• No results found

2.4 NAVORSINGSTEGNIEKE

2.5.1 Voorvereistes en logistieke reëlings

Die Etiekkomitee het goedkeuring verleen vir die uitvoer van die navorsingstudie (Kyk Bylae A vir die toestemmingsbrief met etieknommer, ETOVS NR 30/06). Die navorser het toestemming gehad om met die instansies te skakel en deelnemers te nader om by die navorsing betrokke te wees (kyk Bylae B en C vir die aansoeke om toestemming, en die goedgekeurde toestemmings). Die moderator en die onderskeie groepe deelnemers is ingelig omtrent datums en tye waarop die NGT-onderhoude sou plaasvind, asook lokale wat gebruik sou word. Die geformuleerde navorsings-

opdragte is aan toetsing onderwerp ten einde die geloofwaardigheid van data te verhoog (Burns & Grove, 2005:396).

2.5.2 Verkenningsonderhoude

’n Verkenningsonderhoud kan beskryf word as ’n kleinskaalse proeflopie van die gekose data-insamelingstegniek (Gay & Airasian, 2003:292). Die geformuleerde navorsingsopdragte vir die werklike nominale groepe behoort, indien moontlik, eers op ’n soortgelyke groep deelnemers getoets te word, ten einde moontlike probleme te identifiseer. Die volgorde van die vrae en die bepaalde prosedure vir die aanteken van die response moet ook ondersoek word (Burns & Grove, 2005:396). ’n Beraming moet gemaak word om te bepaal of die opdragte duidelik, stimulerend en spesifiek genoeg geformuleer is, sodat die deelnemers betekenisvolle data vir die navorsing sal verskaf (Thomas, 1983 in Potter et al., 2004:127). Die soort response wat die deelnemers tydens ’n verkenningsonderhoud genereer, gee aan die navorser ’n goeie aanduiding van die mate waarin die vrae korrek verstaan word, en of dit die verlangde data vir die beoogde studie sal kan verskaf (MacPhail, 2001:165). Indien daar in hierdie stadium enige leemtes is, moet die vrae dienooreenkomstig aangepas word.

Ten aanvang is die opdragte vir die onderskeie groepe deelnemers gestruktureer. Daarna is die opdragte in samewerking met kollegas van die navorser, die moderator vir die NGT-onderhoude en die navorser se studieleiers geverifieer en aangepas. Die navorser het, waar moontlik, die onderskeie navorsingsopdragte vir die werklike NGT-onderhoude eers aan toetsing tydens verkenningsonderhoude onderwerp. Voorbereiding vir hierdie onderhoude is soos in 2.4.1.4 bespreek, gedoen en die NGT-proses is volgens die beskrywing in 2.4.1.5 uitgevoer. Die drie verkenningsonderhoude vir die onderskeie deelnemergroepe word vervolgens bespreek.

2.5.2.1 Professionele verpleegpraktisyns

Om verskeie redes is daar nie ’n verkenningsonderhoud gehou om die navorsings- opdagte vir die professionele praktisyns te toets nie. Slegs die werklike nominale groepsessie is op 8 April 2005 met hierdie deelnemergroep gehou.

Hierdie besluit het gespruit uit terugvoer wat ontvang is van ’n fokusgroeponderhoud wat deur die Afdeling Samelewingsdiensleer van die betrokke hoër onderwys- instansie vir CHESP12 in 2004 gedoen is. Die doel van die fokusgroepsessie was om te bepaal wat die vennote se ervaring is ten opsigte van die beginsel van wede- rsydse voordeeltrekking uit die samelewingsdiensleermodules. Hoewel waarde-volle inligting verkry is, het die praktisyns en die fasiliteerders van die tweedejaar-studente die groepbesprekings verbaal gedomineer. Volgens Burns en Grove (2005:543) behoort deelnemers met verskillende eienskappe en belangstellings in aparte groepe vir groepbespreking geplaas te word.

