• No results found

Hoofstuk 4: Data-analise

4.2 Data van onderwysers ingesamel

4.2.1 Demokrasie en die onderwys

4.2.1.1 Skool A

Die onderwysers van Skool A beskryf demokrasie as ‘beheer van die meerderheid’ (ooreenstemmend met Biesta, 2007: 742), ‘verskillende mense het die reg om insette te lewer’, wat gepaard gaan met die gedagte van vryheid van spraak. Die stemproses waarvolgens ʼn regering of leierskap gekies word, sowel as die gelyke geleentheid tot deelname maak ook deel uit van die begrip van demokrasie onder Skool A se onderwysers. Diversiteit, aan die ander kant, word gesien as ‘verskillende mense’, onder andere verskillende kulture, gelowe, rasse en groepe. ʼn Diverse omgewing is een waar mense, ongeag hulle verskille in harmonie kan saamleef en mekaar se behoeftes kan akkommodeer (ooreenstemmend met Callan, 2004: 75).

Bostaande twee begrippe – demokrasie en diversiteit – hou verband met mekaar. In Suid-Afrika het demokrasie grootliks ontstaan as gevolg van die ryke geskiedenis en diversiteit in die land (Harber & Serf, 2006: 987), met die doel om aan almal ʼn gelyke stem en reg te gee. Diversiteit moet dus in ag geneem word tydens demokratiese praktyke om sodoende aan almal ʼn gelyke kans tot deelname te bied. Demokrasie kan dus gesien word as ʼn diverse groep mense wat saam besluite neem (Young, 2000: 25) en saam in ʼn universele rigting beweeg.

Demokrasie maak op verskeie maniere deel uit van die onderwys. Volgens Skool A se onderwysers is die besluitneming van aspekte binne die skool deel van demokrasie. Hierdie besluitneming spreek tot die vryheid van keuse vir etniese, taal-

en godsdiensverskille wat geakkommodeer moet word en gelyke geleenthede wat gebied word ongeag die verskille. In klasverband word vryheid van keuse gegee, sodat leerders die verantwoordelikheid verbonde aan elkeen se reg kan leer en sodat hulle kan leer dat elke keuse spesifieke gevolge het. Demokrasie lig ʼn verdere verantwoordelikheid van medebestaan wat aan leerders geleer moet word (Waghid, 2018: 180). Alle aanhalings hieronder word sonder enige taalversorging en woordeliks verskaf.

Regeringsinstellings oefen beheer uit deur ʼn ‘top-down’-benadering. Hulle beïnvloed onderwysrolspelers, wat hoofde beïnvloed, wat dan verder onderwysers beïnvloed. Demokrasie word ook uitgeoefen onder kollegas en in die klaskamers deur keuses en leierskapaanstellings.

Hierdie direkte aanhaling van ʼn onderwyser in Skool A spreek tot dit wat problematies is in skole, aangesien demokrasie nie ʼn hiërargiese stelsel behels nie. Tog word daar ervaar dat die onderwysstelsel en talle skole op so ʼn wyse bestuur word. Dit bevorder nie demokratiese praktyke, ter ondersteuning van ons land as ʼn demokrasie, nie. Young is van mening dat waar ʼn aksie ʼn verskeidenheid agente beïnvloed, al die agente aan die besluitneming rakende hulle aksies en omstandighede moet deelneem (Young in Callan, 2004: 79). ʼn Burgerskaponderwys-model soek na verandering om sodoende reeds bestaande strukture te herproduseer en te verbeter (Chingombe & Divala, 2018: 75–76). Indien onderwysers nie intellektuele onafhanklikheid in hulle klaskamers kan uitoefen nie, kan hulle nie deur voorbeeld en ervaring leerders leer om intellektueel onafhanklik te wees nie. Verhoogde onderwyserdeelname aan opvoedkundige besluitneming is dus belangrik om sodoende leerders se onderrig te verbeter (Gutmann, 1987: 84).

Demokrasie in die onderwys behoort primêr deel te wees van die onderrigproses, om sodoende demokrate op te voed. Die onderwys behoort dus demokrasie te ondersteun en te bevorder deur leerders aan demokratiese praktyke bloot te stel. Daarom is daar aan die onderwysers gevra wat demokratiese burgerskaponderwys is en hoe demokratiese praktyke in Skool A bevorder word.

Die meerderheid onderwysers by Skool A was nie bekend met die gedagte van demokratiese burgerskaponderwys nie. Daar is onder andere genoem dat dit die reg is wat ons as burgers van die land het om onderrig te ontvang. Van die onderwysers

en ingeligte besluite te neem wat die gemeenskap sal bevoordeel. Hieruit is verder afgelei dat leerders as burgers van die land in die skool opgevoed moet word, aangesien dit nie altyd tuis gebeur nie. Daar is ook erken dat dit nie altyd by die onderrigproses in ag geneem word nie. Een deelnemer het gesê:

Dit word daarnatoe gestreef, op papier, maar in werklikheid of die praktyk gebeur dit nie altyd nie.

Demokratiese praktyke wat in Skool A deur die onderwysers genoem is, was oorkoepelend die stemproses by die skool, waar die beheerliggaam verkies word deur ʼn demokratiese stemproses. Die beheerliggaam staan die hoof by tydens besluitneming.

Demokrasie is nie juis ons hooffokus nie, maar elke leerder ontvang gelyke geleenthede op akademiese en buitemuurs vlak.

Van die onderwysers het 80% erken dat die hantering van demokrasie ʼn uitdaging in Suid-Afrikaanse skole is. Alhoewel dit, na aanleiding van die bostaande aanhalings, duidelik is dat Skool A nie spesifieke klem op demokrasie en die bevordering daarvan lê nie, is demokrasie wel deur die onderwysers as ʼn probleem beskou:

o Histories benadeelde skole se kinders het nie dieselfde geleenthede nie.

o In gemeenskappe sien ons dat die probleem net groter raak, skole moet dus probeer om ʼn bydra te maak.

o Ja, die hantering van demokrasie is ʼn uitdaging in skole, aangesien die KABV te vol is en daar nie tyd is om vir leerders “soft skills” te leer nie.

Buiten die feit dat Skool A, volgens die onderwysers, nie aandag skenk aan die bevordering van demokratiese praktyke nie, kry die onderwysers ook nie die geleentheid om insette te lewer in die besluitnemingsproses nie. Dit sluit aan by die reeds genoemde hiërargiese (top-down) stelsel wat problematies is. Toe daar aan die onderwysers gevra is of hulle betrek word, was die antwoord:

Ons as onderwysers word ingelig, streng riglyne word vir ons neergelê waarna ons verdere inisiatief kan gebruik om take te voltooi. Indien die onderwysers nie op ʼn demokratiese manier kan deel neem aan die skool nie, hoe moet daar verwag word dat die leerders die voorbeeld gaan sien en volg?

Skole moet demokrasie reflekteer, aangesien demokratiese waardes en gedrag ook deur beleefde ervaring aangeleer word (Harber & Serf, 2006: 986).