• No results found

Dit gee hom 'n liggaamlike genot om die riempies so deur die gate te werk, dit dan styf te trek en die netjiese werk te sien, so goed asof 'n geoefende tuiemaker dit

In document C.M. van den Heever, Laat vrugte · dbnl (pagina 188-191)

gedoen het.

‘Mens slaap jy? Hier is vir jou koffie.’

‘O.’ Sy maer hand met die breë vingertoppe skiet na die koppie koffie toe uit wat

sy vrou, Maggie, dwars-weg vir hom aangee. Sy kyk met 'n suur gesig na wat hy

doen. Haar oë is groen-grys en onrustig. Haar gesig is mooi gevorm en haar lig-rooi

hare verskerp die aantreklikheid van haar gesig. Hy drink die koffie stadig, en daar

kom 'n wrewel in haar op toe sy hom so sien sit met die tuig, die koppie koffie en

dié paar groot hande. Hulle bly net waar hulle is; hulle boer eerder agteruit. Sy bly

die spot van ander vrouens wat meer as sy besit.

Sy moes met 'n ryker man getrou het. Sy was glad te haastig. Maar haar pa het haar

so gedrywe, omdat daar nog agt ander in die huis was. Waarom moet die ander ou

spul vir haar neus optrek, en opeens sê sy stuurs: ‘Dié ou huis is 'n ouderwetse gemors.

Mens sal jou hier dood sukkel.’

Hy kyk op; sy doodlangsame gebare maak haar woedend, want hy is alte veel soos

'n trapsuutjies. Hy kyk haar met getroue, beweeglose oë aan en dit laat haar net nog

meer ongeduldig voel. Hy sê niks. Hy wil hê sy moet nog meer verduidelik.

‘Ek sal my hande deursukkel in hierdie ou huis. Die ou stoof is totaal deurgebrand

en die meid moet 'n vreeslike end loop om water by die fontein te gaan haal. Ek

wonder wanneer ek ook eendag 'n bietjie ordentlik sal kan lewe? Die hele ou

bywonergedoente maak 'n mens vies.’

Hy antwoord niks, want hy weet nie wat om te sê nie. Sy vrou moet maar net by

hom staan. As hy sy bes doen, kan hy darem vooruitboer. Toe daar geen woord van

hom kom nie, loop sy vrou vererg na binne. Daar gaan sy ingekrimp op 'n stoel sit,

heeltemal neerslagtig en sonder toekomsdrome. Sy sien vir Henning deur die venster

aankom en vinnig spring sy op, hardloop na die eenvoudige muurspieëltjie, kam haar

hare en poeier haar gesig. Haar triestige

stemming verdwyn. Ywerig begin sy koppies reg sit vir die koffie. Die aanwesigheid

van 'n man, van 'n aantreklike jongkêrel het haar hele middag verhelder. Met 'n

oorvriendelike gesig bring sy die koffie na die stoep.

II

Skuld werk stadig maar seker; soos 'n skroef draai dit jou al vaster. Jy leen hier en

leen daar om ou bedrae af te betaal; telkens word die rente hoër en groei die skuldlas

aan. Tot die stram tou breek en jy daaronder lê. Oom Gert het hotkant-toe en

haarkant-toe gedink, hy het woeste beskuldigings so in sy allenigheid geslinger na

almal wat hom ‘heeltemal wil uittrek,’ soos hy dit genoem het, maar dit het niks

gehelp nie en die swaar dag het soos 'n vaste sandstorm op hom afgekom. As Sybrand

hom net 'n kans wou gee met die vyfhonderd pond, dan kan hy hom miskien stadig

loswikkel uit die kwaai skuldgreep. Maar noudat dit duidelik geword het dat die

stringe gaan breek, is die laaste een soos 'n wildehond by om te aas. Hy moet dood,

hy moet vrekgemaak word! Tweekeer het hy al gaan praat met Sybrand. Dit het niks

gehelp nie. Hy wil nie 'n duimbreedte toegee nie. Hy wil elke pennie rente hê en die

hele kapitaal op die vervaldag, anders vat hy Maria se deel van Boskloof. Kan jy

jou ooit 'n harder mens voorstel? Op en af kuier oom Gert langs die stoep. Sy

dungeslyte klerksbaadjie hang komieklik om sy geboë lyf; soms lyk hy soos 'n kraai

wat 'n toga aan het, dan weer soos 'n koster wat baie swaar dae agter die rug het. Sy

gesig het slap plooie waarop die stoppelbaard van agt dae orent staan. Om sy nek

het hy 'n verbleikte serpie, naas sy harde boordjie sonder das. Die groot boordjieknoop

loer soos altyd geel onderkant die riffelrige gorrel uit.

Met vrou en kinders moet hy nou na die dorp. Hulle sal hom so rot-en-kaal

uitverkoop dat hy skaars brood sal hê om te eet. En wat sal hy daar kan doen om te

bestaan? Daar is genoeg mense wat karweiwerk doen; as hy 'n kans kon kry as koster,

sou dit gaan, maar Bêrend Lubbe kan nog baie jare hou. Kort-kort trek die asma hom

neer, maar 'n ruk daarna loop hy maar weer met sy brandmaer lyf rond. Nee, die

toekoms is donker. Die meeste van sy kinders is klein. Hy sal nog jare vir hulle moet

sorg. Daar is net een uitweg: Sybrand moet wys dat hy nog 'n Christenhart het. Hy

moet hulle 'n kans gee om in die huis te bly woon, om 'n klompie skape aan te hou

- ja, om dan maar 'n bywoner by sy eie swaer te wees! As hy dorptoe moet gaan, sal

hulle krepeer van ellende. Die vader weet dit sal 'n nagmerrie-lewe word.

In document C.M. van den Heever, Laat vrugte · dbnl (pagina 188-191)