’n Verkenningsonderhoud is nie met hierdie groep uitgevoer nie omdat dit naamlik ’n moontlik nadelige invloed op die data van die werklike onderhoud kon uitoefen. Volgens Lloyd-Jones et al. (1999:8) kan deelnemers moeg word vir herhaalde evaluasies of ondersoeke, veral as hulle dit as ontoepaslik beskou. Daar is ook ’n risiko dat die deelnemers ’n weerstand teen alle evaluasies of navorsingsondersoeke kan opbou. Redes wat deelnemers aanvoer waarom hulle deelname aan navorsing weier, is onder meer dat hulle nooit terugvoer oor die resultate kry of enige reaksie sien op dit wat hulle tydens die navorsing geopper het nie (Van den Berg, Bester, Janse-van-Rensburg-Bonthuyzen, Engelbrecht, Hlophe, Summerton, Smit, Du Plooy, & Van Rensburg, 2006:8). Die geloofwaardigheid van bevindinge kan gevolglik daaronder ly indien deelnemers met ’n soortgelyke perspektief wel sou deelneem.

12

Toestemming om praktisyns by die NGT-onderhoud te betrek en die reël van die deelnemers vir die onderhoud is via die betrokke skakelpersone van die instansies gedoen. Skriftelike toestemming is verkry om die NGT-onderhoude te mag hou, asook om die data as deel van die navorsingstudie te noteer, (kyk Bylae D).

Twee opdragte is vir elke deelnemergroep vir die NGT-onderhoude geformuleer, naamlik ’n hoofopdrag en ’n opvolgopdrag. Die opdragte wat aan die praktisyns gegee is tydens hul NGT-onderhoud het soos volg gelui:

Hoofopdrag

“Skryf die probleme neer wat u as professionele verpleegkundige ervaar wanneer studentverpleegkundiges in Primêre Gesondheid- sorgklinieke (PGS-klinieke) vir vereiste kliniese leerervaring geplaas word.”

“Write down the problems that you as a professional nurse are experiencing during the placement of student nurses in Primary Health Care (PHC) clinics for clinical learning experience requirements.”

Opvolgopdrag

“Skryf strategieë neer wat geïmplementeer kan word om die leerervaring van die studente tydens hul plasing in PGS-klinieke te bevorder en/of te verbeter.”

“Write down strategies to be implemented which will enhance and/or improve the learning experience of the students during placement in PHC clinics.”

2.5.2.1 Fasiliteerders

Fasiliteerders wat by die kliniese onderrig en begeleiding van die derdejaar voorgraadse studente in die hospitale betrokke was, is vir die verkenningsonderhoud van die ontledingseenheid geïdentifiseer. Volgens Meyer, Naude en Van Niekerk (2004:259) mag deelnemers wat by ’n voorondersoek ingesluit was, nie aan die hoofprojek deelneem nie. Die fasiliteerders van die derdejaars was die enigste groep soortgelyk aan die ontledingsgroep. Hulle is tydens ’n vergadering in dié verband genader, asook om die nodige reëlings vir die verkenningsonderhoud te tref. Die hele groep, bestaande uit vier blanke Afrikaanssprekende dames, het tot deelname aan die verkennings-onderhoud ingewillig. Hoewel hulle een minder as die gestelde minimum van vyf deelnemers per NGT-onderhoud was, het die verkennings- onderhoud nogtans plaasgevind, aangesien die data nie vir die doel van die uiteindelike studie gebruik sou word nie.

Daar is ’n afspraak vir die verkenningsonderhoud gemaak. Voorbereiding vir die verkenningsonderhoud en die uitvoer van die NGT-proses is op presies dieselfde wyse gedoen as vir die werklike NGT-onderhoude. Met hul aankoms is die deelnemers hartlik verwelkom en ligte verversings is bedien. Die deelnemers en moderator sowel as die navorser was as kollegas alreeds aan mekaar bekend. ’n Gemaklike en gesellige atmosfeer is deur die navorser en die moderator geskep deur vooraf met die deelnemers te gesels. Volgens Uys & Basson (1991:62) kan hoflikheid en bedagsaamheid bydra tot ’n beter rapport tussen die deelnemers en die moderator en/of die navorser.

