• No results found

Sisteemteoretiese denkraamwerke

3.3 Benaderings in maatskaplike werk

3.3.2 Sisteemteoretiese denkraamwerke

Met die ingebruikneming van sisteemteoretiese benaderings verskuif die klem van individualstiese benaderings na die interaksiepatrone tussen individue. Die mees bekende beradingsvorm in maatskaplike werk waarin van sisteemteoretiese

benaderings gebruik gemaak word, is gesinsterapie. ‘n Sisteemteoretiese benadering beweeg weg van liniêre aksies en fokus op wat vrae, resiprokale oorsaaklikheid, holisme, subjektiewe persepsies, vrye keuses, proaktiwiteit, gedragspatrone, relasioneel- en kontekstuele gebeure (Becvar & Becvar 2000:8; Vgl.3.4.6.4). As daar aan fundamentele konsepte gedink word, bestaan ‘n geneigdheid tot ‘n statiese praktyk. Die waarheid is egter dat gevallewerkkonsepte dinamies is. Konsepte verander en ontwikkel soos wat dit deur ervarings, nuwe kennis en nuwe behoeftes beinvloed word. Aanvanklik is van ‘n psigo-sosiale benadering as ‘n funksionele sistemiese kategorie gebruik gemaak in die vorm van terapie in maatskaplike werk (Van Delft 1980:27).

In Figuur 3.4 word ‘n oorsig van die veranderlikes gegee wat hoofsaaklik in ‘n sisteemteoretiese benadering voorkom. Ten einde maatskaplike werk as ‘n veranderingsagent te posisioneer, is dit noodsaaklik om opnuut aandag te skenk aan ‘n sistemiese benadering uit ‘n ekologiese perspektief. Klem word gelê op die ondersteunende rol wat die gemeenskap behoort te vervul. ‘n Ekologiese perspektief maak ook voorsiening vir die kennisname van internasionale en nasionale beleidsdoelstellings (Smale et al. 2000:6). Gemeenskappe is voortdurend besig om te ontwikkel en te verander. Maatskaplike werk kan dus nie staties bly nie en kennis moet geneem word van ‘n breër agtergrond waarteen ontwikkeling plaasvind. Politieke leiers spreek bepaalde maatskaplike probleme aan. Maatskaplike werkers kan aansluiting vind by politiese kragte en dit mobiliseer ten einde die nodige verandering te bewerk (Smale et al. 2000:7). In die praktyk kom die voorafgaande neer op ‘n paradigmaskuif wat moontlik deur maatskaplike werkers gemaak sal moet word. Aansluiting by die bestaande gemeenskapskultuur en -kragte deur middel van inter- en intradissiplinêre mensontwikkelende gemeenskapswerk kan nuwe deure van toegang open tot die mens-in-nood (Smale et al. 2000:7; Janse van Rensburg 2000b:10).

Figuur 3.4 Rolspelende veranderlikes in sisteemteoretiese raamwerke SISTEEM TEORETIESE RAAMWERK G EH EEL BE NA DE RING PSIGODINAMIES EKSPERIMENTEEL GEDRAG BEGINSEL KEUSES STRATEGIES KOMMUNIKASIE STRUKTUUR

Uit die voorafgaande bespreking met betrekking tot psigoterapeutiese benaderings en sisteemteoretiese konsepte blyk dit vir die doeleindes van hierdie studie dat gebruik gemaak kan word van beide teoretiese raamwerke. Rogeriaanse terapie waarin ‘n selfgesentreerde benadering beskryf word, ondersteun ‘n pastorale antropologiese benadering waarvolgens erkenning verleen word aan die verhouding waarin die mens tot homself staan. Ten einde op ‘n holistiese manier uit ‘n teologiese antropologiese oogpunt aandag aan menseverhoudings te gee, is dit noodsaaklik om aansluiting by sisteemteoretiese konsepte te vind. Binne hierdie konteks skep dit ruimte vir die maatskaplike werker om die totale verhoudingskonstellasie waarin die mens beweeg, te verreken. Deur die gebruikmaking van ‘n kliëntgesentreede verhouding as ‘n nie- direktiewe benadering, word aansluiting by die storie van die kliënt gevind, in teenstelling met direktiewe benaderings waar die kliënt se storie ondergeskik aan die terapeut se doelwitte vir die kliënt gestel word (Ryan 2002:1). Voorts bied die gebruikmaking van ‘n kliëntgesentreerde benadering aan ‘n terapeut die geleentheid

