• No results found

Om Zoo City binne die raamwerk van heterotopiese literatuur te ontleed, is dit nodig om na meer as bloot die geografiese ruimtes in die roman te kyk. Die taalgebruik en vormgewing binne die teks sal kortliks onder die loep geneem word.

74 4.1 Taalgebruik

Lauren Beukes is ’n besonder talentvolle storieverteller – daaroor is resensente dit eens. Haar styl word beskryf as ‘cool’, humoristies en skerp (sien o.a. Hugo, 2010:4). Een resensent sê oor haar skryfwerk: “It’s so real you could be reading high definition” (Bayne, 2010:1). In pas met die hoë-definisie- leesgenot blyk dit dat taal ondergeskik aan die storielyn en ander verhaalelemente is. Taal is bloot die middel waardeur ’n alternatiewe wêreld geskep en aan die leser verstaanbaar gemaak word. Dit is daarom nie verbasend dat Beukes se taalgebruik nie ’n alternatiewe ordening van woorde, betekenisse of taalstrukture openbaar nie. Heterotopiese praktyke op die vlak van die teks is immers geneig om lesers te vervreem en dit is duidelik nie deel van die leeservaring wat Beukes vir haar mark in gedagte het nie. Haar taalgebruik is verbeeldingryk en kreatief – hiervan spreek die konsepte rondom die zoo-

fenomeen, die hergebruik van reeds bestaande terme wat intertekste aktiveer en sommige metafore.39

Dit poog nêrens in die teks om heterotopies te funksioneer nie.

4.2 Vormgewing

Terwyl Zinzi, die eerstepersoonsverteller, vir die grootste deel van die roman aan die woord is, sluit die teks ook ’n aanlynresensie, die “Crime Watch” van ’n poniekoerant, ’n uittreksel uit ’n nie-fiksie boek en ’n akademiese artikel in. Ons sien dus die naasmekaarstelling van uiteenlopende genres wat die tradisionele romanstruktuur herorden. In hierdie opsig voldoen Zoo City in ’n groot mate aan Pordzik (2001) se definisie van heterotopie (sien bl. 37-38 in hierdie opstel). Soos reeds in my uiteensetting van heterotopiese literatuur genoem, is dit egter nodig om by die oorweging van hierdie tipe literêre strategie die relasionele aard van heterotopieë in ag te neem. Die feit dat die herordening van die tradisionele romanstruktuur binne ’n postmoderne raamwerk glad nie meer onkonvensioneel is nie en,

39

Vir twee opinies oor onderskeidelik Beukes se oordadige en suksesvolle gebruik van vergelykings, sien Norwood-Young (2010:6) en Szczurek (2010:30).

75

inteendeel, deel vorm van ’n modieuse ‘chaotiese ordening’, lei tot die gevolgtrekking dat hierdie vorm nie meer as heterotopies geklassifiseer kan word nie. Dieselfde tipe argument sou geld vir die feit dat Beukes ander skrywers gebruik het om byvoorbeeld die akademiese artikel en ’n onderhoud met die musiekvervaardiger, Odi Huron, te skryf.

In ’n onderhoud met Beukes wat agterin die tweede druk van Zoo City (2011) verskyn, word dit duidelik dat sy onder geen illusie verkeer wat betref die andersheid of vervreemdende effek van die roman se samestelling nie. Sy noem Alan Moore as haar groot inspirasie om verskillende genres en stemme te gebruik. Verder verwoord sy die doel daarvan as volg: “I hate painful exposition and there was a lot here that needed to be explained. It was easier and more fun to do it using intertextual elements that allowed for some ambiguity and interpretation.”

Zoo City konfronteer die leser op geen vlak met ’n tekstuele heterotopie nie: nie in die styl van Borges

nie (vgl. Foucault se definisie van tekstuele heterotopieë), en ook nie op die vlak van taal of vormgewing nie. Dit is egter duidelik dat die teks nooit ten doel gehad het om op hierdie wyse heterotopies te funksioneer nie en so ’n uitspraak kan dus nie werklik as kritiek opgestel word nie. Ek wil egter weer verwys na Corrigall (2013:18) se resensie van The Shining Girls. Die titel is, “She glitters, but now she must be bold”. Indien Beukes, behalwe vir haar verbeeldingrykheid, ook meer dapperheid (selfs vermetelheid) aan die dag gelê het in die taalgebruik en vormgewing van Zoo City, sou dit ’n merkbare bydrae kon lewer tot die heterotopiese aspekte van die geografiese ruimtes, sowel as die moontlike heterotopiese funksionering van die roman.