Die navorser het met die aanvang van die verkenningsonderhoud die vier deelnemers verwelkom en die doel van die onderhoud verduidelik. Hulle is ook aangemoedig om sonder vrees en op eerlike wyse verbale response op die opdragte te lewer, aangesien daar nie “regte” of “verkeerde” response is nie. Hulle is verder daarvan verseker dat die inligting wat met die onderhoud bekom sou word, vertroulik gehou sou word. Deelnemers is ook oor die navorser se teenwoordigheid as waarnemer tydens die proses ingelig, om hulle sodoende verder op hul gemak te probeer stel. Nadat die doel van die verkenningsonderhoud en noodsaaklike inligting

aan die deelnemers verskaf is, is skriftelike, ingeligte toestemming by elke deelnemer verkry. Die moderator kon daarna met die NGT-proses voortgaan.

Die twee opdragte wat tydens die verkenningsonderhoud aan die fasiliteerders van die derdejaar voorgraadse studente gegee is, is aangepas om by die konteks van die spesifieke groep te pas. Die onderhoud is in Afrikaans gevoer, aangesien dit die taal was wat almal verstaan het. Opdragte vir die verkenningsonderhoud het soos volg gelui:

Hoofopdrag

“Skryf die probleme neer wat u rakende die praktykonderrig aan die derdejaar voorgraadse studente tydens hul praktykplasings ervaar.”

Opvolgopdrag

“Skryf voorstelle neer oor hoe praktykonderrig aan dié studente tydens hul praktykplasings verbeter of bevorder kan word.”

Die doel van die verkenningsonderhoud is uitsluitlik om die opdragte te evalueer. Daarom is die NGT-proses uitgevoer tot net voor die fase waarin response geprioritiseer moet word. Deelnemers se terugvoer na aanleiding van die opdragte het relevante inligting opgelewer. Beide opdragte is in samewerking met die moderator en later ook die studieleiers beter geformuleer en in Engels vertaal.

Die twee opdragte wat aan die ontledingseenheid van die fasiliteerders van die tweedejaar voorgraadse studente gegee sou word, het ná die verkennings- onderhoud soos volg gelui:

Hoofopdrag

“Skryf die probleme neer wat u rakende kliniese onderrig aan die tweedejaar voorgraadse studente tydens plasing in Primêre Gesond- heidsorgklinieke (PGS-klinieke) ervaar.”

“Write down the problems that you experience regarding the clinical teaching to the second year undergraduate nursing students during placement in Primary Health Care (PHC) clinics.”

Opvolgopdrag

“Skryf voorstelle neer vir hoe kliniese onderrig aan die studente tydens plasing in PGS-klinieke verbeter kan word.”

“Write down suggestions on how clinical teaching to the students can be improved during placement in PHC clinics.”

2.5.2.3 Studente

Derdejaar voorgraadse studente, wat in 2004 in hul tweedejaar in die PGS-klinieke vir verpligte kliniese praktika geplaas was, is geïdentifiseer om aan die verkennings- onderhoud vir die studentegroep deel te neem. Die studente is tydens ’n teorieklas genader om vrywilliglik aan die onderhoud deel te neem. Nadat die navorser toepaslike inligting verskaf en die doel van die verkenningsonderhoud verduidelik het, het 11 vrywilligers hul name opgegee, waarvan slegs agt studente uiteindelik deelgeneem het. Logistieke reëlings vir die onderhoud was ook in die klas getref.

