• No results found

4.4 BESPREKING VAN DIE BEVINDINGE

4.4.5 Voorkoming en ondersteuning

In die motivering vir die studie is genoem dat adolessente selde toegelaat word om ʼn bydrae te lewer in sake wat hulle lewens direk raak (United Nations Convention on the Rights of the Child, 1989) en dat hierdie studie sal poog om ʼn bydrae in hierdie verband te lewer. Dit was interessant hoe die adolessente, wat as deelnemers by hierdie studie betrokke was, hulle stemme laat hoor het, ook wat betref voorkomings- en ondersteuningsmoontlikhede rakende middelemisbruik in die skool en breër gemeenskap. Dit blyk duidelik uit hulle voorstelle dat daar tussen alle stelsels wat hulle

148

op mikrosistemiese vlak direk (gesinne en skole) en ook indirek op eksosistemiese vlak (gemeenskapinstansies) raak, samewerking moet wees. Dit resoneer met Epstein (in Swart & Phasa, 2016:269) se aandrang dat ouers, die skool, asook die gemeenskap in vennootskappe met mekaar ʼn rol kan speel om die adolessent te help om uitdagings (soos middelemisbruik) reg te hanteer. Hierdie sisteme moet saamwerk om verandering en beskerming te bewerkstellig. Volgens die Departement van Basiese Onderwys (DBO, 2013:20) toon hoë-risikogedragspatrone ʼn geneigdheid om saam te groepeer en kan middelemisbruik dus met ander afwykende praktyke saamhang. Hoe meer vennote saamwerk, hoe meer suksesvol kan voorkomingsprogramme wees (Moleko, 2007:212). Een van die deelnemers het in besonder die wens uitgespreek dat almal moet saamstaan, na mekaar moet omsien, en mekaar moet beskerm sodat adolessente hulle doelwitte kan bereik. Dit is ʼn kragtige oproep tot groter samewerking tussen al die stelsels in die gemeenskap om middelemisbruik te bekamp.

Die deelnemers het al hierdie stelsels as belangrik beskou in die aanspreek van die probleem van middelemisbruik. Hulle aanbevelings het sterk aanklank gevind by die Departement van Basiese Onderwys (2013:8) se dokument, National Strategy for the Prevention and Management of Alcohol and Drug Use Amongst Learners in Schools, met betrekking tot beskermingsfaktore in die gesin, skool en gemeenskap. Die deelnemers het verwys na die belangrikheid van betrokkenheid van ouers by hulle kinders, asook kommunikasiekanale, wat weerklank vind in die dokument se verwysing na ʼn goeie verhouding en oop kommunikasiekanale tussen die ouers en die adolessent, asook die stel van gesonde reëls as beskermingsfaktore binne die gesin (DBO, 2013:8). Die dokument (DBO, 2013:8) verwys voorts na ʼn duidelike skoolbeleid oor middelemisbruik en dat dit ook in die skool se gedragskode ingebou moet word, terwyl die leerders verseker moes wees van ʼn kwaliteit opvoedkundige ervaring by die skool. Die deelnemers het nie melding gemaak van effektiewe skoolbeleid wat as beskermingsfaktor kon dien nie. Volgens Adendorff (2015:15) is dit belangrik dat die skool die voorgeskrewe skoolbeleide van die Departement van

149

Basiese Onderwys ernstig moet neem, maar gevoelig moet wees vir die konteks van die betrokke adolessente in die toepassing daarvan. Indien die implementering van hierdie beleide nagelaat word, kan dit die probleem vererger (Ball, 2012:2).

Die deelnemers het voorgestel dat die skool meer drastiese stappe met behulp van die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens moes neem om middelemisbruik te bekamp. Hulle het aanbeveel dat, as ʼn voorkomende strategie, leerders by hulle skole getoets moet word vir verbode middele. Die dokument van die Departement van Basiese Onderwys (DBO, 2013:18) verwys na verskeie wyses waarop sulke maatreëls wel in skole toegepas kan word. De Klerk-Luttig (2019:11) noem ʼn onbekwame polisiemag in Suid-Afrika as een van die redes vir ongebreidelde geweld in talle gemeenskappe, maar dit wil voorkom asof die deelnemers tog vertroue het in die polisiemag, alhoewel hulle groter sigbaarheid van die polisie in die gemeenskap in die bekamping van middelemisbruik bepleit. Deelnemers was ook bekommerd oor die toename in dwelmhuise in die gemeenskap. Volgens die deelnemers moet die polisie ook met ouers en ander gemeenskapslede vennootskappe vorm om die verspreiding en gebruik van verbode middele in die gemeenskap te voorkom aangesien adolessente daaronder ly (Kwatubana & Nel, 2016:263-265; Van Dyk, 2016:453-457). Volgens bovermelde dokument het skole as taak die implementering van bewusmakings- en voorkomingsprogramme (DBO, 2013:vi). Die deelnemers het na die skool as basis vir bewusmakings- en voorkomingsprogramme verwys. Die deelnemers was wel bewus van sekere gemeenskapsinisiatiewe in die skole om middelemisbruik te voorkom en aan te spreek, maar het voorgestel dat dit opgeskerp moes word om alle leerders te bereik. Die hersiene Geïntegreerde Gesondheidsbevorderende Skolebeleid van 2003 van die Departement van Basiese Onderwys lê klem op gesondheidsbevordering onder leerders in skole (DBO, 2013:16). Leerders in die navorsingskool kon dus met reg aanspraak maak op ʼn veilige leeromgewing wat kwaliteit onderwys waarborg. Skole moet "alcohol and drug free zones" (DBO, 2013:iv) wees. Die voorstelle van deelnemers dat daar moeite gemaak moet word om te verseker dat alle leerders in-diepte kennis kry oor alle

