• No results found

4.3 AANBIEDING VAN BEVINDINGE

4.3.3 Tema 2: Die realiteit van middelemisbruik

Die tweede tema wat deur die data uitgewys is, verwys na die realiteit van middelemisbruik onder adolessente. Die tema word aan die hand van drie subtemas bespreek, soos uiteengesit in Tabel 4.2.

4.3.3.1 Subtema 1: Beskikbaarheid van middele

Al die deelnemers het aangedui dat middelemisbruik ’n alledaagse verskynsel binne hulle gemeenskap is. Verbode middels is maklik by dwelmhuise en -handelaars verkrygbaar, sowel as by skoolmaats en ander vriende. Volgens Deelnemer 2 (D2) misbruik baie adolessente middele. Deelnemer 3 (D3) het aangedui dat dit in die omgewing waar sy woon en selfs by die skool misbruik word. Sy het geskat “meer as die helfte gebruik dit. Nege uit tien gebruik dit in my omgewing. Vyf uit tien in die skool”, terwyl Deelnemer 5 (D5) geglo het dat middele gebruik word deur “omtrent 90% minderjariges (onder 18). Nege en sewejariges gebruik dit”. Omdat hierdie middele vrylik in die gemeenskap beskikbaar is, word adolessente daagliks daarmee gekonfronteer en weerstand daarteen blyk moeilik te wees. Deelnemer 1 (S1) se respons ondersteun dit:

128

By die skool rook en drink tieners. Die sigarette en alkohol word aan skoliere verkoop by die huiswinkels [mobiele winkels] en die gemiddelde ouderdom is 15 jaar wat dit misbruik.

In aansluiting hierby het Deelnemer 8 (S8) die volgende te sê gehad:

Uit 'n getal van 100 adolessente misbruik 80 adolessente dit en die gewildste middel is cannabis wat hul gooi in die okkapyp, die geur (flavour) maak van dit 'n ander middel, hul noem dit dan die 'spice'-pyp.

4.3.3.2 Subtema 2: Wanneer dit gebruik word

Uit die data wil dit voorkom asof die middele misbruik word wanneer adolessente sosiaal verkeer, selfs by die skool. Volgens Deelnemer 1 (S1) vind misbruik by die skool plaas: “Hulle drink alkohol en rook sigarette”, terwyl Deelnemer 2 (D2) aangedui het dat dit gebeur “wanneer hulle die skool verlaat [middag]”. Deelnemer 2 (D2) het verder aangedui dat “by die skool [tydens skoolure] misbruik Graad 10-seuns middele”. Dit wil voorkom asof middelemisbruik vanaf 'n jong ouderdom reeds 'n werklikheid is. Deelnemer 6 (D6) het beaam dat die meeste kinders in die gemeenskap middele misbruik en dat dit reeds vanaf 'n jong ouderdom gebeur. Deelnemer 7 (S7) het verduidelik dat gebruikers se “lyftaal” hulle weggee.

4.3.3.3 Subtema 3: Risiko’s van middelemisbruik

Die deelnemers was bewus van die risiko's van middelemisbruik en dat dit negatiewe gevolge vir die gebruiker, die gesin, sowel as die gemeenskap inhou. Dit het veral duidelik geblyk uit die agt deelnemers se slagspreuke wat hulle op die T-hemde aangebring het. Drie temas het uit die slagspreuke na vore gekom, naamlik negatiewe gevolge vir die self, negatiewe gevolge vir die gesin, en negatiewe gevolge vir die gemeenskap. Wat betref die negatiewe gevolge vir die self het die deelnemers meestal verwys na kognitiewe gevolge, “soos dat tik jou breinselle vernietig, jou mal maak”, dat gebruikers nie meer kan konsentreer nie, en dat hulle ook tekens van hiperaktiwiteit kan toon. Voorts is aangedui dat adolessente wat middele misbruik hulle

