• No results found

Akademiese skryfwerk is ʼn belangrike deel van akademiese geletterdheid. Die fokus van akademiese skryfwerk stem ooreen met dié van kommunikasie, naamlik onder meer die effektiewe oordrag van ʼn boodskap. Die kommunikasiemodel kom hier ter sprake, omdat dit handel oor die skrywer (sender), die boodskap (teks) en die leser (ontvanger) (Van Schalkwyk & Viviers, 1992:6). Hierdie rolspelers stuur (enkodeer) en ontvang (dekodeer) onderskeidelik die boodskap in ʼn bepaalde medium/kode wat die taal van die boodskap en wyse van oordag (byvoorbeeld ʼn PowerPoint-aanbieding) insluit. Die boodskap word deur die leser geïnterpreteer op grond van gedeelde kennis van die wêreld waarin en waaroor daar geskryf word (Van de Poel & Gasiorek, 2007:21). Indien daar van onder meer die gepaste register gebruik gemaak word om oor hierdie ideëwêreld te skryf, behoort effektiewe kommunikasie plaas te vind. Alhoewel Verhoef en Carstens (2003:20) hierdie kommunikasiemodel by taal- en tekspraktyk betrek, is dit ʼn duidelike aanduiding hoedat “metadiskoers” en effektiewe kommunikasie nie afgesonderde idees is nie, maar vervleg is met onder meer idees wat binne gesprekke betreffende taalkunde aangetref word.

18

Van de Poel en Gasiorek (2007:76) verduidelik die “5 C’s” as rolspelers van effektiewe kommunikasie: “A text is good when it is: communicative, convincing, clear, concise [and] correct.” Indien ʼn teks getuig van dié vyf eienskappe, word effektiewe kommunikasie bewerkstellig.

2.4.1 Aard van akademiese skryfwerk

Van de Poel en Gasiorek (2007:9) klassifiseer gepaste skryfwerk in ʼn akademiese konteks onder die volgende vyf hoofpunte:

Gepaste skryfwerk...

 sê iets oorspronklik en interessant. Dit herhaal nie slegs feite wat in ʼn ander bron gelees is nie.

 ondersteun stellings met feite vanuit aangehaalde bronne.

 is vlot en maklik om te lees, wat dit maklik maak vir die leser om die bedoelde boodskap te verstaan.

 hou by die onderwerp, bespreek dus slegs relevante punte en beantwoord die navorsingsvraag wat gevra word.

 is foutloos ten opsigte van grammatika, spelling en interpunksie.

Lea en Street (1999:64) maak melding van twee vlakke in skryfwerk ten opsigte van die uiteensettings in nasienskemas. Hierdie vlakke is vasgestel na aanleiding van ʼn studie waarin bestaande nasienskemas vir akademiese skryfstukke ondersoek is. Die eerste vlak behels algemene kriteria, wat volgens laasgenoemde skrywers onder meer uit die volgende bestaan: woordlimiet, bronverwysings, koherente organisasie, oorreding en argumentasie. Geletterdheidskriteria is die tweede vlak wat onderskei kan word, en dit behels onder meer die volgende: grammatikale strukture, spelling, interpunksie, kohesie, styl en voorlegging. Die probleem wat Lea en Street (1999:64) met hierdie kriteria het, is eerstens dat dit nie altyd duidelik aan studente bekend gemaak word wat met elke aspek bedoel word nie, en tweedens dat alle dissiplines nie dieselfde elemente by onder andere “koherensie” en “argumentasie” vereis nie. Studente verstaan nie altyd ʼn nasienskema waarop nie uitgebrei is nie, en die probleem lê dan dikwels by die gebrek aan die nodige (instruktiewe) inligting en nie noodwendig by studente se skryfvaardighede as sodanig nie.

Hyland (2004:133) huldig die mening dat een van die sleutelaspekte van suksesvolle akademiese skryfwerk, die vermoë van die skrywer is om die vlak van persoonlikheid in tekste te beheer. Hy (2004:133) meen verder dat goeie beheer hiervan aanleiding kan gee tot solidariteit met die leser, ʼn goeie evaluasie van materiaal, asook om erkenning te gee aan

19

alternatiewe/uiteenlopende sienings. Voorgenoemde aspekte is juis dié “vaardighede” wat in die huidige studie by Afrikaanse eerstejaarstudente ondersoek sal word, om sodoende vas te stel waar ruimte vir verbetering is.