150

aspekte van middelegebruik en die gevare wat dit inhou, maak dus sin. Daarby het hulle behoefte aan die bevordering van sport en ander sinvolle ekstra-kurrikulêre aktiwiteite deur die skool om leerders konstruktief besig te hou dus ook meriete. Die deelnemers het die belangrike bydrae wat gemeenskaps-ondersteuningsdienste en professionele persone soos beraders en maatskaplike werkers as voorkomings- en bewusmakingsagente oor middelemisbruik kan maak, erken. Die bydrae van maatskaplike werkers en beraders in skole is onontbeerlik. Deelnemers het aangedui dat organisasies soos Love Life met effektiewe voorkomingsprogramme kan help, asook met konstruktiewe aktiwiteite wat adolessente daarvan sou kon weerhou om met skadelike middele te eksperimenteer (Smit, 2014:99). Van den Berg (2016:198) glo dat beraders en maatskaplike werkers ʼn waardevolle bydrae kan lewer in die voorkoming en aanspreek van middelemisbruik deur oor naweke intervensieprogramme aan te bied waarby die breër gemeenskap ook kan inskakel. ʼn Voorstel van een van die deelnemers dat gerehabiliteerde verslaafdes genooi kan word as gassprekers om met leerders te praat, kan binne sulke intervensieprogramme oorweeg word. Volgens Manu et al. (2016:4) is daar in gemeenskappe ʼn gebrek aan konkrete, deurlopende implementering van bewusmakingsprogramme oor middelemisbruik wat spesifiek die gemeenskappe en hulle betrokke kultuur aanspreek. Ook is daar selde doeltreffende uitreikaksies om meer vennote by die aanspreek van middelemisbruik onder adolessente betrokke te kry (Moleko, 2007:212). Volgens Moleko (2007:213) is leiers van religieuse instansies selde by bewusmakingsveldtogte betrokke, wat kan veroorsaak dat gemeenskappe die stryd teen middelemisbruik verloor. Een van die deelnemers het hierdie leemte aangespreek en aangedui dat kerke ook as vennote betrek moet word. In die Noord- Kaap is die hoofstroom religieuse instellings meestal Christelik gegrond. Die skoolprogramkoördineerder kan die leraars/leiers van die plaaslike kerke se jeugverenigings betrek om die adolessente te inspireer om nie middele te misbruik nie en om hierdie boodskap onder mede-adolessente te versprei (Smit, 2014:99).

151

Effektiewe intervensieprogramme ter ondersteuning van middelemisbruikers en hulle gesinne is ook selde beskikbaar. Sodanige programme kan bydra tot die versterking van gesinne en ʼn verlaging van middelemisbruik onder adolessente (NACOA, 2011:1- 3; Van den Berg, 2016:199). Skole en gemeenskappe behoort dus daadwerklik intervensieprogramme met ʼn nasorgkomponent te ontwikkel. Sodoende kan ondersteuning meer effektief geskied (Van den Berg, 2016:198).

Die deelnemers se bydraes rakende die voorkoming van middelemisbruik en die ondersteuning van dié wat wel aan onwettige middele verslaaf is, het getuig van ʼn diepgaande kommer oor die toenemende gevaar van middelemisbruik in hulle gemeenskap. Die ondertoon was een van dringendheid dat daar ʼn ommekeer in die gemeenskap moet kom en dat almal moet saamwerk om dit te bewerkstellig.

4.5 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is die navorsingskonteks en -prosedures bespreek en die navorsingsbevindinge in temas aangebied en bespreek. In die volgende hoofstuk word die bevindinge vlugtig in die lig van die navorsingsvrae ondersoek. Hierna volg aanbevelings in die lig van die bevindinge en ten laaste word die bydrae en die beperkings van die studie bespreek.

152

HOOFSTUK 5

AANBEVELINGS EN BEPERKINGS

5.1 INLEIDING

Hierdie kwalitatiewe studie het Graad 11-leerders se sienings van middelemisbruik onder adolessente binne hulle eie konteks, ʼn bruin gemeenskap in die Noord-Kaap, ondersoek. Die studie is onder andere gemotiveer deur ʼn waargenome leemte in navorsing oor adolessente middelemisbruik, spesifiek in plattelandse gebiede. Met behulp van kwalitatiewe navorsingsmetodes is data gegenereer om ʼn beter begrip te ontwikkel van middelemisbruik onder adolessente binne die navorsingskonteks. Die agt Graad 11-leerders wat as deelnemers aan die studie opgetree het, was almal leerders by ʼn staatshoërskool in ʼn dorp in die Noord-Kaap. Die studie het gepoog om die navorsingsvrae wat in hoofstuk een gestel is, te beantwoord. In ʼn kort samevatting, bespreek hierdie hoofstuk die aanbevelings wat uit die bevindings voortspruit soos in hoofstuk vier aangedui. Moontlikhede vir verdere navorsing word genoem, en daar word nagedink oor die bydrae en die beperkinge/leemtes van die studie.