• No results found

4.4 BESPREKING VAN DIE BEVINDINGE

4.4.3 Die realiteit van middelemisbruik

Soos reeds voorheen aangedui, is Suid-Afrika tans een van die lande met die hoogste aantal middelemisbruikers in Afrika en is middele-afhanklikheid steeds aan die toeneem in die land (Walton et al., 2016:1). Navorsing toon voorts dat die grootste groep middelemisbruikers in Suid-Afrika in die ouderdomsgroep 15 tot 22 jaar is (DBO, 2013:2). Alhoewel formele statistieke vir die Noord-Kaap nie beskikbaar is nie, word vermoed dat middelemisbruik onder adolessente binne die provinsie ook aan die toeneem is.

Die feit dat middele soos tabak, alkohol en dwelms in so maklik in gemeenskappe beskikbaar is, dien as een van die risikofaktore waarmee adolessente in Suid-Afrika gekonfronteer word (Van Heerden-Pieterse, 2015:101). Daar is bevind dat tabak en alkohol die middele is wat gewoonlik eerste deur adolessente misbruik word omdat die gebruik daarvan sosiaal meer aanvaarbaar is en dit maklik bekombaar is. Navorsing het bewys dat, indien die gebruik van tabak en alkohol voorkom kan word, adolessente minder geneig sou wees om met ander onwettige middele te eksperimenteer (DBO, 2013:5). Bogenoemde stellings word bevestig deur die bevindinge van hierdie studie. Volgens die deelnemers het middelemisbruik ʼn alledaagse verskynsel in die gemeenskap geword en is middele vrylik verkrygbaar, ook op die skoolterrein. Volgens Cloete (2010:5) was daar in 2010 reeds talle smokkelhuise in die gemeenskap waar leerders in die ouderdomsgroep 15 tot 19 jaar van die grootste kliënte was. Dit was ook die ouderdomsgroep wat die meeste betrokke was by geweldsmisdade, diefstal en bendes. Van Zyl (2013:584-585) maan

143

dat daar ʼn beduidende verband tussen gemeenskapsverdraagsaamheid rakende middelemisbruik en die gebruik van onwettige middele deur adolessente is. Indien die gemeenskap nie die misbruik van middele ten sterkste afkeur nie, kan dit adolessente aanmoedig om met onwettige middele te eksperimenteer. Die navorser voer ook aan dat die vrye toegang tot onwettige middele binne ʼn gemeenskap middelemisbruik by adolessente kan aanmoedig.

Volgens die bevindinge van hierdie studie vind middelemisbruik op enige plek waar adolessente sosiaal verkeer plaas, selfs op die skoolterrein. Hierdie verskynsel is reeds vroeg in sekere adolessente in die gemeenskap se lewens merkbaar. Manu et al. (2016:2-8) beweer dat middelemisbruik op die skoolterrein toegeskryf kan word aan die skoolbestuur en onderwysers wat nie altyd bewus is van die Departement van Basiese Onderwys se beleide en regulasies in verband met die voorkoming en hantering van middelemisbruik nie. Daarom word byvoorbeeld die toetsing van verbode middels nie effektief toegepas nie. Dit is belangrik dat die skoolbestuurspan ondersoek moet instel na hoe onwettige middele op die skoolterrein beland sodat die verspreiders ontmasker kan word (Manu et al., 2016:2). Volgens die Regulasies van Veiligheid by Openbare Skole mag geen persoon in besit van onwettige middele wees nie en gee hierdie regulasies polisiebeamptes en skoolhoofde toestemming om tasse by skole te deursoek (DBO, 2013:17). Skoolbestuurspanne (skoolhoofde en senior personeellede) moet hierdie beleide en reëls konsekwent en sinvol afdwing ten einde wanpraktyke soos middelemisbruik op skoolterreine te voorkom.

Hierdie studie is spesifiek binne ʼn bruin gemeenskap aangepak omdat hierdie gemeenskappe, aldus Kamper en Steyn (2009:690-691), steeds as gemarginaliseerd beskou kon word ten spyte van ʼn demokratiese politieke bedeling in Suid-Afrika. Hierdie opset bevorder sosiale minderwaardigheid. Adolessente in hierdie gemarginaliseerde gemeenskappe mag dalk aan groter uitdagings blootgestel wees, wat hulle meer weerloos en vatbaar vir middelemisbruik en -verslawing sou kon maak. Boonop beleef adolessente ʼn komplekse ontwikkelingsfase en word hul genoop om aan te pas by die sielkundige en sosiale kultuur van die stelsel waarbinne hulle woon

