en soos 'n pistool word dit na oom Sybrand gehou. ‘Jy, Sybrand, sal eendag nog
swaar by God verby kom! Waar op aarde het jy al ooit so 'n astrantheid teen sy eie
moeder gesien! Mens sou sê hy praat met 'n meid wat hy van sy grond af wil weg ja.
Jy kan kwiek of kwak soos jy wil, ou seun, maar ou Willa sit waar sy sit. Jy moet
weet ek het die lewensreg, en ek kan jou more laat trap as ek wil. Waarom mag ek
nie hier boer nie? Jy is net nagaande op 'n ander, jy wil altyd die stoel alleen volsit.
Ek sê dit vir jou, Sybrand, as jou vader gelewe het, sou jy nie so met my gepraat het
nie. Hy sou vir jou, so groot as
wat jy daar is, gelooi het dat jy nie kan sit nie. Maar omdat ek 'n weduwee is, dink
jy dat jy met my kan maak wat jy wil. Ek is baie dae lus en trou weer, net om iemand
te kry om jou 'n bietjie skrik te maak. Nee wag, ek vererg my te veel. Sybrand, loop
liewers, eer ek die beroerte kry! Ek sê jou soos ek jou honderdmaal vroeër al gesê
het: my lewensreg staan ek nie af nie. Nooit! Ou Willa is nog die baas van Boskloof,
en sy sal dit nog vir baie jare bly!’ 'n Dor vuis stamp op haar bors om haar baasskap
van haar plaas te beduie. Uitdagend is sy nou; nie langer sal sy haar eie kind oor haar
laat baas speel nie. Sy wag hom af soos 'n vegter wat nydig rondtrap en net goed
regstaan vir 'n aanval voordat sy sal terug moker dat haar seun dit nie gou moet
vergeet nie.
Oom Sybrand is wit om sy lippe; sy mond is ferm geslote tot 'n dun strepie. Hy
het nou genoeg troei gestaan; vanmore moet sy ma weet dat dié saamboerdery 'n end
moet kry, dat haar koppigheid nie lank meer geduld sal word nie.
‘Al wat ek hoor van ma, is dat ek weggeja kan word,’ sê hy en sy harde oë is vas
op sy moeder gerig; ‘mens sou sê ek het geen reg hier nie. Ma dreig net met wegja.
As ma dan nie na vriendelike raad wil luister nie, dan moet ma eenvoudig gedwing
word om te hoor-r-r.’ Skerp dril die r-klank nog na as afsluiting van sy dreigende
woorde. ‘Ek is moeg vir dié
voor ou spul,’ sê hy en staan op, die swaar, bruin vuiste op sy bors gedruk. ‘As 'n
mens nie na verstandige raad wil luister nie, dan moet jy dit by sy harspan in moker.’
Sonder om te groet, loop hy weg, gaan deur die kombuis en slaan die onderdeur
met 'n knalskoot toe. Ouma Willa sit 'n rukkie doodstil, haar lippe na binne gebol,
haar oë met 'n glasige staring daarin. Sy vou die tjalie vaster om haar skouers asof
'n groot koue aan die kom is. Oom Gert wag, verlig dat die onweer van hom af in 'n
ander rigting getrek het. Hy kyk agterdogtig en slu na sy skoonmoeder, vat sy hoed
en staan op. Watter mooi christelike maniere!
‘Daar het ma dit,’ sê hy verwytend; ‘Sybrand maak hier net wat hy wil. Ma kan
hom nie meer keer nie, en al wat mens nog kan doen, is om na die wet se kant toe te
staan. Dan word dit 'n vreeslike prosedeerspul, en ons sal die spot wees van die hele
distrik.’
Maar ouma Willa antwoord niks; hy kon net sowel met die muur gepraat het. Weer
voel hy duidelik dat hy die minste in hierdie familie moet wees, dat hulle hom gedurig,
selfs in tye van vriendelike verhouding, beskou as die man wat breed op sy vrou se
stuk grond kom sit het, die arm jongkêrel wat maar 'n tweehonderd skaap die more
deur die plaashek kon ja toe hy vir goed tussen dié boksendais kom woon het. Hy
groet en sy skoonmoeder knik net met haar
kop. Dan verdwyn sy afgeslyte klerksbaadjie, wat twee hangskouers bedek, by die
agterdeur uit.
Vir 'n ruk sit die ou vrou so stil met haar bloubeaarde hande oor haar bors gekruis.
Haar gesig verraai niks van wat sy dink nie. Oud en verrimpeld staan dit bokant haar
swart klere. Opeens kyk sy na 'n ou wekker wat op 'n rakkie bokant die koffiekan
met swaar stappe die dag aftree. ‘So'n ... my brood is nou 'n kwartier te laat in die
oond! Seker skoon verbrand!’ Sy roep met skelle oumensstem na die meid en die
werfjong en saam gaan hulle, vol opgewonde gebare, na die oond naas die huis. Die
toegepleisterde plaat word afgehaal en die broodgraaf gly skerp skurend oor die
oondvloer, onder die panne in. Netnou hang 'n kragtige broodgeur om die huis en
die bedrywige hande van ouma Willa smeer die swart korste met vet en daarna word
die geurige voedsel handig weggepak in die broodblik.
III
Dit is die ootmoedigste uur van die dag, die uur wanneer die skape, met 'n stofwolk
In document
C.M. van den Heever, Laat vrugte · dbnl
(pagina 52-55)