129

selfwaarde verloor, hulle lewens kan vernietig, en hulleself kan ontneem van enige toekomsvisie. Die gevaar van selfdood is genoem, asook die feit dat middelemisbruik tot die dood kan lei. Wat betref negatiewe gevolge vir die gesin is daar meestal verwys na die feit dat middelemisbruik gesinne kan verwoes omdat die gesin te veel stres ervaar. Laastens raak middelemisbruik ook die breër gemeenskap omdat armoede en misdaad soos diefstal, verkragting en moord toeneem en die gemeenskap onveilig maak. Tienerswangerskappe as uitvloeisel van middelemisbruik verswaar ook die las van die gemeenskap.

Die data wat met behulp van die individuele en fokusgroeponderhoude ingesamel is, het weerklank gevind in bogenoemde bevindinge en het dit verder toegelig. Sommige deelnemers het aangedui dat die tydelike genot wat met die misbruik van middele saamgaan adolessente moontlik gemaklik laat voel, terwyl ander gevoel het dat dit jou beter kan laat leer en dat veral dagga as ’n fokusmiddel kan dien. Volgens Deelnemer 4 (S4) laat die middels “kinders lekker voel”, hoewel net tydelik, maar “dit verwoes ander se lewens, daggagebruik laat jou lekker eet, lag en voel en jy slaap heeldag”. Volgens Deelnemer 6 (D6) is middelemisbruik egter “gevaarlik vir adolessente wanneer hul verslaaf raak aan dit. Dwelms wis korttermyn geheue uit”. Deelnemer 7 (S7) het dit soos volg saamgevat: “Jy verloor bestemming. Hulle verloor sukses in die lewe. Dit demotiveer hulle om sukses in die lewe te bereik.” Deelnemer 8 (S8) het aangedui “dat inbrake in die land toegeneem het as gevolg van misbruik”. Deelnemer 4 (FOS4) het ook verder aangedui dat

[d]ie misbruik van middele ’n persoon se immuunstelsel afbreek en dat adolessente dan ’n minder volwassene word. Dit breek die gemeenskappe op omdat dit negatiewe gevolge het soos moord, misdaad en met elke generasie styg die gevalle en statistiek.

Volgens Deelnemer 2 (D2) kan die gevolge van middelemisbruik lei tot “tienerswangerskappe, selfmoord en doodmaak”. Deelnemer 3 (D3) was van die opinie dat “dinge wat hulle nie sou gedoen het nie, doen hul nou soos verkragting en

130

drankmisbruik en diefstal”. Volgens Deelnemer 5 (D5) raak hulle verslaaf “en word histeries as hulle iets wil hê en hulle kry dit nie, hulle kom nie tot volle verstand nie omdat hulle getik en gedagga is, hulle verstand kan nie meer konsentreer nie”. So ook het Deelnemer 1 (S1) aangedui dat “die nadeel van dit is as jy dit misbruik, is jy bedwelmd. Tik laat tieners en adolessente roof en moord pleeg. Tik het 'n negatiewe invloed”. Deelnemer 8 (D8) het bygevoeg dat dagga “anxiety” veroorsaak en “jy vergeet ook baie”. Deelnemer 2 (FOS2) het genoem dat dit gevaarlik is om van een gebied na 'n ander te loop omdat middelemisbruikers jou kan aanval. Gebruikers doen die teenoorgestelde as wat hulle sou doen as hulle nugter was.

Die navorser se interpretasie van bostaande narratiewe is dat die beskikbaarheid en misbruik van middele met rasse skrede in die betrokke gemeenskap toegeneem het. Dit is 'n onrusbarende bevinding. Dit het ’n alledaagse verskynsel geword; middele is vrylik beskikbaar en kan op verskeie plekke gekoop word, selfs by die skool. Hierdie toename in middelemisbruik is besonder nadelig vir die welstand van die adolessent en is die oorsaak van verskeie sosiale euwels wat bydra tot fragmentasie in bruin gemeenskappe in die Noord-Kaap.