• No results found

“The search for ‘truth’ or ‘truthful knowledge’ is the overriding goal of

science.” (Mouton, 2001:138)

Volgens Polit en Beck (2006:40) kom navorsers voor talle uitdagings te staan wanneer hulle ’n navorsingstudie uitvoer. Een hiervan is om te poog dat hul navorsingbevindinge die waarheid reflekteer of, in die geval van kwalitatiewe navorsing, dat dit geloofwaardig is. Geloofwaardigheid kan verhoog word indien daar nougeset aan kriteria soos waarheidsgetrouheid (“credibility”), oordraagbaarheid (“transferability”), vertroubaarheid (“dependability”) en bevestigbaarheid (”confirmability”) tydens die navorsingsproses voldoen word.

Die navorser het met dié doel voor oë, deurentyd gepoog om so nougeset as moont- lik aan die kriteria te voldoen. Vervolgens word ’n meer gedetaileerde beskrywing gegee van die wyse waarop die kriteria in hierdie navorsingstudie toegepas is.

2.7.1 Waarheidsgetrouheid

Waarheidsgetrouheid is ’n kriterium om die gehalte van data te evalueer en verwys na vertroue in die geloofwaardigheid van die data (Polit & Beck 2004:715). Volgens Rossouw (2003:177) kan die metode(s) van data-insameling, -ontleding en inter- pretasie, keuse van die populasie, metode van steekproefseleksie en die grootte van die ontledingseenhede, dié kriterium beïnvloed.

Die waarheidsgetrouheid van data in hierdie studie is inherent bevorder deurdat NGT-onderhoude as ’n data-insamelingstegniek gebruik is. Deelnemers was tydens die gestruktureerde proses van die NGT-onderhoude by die uitklaring en die bepaling van die prioriteitrangorde van die gelyste response betrokke. Kontrolering en bespreking van die data, asook die inherente verwerking daarvan, is dus deur die deelnemers tydens die NGT-proses uitgevoer. Polit en Beck (2006:504) beskryf deelnemerkontrole as ’n metode waarmee waarheidsgetrouheid van kwalitatiewe data deur ontleding en bespreking gevalideer kan word. Hulle (ibid.:334) is ook van

mening dat kontrolering met deelnemers na data-insameling en ontleding, ’n meer formele manier is om dit te doen. Lincoln en Guba (1985) in Polit en Beck (2006:334) beskou deelnemer-kontrolering as dié belangrikste tegniek om waarheidsgetrouheid te bewerkstellig. Met die deelnemerkontrole en verwerking van die data tydens die onderhoude, was die navorser gevolglik ook nie alleen vir die verwerking en interpretasie van die data verantwoordelik nie. Die moontlikheid van vooroordeel en eensydige interpretasie deur die navorser is sodoende verminder (Potter et al., 2004:127; Lloyd-Jones et al., 1999:8).

Triangulasie is nog ’n metode wat toegepas is om die waarheidsgetrouheid van die data te verhoog. Polit en Beck (2006:333, 511) beskryf triangulasie as die gebruik van veelvuldige metodes om data met betrekking tot die verskynsel/onderwerp in te samel, te interpreteer, en sodoende op die waarheid te fokus. Triangulasie verskaf met ander woorde wyses om na die waarheid te konvergeer. Volgens Denzin (1989 soos verwys na in Polit & Beck, 2004:431) is daar vier soorte triangulasies, naamlik data-, navorsers-, metode- en teorie-triangulasie. Data-triangulasie bestaan verder uit drie basiese soorte triangulasie, naamlik dié van tyd-, plek- en persoon- triangulasie. Persoon-triangulasie behels data-insameling by deelnemers (persone) op verskillende vlakke: individue of groepe (byvoorbeeld triade of families) en versamelingsgroepe (byvoorbeeld gemeenskappe, organisasies of instansies), met die doel om data deur middel van veelvuldige perspektiewe ten opsigte van die verskynsel te verklaar. Die ondersoek in hierdie studie na die problematiek met betrekking tot studente se kliniese leerervaring in PGS-klinieke, asook voorstelle vir moontlike optimalisering daarvan, is uiteraard vanuit die perspektiewe van die betrokke deelnemertriade beskou.

