan word om die geestelike dimensie te verreken.

Die fenomologiese bevindings gebaseer op die fokusgroeponderhoude word in Hoofstuk Ses gedokumenteer. Die literatuurbevindings word met dié wat met behulp van die fokusgroepe bekom is, vergelyk.

Die proefskrif word met Hoofstuk Sewe afgesluit wat die gevolgtrekkings en aanbevelings na aanleiding van sowel die literatuur- as die fenomenologiese ondersoek uiteensit.

Vervolgens word in Hoofstuk 2 aandag aan die rol wat antropologiese teologie in maatskaplike werk speel, gegee.

HOOFSTUK 2

DIE ROL VAN TEOLOGIESE ANTROPOLOGIE IN NARRATIEF-PASTORALE MAATSKAPLIKE WERK

Uit die vorige hoofstuk blyk dit dat ‘n verskil in perspektief tussen pastorale terapie en Chistelike Maatskaplike Werk bestaan (Vgl. 1.6.1.4). Hierdie perspektiwistiese benadering het ten diepste te make met die antropologiese beskouing waarvolgens tot die leefwêreld van die mens-in-nood toegetree word (Lester 1995:3). Die perspektiwistiese verskil kan soos volg verduidelik word: In pastorale benaderings word uit ‘n eskatologiese perspektief te werk gegaan en word sodoende aan transendente sinvelde aandag gegee. Daarteenoor word in beroepe soos maatskaplik werk grootliks op empiriese gebeure gefokus deur die gebruikmaking van intra- en interpsigiese perspektiewe met klem op kommunikasie- en gedragspatrone (Louw 1999:298). Louw (1999:299) en Lester (1995:3) is beide van mening dat ‘n perspektiwistiese benadering nie op fragmentering van die verskillende vakterreine dui nie, maar die uniekheid van die vakterreine beklemtoon omdat erkenning aan die perspektief van verskillende vakteorieë soos maatskaplike werk, psigologie en pastorale terapie verleen word.

‘n Perspektiwistiese benadering bied sodoende ruimte vir die verrekening van die totale welsyn van die mens binne ‘n totale lewenskonteks. In pastoraat word die mens benader uit ‘n skeppings- en herskeppingsperspektief met die oog op geloofsgroei en versoening met Christus (Louw 1999:298). In menslike gedragswetenskappe word geredeneer dat antropologiese beskouings hoofsaaklik op spanningsvelde soos die self en ek, die persoon en die omgewing fokus. Steurnisse binne hierdie spanningsvelde of verhoudingsraamwerke kan tot disfunksionele maatskaplike gedrag lei. In teologiese antropologie is die spanningsveld tussen God en mens binne die volgende spanningspole geleë, te wete die Skepper-skepsel, sonde-genade, dood en lewe. Steurnisse binne hierdie dimensie lei tot skuld, vertwyfeling en vrae oor die sin van die lewe (Louw 1999:298; Liebenberg 2000:23). Pastorale terapie het ten doel die bewuste kommunikering van die teenwoordigheid van God by die mens. Louw (1999:151) stel dit soos volg: “Die pastorale bediening is ‘n medium waardeur mense van God se inwonende werksaamheid bewus raak – ‘n bewuswording deur die Heilige Gees wat mense tot nuwe mense transformeer. Uit ‘n geestelike perspektief in ‘n teologiese antropologie, het pastoraat te doen met die uitwerking en konsekwensies van ‘n teologiese

antropologie vir menswees”. Indien Christelike maatskaplike werkers deur die gebruikmaking van inter- en intradissiplinêre werksmetodes aansluiting wil vind by pastorale benaderings waarvolgens die geestelike dimensie doelbewus verreken word, is dit noodsaaklik om kennis te neem van die konsekwensies en uitwerking wat ‘n teologiese antropologie in beraad vereis omdat tot transendente sinsvelde toegetree word.

