• No results found

2.4 DIE OORSAKE VAN MIDDELEMISBRUIK BY DIE ADOLESSENT

2.4.2 Mikrosisteem: oorsake van middelemisbruik

Op mikrosistemiese vlak is die adolessent in direkte kontak met veral hulle ouers, die skool en die portuurgroep.

2.4.2.1 Die gesin as oorsaak van middelemisbruik

Gesinsfaktore soos die waardes, norme en oortuigings van ouers beïnvloed die sosialiseringservarings van die adolessent (Potgieter et al., 2009:384-385). Oor die algemeen neem adolessente die persepsies en houdings van hulle onmiddellike konteks aan en word dit in hulle persoonlike leefwyse weerspieël. Wanneer ouers en familielede gereeld middele vir sosialisering en andersins gebruik, kan adolessente dit aanneemlik en aanvaarbaar vind sodat hulle dit as norm en praktyk aanvaar en deel van hulle eie lewens maak (DBO, 2013:9; Potgieter et al., 2009:384-385). Bo en behalwe hierdie sosialiseringspraktyke kan die algemene huislike atmosfeer, soos konflik in die gesin en swak toesighouding oor en verwaarlosing van kinders, ook

61

middelemisbruik by adolessente in die hand werk (Le Roux, 2012:34-35). Wanneer adolessente bedreig en onveilig voel, of indien hulle nie die nodige versorging en ondersteuning kry nie, mag hulle ook meer vatbaar vir middelemisbruik wees omdat hulle moontlik gedwing word om meer met hulle portuurgroep, wat moontlik by middelemisbruik betrokke is, te sosialiseer (DBO, 2013:9). Volgens Professor Cecile Jansen (2010:5), betrokke by Onderwysopleiding aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), is middelemisbruik deesdae deel van die moderne lewenstyl van skoolgaande adolessente.

Ouers se spanning en moedeloosheid oor hulle onvermoë om op materiële gebied hulle kinders suksesvol te kan ondersteun, word aan hul kinders oorgedra. Kinders verkies egter hulle ouers se aandag. As daar nie in die huis aan hulle behoeftes voldoen word nie, wend hulle hul tot hul portuurgroep. Seks, drank en middele word gebruik om te ontvlug en hulle omstandighede te ontken. Alle blaam kan egter nie op ouers geplaas word nie, aangesien adolessente die keuse het om hulle tyd meer konstruktief te gebruik (Jansen, 2010:5). Trauma en stres kan ook ʼn emosionele verwondheid meebring en affekteer soms die adolessent negatief binne die gesinsisteem (Mumm, Olsen & Allen, 2009:385). Al hierdie aspekte kan daartoe bydra dat adolessente meer vatbaar is vir risikofaktore soos middelemisbruik. Die verbrokkeling van gesinne, wat verdere sosiale en gemeenskapsprobleme meebring, vervreem adolessente van die gesinsisteem en die gemeenskap (Klaasen, 2010:4). Ouers het meestal beperkte kennis oor onwettige middele en word maklik geflous. Daarom neem dit soms lank voor ouers en besorgde familielede die gedragspatrone van middelemisbruikers identifiseer ten einde ʼn ingeligte besluit oor hulle kinders se uitdagings te neem. Ouers word dus aangemoedig om meer betrokke te raak by inligting- en voorligtingsessies aangaande middele en die misbruik daarvan. Hulle ingeligte betrokkenheid kan help in die bekamping van die middeleprobleem in Suid- Afrika (Le Roux, 2012:34-35).