Metode-triangulasie behels die gebruik van veelvuldige data-insamelings-metodes vir dieselfde fenomeen (Polit & Beck, 2004:432). Intermetodiese triangulasie is een van die beste wyses om waarheidsgetrouheid in kwalitatiewe navorsing te bevorder (Mouton & Marais, 1992:93; Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:275). Die navorser het van twee data-insamelingstegnieke, te wete die NGT-onderhoude en die dokumentêre ontledingsmetode vir die doel van intermetodiese kruisvalidasie gebruik gemaak. Waarheidsgetrouheid is dus nie net deur die gebruik van

veelvuldige data-insamelingstegnieke verhoog nie, maar ook deur gebruik te maak van diverse ontledingseenhede wat in die studie teenwoordig was.

Die navorser het vier verskillende groepe deelnemers wat by dieselfde onderwerp belang het, asook vyf verskillende dokumentêre artefakte wat bykomende data bevat, as ontledingseenhede gebruik. Hier het triangulasie dus ook waarheids- getrouheid in die studie bevorder deurdat verskillende databronne gebruik is.

Kwalitatiewe navorsers is nie net die data-insamelingsinstrument nie, maar ook die ontwerpers van die analitiese proses (Polit & Beck, 2004:434). Die navorser se kwalifikasies, ervaring en reflektiewe vermoë is gevolglik belangrik om vertroue in die bevindinge te bewerkstellig. ’n Ervare moderator is gebruik om die onderhoude te fasiliteer, aangesien die navorser onervare was in die NGT, en haar teenwoordigheid beslis ’n negatiewe invloed op die deelnemers se response sou gehad het. Afwesigheid van die navorser by die werklike onderhoude het ook moontlike vooroordele wat die navorser teenoor die data kon ontwikkel het, verminder. Kontaminasie van die NGT-data is ook voorkom deur onderhoude met die studentegroepe direk na mekaar te voer, sonder dat deelnemers tussenin met mekaar kon kommunikeer.

2.7.2 Oordraagbaarheid

Oordraagbaarheid in Lincoln en Guba (1985) se raamwerk soos in Polit en Beck (2006:336) gestel, verwys na die mate waarin navorsingsbevindinge na ’n ander opset en/of groep(e) oorgedra kan word. Die intensies van die navorser was nie om veralgemeenbare navorsingsbevindinge te verkry nie, maar om die problematiek en moontlike oplossings daarvoor in samewerking met die betrokkenes in ’n spesifieke konteks te ondersoek en te beskryf. Die navorser het egter gepoog om die navorsingsproses en -bevindinge in fyn besonderhede te beskryf, sodat ander navorsers self kan besluit of die data oordraagbaar is al dan nie (Guba & Lincoln, 1984 in Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:277; Krefting, 1991:216). Hulle kan ook self besluit of hulle die bevindinge vir ’n meer indringende studie wil gebruik. Die navorser het verder gepoog om die NGT-proses so gedetailleerd en eenvoudig

moontlik te beskryf, om sodoende enige persoon in staat te stel om dit maklik te kan toepas.

2.7.3 Vertroubaarheid

Vertroubaarheid verwys na die stabiliteit van data/bevindinge oor tyd en oor toestande, en hou nou verband met waarheidsgetrouheid (Polit & Beck 2006:334). Volgens Babbie, Mouton en medewerkers (2001:278) moet die gehoor en/of lesers met ander woorde van bewyse voorsien word dat, indien die studie met dieselfde of soortgelyke deelnemers in dieselfde of soortgelyke konteks/toestand herhaal word, die bevindinge dieselfde sal wees. Waarheidsgetrouheid in ’n studie is nie moontlik as daar nie vertroubaarheid is nie. Die omgekeerde is eweneens waar (Lincoln & Guba, 1985 in Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:278). Die een kan dus nie sonder die ander een nie. Dit beteken met ander woorde dat indien daar bewese waarheidsgetrouheid in ’n kwalitatiewe navorsingstudie is, daar ook vertroubaarheid is. Vertroubaarheid kan dus op ’n indirekte wyse verseker word deur die vereiste kriterium vir waarheidsgetrouheid toe te pas (Rossouw, 2003:183).

Volgens Lincoln en Guba (1985 in Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:278) is daar drie direkte wyses waarop die vertroubaarheid van ’n navorsingstudie verseker kan word, naamlik:

• Die studie moet stap-vir-stap herhaal word. Die navorser het gepoog om in hierdie studie ’n omvattende beskrywing van die navorsingsmetodes weer te gee en sodoende ’n moontlikheid vir die herhaling van die studie geskep.

• Deur van triangulasie gebruik te maak. Triangulasie is reeds onder 2.7.1, - vertroubaarheid - bespreek.

