• No results found

HOOFSTUK 3: BERAMING VAN ‘n PASIëNTE MET VENEUSE ONDERBEEN-

3.2 BERAMINGSINSTRUMENTE

3.3.3 Leefstylfaktore wat tot die ontstaan van veneuse onderbeenulkusse

3.3.3.8 Vorige onderbeenfrakture / ortopediese chirurgie / vaskulêre chirurgie

Vorige onderbeenfrakture, ortopediese en vaskulêre chirurgie hou verband met lang tye wat die pasiënt immobiel is of die kuitspierpomp word nie gebruik nie. Wanneer pasiënte immobiel is, kan dit tot die vorming van diep veneuse trombose lei. Die diep veneuse trombose kan weer die kleppe in die veneuse sisteem beskadig wat dan retrograde bloedvloei kan veroorsaak. Dit gee aanleiding tot vorming va n veneuse onderbeenulkusse (Viljoen en Uys , 1997b:158, 164, 308-309 en Smeltzer & Bare, 2000:1908).

3.3.3.9 Bejaardheid

Leach (2004:52) en Myers (2004:236) is van mening dat die risiko van veneuse onderbeenulkusvorming met ouderdom toeneem:

¿ jonger as 60 jaar – minder as een persent;

¿ 61-70 jaar – 2.6% en

¿ ouer as 80 jaar – 15%.

Wanneer veneuse onderbeenulkusse voorkom, kan die verouderingsproses klepdegenerasie veroorsaak. Klepdegenerasie verhoog die individu se kanse sewevoudig voor die ouderdom van 65 jaar om veneuse onderbeenulkusse te ontwikkel.

3.3.4 Psigo-sosiale faktore

Ten einde die pasiënt se probleem volledig en effektief te bepaal, moet sekere aspekte van sy persoonlike lewe ook in ag geneem word om die pasiënt se siektetoestand of probleme beter te verstaan.

Die posisie en rol van die pasiënt in die gesin, sowel as die verhouding wat hy met gesinslede en mense by die werk het, kan onbevredigend wees en ‘n bydraende oorsaak van sy siekte wees of die toestand kompliseer. Die omgekeerde is ook waar naamlik dat die sterk punte in verhoudinge geïdentifiseer moet word ten einde vas te stel wat die aard van die fisieke, sosiale, emosionele en ekonomiese ondersteunings is waarop die pasiënt hom/haar kan beroep (Viljoen en Uys, 1997a:73).

Data met betrekking tot die pasiënt se werksomgewing kan gebruik word om vorige en huidige omgewingsgevare vas te stel, uit te klaar wat die invloed van huidige siektetoestand op sy werk en omgekeerd is en om rehabilitasie te beplan. Werksbevrediging speel ‘n rol in die algemene gemoedsrus van die pasiënt (Viljoen en Uys, 1997a:73).

Dit is nie nodig om die presiese bedrag van die pasiënt se inkomste vas te stel nie, maar wat wel van belang is, is om die bron van inkomste te bepaal en die pasiënt se siening of die inkomste voldoende is, al dan nie. Die gegewens is nodig ten einde vroegtydig vir finansiële ondersteuning te beplan, indien nodig (Viljoen en Uys, 1997a:73).

Insig in die pasiënt se opvoedkundige kwalifikasies gee die wondsorgdeskundige meer insig in die pasiënt se begripsvermoë om sodoende sy reaksies te beoordeel (Viljoen en Uys, 1997a:73).

Godsdiensbeoefening en etniese verband gee insig in die waardesisteem, voedselvoorkeure, metodes van kommunikasie, gesinsverhoudinge, bygelowe en gesondheidsgedrag van die pasiënt. Nie alleen begryp die wondsorgdeskundige die pasiënt beter met al dié data nie, maar dit stel die wondsorgdeskundige ook in staat om te beplan vir die implikasies wat die pasiënt se kultuur op die beplanning van sy versorging kan hê, byvoorbeeld aanpassings by sekere voedselvoorkeure (Viljoen en Uys, 1997a:73- 74).

Dit verg aansienlike vaardigheid om ‘n pasiënt se werklike siening van sy vorige versorgers te beraam, aangesien die pasiënt dikwels deur die sisteem in ‘n posisie van onderwerping geplaas word. Die pasiënt kan gevra word of hy die vrymoedigheid het om vrae te stel en versoeke te rig en of hy/sy in die beplanning van sy/haar versorging geken word (Viljoen en Uys, 1997a:74).

Navraag moet ook gedoen word in verband met die pasiënt se samewerking met vorige versorgingsplanne. Redes vir swak samewerking behoort ook verkry te word, ten einde die aangeleentheid te probeer regstel. Dieselfde probleme kan onder andere spruit uit ‘n gebrek aan begrip, finansiële beperkinge, wantroue, onverskillig heid en ontkenning. Die eerste twee is egter makliker om te hanteer as wat dit die geval met laasgenoemde drie is (Viljoen en Uys, 1997a:74).

‘n Bespreking van die pasiënt se optrede tydens vorige siektebelewenisse kan ‘n aanduiding wees van hoe hy moontlik in die toekoms sal optree. Vrae oor watter waarde die pasiënt aan gesondheid heg en watter pogings die pasiënt aanwend om gesond te bly, sowel as na wie die pasiënt hom tydens siekte wend, kan die wondsorgdeskundige voorberei op die sterk- en swakpunte van die pasiënt asook op moontlike probleme wat tydens die versorgingsproses ervaar kan word (Viljoen en Uys, 1997a:74).

