soos 'n pyngeroep oor die plaas, asof dit gryp na die leë hemel om houvas; dan val
die skurwe stam plat met takke daar bokant wat bewerig skud vir 'n oomblik na dit
al lê. Van die kraal af kom 'n kaffer aan met twee osse ingespan op pad na die
wilkerboom. Dit moet weggesleep word, gebruik word vir die plaas, vir werkgoed,
vir brandhout.
Oom Sybrand se oë dwaal, met iets vreesagtigs daarin, weg oor die vlakte, oor die
lang end pad wat van Langvlei se kant af streep oor die veld. Daar kom 'n kar aan.
Klein en swart beweeg die stippel oor die veld. Nader en nader skuiwe dit in die pad
af, en daar kom 'n blye herkenning op oom Sybrand se gesig. Dit is Annie en haar
man! Hy ken die perde en kar te goed! Hy is altyd gelukkig as sy dogter kom kuier;
sy bring 'n opgewekte stemming in die huis. Sy hele harde bestaan word in haar
aanwesigheid baie eenvoudiger.
Die kar kom deur die leegte deuskant ouma Willa se huis en netnou is die werf
vol wielgerol en perdgeproes. Bly-skaam loop oom Sybrand na die kar toe, tel Annie
se twee dogtertjies uit. Stadig, met 'n liggaam wat al swaarder word in die laaste tyd,
klim Annie uit die kar wat skeef lê onder die gewig; sy gee haar pa opgewek 'n
klapsoen en sê luidrugtig: ‘Maar pa sien daar mos goed uit! Hoe gaan dit hierlangs?’
Terwyl oom Sybrand half binnensmonds antwoord, groet hy ook vir Hennie, wat
met sy rooibeaarde wange en fletsblou oë effens verleë staan naas die voorbarigheid
van sy vrou, wat so maklik omgang maak met dié onvriendelike, geslote skoonvader
van wie hy nog nooit kon hou nie.
‘Gaan maar in Annie,’ sê oom Sybrand opgewek in 'n toon wat totaal anders as sy
alledaagse is; ‘jou ma het seker nie gehoor dat julle gekom het nie.’ Dadelik help hy
vir Hennie uitspan, lig die sweetdeurtrekte tuie van die moeë perde af en vra: ‘Hoe
laat is julle daar weg?’
‘Net 'n rukkie voor sonop, pa.’
‘Kom ons gaan maak die perde in die kampie los,’ sê oom Sybrand en lei self een
perd, wat sy lyf dreunend begin uitskud, na die hekkie 'n endjie van hulle af. Hennie
wonder of sy perde vanaand 'n plek in die stal sal kry. Die ou kêrel bekommer hom
gewoonlik nie veel oor 'n ander se goed nie.
‘Staan pa se karperde nog in die stal?’ vra hy, hoor 'n onduidelik gemompelde
antwoord, klop sy pyp op sy skoenhak uit en begin dit dan met 'n geel voorvinger
stop. Hy kyk na die kort, vaste postuur van sy skoonvader hier voor hom. Verbeel
hy hom dit of loop die ou man effens mank, effens oumanagtig mank? Hy steek sy
pyp op, trek 'n groot blou wolk daaruit en sê nadenkend: ‘Hoe lyk dit vir my as ek
pa so van agter bekyk, of pa oukant toe staan.’ Asof hy vir 'n leeu 'n skop van agter
gegee het, so draai die skoonvader hom vererg om, sy gesig half verwring van
impulsiewe opwinding en tot Hennie se groot verbasing skreeu-praat sy skoonvader
half: ‘Wat se foetery is dit in die laaste tyd met my
dom? Van die laaste een moet ek hoor dat ek só oud en só oud is. Dit is sommer alles
vervloekste jaloersheid! Dit lyk my julle wil my dood hê net om te kan erwe.’ Hy
ruk onverskillig die toom van die perd se kop af sodat die dier verskrik agteruit vlieg
en byna die draad om druk. Hennie is totaal verbysterd, want hy wil veral vandag sy
skoonvader nie in 'n slegte bui hê nie. Vir 'n oomblik is die atmosfeer bederwe; dan
begin die geselskap sukkel-sukkel weer met 'n duidelike toon van opsetlikheid daarin.
‘Wat gaan pa op daardie onderste omgeploegde lande saai?’ vra hy, tog inwendig
afkerig van dié bot ou skoonvader.
‘Hawer.’ Oom Sybrand het dié woord op 'n kort, afbytende toon gesê. Dan sien
hy sy dogter op die stoep by haar moeder staan, sy stemming word vergeefliker en
hy sê: ‘Ons sukkel bietjie met die lammerskaap vanjaar. Die kuile hier bo begin
opdroë. Dit gaan 'n foetery afgee, want hier by die fonteindam kan hulle nie in die
middag kom drink nie. Vandat dié ou stywebeen-Jaap hierbo die water wat in die
vlei af kom, gaan opdam het, is die hele ding bedodderd. Ek is nog altyd spyt dat ek
hom nie laat prosedeer het tot ek weet nie wie-weet-waar nie. Hy het nou my hele
boonste stuk veld befoeter. Ek het nooit met lammerskaap daar gesukkel nie. Die
kuile was altyd vol. Nou loop dinge
verkeerd.’ Hennie antwoord net nederig: ‘Ja, pa.’
Hulle gaan vir 'n rukkie op die stoep sit. Stroef-gesellig sê oom Sybrand vir die
twee rooiwang-dogtertjies van agt en ses jaar: ‘Kom staan hier by oupa.’ Maar
skamerig kruip hulle agter hulle ma weg, tot sy byna barsbevelend sê: ‘Toe, kan julle
nie hoor nie!’ Sy is vandag tweemaal so vriendelik, so vleierig as gewoonlik, want
sy en haar man het gekom om 'n guns van oom Sybrand te vra. Die dogtertjies gaan,
swaar daartoe gedwing, popagtig langs hulle grootvader se knie staan, hulle hele
houding een en al onnatuurlikheid. Oom Sybrand wil hulle aanhaal, vind dat hy hom
net bespotlik gedra en maak toe of hy hulle nie meer sien nie, sodat hulle maar teen
hulle pa gaan leun.
Nadat die koffie gedrink is en Annie nogmaals gesê het hoe goed ‘ou vadertjie’
In document
C.M. van den Heever, Laat vrugte · dbnl
(pagina 71-75)