Akademiese skryfwerk kan nie bespreek word sonder om na die paragraafstruktuur te verwys nie, omdat dit direk verband hou met metadiskoers. Die paragraafstruktuur is ʼn struktureringsmeganisme van skryfwerk, net soos metadiskoers. Combrink (1995:3) voer aan dat paragrawe nie slegs help om te voorkom dat lesers afgeskrik word deur ʼn lang aanmekaar teks nie, maar dat daar ook twee ander belangrike redes vir paragrawe is. Die eerste rede is dat kleiner teksgedeeltes makliker verstaanbaar is as ʼn lang aanmekaar teks. Die tweede rede is om ʼn nuwe gedagte aan te toon, omdat elke nuwe paragraaf ʼn enkele nuwe gedagte bevat. ʼn Tipiese paragraafstruktuur bestaan uit (1) ʼn temasin wat die hoofgedagte van die paragraaf weergee, (2) steunsin(ne) wat die temagedagte ondersteun en sodoende daarop uitbrei, en (3) ʼn slotsin wat beide aansluit by die temasin en die verband tussen die bepaalde paragraaf en die volgende paragraaf aantoon. Nie slegs moet die paragraaf se struktuur gepas wees vir ʼn akademiese konteks nie, maar die teikengroep waarvoor geskryf word, moet ook deurentyd in ag geneem word.

Van de Poel en Gasiorek (2007:17) gaan eksplisiet van die standpunt uit dat akademici die leser is in ʼn akademiese konteks. As gevolg van hierdie teikengroep moet ʼn formele skryfstyl by akademiese skryfwerk gehandhaaf word. ʼn Paar van die konvensies wat Van de Poel en Gasiorek (2007:18) aan formele skryfwerk koppel, is goeie struktuur wat teweeggebring word deur onder meer konjunksiemerkers; ʼn objektiewe oogpunt; komplekse sinstrukture en ʼn akademiese woordeskat met vakspesifieke terminologie. Goeie struktuur kan op mikrovlak dui op paragraafstruktuur (temasin, steunsin(ne), slotsin) of op makrovlak op opstelstruktuur (inleiding, inhoud, slot). Hierdie struktuurelemente word tipies met akademiese (formele) skryfwerk geassosieer.

’n Verdere aspek wat met ’n formele skryfstuk assosieer kan word, is formele taalgebruik. Van de Poel (2006:126) en Van de Poel en Gasiorek (2007:17) sê eksplisiet dat akademiese tekste in ’n formele register geskryf behoort te word. Hubbard (2001:238) neem die uitgangspunt dat die lesersbetrokkenheid en leesbaarheid van ’n teks soms, soos byvoorbeeld in die geval van afstandsonderrig se leesmateriaal, beter is wanneer die graad van formaliteit laer is en geassosieer word met gesproke taal. In teenstelling hiermee voer Halliday (1989:41) aan dat geskrewe taal nog nooit ’n gesprek was wat neergeskryf is nie. Volgens hom word ’n gesprek slegs getranskribeer wanneer taal op gesproke vlak bestudeer wil word. Die stylvlakke (of

20

die konteks waarin die taal gebruik word. Du Toit en Smith-Müller (2003:74) onderskei tussen vier registers, naamlik formeel, neutraal, informeel en vulgêr. Laasgenoemde skrywers argumenteer ook soos Hubbard (2001:238) dat skryftaal nie noodwendig formeler is as spreektaal nie. Hulle gaan verder deur ’n onderskeid te tref tussen spreektaal en gesprekstaal, naamlik dat eersgenoemde op die mondelinge taal dui wat in onder meer vergaderings gebruik word, en dat gesprekstaal dui op die taal van alledaagse gesprekke. Na aanleiding van hierdie onderskeid voer hulle aan dat skryftaal formeler is as gesprekstaal. ’n Formeler skryfstyl word deur ’n teikengroep in ’n formele gemeenskap vereis, soos akademici in ’n tersiêre instansie.