Dieselfde voorbereiding as vir die voorafgaande verkenningsonderhoud, is vir hierdie onderhoud gedoen, en dieselfde NGT-proses is ook by die derdejaarstudente gevolg. Omdat die navorser deur noue persoonlike betrokkenheid goed bekend was aan die deelnemers tydens opleiding in hul tweedejaar, was sy bedag daarop dat haar teenwoordigheid hulle moontlik bedreig kon laat voel. Hulle kon gevolglik net

response lewer wat hulle dink vir die navorser aanneemlik sou wees. Volgens Mouton en Marais (1992:84-85) kan die beeld wat die deelnemers van die navorser het, tot agterdog lei. Dit kan by hulle die persepsie laat ontstaan dat die navorser byvoorbeeld ’n “indringer” of ’n “polisieman” is en gevolglik het dit ontwykende of onwaar response by die deelnemers tot gevolg. Nadat die navorser die moderator – wat dus aan die studente onbekend was –, aan hulle voorgestel het, is die navorser se teenwoordigheid tydens die proses verduidelik. Dit het die studente gerusgestel en tot positiewe deelname aangemoedig.

Die onderhoud is in Engels gevoer, aangesien dit al die studente se tweede taal was en almal mekaar sodoende kon verstaan. Dit is ook vooraf só met die studente uitgeklaar. Hoewel die moderator die verkenningsonderhoud in Engels gevoer het, het die persoon die opdragte in Engels en Afrikaans aan die deelnemers gegee. Enige moontlike onduidelikhede en response in Afrikaans is deur die moderator vir die groep in Engels vertaal en is op die blaaibord in Engels aangeteken.

Die opdragte vir die verkenningsonderhoud van die studente is soos volg geformuleer:

Hoofopdrag

“Skryf die probleme neer wat u tydens u plasing in Primêre Gesond- heidsorgklinieke (PGS-klinieke) ervaar het.”

“Write down the problems that you have experienced during your placement in Primary Health Care (PHC) clinics.”

Opvolgopdrag

“Skryf neer wat u as noodsaaklik tydens plasing in PGS-klinieke beskou, sodat studente hulle leerervaring/-ondervinding as bevredigend sal beskryf.”

“Write down what you regard essential during placement in PHC clinics in order for students to describe their learning experience as satisfactory.”

Geheue neem natuurlikerwys toenemend met verloop van tyd af, veral as die persoon nie meer aan die bepaalde gebeure blootgestel word nie (Smith, 1975 in Mouton & Marais, 1992:89). Nieteenstaande die feit dat ’n jaar verloop het sedert die deelnemers aan kliniese plasing in PGS-klinieke blootgestel was, het hul response aan die doel van die studie voldoen. In samewerking met die moderator en op aanbeveling van die studieleiers het die navorser die opdragte uiteindelik net beter herformuleer. Die aanspreekvorm “u” is ook na “jou” verander, aangesien die hedendaagse jeug ’n meer informele kommunikasievorm verkies.

Die opdragte wat aan die studente gegee sou word, is na afloop van die verkenningsonderhoud en wysigings soos volg geformuleer:

Hoofopdrag

“Skryf die probleme neer wat jy tydens jou plasing in Primêre Gesondheid-sorgklinieke (PGS-klinieke) ervaar het.”

“Write down the problems that you have experienced during your placement in Primary Health Care (PHC) clinics.”

Opvolgopdrag

“Skryf voorstelle neer oor wat gedoen kan word om jul leerervaring tydens jul plasing in PGS-klinieke te verbeter.”

“Write down suggestions on what can be done to improve your learning experience during your placement in PHC clinics.”

Die navorser het twee doelwitte bereik deur by die verkenningsonderhoude as waarnemer teenwoordig te wees. Eerstens kon sy die vereiste kwaliteite waaroor ’n moderator moet beskik, asook die moderator se vaardighede soos reeds beskryf, in aksie waarneem. Tweedens was die “demonstrasies” oor ’n groot deel van die proses op werklike groepe vir haar ’n interessante en insiggewende nuwe ervaring, aangesien sy tot onlangs met die NGT-proses onbekend was. Dit was van groot hulp en het dit vir die navorser makliker gemaak om die NGT-proses in hierdie studie te kon beskryf.