om op ‘n unieke manier aansluiting by die fenomenologiese leefwêreld van die kliënt te vind. In die verkenning van die kliënt se leefwêreld word nie gefokus op meningsverskille of onbewuste gedragsmodusse nie, maar op die onmiddellik aangebode verhaal wat vertel word (Pescitelli 1996:1).

Die sterktemodel wat as uitgangspunt erkenning verleen aan die positiewe innerlike kragte en vermoëns wat die mens benut om in die samelewing te oorleef, vind ook aansluiting by kliëntgesentreerde benaderings. In die sterktemodel word gekonsentreer op die individuele kragte waaroor individue beskik en nie op patologieë nie. Verder is die kliënt-berader verhouding ook van belang. Intervensies word aangepas by die behoeftes van die mens-in-nood (Barry, Zeber, Blow & Valenstein 2003:2). Uit ‘n diakonologiese epistemologie kan geredeneer word dat die geestelike dimensie ‘n innerlike krag is wat deur Christene beleef word as ‘n versterkende krag. Die hoofkritiek uit ‘n pastorale oogpunt teen kliëntgesentreede benaderings is die klem wat op die verhouding met die self geplaas word (Vgl. 2.3.3). Die kliënt- gesentreerde benadering het sy oorsprong in psigologie. As daar egter gelet word op die teoretiese fundering van die benadering blyk dit dat maatskaplike werkers dit nuttig in die praktyk kan gebruik en wel ten opsigte van persone wat mindere of selfs ernstige emosionele probleme het (Pruis 1980:62; Vgl. 3.4.2.2). Die humanistiese standpunt wat Rogers handhaaf in sy benadering deur die selfbeskikking van die mens op die voorgrond te stel, lei tot ‘n neutrale houding. Vir terapeute wat ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing handhaaf, skep dit egter ‘n probleem omdat ‘n Christen nie ‘n neutrale standpunt kan inneem nie, maar voortdurend bepaalde waardes en beginsels handhaaf. As sukses met die kliënt lê in sy aardse selfbeskikking, soos beskryf deur die kliëntgesentreerde benadering, word die ewigheidsperspektief nie verreken nie. In emosioneel-ontstellende situasies kan die feit dat ‘n mens ‘n ewigheidsbestemming het, as vertroosting dien (Pruis 1980:65).

‘n Kliëntgesentreede benadering in samehang met ‘n sistemiese benadering waarvolgens ruimte geskep word om aan die totale verhoudingskonstellasie waarin die mens leef, aandag te gee, bied aan die maatskaplike werker die geleentheid om op ‘n holistiese wyse tot die fenomenologiese leefwêreld van die kliënt toe te tree in ‘n gemeenskaplike soeke na oplossings vir die vasgeloopte verhaal.

Indien van ‘n teologiese antropologie uit ‘n sistemiese benadering gebruik gemaak word en die transendente verhouding waarin die mens tot God staan, erken word en dit byvoorbeeld aanvullend tot Rogers se kliëntgesentreerde benadering gebruik word, kan dit as ‘n holistiese maatskaplikewerkbenadering op ‘n inter- en intradissiplinêre werkswyse vir ‘n pastoraal-maatskaplikewerkbenadering gebruikswaarde inhou (Vgl. 3.4.1.2). Hierdie uitgangspunt bied as ‘ t ware ook ‘n aansluitingsmoontlikheid tot die gebruik van narratief-pastorale perspektiewe in maatskaplike werk omdat erkenning aan die kliënt as die kundige van sy lewensverhaal gegee word (Vgl. 4.3.6.1).