• No results found

3.5.1 Inleiding

Hierdie afdeling dui aan hoe daar in hierdie studie aan die algemene etiese vereistes vir navorsing voldoen is. Goeie kwalitatiewe studie is een wat op ʼn etiese manier gedoen is (Leedy & Ormrod, 2014:106). Die belangrikste beginsel wat die verhouding tussen wetenskap en die res van die samelewing begelei, is aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid. Alle vorms van sosiale navorsing bring etiese kwessies na vore. Deur navorsers in direkte, en dikwels intieme, kontak met hulle deelnemers te bring het etiese kwessies tot gevolg. Fundamenteel tot kwalitatiewe navorsing dring die

116

navorser die lewe van deelnemers binne, wat ʼn reeks etiese kwessies tot gevolg het wat nie noodwendig in kwantitatiewe benaderings teenwoordig is nie. Die navolging van etiese riglyne is dus van die uiterste belang in navorsing (Beets, 2007:41), aangesien geldigheid en betroubaarheid slegs in kwalitatiewe navorsing verseker kan word as die ondersoek op ʼn etiese wyse uitgevoer word (Merriam, 2009:209). Dus is dit belangrik dat die navorser hom- of haarself moet vergewis van die etiese navorsingsvereistes van die instansie waardeur hy of sy navorsing doen. Hierdie studie het etiese klaring van die etiekkomitee van die Universiteit Stellenbosch verkry (sien Bylaag A). Dit was dus die verantwoordelikheid van die navorser om te verseker dat die ondersoek aan alle vereistes voldoen het, soos byvoorbeeld dat die navorsing nie nadelig is vir enige van die deelnemers nie en dat alle resultate voorgelê sal word en geen inligting weerhou word nie.

In die onderhawige navorsing is die volgende stappe geneem, soos deur Leedy en Ormrod (2014:107) voorgehou as kernbeginsels om aan algemene etiese voorwaardes te voldoen.

3.5.2 Etiek van die akademiese gemeenskap

Om te verseker dat die deelnemers aan ’n studie nie fisies of sielkundig benadeel word nie, berus die etiek van sosiale navorsing volgens Leedy en Ormrod (2014:107) nie net in die verhouding tussen die navorser en die deelnemer nie, maar ook in die verhouding tussen die navorser en die wyer navorsingsgemeenskap. Dit kan gebeur dat deelnemers van ʼn spesifieke geslag, ouderdom, kulturele agtergrond of seksuele oriëntasie ongemaklik voel of voel dat dit vir hulle ʼn verleentheid is om aan ʼn spesifieke studie deel te neem. Daarom is gepoog om hierdie ondersoek eerlik en sensitief te doen (Ivankova et al., 2016:376-377).

Van Graan (2010:54) voer aan dat etiese oorwegings ʼn primêre komponent van ’n kwalitatiewe navorsingstudie is, aangesien die beskerming van deelnemers deurgaans gewaarborg moet word. McMillan en Schumacher (2010:339) noem die volgende vier beginsels van etiese navorsing wat nagekom moet word: (1) Die

117

beginsel van ingeligte toestemming, wat die versekering van konfidensialiteit en anonimiteit gee sodat deelnemers nie skade berokken of benadeel word nie. Dit beskryf ook die doelwitte van die data. Hierdie toestemming moet deur elke deelnemer wat vrywilliglik aan die navorsingsprojek deelneem, onderteken word (sien Bylae D); (2) Konfidensialiteit en anonimiteit, wat gewaarborg moet word deurdat geen deelnemer, plek of lokaal geïdentifiseer word nie. Die navorser moet die verantwoordelikheid aanvaar om die deelnemers se identiteit en privaatheid ten alle tye teenoor die algemene publiek in dieselfde omgewing te beskerm; (3) Behalwe dat etiese navorsing deelnemers se privaatheid moet beskerm, gaan dit ook om die beginsel van bemagtiging. Die doel van die navorsing moet wees om die gemeenskap te bemagtig en te laat verander, daarom moet navorsing verteenwoordigend wees van veelvuldige stemme, lei tot die versterking van morele onderskeiding asook sosiale transformasie bevorder; (4) Die beginsel van regverdigheid verseker dat die deelnemers op ʼn regverdige wyse behandel word. Die navorser moet toesien dat, in sy of haar denke, optrede en persoonlike moraliteit, regverdigheid in die spesifieke navorsing geskied (McMillan & Schumacher, 2010:339).