Die begrip antropologie is afgelei van die Griekse woord antropos wat mens beteken (Wolters 1960:62). Antropologie word deur Wolters (1960:62) omskryf as die wetenskap van die mens en sy natuurlike eienskappe, asook die leer van die mens as ‘n religieuse wese (Wolters 1960:62). Teologie verwys na die leer van God en Goddelike sake vir sover dit in die Skrif geopenbaar word (Wolters 1960:118). Indien maatskaplike werkers uit ‘n pastorale benadering tot mense-in-nood, wil toetree is dit belangrik om menslike gedrag uit ‘n teologies- gefundeerde antropologie te probeer verstaan. Lester (1995:7) verwys na

teologiese antropologie as die belangrikste boublok of fondament waarop narratief-pastorale

benaderings gebou word. Narratief-pastorale maatskaplike werk sou onvolledig gefundeer word as hierdie belangrike boublok buite rekening gelaat word. Indien die maatskaplike werker byvoorbeeld nie ‘n teologiese antropologie ondersteun of verstaan nie, sal die besef dat die mens ‘n skepsel van God is, nie realiseer nie. Die mens-in-nood kan dan maklik met minagting en sonder Christelike liefde behandel word, terwyl die vermoë tot herskepping om te word wat God vir die mens bedoel het altyd teenwoordig is. Bowpitt (2000:354) is van mening dat die erkenning van hierdie herskeppingsgeleentheid binne die maatskaplikewerk- verhouding tussen maatskaplike werker en kliënt verreikende gevolge vir maatskaplikewerk- teorie inhou.

In aansluiting by genoemde argument het verskeie skrywers (Smit 1975:55; Collins 1988:17; Meyer, Moore & Viljoen 1997:21; Loewenberg, Dolgoff & Harrington 2000:7; Du Toit, Grobler & Schenk 2001:xi) bevind dat die wyse waarop persone in hulpverlenende professies soos maatskaplike werk en sielkunde oor kliënte dink, onlosmaaklik beïnvloed word deur die mensbeskouing, waardes en norme waarin hulle self glo. Christelike maatskaplike werkers beskou die mens-in-nood as ‘n skepsel van God en reik daarom na hom uit met die opregte liefde en deernis van God. Net soos wat maatskaplike werkers bepaalde mensbeskouings handhaaf, handhaaf kliënte aan wie aandag verleen word, ook sekere etiese vertrekpunte en waardes (Le Roux 1970:7; Hofmeyr 1972:18; Van der Ven, Dreyer & Pieterse 1997:134). Waardes dui op bepaalde waardesisteme wat deur individue gekies word en waarin geglo

word met die oog op singewing aan hul lewens. Christene kies byvoorbeeld om ooreenkomstig Bybelse waardes soos liefde, eerlikheid en betroubaarheid te leef. Sodoende bied dit vir Christene riglyne met betrekking tot die waardepatrone waarvolgens geleef word (Van der Watt 2000:19). Louw (1999:106) is van mening dat die geestelike dimensie as ‘n religieus-bepalende waarde, ‘n verdere bepaalde invloed op menslike gedrag uitoefen en dat dit daarom nie tydens berading geïgnoreer kan word nie. Binne die konteks van waarde- regulerende beginsels kan die geestelike dimensie volgens Louw (1999:31) beskou word as ‘n uitvloeisel van die besef van God se teenwoordigheid en lei dit tot ‘n gedragsvroomheid waarvolgens die gelowige al meer word wat hy reeds in Christus is. Die geestelike dimensie bring sodoende ‘n binding tussen die geloofsinhoude en die daaglikse waarde gebaseerde keuses in die bestaansfunksies van gelowiges mee.

In aansluiting by die binding wat tussen die bestaans- en geloofsfunksie van die mens voorkom, is die doel van hierdie hoofstuk toegespits op die verkenning van die rol wat teologiese antropologie in pastorale terapie speel met die oog op die implementering in maatskaplike werk. Ten einde die belangrikheid, impak en waarde van ‘n pastoraal- teologiese mensbeskouing tydens narratief-pastorale terapeutiese sessies in maatskaplike werk te verreken, word die volgende vyf temas in hierdie hoofstuk bespreek te wete: Die oorsprong van antroplogiese beskouings, begronding en normering van ‘n teologiese antropologie, die skepping van die mens, aktualiteit van die sonde en die verlossing.

Eerstens word die oorsprong van antropologiese beskouings en die implikasies daarvan vir narratief pastorale maatskaplike werk bespreek.