• No results found

In hierdie hoofstuk is die agtergrond en die navorsingsprobleem vir die studie bespreek, en is daar ’n kort oorsig oor die beplande navorsing gegee. Die navorsingsontwerp en -metodologie, metodes om geloofwaardigheid in die navorsingstudie te verhoog, asook inagneming van sekere etiese oorwegings, sal vervolgens in detail in die volgende hoofstuk bespreek word.

HOOFSTUK 2

Navorsingsontwerp en -metodologie

Die doel van hierdie navorsingstudie is om probleme wat die leerervaring van tweedejaar voorgraadse studentverpleegkundiges tydens plasing in PGS-klinieke

beïnvloed, volledig te ondersoek en te beskryf, asook aanbevelings op grond van die bevindinge te maak.

2.1 INLEIDING

Die agtergrond en die navorsingsprobleem van die studie is in Hoofstuk 1 reeds bespreek. ’n Breedvoerige beskrywing van die navorsingsontwerp en -metodologie, metodes om geloofwaardigheid van die navorsingsbevindinge te probeer verseker, asook etiese oorwegings, word in hierdie hoofstuk weergegee.

2.2 NAVORSINGSONTWERP

Volgens die literatuur is die navorsingsontwerp en die -metodologie twee verskillende dimensies van ’n navorsingstudie (Henning & medewerkers, 2004:36; Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:72-75; Mouton, 2001:55-57). Burns en Grove (2005:211) definieer die navorsingsontwerp as ’n duidelik afgebakende struktuur waarbinne ’n studie geïmplementeer word, ten einde sekere gestelde doelwitte te bereik. Dit is dus ’n soort oorhoofse plan (“bloudruk”) wat deur die navorser op so ’n wyse gespesifiseer is, dat dit ’n blik op die eindproduk gee, terwyl dit terselfdertyd die soort data waaraan daar ’n behoefte is, verskaf. Die metodologie daarenteen fokus op die proses van die navorsing, spesifieke stappe in die proses (metode/s), asook die mees onpartydige prosedures om tydens die navorsingsproses te gebruik (Henning & medewerkers, 2004:36; Mouton, 2001:75).

In die geval van hierdie navorsingstudie is kwalitatiewe navorsing gedoen, en verkennende en beskrywende ontwerp toegepas.

2.2.1 Kwalitatiewe navorsing

Burns en Grove (2005:746) definieer kwalitatiewe navorsing as ’n sistematiese, interaktiewe en subjektiewe benadering wat gebruik word om lewenservaringe te beskryf en sodoende begrip te genereer. Die feit dat die navorser en die deelnemers elk uit ’n eie verwysingsraamwerk kom en dit die ervarings van mense is wat as data gebruik word, veroorsaak dat ’n kwalitatiewe ontwerp as ’n subjektiewe benadering beskou word. Die ontwikkeling van kwalitatiewe navorsingsbenaderings het uit die dissiplines van onderskeidelik sosiologie, sielkunde, antropologie en geskiedenis (sosiale wetenskappe) ontstaan (Denzin & Lincoln, 2005:21; Gay & Airasian, 2003: 163). Hierdie dissiplines steun sterk op navorsingsmetodes wat ryk verbale, kwalitatiewe en interpreterende beskrywings genereer. In ooreenstemming hiermee word daar in kwalitatiewe dissiplines daarna gestreef om betekenis aan die sosiale lewe van mense toe te voeg. Om dít te bewerkstellig, word studieresultate benut.

Indien ’n navorsingstudie soos in die onderhawige geval geen formele naam het, of nie binne ’n spesifieke tipologie pas nie, kan dit met die term kwalitatiewe studie benoem word (Polit & Beck, 2004:20).

Volgens Babbie, Mouton en medewerkers (2001:270) het kwalitatiewe navorsings- ontwerpe spesifieke kenmerke wat dit van kwantitatiewe studies onderskei. Etlike van die besondere kenmerke, sowel as die aard van ’n kwalitatiewe ontwerp, het die doelwitprofiel van hierdie studie gepas. Hierdie kenmerke, en ook aanpassings daarvan, word vervolgens kortliks bespreek.

Een van die kenmerke is dat kwalitatiewe navorsing binne die natuurlike opset van die betrokke sosiale rolspelers uitgevoer word. Daarmee saam moet die navorser, indien nodig, sonder tussentrede of inmenging met dit wat nagevors word, by die navorsingsproses betrokke wees. Die navorser se direkte teenwoordigheid as waarnemer in die natuurlike opset (PGS-klinieke) tydens die normale verloop van

gebeure in belang van hierdie studie, sou die data negatief beïnvloed het. Gay en Airasian (2003:214) noem dit die waarnemereffek. Mense wat weet dat hulle dopgehou word, tree atipies op en hoe groter die navorser se deelname, hoe groter dié effek (Mouton & Marais, 1992:88). Tussentrede en inmenging van die navorser is sover moontlik uitgeskakel en gevolglik is die waarheidsgetrouheid van die studie ondersteun.

Uit die aard van die kwalitatiewe navorser se betrokkenheid as waarnemer en interpreteerder binne studie-opset, word dié persoon as die “primêre instrument” in die navorsingsproses beskou (Terre Blance et al., 2006:276; Denzin & Lincoln, 2005:21; Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:273). Gevolglik dra dit tot die navorser se verantwoordelikheid by om sover moontlik onpartydig ten opsigte van beskrywings en interpretasies te bly. Aangesien die navorser hierop bedag was, is gepoog om partydigheid tydens die verloop van die studie en die latere beskrywing daarvan sover moontlik te vermy.

