• No results found

Hoofstuk 2 : Literatuurstudie

2.3 Demokrasie

2.3.1 Wat is demokrasie

Demokrasie word deur Biesta beskryf as die regeer van mense, deur mense en vir mense (Biesta, 2007: 742). Die belangrikheid van gelykheid van regte gaan hiermee gepaard. Suid-Afrika word as ʼn demokrasie beskryf, wat natuurlik die bestaan van formele prosesse en strukture van ʼn demokratiese aard op nasionale en makrovlak behels. Onder meer sluit dit vrye verkiesings, ʼn keuse tussen politieke partye en ʼn vrye reg tot spraak in (Harber & Serf, 2006: 986). Alhoewel Suid-Afrika gesien word as ʼn demokrasie, is dit nie moontlik sonder demokrate nie (soos reeds genoem [sien 1.6.1]). Demokrasie is slegs volhoubaar indien daar ʼn ondersteunende politieke kultuur is, waar die meerderheid van die samelewing ʼn hoë toegewydheid het aan demokratiese waardes, vaardighede en gedrag. Hierdie toegewydheid is gebaseer op ʼn begrip van demokrasie, wat wyer strek as die basiese reëls van ʼn verkiesing (Harber & Serf, 2006: 987).

ʼn Demokratiese burger beskik oor die vermoë om te redeneer en helder te kan dink met die nodige vaardighede om ingeligte besluite te kan neem (Biesta, 2007: 743). Hy of sy moet voorts ʼn sin vir regverdigheid hê en dit kan toepas. Dit is moontlik om hierdie soort vaardighede tydens die onderrigproses aan te leer en te ontwikkel. Daarom kan daar aangevoer word dat die organisasie (skole) demokrasie moet reflekteer, aangesien demokratiese waardes en gedrag ook deur beleefde ervaring aangeleer word (Harber & Serf, 2006: 988).

Onderwys kan die geleentheid bied vir demokratiese deelname, wat ook die aanleer van demokratiese vaardighede en waardes behels. Bogenoemde betrek alle onderwysers, van alle vlakke en vakke. Indien skole demokrasie ten volle wil ondersteun en so bestuur wil word, moet onderwysers opgelei word om sodanige maniere te kry om demokraties in die klas en skool om te gaan. Demokrasie moet ʼn wesenlike deel van hulle onderrig en pedagogie word. Hierdie opleiding is veral nodig aangesien skole nie in die verlede demokraties ingestel was nie en onderwysers dus nie noodwendig daarvoor voorberei is of steeds opgelei word nie (Harber & Serf, 2006:

gekoppel word (Biesta, 2007: 742). Harber en Serf (2006: 988) beskryf twee opvattings van demokrasie, eerstens as ʼn populêre mag, waar mense eintlik hulleself regeer. Tweedens word demokrasie beskou as ʼn verteenwoordigende stelsel van politieke besluitneming. Deur demokrasie word daar dus geleentheid gebied vir elk om sy stem te laat hoor en gehoor te word, om sodoende gesamentlik leiding te neem by die bestuur van instansies (hetsy die regering, ʼn onderneming of ʼn skool). Tog word die gronde waarop demokrasie gebaseer is, misverstaan. Daar ontstaan dan ʼn debat oor ‘wie is die ons’, aangesien die ons wat die reëls en regulasies instel, nie ooreenstem met diegene wat dit moet toepas nie (Benhabib, 1994: 5).

Met die verandering ná apartheid en van alle skoolbeleide sedert 1994, word daar gepoog om gelyke onderrig vir almal te bied. Volgens die departement van onderwys deel alle Suid-Afrikaners, sonder uitsondering, dieselfde regte, wat toegang tot onderrig insluit (Harber & Serf, 2006: 987). Die uitdaging hieraan verbonde is dat dit amper onmoontlik is om te oorkom. Aangesien almal van mekaar verskil ten opsigte van omgewing, kultuur, reeds bestaande kennis en omstandighede, dink en doen almal nie op dieselfde wyse nie. Om almal dus op dieselfde wyse te hanteer met die oog op gelyke onderrig, is bykans onmoontlik.