Die teenwoordigheid van ‘n ulkus, veral ‘n chroniese ulkus mag stres, angstigheid en depressie by die pasiënt veroorsaak. Dit is ook nodig om na die dryfkrag van die pasiënt te kyk, want dit kan ook die pasiënt se psigo-sosiale status beïnvloed (Flanagan, 2003:8).

In sommige gevalle kan angstigheid, dermatologiese toestande veroorsaak (Small, 2000:90). Stres veroorsaak ook adrenalienvrystelling en dit verhoog die afskeiding van adrenokortikotrofiese hormoon wat weer die produksie van adrenale kortikale hormone stimuleer. Adrenokortikotrofiese hormoon reguleer die produksie van glukokortikoïede wat lei tot ‘n afname in beweeglikheid van granulosiete en makrofage en sodoende word hul migrasie na die wond verhinder. Dit onderdruk die immuunsisteem, vertraag die inflammatoriese respons en vertraag dus wondgenesing (Small, 2000:90).

Medikamente, asook alkohol- en nikotienmisbruik vero orsaak ateriosklerose en perfusie abnormaliteite. Die groep pasiënte is dikwels ondervoed met ‘n verlaagde immuunrespons (Small, 2000:90).

Pasiënte met dimensie of selfbeserende neigings gee dikwels nie hul samewerking nie. Daarom is ‘n psigo-sosiale beraming nodig, want dit verskaf die inligting wat nodig is om ‘n plan vir deurlopende sorg, volgens individuele en gesinsvoorkeure, op te stel. Na aanleiding van Small (2000:90) is die doel van ‘n psigo-sosiale beraming om vir die pasiënt ‘n omgewing te skep wat vir wondgenesing bevorderlik is.

3.3.5 Pyn

Alle pasiënte met onderbeenulkusse moet vir pyn beraam word. Lindholm (1998:1) beklemtoon die belangrikheid van pynberaming deur gesondheidsorgpersoneel aangesien pasiënte onbekwaam is om hulself in terme daarvan uit te druk of om op pyn te reageer, omdat hulle dit nie altyd verstaan nie. Tydens ‘n internasionale navoringsprojek is geïdentifiseer dat die verwydering van verbindsels tydens die wondsorgprosedure die pynlikste vir pasiënte is (Moffatt, Franks & Hollinworth soos in Flanagan, 2003:11). Die beraming van pyn moet aan die hand van die volgende kriteria geskied:

¿ Ligging van die pyn?

¿ Watter tyd van die dag is die pyn die ergste?

¿ Aard van die pyn?

¿ Intensiteit van die pyn?

¿ Duurte van die pyn?

¿ Watter ander strategieë word ook gebruik om pyn te help verlig?

¿ Hoe effektief is die behandeling vir pyn?

Tydens die beraming van pyn moet die pasiënt ook oor intermitterende kloudikasie uitgevra word. Intermitterende kloudikasie is ‘n krampagtige pyn in die onderste ekstremiteite wat voorkom nadat ‘n sekere afstand geloop of ‘n sekere tipe oefening gedoen is. Die pyn dwing die pasiënt om te rus en verdwyn na ‘n paar minute van rus. As dieselfde afstand teen dieselfde spoed afgelê word, keer die pyn terug. Intermitterende kloudikasie word deur weefselhipoksie en die ophoping van metaboliete as gevolg van die isgemie weens inspanning veroorsaak. Wanneer ‘n pasiënt intermitterende kloudikasie ervaar is dit ‘n aanduiding dat daar chroniese arteriële ontoereikendheid teenwoordig mag wees (Viljoen & Uys, 1997b:320).

Navorsing het aangetoon dat ‘n pasiënt se persoonlike antwoord die beste aanduiding van pyn is en daarom is ‘n behoorlike pynberamingsintrument essensieel. Volgens Pasero (1997:19) verstaan pasiënte nie ‘n nul tot tien numeriese pynskaal nie. Volgens hom is die Wong-Bakergesigskaal meer aanvaarbaar vir pasiënte (kyk Figuur 1). Krasner (2001:6) is dit ook eens dat die Wong-Bakergesigskaal deur pasiënte gebruik moet word om die vlak van hul pyn aan te toon.

‘n Verskeidenheid van studies is deur Wong (1993), Stein (1995) en Keck (1996) in dié verband gedoen soos aangehaal deur Pasero (1997:19) en dit bevestig die geldigheid en betroubaarheid van hierdié metode om pyn te beraam.

3.4 FISIEKE ONDERSOEK

‘n Fisieke ondersoek word deur middel van inspeksie, palpasie en ouskultasie uitgevoer. Die fisieke ondersoek sal in die volgende paar paragrawe bespreek word.

3.4.1 Inspeksie

Inspeksie kan beskryf word as waarneming met ‘n doel. Die sintuie wat by hierdie tegniek betrek word is visie, gehoor en reuk.

3.4.1.1 Wondligging

Veneuse onderbeenulkusse kom meestal op die mediale aspek van die onderbeen of op die mediale malleolus voor. Die voorkoms van veneuse onderbeenulkusse in areas wat aan trauma blootgestel is, byvoorbeeld die tibiale area is nie algemeen nie. Veneuse onderbeenulkusse kom nie op die plantare aspekte van die voet voor nie en is ongewoon bokant die knie (Harris et al., 1996b:41 en Myers, 2004:240).

Die ligging van arteriële ulkusse word in Hoofstuk 2 in Tabel 6 bespreek.