• No results found

Die soeke deur maatskaplike werkers na ‘n werkswyse waarvolgens die

3.3 Benaderings in maatskaplike werk

3.3.4 Leidinggewende praktykteoretiese perspektiewe in maatskaplike werk

3.3.4.4 Die soeke deur maatskaplike werkers na ‘n werkswyse waarvolgens die

Uit verskillende wêrelddele word vandag gevra of die raamwerk wat ‘n Christelike werkswyse bied voldoende ruimte laat vir aansluiting by die verrekening van die geestelike dimensie. Praglin (2003:7) vind onder Amerikaanse maatskaplike werkers vier antwoorde as respons op die vraag naamlik:

- Weerstand teen die verrekening van die geestelike dimensie kom voor of die aspek word doelbewus vermy.

- ‘n Oorvereenvoudigde sinkretiese benadering word gevolg wat neerkom op ‘n oorsaak- en- gevolg beredenering.

- ‘n Radikale skeiding tussen die geestelike dimensie en religie vir ideologiese redes word gemaak.

- Aanvaarding van die verrekening van die geestelike dimensie deur middel van ’n interdissiplinêre benadering tussen maatskaplike werk en pastorale benaderings ten einde ‘n soliede kennisbasis te verseker.

In Brittanje bevind Bowpitt (2000:349) dat daar tans ‘n oplewing onder maatskaplike werkers voorkom om opnuut aandag aan die verrekening van religieuse aangeleenthede in maatskaplike werk te gee. ‘n Teologiese antropologiese benadering open deure vir die Christelike maatskaplike werker waarvolgens die genadeboodskap, wat kan uitloop op permanente verandering, gekommunikeer kan word (Bowpitt 2000:362).

Dit is noodsaaklik om daarop te let dat die verskil tussen ‘n religieuse en geestelike toetrede twee verskillende kwaliteite impliseer. Gilbert (2000:68) omskryf “religieuse” as die uiterlike uitdrukking van geloof wat bestaan uit oortuigings, etiese kodes en aanbiddingspraktyke wat aanleiding tot morele gemeenskaplikheid gee. “Geestelike of spirituele” word omskryf as die mens se verlange na persoonlike betekenis en binding met ander mense en vir sommige ‘n God of godheid. “Geestelike” dui op die mens se vermoë om in ‘n transendente verhouding tot iets of iemand te staan. Geestelike belewings sluit religie in (Gilbert 2000:68). Uit ‘n Christelike pastoraal-teologiese epistemologie staan die mens in ‘n geestelike binding met God en word in ‘n pastorale benadering aansluiting gevind by die mens se geestelike belewenis as die ontmoeting tussen God en die mens (Louw 1999:1).

In die praktyksituasie blyk dit dat die klem in maatskaplike werk tans op psigoterapeuties-gefundeerde en postmodernistiese narratiewe benaderings val, terwyl die politiese klimaat sosialisties van aard is. Maatskaplike werkers benader ingevolge die etiese kode van maatskaplike werk hul kliënte met respek, eerbied en agting. Christelike maatskaplike werkers benader bo en behalwe die eise van die etiese kode, hul kliënte op grond van hul persoonlike lewens- en wêreldbeskouings met die liefde van Christus. Die beginsel van Christelike naasteliefde word bywyse van nie- veroordelende aanvaarding op ‘n verbale en nie-verbale wyse oorgedra. Die geestelike dimensie word nie noodwendig verreken of bespreek nie omdat pastorale psigologie nie deel van die teoretiese fundering van maatskaplike werk vorm nie. Maatskaplike werkers wat hul Christelike geloof as integraal tot hul menswees beskou, handhaaf nietemin Bybelse norme en standaarde in die sin dat kliënte menswaardig, as skepsels van God, behandel word.

In aansluiting by die voorafgaande standpunte blyk dat ‘n interdissiplinêre benadering, waar van teologiese antropologie in maatskaplike werk gebruik gemaak word en ‘n gespreksbenadering vir maatskaplike werk daargestel word, waarvolgens die geestelike dimensie in Maatskaplik Werk verreken kan word (Vgl. 3.5). Bowpitt (2000:362) verwys na ‘n Christelik-religieuse benadering as skynmanipulasie omdat dit op uiterlike goeie gedragswyses fokus, terwyl die werklike oordrag van die Bybelse waarheid die mens konfronteer met sondige gedragswyses wat kan lei tot bekering en permanente verandering.

‘n Verdere aspek wat na vore kom, blyk uit die feit dat maatskaplike werk in die proses van verwetenskapliking wegbeweeg het van een van sy oorspronklike grondslae, naamlik ‘n Christelike grondslag (Praglin 2003:1; Bowpitt 2000:349; Gilbert 2000:69; Atwood 1998:4). Ondersteunend hiertoe is Ryke (1998:29) van mening dat Christelike maatskaplike werkers tans in versoeking gestel word om op grond van heersende sekulêre norme en waardes besluite te neem. Die verrekening van die geestelike dimensie deur maatskaplike werkers word as onwetenskaplik, sektaries en dweping beskou. Uit vrees vir hierdie kritiek word die geestelike dimensie nie verreken nie (Gilbert 2000:69; Bowpitt 2000:350).

Sommige Suid-Afrikaanse universiteite (Potchefstroom, Bloemfontein en die Hugenote Kollege) ondersteun Christelike hoër onderwys. Die feit dat hulle Christelike hoër onderwys ondersteun, word in hul konstitusies uitgespel. Maatskaplike werkers wat Christene is en in Suid-Afrika opgelei word, tree uit die bepaalde religieuse standpunt toe tot die leefwêreld van hul kliënte. Die aanname word gemaak na aanleiding van praktykervaring van 20 jaar deur die navorser aan verskillende maatskaplikewerkinstellings. Deduktiewe bestudering van maatskaplike- werkverslae oor ‘n tydperk van 20 jaar deur die navorser dien as stawende kriteria. Die verslae waarna verwys word, is bestudeer by die volgende kantore: Afrikaanse Christelike Vroue Vereniging - Dordrecht (4 jaar), Departement van Volkswelsyn en Pensioene - Queenstown en Port Elizabeth - (2 jaar), Kerk Maatskaplike Werk Dienste - Bloemfontein (4 jaar), Administrasie Volksraad: Hoofkantoor - Pretoria (2 jaar), Departement van Welsyn, tans bekend as Nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling - Pretoria - (10) jaar. In aansluiting by die navorser se praktykervaring het Gilbert (2000:70) volgens Amerikaanse navorsing, rakende die

omvang van opleiding van maatskaplike werkers in die hantering van die geestelike dimensie, die volgende bevind:

- 36% van alle gelisensieerde maatskaplike werkers toon aan dat hul nooit enige onderrig in die hantering van die geestelike dimensie ontvang het nie.

- 47% toon aan dat min aandag in opleiding aan die hantering van die geestelike dimensie gegee is.

- 14% dui aan dat opleiding en die geestelike dimensie somtyds aandag geniet het.

- 3% toon aan dat opleiding in die geestelike dimensie dikwels aandag geniet het (Gilbert 2000:70).