144

(Peu et al., 2015:311). Die bevindinge van hierdie studie toon dat die deelnemers daagliks met die realiteit van middelemisbruik gekonfronteer word en dus deeglik met die risiko's van middelemisbruik. vertroud is. Dit is belangrik om daarop te let dat, alhoewel die deelnemers bewus was van die nadelige uitwerking van middelemisbruik en ook die effekte daarvan kon lys, sommige leerders nogtans na sekere 'voordele' van middelemisbruik verwys het. Hulle het hierdie ‘voordele’ moontlik self ervaar of by medeleerders waargeneem. Hulle het aangedui dat onwettige middele ʼn persoon genot kan verskaf, sosiaal gemaklik kan maak en kan help met konsentrasie om beter te kan leer. Te veel adolessente glo dat eksperimentering met dwelmmiddels veilig en selfs normaal is. In Suid-Afrika eksperimenteer adolessente tussen die ouderdom van twaalf en sestien jaar reeds met onwettige middele (Davidoff et al., 2014:48; Donald et al., 2016:40; Slabbert, 2015:669). Die redes gelys deur die National Institute on Drug Abuse ([NIDA], 2014:15) waarom adolessente middele misbruik sonder om die gevare daarvan vir hul breinontwikkeling te besef, ondersteun die bevindinge van hierdie studie. Adolessente mag dit gebruik om beter by die groep in te pas, om beter oor die self te voel, om akademies beter te presteer omdat hulle dink dat dit hulle prestasie sal verbeter, maar ook om genot te ervaar en om met iets nuuts en uitdagend te eksperimenteer ten einde verveling teen te werk. Die prefrontale korteks hou met hoëvlak kognitiewe vermoëns verband, soos die uitvoerende funksies wat beplanning, besluitneming, die inhibering van onvanpaste gedrag en sosiale insig soos selfbewussyn insluit, en bereik laaste volwassenheid. Dit het belangrike implikasies vir riskante gedrag en sielkundige probleme. Adolessente reageer meer intens as volwassenes op beide stresvolle en goeie ervarings, maar het nog nie die vermoë ontwikkel om hulle sterk emosionele impulse te beheer nie. Belangrik vir hierdie studie is die bewyse dat breinveranderinge tydens adolessensie tot onoordeelkundige middelegebruik kan bydra (Blakemore, 2009:96-98; Hardman, 2012:209).

Benewens die verwysing na sogenaamde voordele van middelemisbruik, het die deelnemers ook verskeie gevare uitgewys, wat resoneer met die argument van Donald et al. (2010:219) dat middelemisbruik in Suid-Afrika nie alleen tot

145

gesondheidsprobleme kan lei nie, maar ook tot ongelukke, selfdood, prostitusie, georganiseerde misdaad, gesinsgeweld, die misbruik van kinders, afwesigheid van skool en werk, swak produktiwiteit, en die verspreiding van siektes soos MIV/VIGS en tuberkulose (TB). Hierdie faktore kan die ontwikkelingsproses van die adolessent versteur (Walton et al., 2016:4-5).

Die deelnemers se uitwys van risiko's met betrekking tot die gebruik en misbruik van middele betrek verskeie sisteme van Bronfenbrenner se bio-ekologiese model (Swart & Pettipher, 2016:13-16). Ten eerste word die adolessent self deur die misbruik van middele benadeel. Die adolessent kan verskeie kognitiewe vaardighede inboet, wat lei tot konsentrasie- en geheueprobleme, sy of haar selfwaarde kan ʼn knou kry en lewens kan vernietig word. Middelemisbruik kan die adolessent se motivering om sukses na te streef onderdruk en sodoende kan sy of haar toekomsvisie in die slag bly. Selfdood en die dood (vermoedelik as gevolg van die negatiewe uitwerking van onwettige middele) is ook gelys. Op mikrosistemiese vlak kry gesinne swaar as gevolg van die stres wat in die gesin gegenereer word wanneer ʼn adolessente gesinslid middele misbruik. In die konteks van hierdie studie kan egter ook geredeneer word dat wanfunksionaliteit in die gesin ʼn bydraende faktor tot middelemisbruik onder adolessente kan wees (sien afdeling 4.5.2). Op die eksosistemiese vlak word die gemeenskap onveilig omdat middelemisbruik tot armoede en misdaad aanleiding gee, asook tienerswangerskappe wat die las van die gemeenskap verswaar. Middelemisbruik benadeel die adolessent se vermoë om goeie oordeel aan die dag te lê en sinvolle besluite te neem, wat kan lei tot riskante gedrag met negatiewe gevolge, soos tienerswangerskappe en die risiko om siektes soos MIV/VIGS en tuberkulose (TB) op te doen (DBO, 2013:iii).