• No results found

2.6.1 “Identiteit” teenoor “skrywersidentiteit”

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE EN INTERPRETASIE

4.4 Gebruiksfrekwensie van metadiskoersmiddele se subkategorieë

4.6.1 Verskynsels wat van korpus 1 na korpus 2 verbeter

Daar is drie verskynsels wat van korpus 1 na korpus 2 verbeter, naamlik die toename in die gebruik van redegewende verbandsmerkers, die afname in gebruik van selfverwysers en die toename in die gebruik van bewyse. Elke verskynsel sal vervolgens afsonderlik bespreek word.

4.6.1.1

Redegewende verbandsmerkers

Die gebruik van redegewende verbandsmerkers toon ʼn statisties beduidende toename van korpus 1 na korpus 2 (χ²=15,75; p<0,001). Die vermeerdering in die gebruik van redegewende verbandsmerkers tussen die twee groepe kan toegeskryf word aan die eksplisiete onderrig daarvan in AGLA111 en AGLA121.

ʼn Voorbeeld waar ʼn redegewende verbandsmerker baie gepas aangewend word om ʼn rede vir ʼn bepaalde stelling te gee, is die volgende:

(1) MIV/VIGS het ʼn enorme impak op Suid-Afrika se ekonomie, maar dit het ook ʼn impak op MIV/VIGS-lyers. Dis ʼn virus wat ʼn mens se immnunitiet aanval en verswak. Daarom vertraag dit arbeid en as geheel die ekonomie. <Korpusopstel 2(23)>

Hier word die rede gegee waarom arbeid en indirek ook die ekonomie vertraag word, naamlik MIV/VIGS wat die mens se immuniteitstelsel aanval en verswak. Korpus 2 bevat meer sulke voorbeelde as korpus 1, waar redegewende verbandsmerkers op gepaste wyse gebruik word.

4.6.1.2

Selfverwysers

Die gebruik van selfverwysers toon ook ʼn statisties beduidende afname van korpus 1 na korpus 2 (χ²=170,26; p<0,001). Soos in Afdeling 2.5.1.2.5 bespreek is, word onervare skrywers, soos eerstejaarstudente, afgeraai om selfverwysers te gebruik om sodoende te

163

voorkom dat dit op ʼn subjektiewe wyse aangewend word. Die afname in die gebruik hiervan is dus positief en die onderrig van die passiewe vorm dra moontlik by tot hierdie vordering.

Daar is ʼn statisties beduidende verskil tussen korpus 2 en die honneurskorpus (χ²=45,37; p<0,001) wat ʼn aanduiding is dat daar steeds ruimte vir verbetering is, aangesien die honneurskorpus as norm dien. Die ideaal is dat selfverwysers óf vermy moet word om subjektiewe skryfwerk te voorkom, óf dat selfverwysers op ʼn objektiewe wyse gebruik moet word. Onervare skrywers slaag egter nie altyd in laasgenoemde saak nie en word daarom afgeraai om selfverwysers te gebruik.

Die volgende voorbeeld dien as illustrasie waar ʼn onervare skrywer selfverwysers op ʼn subjektiewe wyse aanwend:

(2) Want om eerlik te wees dink ek dit is nutteloos om te skryf oor hoe die ekonomie geaffekteer sal word deur die 2010 wêreldbeker sokker omdat daar al te veel dinge verkeerd geloop het in die voorbereiding van die toernooi. <Korpusopstel 1(152)>

In hierdie aanhaling is dit duidelik dat die stelling ʼn persoonlike mening is en nie op feite gebaseer is nie.

Daar moet erken word dat sommige onervare skrywers selfverwysers op ʼn gepaste wyse aanwend; dit wil sê sonder om subjektiwiteit te laat deurskemer, soos in die volgende voorbeeld:

(3) Die feit dat daar minder tyd vir die voorbereiding van die eksamen is, die werk minder in diepte behandel gaan word en hoe dit die leerders sal benadeel is die punte wat ek gaan bespreek. <Korpusopstel 1(15)>

Net so ook kom daar gevalle voor in die honneurskorpus waar selfverwysers op ʼn gepaste wyse gebruik word, soos gesien in die volgende voorbeeld:

