• No results found

2.6.1 “Identiteit” teenoor “skrywersidentiteit”

2.6.2 Verskillende vorme van skrywersidentiteit

Ivanič (1998) raak spesifiek die begrippe skryfwerk en identiteit aan in haar boek, wat direk verwys na skrywersidentiteit. Die fokus van hierdie boek is nie die identiteit wat menswees bepaal nie, maar eerder die identiteit wat deur skrywers teweeggebring word in ʼn diskoers. Sy meen dat vier belangrike vorme onderskei kan word wanneer daar na skrywersidentiteit verwys word, naamlik (1) die outobiografiese self, (2) die “self” binne ʼn diskoers, (3) die self as die outeur, sowel as (4) die moontlikhede vir “ekheid” (Ivanič, 1998:23). Die eerste drie vorme hou almal verband met aspekte van identiteit van ’n skrywer wat ’n spesifieke teks skryf. Die vierde vorm, naamlik die moontlikheid vir “ekheid”, word gevorm deur die eerste drie vorme en moet op ’n meer abstrakte vlak beskou word. Al hierdie aspekte sal kortliks bespreek word omdat dit in noue verband staan met metadiskoers, en veral betrekking het op die omgaan met bronne en die verhouding van lesers met skrywers.

2.6.2.1

Outobiografiese self

By die outobiografiese self betrek die skrywer bewustelik of onbewustelik sommige aspekte van herkoms, voorkennis en/of oortuigings. Ivanič (1998:24) beskryf hierdie “self” as “the identity which people bring with them to any act of writing, shaped as it is by their prior social and discoursal history”. ’n Skrywer benader nie ʼn teks totaal objektief nie, en verskeie aspekte (soos selfkennis, verwagtinge en oortuigings) speel ʼn rol in die interpretasie en toepassing van ʼn akademiese diskoers. Volgens Ivanič (1998:24) speel nie slegs die gebeurtenisse in mense se lewens ’n rol nie, maar ook hulle manier om hierdie gebeurtenisse te representeer.

Wanneer ’n skrywer se outobiografiese self intree, is die skryfwerk ’n produk van sy vorige ervarings (Ivanič, 1998:182). By hierdie vorm van skrywersidentiteit sal nie noodwendig eksplisiet na ’n gebeurtenis verwys word wat die skrywer beleef het nie, maar die wyse waarop die skrywer skryf, sal daardeur beïnvloed word. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer daar van ’n persoon verwag word om ’n akademiese teks te skryf, en hierdie persoon vroeër in ’n posisie was waar mense baie ontsag vir hom gehad het en hy baie sterk leierseienskappe getoon het. Hierdie skrywer se skrywerstem sal baie duidelik na vore tree in sy skryfwerk en heel moontlik sal eerder van die metadiskoerskategorie bekragtigers gebruik gemaak word as van verskansers. Nóg ’n voorbeeld van die outobiografiese self is, soos deur Ivanič et al. (2009:58) gegee, wanneer ’n skrywer gewoond is daaraan om SMS-taal te gebruik, en hierdie verskynsels dan ook deurskemer in akademiese skryfwerk. Die skrywer se vorige ervarings of gewoontes kom sodoende na vore in sy skryfwerk.

111

2.6.2.2

“Self” binne ’n diskoers

“A writer’s ‘discoursal self’ is the impression – often multiple, sometimes contradictory – which they consciously or unconsciously convey of themself [sic] in a particular written text” (Ivanič, 1998:25). Hierdie verklaring is ʼn duidelike aanduiding dat die “self” binne ʼn diskoers op die skrywer van ʼn teks dui, wat deur sy houding teenoor onder meer ander tekste, skrywers of selfs die onderwerp, ʼn bepaalde indruk by die leser van daardie diskoers skep. Die skrywer konstrueer ’n identiteit deur middel van linguistiese en ander bronne wat in die skryfproses gebruik word (Ivanič & Weldon, 1999:169). Die skrywer se stem kom ook volgens Ivanič (1998:25) hier ter sprake, omdat die fokus op die wyse is waarop die skrywer homself probeer weerspieël, en nie noodwendig op die skrywer se houding teenoor die diskoers nie.

