• No results found

bak vleis in die pan, en net die manier waarmee sy dit omkeer, haar neergeslane oë, haar geboë rug en die rimpels op haar voorkop vul hom opeens met so 'n oneindige

jammerte dat hy onverwags vra: ‘Kan ek ma nie help nie?’ Sy skud net saggies haar

kop en sug half: ‘Nee, my kind,’ en dan werk sy verder, eensaam in haarself geslote,

ingedryf na die binnekring van haar gedagtes, waar die lewe eensaam uitbrand,

weemoedig soos 'n stil kersvlam in 'n doodstil kamer sonder 'n lewende naby. Wat

kan hy vir haar sê om die skeiding wat ook tussen hulle is, uit te vlak, om haar

vereensaamde lewe nader aan syne te bring? Hier is hulle bymekaar, hier waar die

gesellige vuur vertroulik hulle innerlike lewe na openhartige openbaring lok, hier is

hy en sy moeder; hy is uit haar gebore, sy het aan hom die lewe gegee; eenmaal was

hy deel van haar, en nou is hy so ver van haar af dat hy, lomp en onbeholpe, nie

kinderlik, belydend met haar kan praat nie. 'n Vreemde hartseer is in hom, want hy

voel die wrede skeidinge van groot lewensmagte aan, van strominge wat elke uur,

elke dag skei, saamvoeg, breek en weer een maak. Watter wonderlike iets is die lewe

tog nie! Opeens vloei sy gedagtes vol vertroulikheid, baie onverwags, en hy sê: ‘Ma,

wat is dit dan dat oom Jaap so teen ons is? Hy het my die aand toe ek daar was, baie

sleg behandel.’

‘Ja, my kind,’ sê sy met 'n trae stem waarin die onmiskenbare klank van diepe egtheid

is, ‘ek weet nie. Hy en jou pa lewe nou al vir jare so. Daar is altyd rusie en vyandskap.

Vandat hy die dam daar bo in die vlei gemaak het en Boskloof se reënwater afgekeer

het, het dit erger geword. Ek hou tog nie van die rusies, maar ... ag ja!’ en sy staar

voor haar uit in die vuur. Sy voel waarheen haar seun dwing. Die liefde roer aan sy

lewe, en sy kan baie duidelik insien dat hy hom teen 'n klipmuur vasloop, want van

so 'n liefdesverhouding sal niks kom nie. Net veel moeilikheid en verdriet. Wat is

die liefde? dink sy. Wat sal vir haar seun wag? Ook net 'n lang ry teleurstellings.

Ook net toesmeer en swyg of jou mond verseël is. Ver, baie ver terug is die ligte,

lieflike drome van 'n boeredogter met haar mooi, helder, weemoedige oë. So het sy

die lewe ingestaar, so het sy gekyk in die oë van die lewe self asof sy die raaisel, die

wonder wou aflees van haar toekomsdae, asof sy die lewe wou dwing om aan haar

die weelderige droom van 'n sterk komende liefde te openbaar. En die jare het dit vir

haar geopenbaar. Haar ouers het gemeen dat sy 'n goeie huwelik doen met 'n man

wat baie sal erwe, wat hard werk - al het haar vader nooit van dié vryer se barse

uiterlike gehou nie. Ja, die jare het haar geleer, dit het skerper en vaster oor haar lewe

heen gesny, dit het met swaar,

diksool-skoene op haar bestaan getrap, dit het haar drome soos sothede, soos

spinnerakke, wat net die deurgang versper, weggevaag; dit het alles weggedruk,

ondertoe, af, laer, aarde-toe. En nou het sy nog net haar liggaam, haar moederliggaam

wat afgebeul is deur die jare, en haar drome lê weggetrap in die grond soos 'n blom

op die ploegland, waar dit nie hoort nie, waar die praktiese dinge, die harde dade die

enigste is en die res bog. Dit lyk na 'n groot dwaling wat vroeër of later weggewis

moes word in die opkomende vloedwaters van die lewe. Nou is haar hande hard en

benig, nou staan haar liggaam, wat nie goed versorg is na die geboorte van haar

kinders nie, bultig en lelik onder haar goedkoop klere uit. Die lewe het klaar met

haar, hy het haar vir 'n wrede, blinde doel, wat sy nie begryp nie, opgebruik, haar

mooi, jong meisiesliggaam het verval tot wat sy nou besit. Waarom? Wat het sy oor?

Net die weemoed in haar oë as sy wegkyk oor die blou, onmeetlike velde, as sy haar

kinders se baba-kleertjies, wat sy diep wegsteek, uithaal, dit teen haar vashou in die

doodstil kamer en nie huil nie, maar net sug, peinsend voor haar uitkyk en dink oor

haar groot droom wat dood is, aan haar verwagting wat verbysterend, snel weggesak

het in die harde sorge van die dag, in 'n saamlewe met 'n man wat eentonig verkors

het in starre eet-werkslaap.

En hier is haar seun nou by haar en tog is hy ook reeds ver, ver weg, verlore vir haar

bestaan. So is die lewe; 'n groot geskenk, en tog ook weer 'n wrede afstand. Miskien

kan sy haar kind raad gee om sy lewe ligter, sy huwelik 'n sonniger iets te maak as

wat hare was. Maar watter raad? Sy het stadigaan tot 'n slavin geword wat swyg, wat

nie 'n mening daarop nahou nie, en as sy dié nog het, dan verbied die strakke lyne

van haar omgewing vir haar om dit uit te spreek. Nou wil sy graag haar hand op haar

seun se skouer lê en moederlik baie sagte, troostende, liefderyke dinge vir hom sê.

Maar waarom doen sy dit nie? Waarom word haar hele mens-wees onherroeplik aan

die eensaamheid vasgeklink? Daar wel 'n blinde ontroering na haar hoof, trane spring

blink in haar oë, en nog sê sy niks, swyg sy, deur onsegbare dinge gewond, vervreemd

van die nabye wat eenmaal vir haar so lief en heilig was.

By die agterdeur word swaar skoene skoon gestamp en nydig geskuur - die gestamp

en geskuur klink tot diep onder in haar lewe. Dan ril sy, keer na haar werk terug en

is weer die puntenerige, sorgsame huisvrou. Oom Sybrand kom binne en mompel

iets wat na 'n aandgroet klink. Hy hang die lammerskaapsweep teen die kombuismuur,

en sonder om langer by vrou en seun te draal, loop hy deur na die spens met

die vaste gebaar wat wil toon dat die aandete maar kan begin, noudat hy gekom het.

En weer is dit soos so baie, baie aande wat sonder vreugde weg geskuiwe het in

die nag. Die kers wat stil, aandagtig brand, die vertroulike glansing van borde, messe

en vurke, alles so goed bekend. En die hande wat daar oor die tafel beweeg: vaste,

harde vingers; maer, knopperige vrouehande; rooi, bloedgevulde vuiste van 'n jong

lewe. So sit hulle saam soos so baie geslagte voor hulle saamgesit het tot die een na

die ander weggeroep is om alleen te gaan verwyl in die duisternis buite by die strakke,

wagtende sipresboompies. Ander kom by: jong, gulsige monde, vurige oë, en ook

hulle moet later hulle plek ontruim; die jare slyt af, die jare eis en vermurwe. Die

ketting het geen einde nie.

Om die drie stille figure, geheimsinnig vergader by die kerslig asof hulle pas, God