62

2.4.2.2 Die portuurgroep as oorsaak van middelemisbruik

Volgens studies in plattelandse gebiede is die groot oorsaak van middelegebruik deur plattelandse jeug die invloed van die portuurgroep, ʼn behoefte aan stimulering, plesier en pret, ʼn soeke na die verligting van emosionele en fisieke pyn, gesinsprobleme, gebrek aan liefde, werkloosheid en liefdesteleurstellings (Le Roux, 2012:37). Die Noord-Kaap is ʼn gebied waar daar min lewensbronne en beperkte ontspanningsfasiliteite is, veral wat die bruin adolessent betref, wat maklik tot verveling kan lei (Van Zyl, 2013:583). Dit kan daartoe aanleiding gee dat hierdie adolessente in drank- en middelemisbruik verval en dalk ook by dwelmsindikate betrokke raak. Middelemisbruik deur adolessente op die platteland verskil tussen seuns tot dogters. Middelemisbruik word meer dikwels by seuns as by dogters aangetref. Oor die algemeen word dit deur navorsers aanvaar dat seuns hulle vinniger tot middelemisbruik sal wend. Seuns gebruik middele om meer bravade te toon en wil graag beïndruk, en beskou dit ook as aanvaarbare gedrag. Dogters kom as meer behoudend voor en verkies om probleme deur interaksie met ander op te los (Le Roux, 2012:55).

Van Zyl (2013:583) beweer dat portuurgroepdruk een van die belangrikste oorsake van middelemisbruik onder adolessente is. Hoberg (2003:245) het reeds vroeër beweer dat adolessente selde op hulle eie middele begin gebruik. Meestal is dit as gevolg van die beïnvloeding deur die portuurgroep. Die adolessent word dikwels deur portuurdruk vasgevang. Gedrag waarmee die adolessent in die portuurgroep gekonfronteer word en waarmee hy hom dan in baie gevalle ook begin besig hou, is onder andere rook, dwelmmisbruik (of eksperimentering daarmee), stokkiesdraai, en premature seksuele verkeer.

Aanvaarding deur ander, wat verband hou met selfwaardering, is die groot trekpleister wat daartoe lei dat adolessente die portuurgroep verkies. Sou die portuurgroep middele misbruik, sal die adolessent potensieel ook by middelemisbruik betrokke raak as hy of sy gevoelens van fisiese en sielkundige ongemak ervaar. Bo en behalwe die

63

behoefte aan effektiewe sosialisering en aanvaarding deur ʼn portuurgroep, kan oormatige stres as gevolg van die uitdagings van hulle eie lewens, hulle gesinne en van die gemeenskap waarbinne hulle lewe hulle ook kwesbaar vir middelemisbruik maak wanneer hulle glo dat dit hulle lewens kan verbeter (Van Zyl, 2013:582-583). 2.4.2.3 Die skool as oorsaak van middelemisbruik

Volgens Adendorff (2015:14) is daar ʼn kommerwekkende toename in middelemisbruik onder adolessente in skole. Hoberg (2003:247) redeneer in hierdie verband dat skole nie hulle verantwoordelikheid ten opsigte van middelemisbruik onder adolessente mag ontwyk nie. Die probleem is besig om te eskaleer en skole moet besef dat hulle ʼn groot taak ten opsigte hiervan het. Middelemisbruik is tans een van die aanleidende oorsake van ʼn gevoel van ongeborgenheid in sekere hoërskole en die hoër persentasie van middelemisbruik in skole laat adolessente glo dat die misbruik daarvan aanvaarbaar is (Adendorff, 2015:14). Ten opsigte van wetgewing oor middelemisbruik in skole en hoe dit hanteer moet word, voer Adendorff (2015:15) aan dat dit belangrik is dat die skoolbeheerliggaam en die skoolbestuurspan seker moet maak dat skoolbeleide, wat voorgeskryf is deur die Departement van Basiese Onderwys, sensitief moet wees vir die konteks van die betrokke adolessente. Indien dit nie gebeur nie kan dit die probleem van middelemisbruik vererger. Alhoewel beleide veronderstel is om uitdagings aan te spreek, blyk skole en bestuurspanne dikwels beleidsrigtings op oppervlakkige en ondeurdagte wyses te aanvaar en onsuksesvol toe te pas (Ball, 2012:2). Skole blyk geneig te wees om beleide uiteenlopend te vertolk, wat tot inkonsekwente implementering lei, dikwels ten koste van die leerder se skoolopvoeding en verdere leergeleenthede (Adendorff, 2015:17).