Ivanič en Weldon (1999:170) bring hierdie vorm van skrywersidentiteit in verband met sosiale betrokkenheid, omdat nie slegs die kontekstuele boodskap hier oorgedra word nie maar ook ’n boodskap oor die skrywer self. ’n Voorbeeld hiervan is wanneer ’n skrywer in ’n teks sal verwys na Suid-Afrika, en later in die teks verwys na “ons land”. Die leser kan hieruit aflei dat die skrywer in Suid-Afrika woon en dat sienings wat oor die land weergegee word, moontlik beïnvloed word deur die betrokkenheid wat die skrywer met die land het.

Kyk Figuur 2.10 vir ’n illustrasie uit korpusopstel 1(26) waarin daar eers na “ons land” verwys word, en later in dieselfde paragraaf na “Suid-Afrika”.

My mening is dat dit nie sal kan voortgaan vir ’n lang tydperk nie omdat dit soveel geld kos, die Wêreldbeker Sokker gaan nie genoeg wins maak om die organisasie te kan ondersteun nie. In die eerste plek sukkel ons land om die Wêreldbeker Sokker kaartjies te verkoop. Suid-Afrika erken dat hulle ’n fout begaan het met die kaartjie verkope en het dit nie op die regte manier gedoen nie. Die kaartjies word nou goedkoper verkoop en verniet uitgedeel – teen ’n verlies! Vervalste kaartjies is problematies.

Figuur 2.10: Teksgedeelte waarin “self” binne ’n diskoers geïllustreer word

2.6.2.3

Self as outeur

Ivanič en Weldon (1999:169) voer aan dat die “self as outeur” oorvleuel met die vorige twee vorme van skrywersidentiteit. Alhoewel die woordkeuse “outeur” aanvanklik verrassend voorkom binne die spektrum van diskoers, verduidelik Ivanič (1998:26) dat skrywers hulleself (tot ʼn mindere of meerdere mate) as outeurs beskou/voorstel. Hierdie “outeurskap” behels die skrywerstem, omdat die skrywer deur sy diskoers ʼn bepaalde posisie, opinie of oortuiging laat blyk. Die “self” as die outeur is anders as die “self” binne ʼn diskoers, in die sin dat die laasgenoemde “self” eerder fokus op die afleiding wat lesers kan maak vanuit die skrywer se

112

woordkeuse en omgaan met bronne, terwyl die “self” as die outeur hierteenoor op die skrywer se direkte houding teenoor die inhoud van die diskoers dui. Wat egter belangrik is om hier in ag te neem, is dat alle skrywers nie outeurskap aanvaar vir hulle skryfwerk nie, en dat die graad van betrokkenheid/teenwoordigheid in hulle skryfwerk kan wissel. Dit beteken dat sommige skrywers hulle argument slegs baseer op voorafgaande navorsing, en nie hulle eie stem laat hoor binne hulle skryfwerk nie. ʼn Ander oorweging is dat ʼn skrywer dalk sy eie stem laat hoor, maar slegs deur middel van stellings soos “Ek (skrywer) stem saam hiermee...” of “Ek (skrywer) stem nie saam hiermee nie...”.19 Hierdie tipe outeurskap stem direk ooreen met

metadiskoers se houdingsmerkers. English (1999:19) voer aan dat dit wil voorkom asof daar geen merkbare skrywerstem in veral Japannese se skryfwerk teenwoordig is nie. Die probleem met hierdie skrywers se werk is nie die diepte of aard van die navorsing of inligting nie, maar die wyse waarop dit aan die leser oorgedra word. Volgens English (1999:31) ontbreek die konvensies van akademiese skryfwerk, naamlik kritiek, evaluasie, ondersteuning en verwysings in hierdie skrywers se werk. Die betrokke vier elemente hou verband met argumentasie, maar ook met spesifiek bewyse as een van metadiskoers se subkategorieë. Wanneer hierdie vier elemente in ag geneem is, kan skryfwerk verbeter word deur op metadiskoers en meer spesifiek die skrywerstem te fokus.