(4) Ek gaan dit doen deur eerstens ʼn teoretiese oorsig te gee van postkolonialisme as literêre benadering en daarna gaan ek ʼn analise doen van die twee kortverhale om te sien hoe poskolonialistiese beginsels daarin manifesteer. <Opstel honneurskorpus (2010 student 39)>

164

Selfverwysers kan in akademiese skryfwerk gebruik word, solank dit nie aangewend word om eie menings weer te gee nie. Selfverwysers is dus vir die organisasie van argumente gepas, maar dit is nie van pas wanneer dit as bron van bewyse gebruik word nie. Onervare skrywers kan nie altyd ʼn onderskeid tref tussen hierdie twee gevalle nie, en word daarom afgeraai om selfverwysers te gebruik totdat hulle meer ervare skrywers is.

4.6.1.3

Bewyse

Daar kom ʼn verandering in die gebruik van bewyse voor tussen korpus 1 en korpus 2. In die eerste plek het die aantal bewyse van korpus 1 na korpus 2 vermeerder. Dit is sinvol om die aantal bewyse in hierdie twee korpora met mekaar te vergelyk, omdat die aard van die skryfstukke dieselfde was (kyk Afdeling 3.3.3.1.4). Die vermeerdering van die aantal bewyse is positief, omdat dit beteken dat daar meer ondersteuning vir stellings gegee is en dat meer erkenning gegee is vir bewyse wat gebruik is. In Figuur 4.1 is ʼn voorbeeld uit korpusopstel 2(66) waar ʼn stelling gemaak word, en daardie stelling direk daarna deur middel van die nodige bewys (in vetdruk aangetoon) ondersteun word. Alhoewel die teksverwysing wat hier gegee word nie korrek is volgens die Harvard-verwysingstyl nie, is daar ʼn definitiewe teken van die bron waaruit die bewys verkry is.

Leerders wie se ouers besmet is met MIV/Vigs ondergaan geweldige stress en uitdagings, juis omdat die ouer sieker word by die dag en uiteindelik sterf. Gewoonlik is die outste broer of suster verantwoordelik vir die res van die gesin en hy/sy moet dalk skool verlaat en begin werk om die gesin te onderhou. Dit beïnvloed die leerder negatief in die arbeidsmark en sy/haar lewensgehalte. Dit lei weer tot armoede en armoede dwing veral meisies om hulself oor te gee aan ouer mans wat hul betaal. Volgens Alet Rademeyer journalis van die Beeld (29 Maart 2010) het meisies ’n 4,7% groter kans as seuns wat 2% kans het om MIV/Vigs positief te word. Indien die leerder besmet is kan dit die leerder baie negatief maak oor die lewe en die leerder gee nie meer aandag in sy/haar opvoeding en onderrig nie. Afwesigheid van die leerder kan ook veroorsaak dat die leerder nie sy onderrig kan voltooi nie.

Figuur 4.1: Uittreksel waar ʼn stelling deur die nodige bewys ondersteun word

In die tweede plek het die aantal tekste wat geen bewyse bevat nie, aansienlik verminder. In korpus 1 is daar veertig tekste met geen aanduiding van ʼn bewys nie, terwyl daar in korpus 2 slegs sewe sulke tekste is. Dit is nie ʼn argumentatiewe teks as daar geen bewyse vir stellings gegee word nie, en dit is verder ʼn teken van plagiaat indien bewyse wel gegee word, maar daar geen erkenning is aan die outeur(s) van daardie idee(s) nie. Onervare skrywers is dikwels onseker oor die hantering van bewyse (waar dit gemeld moet word, wanneer dit

165

gemeld moet word, en hoeveel keer dit gemeld moet word). Dit is duidelik dat die onderrig hiervan bydra tot beter gebruik en erkenning van bewyse om stellings te ondersteun. Daar moet egter gemeld word dat bewyse in AGLA111 (voor die intervensie) ook onderrig word. Hierdie onderrig is moontlik nie voldoende nie, omdat studente waarskynlik vir die eerste keer op universiteitsvlak met die korrekte hantering en verwysingstyl van bronne te doen kry.

In korpusopstel 1(4) word geen erkenning gegee aan bewyse nie, maar dit is duidelik dat ʼn bron/verskeie bronne geraadpleeg moes word. Die feitelike inligting wat nie deur ʼn bewys (teksverwysing) aangetoon word nie, word telkens met geel gemerk.