In hierdie studie is alle vennote geraadpleeg om toestemming en goedkeuring vir die studie te verleen. Die relevante Etiekkomitee van die Universiteit Stellenbosch (sien Bylaag A), die streeksdirekteur van die Onderwysdepartement van die spesifieke streek waar die navorsing geskied het (sien Bylaag B) en die betrokke skoolhoof (sien Bylaag C) het almal goedkeuring verleen aan die navorsing by ʼn spesifieke hoërskool in die Noord-Kaap provinsie. Die streeksdirekteur, skoolhoof en beheerliggaam het hulle vergewis van die etiekdokumente wat die riglyne van die navorsing uiteensit en dit onderteken. Die hoof en beheerliggaam was ten volle bewus dat deelname vrywillig is. Soos reeds in hoofstuk een beskryf, is die onderhoude in ʼn private klaskamer of kantoor gedoen. In die navorsingsverslag sal geen verwysing na die gemeenskap of skool gemaak word nie. Die onderneming is ook gegee dat daar in geen stadium enige persoonlike inligting van die deelnemers bekend gemaak sal word nie en dat deelnemers se menings en opvattings ten alle tye gerespekteer sal word (Truter,

118

2013:52). Dit is duidelik gemaak dat onderhoude op ʼn oudio-kassetspeler opgeneem sal word en dat die opnames later uitgewis sal word. Die resultate van hierdie navorsing sal dus gepubliseer word met die anonimiteit van die gemeenskap, skool en deelnemers gewaarborg. Daar word vertrou dat hierdie navorsingsverslag verdere navorsing sal aanmoedig wat dieper insigte sal bring in die aanleidende oorsake van middelemisbruik onder adolessente.

3.5.3 Vrywillige en ingeligte toestemming

Volgens Creswell (2012:210) is dit uiters belangrik om voor die aanvang van ʼn navorsingstudie eers toestemming by alle betrokke vennote te kry. Toestemming is dus ook by die ouers (sien Bylae D) van die deelnemende leerders wat onder 18 jaar oud is, verkry soos bepaal deur voorskrifte in hierdie verband, en al die vennote is meegedeel dat die deelnemers hulle ten enige tyd aan die navorsing sou kon onttrek (Creswell, 2009:89; Gray, 2009:75; Leedy & Ormrod, 2014:107). Voornemende deelnemers is ook meegedeel dat hulle nie onder druk hoef te voel om deel te neem nie maar dat vrywillige en spontane deelname aan die navorsingstudie hoog geag sou word (Leedy & Ormrod, 2014:107). Alle leerders het ook instemmingsbriewe geteken (sien Bylae D in hierdie verband).

Die deelnemers is verseker dat nie hulle name of die skool se naam in die verslag gebruik sou word nie en dat hulle deur middel van nommers in die navorsing geïdentifiseer sou word (Leedy & Ormrod, 2014:109; McMillan & Schumacher, 2010:122). Die deelnemers is dus verseker dat die inligting vertroulik sou bly en met ʼn geheime kode op die navorser en studieleier se rekenaars gestoor sou word. Hierdie inligting sou dus vir niemand anders toeganklik wees nie. Na ʼn dekade word die data vernietig, aangesien die inligting volgens navorsingswetenskaplikes dan verouderd is (McMillan & Schumacher, 2010:122). Daar is ook aan hulle gekommunikeer dat die navorser die inligting wat hulle deel met respek sou hanteer (Ivankova et al., 2016:376- 377).

119 3.5.4 Geen skade aan deelnemers

Die navorsingsonderwerp is met groot omsigtigheid gedurende die onderhoude met die leerders hanteer en daar is sover moontlik verseker dat deelnemers nie tydens die navorsing skade aangedoen is nie (Gray, 2009:79; McMillan & Schumacher, 2010:122). Geen sensitiewe, persoonlike aspekte is aangeraak nie en vrae is beperk tot hulle sienings oor die fenomeen, aangesien dit die fokus van die studie was (Gray, 2009:78; Ivankova et al., 2016:376-377; Leedy & Ormrod, 2014:107; McMillan & Schumacher, 2010:122). Hulle is ook vergewis van professionele persone wat aan hulle addisionele hulp sou kon verleen indien hulle dit na afloop van die navorsingsproses sou verlang (sien Bylaes K en L).