2.6.2.4

Moontlikheid vir “ekheid”

Die vorige drie vorme van skrywersidentiteit het betrekking op fisiese mense wat fisiese tekste skryf, terwyl daar in Afdeling 2.6.2 verklaar is dat die vorm “moontlikheid vir ‘ekheid’” met die abstrakte te doen het. Ivanič (1998:27) voer aan dat hierdie vorm die sosiale konteks van skryfwerk betrek wat verskeie sosiaal aanvaarbare moontlikhede in akademiese skryfwerk het. Iets wat byvoorbeeld in een konteks aanvaarbaar is, sal nie noodwendig in ’n ander konteks aanvaarbaar wees nie. ’n Voorbeeld hiervan is die gebruik van “ek”, of enige ander persoonlike voornaamwoord in akademiese skryfwerk. In Afdeling 2.5.1.2.5 is aangevoer dat bepaalde akademiese tydskrifte die gebruik van persoonlike voornaamwoorde verplig, maar dat onervare skrywers (soos eerstejaarstudente) in teenstelling hiermee afgeraai word om dit te gebruik. Die gebruik van persoonlike voornaamwoorde is dus aanvaarbaar in ervare skrywers se sosiale konteks, maar minder aanvaarbaar in die geval van onervare skrywers.

19Verwys weer terug na Afdeling 2.5.1.2.5, waar verduidelik word dat persoonlike voornaamwoorde by

onervare skrywers vermy moet word. Die betrokke frases kan in daardie geval(le) dus eerder omskryf word as

“Daar kan saamgestem word hiermee...” of “Daar kan nie saamgestem word hiermee nie...”. By houdingsmerkers is dit wel aanvaarbaar om van persoonlike voornaamwoorde gebruik te maak, maar ’n onervare skrywer kan dikwels nie tussen ’n houdingsmerker en blote subjektiewe uitlatings onderskei nie.

113

Persoonlike voornaamwoorde kom steeds in onervare skrywers se skryfwerk voor, ten spyte daarvan dat hulle afgeraai word om dit te gebruik tot hulle tussen die objektiewe en subjektiewe gebruik daarvan kan onderskei. Kyk Figuur 2.11 vir ’n uittreksel uit korpusopstel 1(5) waar ’n selfverwyser op subjektiewe wyse gebruik word.

Ek glo dat Suid-Afrika baie bevoordeel kan word met die oog op die Toernooi. Met al die verskeie aktiwiteite wat plaas vind sal dit baie mense nader lok wat beteken dat daar meer geld gaan in kom vir Suid-Afrika. Dit sal ook veroorsaak dat die mense lank na die tyd nog daar oor sal praat en dat dit Suid-Afrika se naam kan hoog dra in die buitelande. Suid-Afrika het ook baie aan paaie en ander vervoer metodes spandeer om ons land se vervoer te verbeter. Suid-Afrika sal dus ook daardeur kan bevoordeel word omdat die vervoernetspore vir Suid-Afrikaners sal veiliger wees na die toernooi.

Figuur 2.11: Teksgedeelte waarin die selfverwyser “ek” op ’n subjektiewe wyse gebruik word

Alhoewel daar verskeie redes aangevoer word waarom Suid-Afrika deur middel van die sokkerwêreldbekertoernooi bevoordeel kan word, word daar geen direkte verband getrek tussen die skrywer se oortuiging en die bespreekte sake nie. Die skrywer se oortuiging kom as subjektief voor, wat ontoelaatbaar is in akademiese skryfwerk.