• ’n Ouditondersoek te laat doen. Babbie, Mouton en medewerkers (2001:278) is van mening dat met ’n enkele, maar deeglike oudit, vertroubaarheid en bevestigbaarheid gelyktydig vasgestel kan word. ’n Oudit “trail” is geskep en kan deur enige persoon geoudit word.

2.7.4 Bevestigbaarheid

Bevestigbaarheid verwys na die objektiwiteit of neutraliteit van data (Polit & Beck 2006:40). Volgens Polit en Beck (2004:435) impliseer dit die potensiaal vir ooreenkoms (kongruensie), tussen twee of meer onafhanklike persone, aangaande die akkuraatheid, relevansie en die betekenis van die bevindinge. Babbie, Mouton en medewerkers (2001:278) stel die betekenis van bevestigbaarheid baie duidelik in die volgende aanhaling:

“... the degree to which the findings are the product of the focus of the inquiry and not the biases of the researcher.”

Die natuurlike, subjektiewe en menslike aard van ’n navorser kan deur kwalitatiewe navorsing se sterk punte aangespreek word. Dit is naamlik dat die navorser moet aantoon hoe indringende begrip en selfs empatie vir deelnemers in die navorsing, om hul konteks beter te verstaan, ontwikkel gaan word (Marshall & Rossman, 2006:203). Die volgende strategieë is geïmplementeer om moontlike bevooroor- deeldheid van die navorser tydens interpretasie van die data te beperk:

• Die navorser het gepoog om alle vooropgestelde idees wat moontlik as gevolg van sekere probleme in die konteks kon bestaan, te elimineer. Hierdie studie is met ’n oop gemoed aangepak om via verkenning die volle prentjie van die problematiek te verkry. Dit is ook gedoen met die oog daarop om beter begrip en oplossings daarvoor te probeer vind. Die neutraliteit van navorsingsbevindinge is met ander woorde die onpartydige, nie- bevooroordeelde wyse waarop die navorsing uitgevoer is om vooroordele, belangstellings, en individuele sieninge of enige beïnvloeding daarvan te elimineer (Rossouw, 2003:177).

• Die gebruik van die NGT op sigself het tot neutraliteit van die bevindinge en interpretasie bygedra. Uit die aard van die NGT-proses is deelnemer-kontrole tydens die onderhoude toegepas om data te valideer en aanvanklik te verwerk. Dit het gevolglik moontlike bevooroordeeldheid van die navorser tydens die navorser se interpretasie van die bevindinge, verminder (Potter et al., 2004:127; Lloyd-Jones et al., 1999:8).

• Marshall en Rossman (2006:203) stel voor dat daar in ’n studie vir ’n navorsingsvennoot of ’n kritiese vriend beplan moet word. So ’n persoon kan omsigtig en op ’n bedagsame wyse die navorser se ontledings bevraagteken. Die hulp van die ervare medekodeerder is gebruik om al die data saam met die navorser te kategoriseer. Die persoon was nie net ’n kritiese vriend nie, maar het ook as klankbord vir die navorser gedien. Die navorser se studieleiers is ook as kritiese vriende ervaar.

• ’n Ouditondersoek kan ook gedoen word, soos reeds in 2.7.3 aangetoon (Babbie, Mouton & medewerkers 2001:278). In hierdie studie is ’n ervare kwalitatiewe navorser as ’n onafhanklike medekodeerder vir dié doel gebruik. Die volgende dokumente is versamel en vir hierdie doel aan die persoon verskaf, naamlik die:

- navorsingsvoorstel; - navorsingsopdragte; - onverwerkte data;

- produkte van onverwerkte data se reduksie en ontleding en

- data-rekonstruksie en sinteseprodukte, soos die breinkaarte van die aanvanklike kategorisering, en verbandhoudende tabelle van die bevindinge (Babbie, Mouton & medewerkers, 2001:278).

• Kontrolering met die studieleiers ten opsigte van die bevindinge en die interpretasies is ook gereeld gedoen. Ander kwalitatiewe navorsers is ook in dié verband geraadpleeg.

• Afskrifte van die verloop van data-ontleding (“data trail”) is waar moontlik ook vir ouditondersoek (“audit trail”) in die studie as bylae ingesluit (Polit & Beck, 2004:435). Dit het tot die deursigtigheid van hierdie studie bygedra (Marshall & Rossman, 2006:203).

Afgesien van die feit dat daar in ’n navorsingstudie aan geloofwaardigheid voldoen moet word, moet die studie ook binne bepaalde etiese riglyne uitgevoer word.

2.8 ETIESE OORWEGINGS GEDURENDE DIE NAVORSING-