• No results found

ekspressiewe en relasionele boodskappe 2.1 Inhoud

2. Analise van die agtien nuusbriewe

2.9 Teks nege Goeie wette skep goeie ekonomie

2.9.1 Die ekspressiewe boodskap van Helen Zille

A. “Dit is ’n diep vraag, en ek wil dit in diepte bespreek. Ek wil egter eers ’n bondige antwoord gee. ’n Mens kan wette nie eet nie, maar jy kan nie genoeg kos vir almal voorsien as daar geen wet is nie. Jy kan nie in die Grondwet woon nie, maar daar sal nooit goeie huise vir almal wees as daar geen goeie Grondwet is nie. Daar sal nooit werk en dienste vir armes wees as daar geen oppergesag van die reg is nie.” (paragraaf 2)

Geïdentifiseerde tendens:

1, 2, 4, 11, 13, 17, 19, 20 en 21

B. “Die oppergesag van die reg is nie ’n soort snuistery of versiersel in ons beskawing nie: dit is die fondament van ons beskawing.” (paragraaf 4)

Geïdentifiseerde tendens:

1, 2, 4, 11, 13, 17, 18, 19 en 21

Kommentaar:

Die “spreekwoord” wat gebruik word, is: “snuistery”.

C. “Sonder ’n goeie ekonomie en ’n groot inkomstebasis kan daar geen maatskaplike veiligheidsnet wees wat mense teen uiterste armoede beskerm en hulle geleenthede gee om hulself uit armlastigheid te verhef nie.” (paragraaf 5)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 2, 4, 11, 13, 17, 21 en 23

Kommentaar:

• Die gebruik van “armlastigheid” kan problematies wees aangesien verskillende mense verskillende konnotasies daaraan koppel. Sulke konnotasies kan negatief van aard wees, wat daarop kan dui dat Zille onsimpatiek is teenoor diegene wat in armoede lewe.

D. “Goeie wette moet eenvoudig, universeel, seker, skoon, eerlik en vinnig wees.” (paragraaf 9)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 2, 4, 11, 13, 17 en 21.

Kommentaar:

• Zille is bemoedigend deur te noem dat dit, wat in die aanhaling genoem word, haar waardes is oor goeie wette. Hierdie verwysing gee ook ’n aanduiding van haar gevoel jeens wette.

E. “Waarom het ons met al ons minerale en kundigheid nie ten volle by dié oplewing gebaat nie? Waarom het dit nie meer werkgeleenthede geskep as wat die geval moes gewees het nie? Die antwoord lê in ons wette opgesluit.” (paragraaf 10)

Geïdentifiseerde tendens:

1, 2, 3, 4, 11, 13, 16, 19, 20 en 21

F. “Daardie mynwerker is die slagoffer van 'n swak wet. ’n Goeie wet sou hom (en talle meer) werk en sy gesin kos en skuiling gegee het.” (paragraaf 10)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 2, 3, 4, 11, 13, 16 en 21

Kommentaar:

• Zille wys haar emosie deur te verwys na die mynwerker. Die leser kan die gevoel kry dat sy hom jammer kry.

G. “Ek het die voordele van baksteenhuise, skoon lopende water, goeie sanitasie en elektrisiteit genoem. Miljoene van ons mense geniet egter nie sulke voordele nie. Hulle krepeer in hutte van plastiek en sinkplaat. Hulle gebruik ’n emmerstelsel en paraffienstowe wat maklik kan omval en ontplof, en hul gesinne laat doodbrand. Hulle verduur aaklige werkloosheid. Hulle is honger. Hulle word deur geweldsmisdaad geterroriseer. Hulle het hoegenaamd geen sekuriteit nie. Hoe raak ons dié situasie baas?” (paragraaf 11) “Die antwoord is: met wette.” (paragraaf 12)

Geïdentifiseerde tendens:

1, 2, 3, 4, 11, 13, 14, 17, 19, 21 en 22

Kommentaar:

• Die ironie in hierdie aanhaling is die verwysing na arm mense wat nie so bevoorreg is soos baie mense nie, wat haar insluit.

• Zille gebruik ook die leser se gevoel oor armoede om haar punt te bewys dat goeie wette ’n goeie ekonomie tot gevolg het.

H. “Die antwoord is: met wette. Hulle moet eiendomsregte kry (maar die Onteieningswetsontwerp wil dít juis inkort) sodat hulle die grond waarop hulle woon, kan besit. Dit sal hulle iets as borg gee sodat hulle kapitaal kan verkry en hul eie onderneming kan begin, en Eskom en die munisipaliteit sekerheid gee dat hulle vir die elektrisiteit, water en sanitasie sal kan betaal. Ons onderdrukkende arbeidswette moet

hervorm word sodat die armes en werkloses die formele ekonomie kan betree. Hulle moet ook teen misdaad beskerm word.” (paragraaf 12)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 2, 4, 11, 13, 17, 19 en 21

I. “Misdaad verpletter en vervorm die hele samelewing van Suid-Afrika, maar die armes die meeste.” (paragraaf 13)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 3, 4, 11, 13 en 21

J. “Die hele strafregstelsel moet versterk en skoongemaak word. Die polisie moet eerlik, doeltreffend en gerespekteer wees. Die staatsaanklaers moet vol vertroue en bevoeg wees. Die howe moet regverdig, doeltreffend en vinnig wees.” (paragraaf 13)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 2, 3, 4, 11, 13, 17, 21 en 22

Kommentaar:

• Hoewel daar klem gelê word op die positiewe bydrae wat die DA en Zille teweeg kan bring, word dit indirek gekontrasteer met die negatiewe van die huidige bestel, byvoorbeeld dat die polisie soms nie eerlik is nie.