Die ekonomiese impak van die wêreldbeker sokker op Suid-Afrika

Min Suid-Afrikaners besef hoe enorm die 2010 wêreldbeker sokker werklik is en wat die omvang daarvan is, maar wat is die ekonomiese implikasies vir die skouspel wat op 11 Junie afskop?

Voordeel of las?

Baie ekonome is skepties dat dit wel vir die hele Suid-Afrika so ʼn ekonomiese voordeel is, veral omdat ons die armste kontinent is. Die konsultasiefirma, Grant Thornton, beraam dat die wêreldbeker sokker toernooi R51,1 miljard in die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan inpomp. Die Suid-Afrikaanse regering het egter ses keer meer bestee as wat beplan is aan die opknap van stadions, lughawens, paaie en spoorwegnetwerk. 9 Miljard is aan ons vervoerinfrastruktuur bestee, maar dit kan in jare hierna nog benut word. Suid-Afrika gaan met ʼn groot skuldlas sit na die eindfluitjie geblaas het.

Die realiteit

Die grootste inkomste moet van kaartjieverkope kom, maar die besoekers van ander lande is as gevolg van logistiese redes en ons hoë misdaadrekord nie so baie soos wat verwag is nie (ons verwag 500 000 toeriste). In Suid-Afrika lewe 43,2% onder die broodlyn en kan dus ook nie kaartjies bekostig nie. Leë stadions gaan nie die ekonomie ʼn hupstoot gee nie. Daar word verwag dat 289 000 oorsese besoekers elk na drie tot vier wedstryde sal kyk, en 115 000 plaaslike toeriste elk na twee wedstryde sal kyk.

Verblyf en toerisme ondernemings het hulle pryse tot 3 keer hoër gemaak. Dit is veral sleg vir toekomstige besoekers, wat Suid-Afrika as ʼn land waar mens nie waarde vir jou geld kry nie, sal beskou. Die toerisme wat ons weer gaan lok, is ons regering se vernaamste ekonomiese langtermyn oogmerk. Die 2010 wëreldbekersokker moet die bal aan die rol sit

166

om Suid-Afrika ʼn gewilde bestemming vir die internationale toermark te maak. Dan sal ons die ekonomiese voordeel begin sien.

Wie baat hierby?

ʼn Direkte ekonomiese voordeel vir die mense van die land is die nagenoeg 159 000 werksgeleenthede wat geskep word, waarvan 40 000 Polisiemanne en 86 000 Veiligheidswagte is. Dit is egter net tydelike poste.

Mense sal ook al die inligting op hul selfone kan kry, wat meer oproepe beteken en dus ʼn ekonomiese inspuiting vir die I.T bedryf.

Entrepeneurs behoort baat te vind hierby, soos vermaak, aandenkings verkoop ens. Op die toeriste-roetes, maar vir 50% van ons land se mense, sal dit geen effek hê nie.

Ingeboet

Om voor te berei vir 2010 is die oprigting van ʼn streekhospitaal in De Aar uitgestel. Fondse is vir die toernooi gerenegeer. Dis natuurlik werksgeleenthede vir ons land wat agterweë moes bly.

Gevolgtrekking

Suid-Afrika kan die geleentheid benut deur vir hom ʼn veel gunstiger plek in die ekonomiese son te verwerf, al is dit nie met die okkasie self nie, maar dan wel in die toekoms.

Figuur 4.2: ʼn Teks met ʼn aaneenryging van feite uit bronne, maar geen erkenning aan daardie bronne nie

In Figuur 4.2 is dit duidelik dat hierdie teks verskeie aaneenrygings van feite uit bronne bevat, maar dat daar geen erkenning gegee is aan die bronne waaruit die inligting verkry is nie. Behalwe van die erkenning aan bewyse wat ontbreek, ontbreek die skrywerstem ook. Alhoewel daar meer erkenning aan bewyse is in korpus 2, kan daar deurgaans deur middel van ʼn intervensie aandag geskenk word aan eerstens die basiese argumentstruktuur (stelling en dan ʼn bewys/bewyse) en tweedens om die bronne in die argument te integreer.

167

4.6.2 Verskynsels wat van die begin af reg was en geen verandering getoon het