’n Induktiewe benadering is ’n tipiese kenmerk van ’n kwalitatiewe ontwerp. Dit neem ’n aanvang met waarnemings wat die opstel van nuwe interpretasies (hipoteses) en/of teorieë tot gevolg het (Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:273; Mouton & Marais, 1992:105). Hierdie studie het op soortgelyke wyse dan ook met indirekte waarnemings tot stand gekom. Kwantitatiewe studies daarenteen, begin weer met ’n hipotese of teorie en het met ander woorde ’n tipiese deduktiewe benadering (Burns & Grove, 2009:34-35; Mouton & Marais, 1992:105).

’n Verdere kenmerk van kwalitatiewe navorsing is dat dit eerder op die proses as op die uitkoms fokus. ’n Kwalitatiewe navorser streef met ander woorde daarna om gebeurlikhede soos wat dit in die proses oor tyd plaasvind, te bestudeer. Babbie, Mouton en medewerkers (2001:271) wys egter daarop dat dit in sekere kwalitatiewe ontwerpe nie moontlik is nie. Rekonstruering van die probleme wat die rolspelers ervaar het, kan in diesulke gevalle met die hulp van die deelnemers gedoen word. In hierdie studie is die metode van indirekte waarneming gebruik. Deur onderhoude te voer en sekere ander toeganklike dokumentasie – soos sienings van persone in die binnekring – te benut, kon probleme wat die betrokke rolspelers ervaar, ondersoek, beskryf en begryp word (Mouton & Marais, 1992:122).

’n Kwalitatiewe ontwerp het verder ’n indringende beskrywing ten doel, asook begripsontwikkeling ten opsigte van sosiale aksies en gebeure binne ’n spesifieke konteks. In hierdie studie was dit egter die probleme binne ’n bepaalde konteks wat noodwendig die kliniese leerervaring van die studente beïnvloed het. Die hoofdoel van ’n kwalitatiewe ontwerp is om die spesifieke konteks wat bestudeer word, te verstaan sonder om dit na ’n teoretiese populasie te veralgemeen. Een van die spesifieke doelwitte van hierdie studie, was om die konteks van kliniese leer in die PGS-praktyk beter te verstaan.

’n Verdere kenmerk van ’n kwalitatiewe ontwerp is dat die rolspelers se perspektiewe (sienings), asook die konteks waarbinne dit ontwikkel en/of plaasvind, beklemtoon word (Gay & Airasian, 2003:164). Die ondersoek na probleme en die poging om dit binne konteks te verstaan, is deur middel van verkenning gedoen.

2.2.2 Verkennende ontwerp

Volgens Polit en Beck (2004:20) word ’n verkennende ontwerp gebruik om die volledige aard van ’n fenomeen, die wyse waarop dit gevestig is, asook ander faktore wat daarmee verband hou, te ondersoek. Een van die vrae wat onder meer met ’n verkennende ontwerp gevra kan word, is: “Wat gebeur werklik in hierdie fenomeen en hoekom is dit vir ons van belang?” (ibid.:19). Dit is ’n vraag wat tereg ook op hierdie studie van toepassing is. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat hierdie ontwerp veral gebruik word om ’n onbekende terrein te ondersoek met die doel om kennis in dié studieveld in te samel of bestaande kennis uit te brei (Burns & Grove, 2005:357; Mouton & Marais, 1992:45).

Die navorser moes die leerervaring van voorgraadse studente tydens kliniese praktika in PGS-klinieke ondersoek, en die verkennende ontwerp sal ten beste hiervoor gebruik kan word. Hoewel die navorser aanvanklik alreeds van sekere probleemaspekte bewus was, wou sy met die toepassing van hierdie ontwerp ’n volledige beeld van die situasie probeer verkry.

Kwalitatiewe navorsers het nog altyd primêr daarin belanggestel om mense se aksies in die fynste besonderhede te beskryf, asook om dit vanuit die persoon se eie verwysingsraamwerk te probeer verstaan (Babbie, Mouton & medewerkers, 2001: 271). Polit en Beck (2004:20) wys daarop dat ’n kwalitatiewe studie, soos in die geval van hierdie studie, gewoonlik ook beskrywend van aard is.

2.2.3 Beskrywende ontwerp

Die insameling van akkurate data en die akkurate en noukeurige beskrywing daarvan, is ’n baie belangrike aspek in beskrywende studies (Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:272; Mouton & Marais, 1992:46; Uys & Basson, 1991:38). Uit die aard van die feit dat die menslike faktor primêr staan in kwalitatiewe ontwerpe, is kwalitatiewe studies nie waardevry of absoluut objektief nie. Nieteenstaande die feit dat ’n navorser voortdurend en nougeset daarna streef om objektiwiteit te verseker, word dit tóg deur die unieke verwysingsraamwerk van sowel die navorser as elke individuele deelnemer in ’n studie beïnvloed.

Indringende beskrywings word gebruik sodat ’n ondersoek van ’n werklikheidsnit en sosiale aksies en/of gebeure binne ’n spesifieke konteks verstaan kan word (Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:271-272; Mouton & Marais, 1992:46). Die fokus in hierdie studie was daarop gemik om die problematiek te beskryf van groepe deelnemers wat by die kliniese leerervaring van studente in PGS-klinieke betrokke is. Voorstelle van die deelnemers oor hoe om die studente se leerervaring in dié konteks te optimaliseer, is ook beskryf. Die navorser het gepoog om die probleme en voorstelle soos wat dit deur die groepe deelnemers in die studie weergegee is, so akkuraat en noukeurig moontlik te beskryf. Die groepe deelnemers, ontledings- eenhede en die insluitingskriteria vir die doel van hierdie studie, word hierna in detail bespreek.

2.3 TEIKENPOPULASIES, ONTLEDINGSEENHEDE EN INSLUI-