Soos in ander lande geskied Suid-Afrikaanse onderwys in ʼn demokrasie met ʼn diverse groep mense. Om diversiteit in ag te neem, behels die erkenning van verskille, aanvaarding daarvan en om met die verskille ʼn samelewing te skep waar ons mekaar ophef. Die doelwit van Suid-Afrikaanse onderwys behels dus nie net die opvoeding van waardevolle demokratiese burgers nie, maar terselfdertyd die viering en aanvaarding van die ryke diversiteit en geskiedenis van die land (DvO. Nasionale Kurrikulumverklaring, 2010).

In die onderwys verskil nie net die leerder van die onderwyser nie, maar ook die leerders van mekaar en die onderwysers van mekaar. ʼn Gaping word gevorm tussen die onderwyser en die onderrigomgewing wat die onderwyser se werk – om te onderrig en te leer – aansienlik bemoeilik. Hierdie gaping is nog iets wat in ag geneem moet word ten einde saam vorentoe te kan beweeg.

Demokrasie is tot ʼn mate steeds vasgevang in die konnotasie van ‘die einde van ʼn era’, aangesien dit die einde van apartheid vir Suid-Afrika beteken het (Benhabib,

stelsels ook van mekaar, as gevolg van verskeie ervarings (Biesta, 2007: 742). In Harber en Serf se studie word Engeland en Suid-Afrika met mekaar vergelyk. Beide is ʼn demokrasie, maar beide is uniek van aard. Daarom verskil die onderwysstelsels van mekaar asook die vereistes vir die opleiding van die onderwysers in die twee lande (Harber & Serf, 2006: 993).

Amerika, wat ook as ʼn demokrasie funksioneer, se grootste bedreiging is die onkunde van hoe die regering funksioneer. David Souter voer aan dat ʼn mens in onkunde nooit ʼn vry mens kan wees nie (The Economist. 2017), aangesien onkunde ʼn mens bind en jou afhanklik laat. Verder argumenteer Thomas Jefferson (The Economist. 2017) dat demokrasie nie met veel onkunde kan oorleef nie. Demokrasie sterf indien die land nie oor ingeligte demokrate beskik, wat besluite in die beste belang van die land kan neem nie.

ʼn Wêreldwye studie (World Values Survey. 2011) het bevind dat slegs ʼn derde van die 100 lande wat betrokke was by die studie, burgerregte as “absoluut noodsaaklik” vir demokrasie sien. In Amerika verwerp meer as ʼn kwart van die belangrikheid van vrye verkiesings (The Economist. 2017). Lande is meer bekommerd oor werkloosheid en globale mededinging as oor demokrasie en die wyse waarop dit die land beïnvloed. Hierdie kommer spruit voort uit die feit dat regerings en skole skynbaar net op die voorbereiding van jongmense vir die werkplek gefokus is, eerder as om op demokrasie gefokus te wees (The Economist. 2017).

Die beste opvoeding vir demokratiese burgers behels meer as om slegs teoretiese kennis weer te gee. Kennis oor hoe die regering werk word aan leerders gebied, en ʼn omgewing word geskep waarin leerders gewoond raak aan die instrumente van demokrasie. Navorsing (aangehaal in The Economist. 2017) dui daarop dat leerders wat die bogenoemde onderrig ontvang baie meer gewoond raak aan die bespreking van huidige (politieke) sake, baie meer geneig is om polities deel te neem en betrokke te wees in hulle gemeenskappe, wat ook deelname aan die stemproses insluit.

Een ding is duidelik, en dit is dat onderwys nie net bestaan om die mark te dien nie, maar ook om die gemeenskap te dien (Harber & Serf, 2006: 993) deur demokratiese onderrig aan die leerders te bied.