So het die lewe dan gegee en geneem; die dae gaan nou wit en helder oor die plaas;
die lente en die herfs en die somer sal weer kom, ewig, in ritmiese wenteling. Maar
sy, as 'n klein verskyning in die groot gang van die tyd, het afgedaan, sy het
teruggekeer na haar vadere, die lewe gaan voort deur ander liggame en vorme. Sy
moet terug gegee word aan die aarde waaruit sy voortgekom het; sy: 'n bestaan waarin
die Boumeester van die eeue net vir 'n oomblik lewe geblaas het en 'n groeiende
lewensdrang geskep het wat egter van die begin af die smet van sterflikheid in haar
gedra het.
Nou kyk die mense, bebaarde gesigte en weemoedige vroue-oë, na ouma Willa se
stoflike oorskot. Hulle prys haar, en daarna gaan die mans verlig in die son staan en
rook; hulle praat oor vee, oor reën en hulle lag gedemp, met die ontsettende vreugde
wat 'n begrafnis bring as teen-vorm vir die droefheid; hulle lag, want die lewe behoort
nog aan hulle. Hulle is bly want die dag is soos 'n fees om hulle; die krag van die
aarde kom stadigaan na bo. Die lewe gaan sy groot, magtige herrysenis herhaal.
Die nuwe predikant, ds. Verster, het aangekom. Hy loop spesiaal na oom Sybrand
toe, wat, swygend, by 'n aantal geselsende boere,
na die grond staan en kyk. Om sy hoed en aan sy baadjie voor is groot stukke lanfer
gewerk. Die predikant groet hom, spreek sy medelyde uit oor oom Sybrand se verlies.
Hy sê verder dat hy een van die dae sal kom kuier. Oom Sybrand antwoord niks. Hy
knik net langsaam met sy kop. Die predikant loop verder om met ander familielede
te praat.
Netnou word die mense bymekaar geroep. Die predikant hou die lyksrede. Hy
praat mooi oor die ou moeder se voorbeeldige lewe, oor haar krag en geloof. Hy hou
haar vir haar kinders tot 'n voorbeeld. Die gesang draal weemoedig in die vredige
dag op. Oom Sybrand voel 'n aandoening na sy keel kruip. Kort-kort kom die
opwelling van ontroering wat hom week laat voel sodat hy na die grond moet kyk
om nie te verraai hoe daar onverwags 'n vogtigheid in sy oë gekom het nie. Hy en
sy moeder het moeilik met mekaar gestryk. Hy was dikwels hard en onversetlik
teenoor haar. Maar noudat die dood haar wil gebreek het, noudat sy daar magteloos
en nietig lê, is dit of 'n deel van sy bestaan met haar aarde toe daal, of iewers iets
geweldigs in hom afgebreek en neergehamer is wat hom met 'n weke, onsekere gevoel
agterlaat net of hy pas van 'n groot siekte genees het. Hoe hy ookal teen die magtige
aangryping stry, dit help nie. Daar is drade wat diep en fyn gespan is, wat plotseling
verbreek word; onsigbare, vaste
sels skeur. Hy voel of hy plotseling baie ouer geword het. 'n Endjie van hom af staan
Henning, met sy jong, sterk gesig bruin en blosend van son en wind. Sy hare glans
in die lig. Hy groei uit na die lewe. Oom Sybrand kyk weer voor hom en skud saggies
sy hoof. Soos uit 'n verre verlede, geskraag deur geslagte en geslagte van boere, kom
die predikant se murmelende stem op die helder sonlig aan. Hy smeek om vergiffenis
van sonde, hy vra om reine, geheiligde liggame, hy roep God aan as die ewige
beskermer van komende en sterwende lewe.
Die swart stoet beweeg stadig na die kerkhof. Annie loop naas haar moeder en tant
Maria en voor hulle is oom Sybrand en oom Gert. Annie sê sag vir tant Maria: ‘Is
dit nie vreeslik dat hulle so'n fout kan maak om ouma se kop eerste by die deur uit
te dra nou daar by die buitekamer nie! Dit hoort nie so nie. Ek voel al reeds so aardig
dat ouma se lyk nie wou koud word nie. Dit het warm gebly. Dit beteken dat daar
gou weer een sal gaan.’
Tant Maria knik net sag haar kop. Die mense vergader om die graf. Rou, luide woorde
klink bokant die harde, rooi kluite. Onder die sinkplate word ouma Willa toegemaak.
Die kluite reën hard, wreed, skokkend op die plate. Sy lê naas haar man, tussen
geslagte wat lankal hier
ingedra is en rustig wag vir die bloed van hulle bloed. Stadig loop die mense huistoe.
Hulle praat al luider en opgewekter. By die huis het tant Betta en tant Maria koek en
koffie gereed. Dit eet en gesels. Die stemme dreun waar straks stilte en eerbiedige
vrede was. Die lewe gaan voort.
Hoofstuk IV
I
D
IEdodes hoort by die dodes; hulle is deel van die dinge wat agter lê. Die lewendes
moet sorg vir die dae wat voorlê; hulle moet vastrap, gryp wat hulle toekom, hulle
lewens vasbou met aardse veiligheid wat die besitting is. So is dit dan dat die invloed
wat sy moeder se dood op hom gehad het, gou op die agtergrond raak, want die lewe
wag vir niemand nie; dis daarom dat oom Sybrand vanmore weer met gespanne
wenkbroue tel, reken, meet.
Een ding is vir hom baie verkeerd, en dit is dat die bliktrommeltjie met geld wat
In document
C.M. van den Heever, Laat vrugte · dbnl
(pagina 127-131)