• No results found

2.3 TEIKENPOPULASIES, ONTLEDINGSEENHEDE EN INSLUI-

2.3.2 Teikenpopulasies, ontledingseenhede en insluitingskriteria

Bykans dieselfde teikenpopulasies en insluitingskriteria is, waar van toepassing, en soos in geval van die nominale groepe, ook vir die dokumente gebruik. Dokumente van 2005 wat vir die doel van die navorsing as onledingseenhede geïdentifiseer en gebruik is, was die:

• studente se anonieme, sesmaandelikse evalueringsverslae ten opsigte van die verpleegkundemodules waarvoor hulle geregistreer was;

• evalueringsverslae deur studente oor hul leeromgewing na plasing in ’n PGS- kliniek;

• studente se opleidingsrekords in harde kopie en op rekenaardatabasis gestoor;

• maandelikse verslae deur die betrokke fasiliteerders (navorser ingesluit) en • notules van die tweedejaar fasiliteerders se vergaderings.

2.3.2.1

Evalueringsverslae van die verpleegkundemodules deur

die studente

Studente word versoek om, aan die einde van elke semester, die teorie- en praktika- modules van verpleegkunde anoniem en skriftelik te evalueer. Hulle word jaarliks voorsien van twee semi-gestruktureerde evalueringsvorms (een per semester) wat spesifiek vir dié doel ontwerp is (Inligting wat aan die studente in dié verband verskaf word, asook ’n voorbeeld van die evalueringsvorms wat by die studente se module- handleidings ingesluit word, is as deel van Bylae I aangeheg). Hoewel die studente nie verplig was om die evaluering te doen nie, word hulle nogtans aangemoedig om dit te doen en dit op die keerdatums in te handig. Inligting wat sodoende verkry word, stel die jaarkoördineerder in staat om die modules te verbeter.

Die teikenpopulasie vir die evaluering van die modules aan die einde van die eerste semester in 2005, was 41 studente. Ses-en-dertig van hulle was vir die eerste keer vir die modules geregistreer, terwyl vyf van hulle die modules moes herhaal. Laasgenoemde is, ten einde sekere uitkomste te bereik, weer vir een tot twee maande in die PGS-praktyk geplaas. Agt-en-dertig studente (36 plus twee herhalers), het die teikenpopulasie in die tweede semester uitgemaak. Slegs 36 van die 41 studente in die eerste semester, en 23 van die 38 in die tweede semester, het die modules geëvalueer.

2.3.2.2

Evalueringsverslae deur studente na plasing in ’n PGS-

kliniek

Studente moes verder anoniem ’n semi-gestruktureerde evalueringsvorm oor die kliniese leeromgewing aan die einde van hul plasing in ’n PGS-kliniek voltooi (kyk Bylae I vir ’n voorbeeld van die vorm). Hierdie evaluering was egter nie verpligtend nie. Voltooide evalueringsverslae is eers deur die koördineerder van die studente se praktikamodule gekopieer, alvorens dit aan die munisipale skakelpersoon oorhandig is. Die terugvoer is veral gebruik om die kwaliteit van dienslewering te verbeter. Probleme met toesighouding en ondersteuning aan die studente is ook op dié wyse geïdentifiseer en aangespreek. Die teikenpopulasie vir die studente se verslae was dieselfde as dié tydens die evaluering van die modules. ’n Verdere vereiste was dat hulle vir ’n maand of twee in die PGS-praktyk geplaas moes wees.

2.3.2.3

Studente se opleidingsrekords

Algemene inligting van studente, asook spesifieke inligting, korrespondensie en verslae ten opsigte van studente se opleiding, word in hul individuele opleidings- lêers, met ander woorde in ’n harde kopie, geliasseer. Van hierdie inligting en ’n rekord van afwesighede tydens klas en kliniese plasings, kliniese werkplekke waar elke student al geplaas is, asook die aantal plasings-ure voltooi, word op ’n rekenaardatabasis vasgelê. Inligting vanaf die PGS-praktyk word ook in die studente se opleidingsrekords gestoor.

Kommunikasie in die vorm van verslae en terugvoer vanaf die PGS-praktyk oor die studente se situasie volg ’n bepaalde roete:

• Wanneer probleme ten opsigte van die studente tydens hul plasing in die klinieke voorkom, rapporteer die personeel dit gewoonlik mondeling en/of skriftelik aan die toesighoudende professionele verpleegpraktisyn wat vir die betrokke kliniek aangewys is, en wat dus vir studente verantwoordelik is.

• Hierdie praktisyns gee die inligting aan die skakelpersone deur, wat dit uiteindelik weer aan die koördineerder van die kliniese plasings (voorgraads of jaargroep-koördineerder, die navorser in hierdie geval) deurgee. Sodanige kommuni-kasie het persoonlik, telefonies of skriftelik geskied.

• Nadat die koördineerder van die kliniese plasings (wat ook ’n geregistreerde professionele verpleegkundige is) of die jaargroep-koördineerder dit met die betrokke studente opgeneem het, word die verslae in die studente se opleidingslêers geliasseer.

• Wanneer telefoniese en/of mondelinge terugvoer gegee is, word ’n nota daarvan in die betrokke studente se opleidingslêer gemaak, en/of in ’n spesiale rekenaardatabasis vir die student ingesleutel en gestoor.

Om data te identifiseer wat vir triangulasie in hierdie studie gebruik kon word, moes die navorser die teikenpopulasie van studente se opleidingslêers individueel deur- werk. As koördineerder van die tweedejaar studente, is die navorser ook daarvoor verantwoordelik om sekere inligting, byvoorbeeld afwesigheid van die studente in die kliniese praktyk tydens plasing, rekenaarmatig vas te lê. Data uit sodanige studente- profiele is uiteindelik benut om inligting te identifiseer wat gegewens van die nominale groepe kon ondersteun.

2.3.2.4 Verslae deur fasiliteerders

Die navorser, wat in 2005 as koördineerder van die studente se verpleegkunde- modules opgetree het, het van die fasiliteerders (navorser ingesluit) verwag om maandeliks verslae oor hul kliniese begeleiding in te handig. Hierdie besluit is geneem na aanleiding van die SARV se akkreditasieverslag (2003) vir die betrokke opleidingskool, asook grond van die vereiste dat daar bewyse van fasiliteerders se kliniese begeleiding moet wees (South African Nursing Council: Accreditation Report, 2003:7). ’n Voorbeeld van die verslagvorm wat spesiaal vir die doel ontwerp is, word as deel van Bylae I aangeheg.

2.3.2.5

Notules van fasiliteerders se vergaderings

Die fasiliteerders het vanaf Januarie tot November 2005 op ’n maandelikse basis vergader. Plasings, leergeleenthede en sake rakende die studente in die PGS- praktyk is onder meer tydens die vergaderings bespreek. Die teikengroep het bestaan uit sewe persone, naamlik alle fasiliteerders, tesame met die navorser. Amptelike notules van die vergaderings is gehou en ’n afskrif is telkens aan die voorgraadse programdirekteur deurgegee.

Twee navorsingstegnieke, naamlik nominale groepe en ’n dokumentêre analise metode, was vir die doel van hierdie studie geïmplementeer.