• Bogenoemde dien ook as bemoediging om aan te dui dat Zille en die DA dit sal regmaak.

K. “Sonder regulasies is daar anargie. Met te véél regulasie is daar stagnasie.” (paragraaf 14)

Geïdentifiseerde tendens: 1, 2, 3, 4, 11, 13, 17 en 18

Kommentaar:

• Die hele aanhaling dien as ’n spreekwoord en bevestig weereens Zille se doel met die teks, naamlik dat goeie wette, wat gepas en geregverdig is, die land se groei sal bevorder.

Struktuur tendense: 23 en 26

Kommentaar:

• Die moeilike/verkeerde woord is reeds in aanhaling C (op bladsy 112) bespreek.

• Daar is geen paragrawe wat uit een sin bestaan, wat ’n hoë informasiedigtheid het of wat deurmekaar voorkom nie. Dit is dus ’n netjiese teks.

2.9.2 Die ekspressiewe boodskap van die DA

Zille verwys nie na die DA in hierdie nuusbrief nie.

2.9.3 Die relasionele boodskap

a. “Die Grondwet beskerm al ons vryhede en waarborg gelyke regte vir almal, die swakke en die sterke, die ryke en die arme.” (paragraaf 4)

Geïdentifiseerde tendens:

1, 3, 5, 11, 13, 14, 15, 16, 18, 19 en 21

Kommentaar:

• Zille weerspieël in hierdie nuusbrief ’n beeld van ’n leser wat geloof in die Grondwet kort. Sy noem dus hierdie dinge om dit vir die leser te bevestig.

• Sy is baie vriendskaplik in hierdie nuusbrief wat ’n aanduiding kan wees dat sy ’n goeie verhouding met haar leser wil bou.

b. “Die punt is: Jy kan nie ’n goeie ekonomie sonder goeie wette hê nie.” (paragraaf 5)

Geïdentifiseerde tendens:

2, 4, 5, 9, 10, 11, 13, 16, 18, 19 en 21

c. “Sonder respek vir die Grondwet sal ons met ander woorde nooit iets aan armoede kan doen nie.” (paragraaf 5)

Geïdentifiseerde tendens:

2, 4, 6, 9, 10, 13, 14, 16, 18, 19 en 21

d. “Dit is wat elke Suid-Afrikaner moet onthou terwyl die ANC ons Grondwet aanval en die oppergesag van die reg ondermyn.” (paragraaf 15)

Geïdentifiseerde tendens:

2, 4, 9, 12, 13, 14, 17, 20 en 21 Kommentaar:

• Zille is baie formeel en gebruik ’n hoë magafstand om deur te dring tot die leser om hom/haar te herinner dat die “oppergesag” ’n belangrike rol speel in Suid-Afrika. Sy gebruik hierdie standpunt om hulle te oorreed dat die ANC die oppergesag en die Grondwet ondermyn.

2.9.4 Bespreking

Hierdie nuusbrief lê klem op Zille se waardes. Die leser kan ’n duidelike gevolgtrekking maak oor haar waardes. Die drie maniere van toeganklikheid in die informasie-ontwerp, kan hier ’n belangrike rol speel. As die nuusbrief

deurmekaar en onordelik voorkom, kan die leser nie fisiese toeganklikheid tot die teks hê nie. Dit sal op sy beurt ’n invloed hê op die intellektuele toeganklikheid, veral as sy terme gebruik wat nie maklik interpreteerbaar is nie. So ook gaan dit die emosionele toeganklikheid van die teks beïnvloed, veral omdat die leser nie ’n goeie beeld van die skrywer kan vorm nie.

Die manier hoe Zille hierdie waardes neerpen, kan die toeganklikheid van die nuusbrief vergemaklik. Die leser kan duidelik sien waar die teks begin en daar is nie moeilike woorde wat die intellektuele toeganklikheid beïnvloed nie.

Sy vereenselwig haarself met haar leser in hierdie nuusbrief deur gereeld na die inklusiewe “ons” te verwys (sien aanhalings a, c en d hierbo). Die leser kan dus sien dat sy ’n verhouding met haar leser wil bou. Hulle kan ook ’n gevolgtrekking maak oor haar waardes omdat dit voorkom asof sy die leser se waardes deel.