76 5. Gevolgtrekking

Zoo City speel grootliks af in ruimtes wat heterotopiese eienskappe het, ruimtes wat binne sekere

verhoudings as heterotopieë funksioneer en ruimtes wat volgens sommige teoretici ‘hoogs funksionerende’ heterotopieë is. Die roman kan myns insiens met vrug binne die raamwerk van heterotopiese literatuur ontleed en as sodanig geklassifiseer word.

Die hoogtepunt van Zoo City as heterotopiese roman is egter die zoo-fenomeen. Meer nog as deur enige geografiese ruimte word veral die epistemologiese, maar ook die ontologiese bekende in die vertelde ruimte hierdeur versplinter. Verder sou ’n mens kon sê dat die binêre opposisies wat dikwels deur lippediens aan die postmodernisme verwerp word, maar tog geneig is om sigself onder die oppervlak van sowel populêre as literêre fiksie te verhul, hierdeur geproblematiseer en ondermyn word. Die leser kan nie ontken dat sy met ’n alternatiewe en ander wêreld/sone gekonfronteer word nie. Is dit egter genoeg om tot die slotsom te kom dat die roman op sigself ’n heterotopie konstitueer?

Om hierdie vraag te beantwoord wil ek die verhouding tussen Zoo City en my waarneming van die heersende sosio-politiese ideologieë in ons land in oënskou neem. In die eerste plek kan ’n mens Beukes nie daarvan beskuldig dat sy nie die aktuele kwessies en probleme van Suid-Afrika, spesifiek binne die stedelike landskap, onder die loep neem nie. Dit is alles daar: armoede, werkloosheid, haweloosheid, diskriminasie, onwettige immigrasie en xenofobia, geweld, dwelmmisbruik, mensehandel, moetie-misdade, internetbedrog. Sommige word bloot in die verbygang genoem, ander word in fyn detail uitgewerk. Word hierdie kwessies egter op ’n ander wyse aangebied as byvoorbeeld in ander eietydse romans of die media? In so ’n mate dat ek as leser nie bloot na Beukes se slimgestruktureerde alternatiewe sone verplaas word nie, maar ook na ’n ruimte van waaruit ek ’n ander perspektief op my waarneming van die werklikheid kry?

77

In my geval het ek my na ’n eerste lees en ook na ’n deeglike stiplees steeds binne ’n ruimte bevind waar liberalisme hoogty vier en waar versigtige hoop en ’n oorlewingsmondering met vlymskerp sinisme as noodsaaklike wapen die norm is. Binne Zoo City sien ons immers ’n verdraagsame gemeenskap waarbinne inwoners in voeling is met hulle donker kante, waar dit nie saak maak of jy ’n luidier of ’n skerpioen het nie – jy is ’n zoo. Ons kyk deur die oë van ’n verteller wat dink dat sy nog nooit ’n goeie mens was nie (55), maar wat tog aan die einde van die roman die lang pad na Kigali vat waar haar kêrel – kritiek in die hospitaal as gevolg van haar speurwerk – se vrou en kinders dalk in ’n vlugtelingkamp is. Zinzi bevind haarself op die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe en dink: “And even here, there’s that Zoo City hustle going on. Maybe it’s not peculiar to Hillbrow. Maybe it’s South Africa. You do what it takes, you take the opportunities” (307). Zinzi, en die leser saam met haar, is in voeling met die sosio-ekonomiese probleme in die land, maar dit wil voorkom asof dit alles deel is van die “hustle” wat ons ‘uniek’ en ‘interessant’ maak. Die roman sluit as volg af: “It’s going to be the best thing I’ve done with my miserable life. And after that? Maybe I’ll get lost for a while” (309). Zinzi is dus nog nie ‘verlore’ nie en die “lost” waarna sy verwys, het positiewe konnotasies.

Wanneer Hubbs (2011:3-4) van die teks as etiese heterotopie praat, verwys hy na die verantwoordelikheid van die skrywer om sisteme te skep waarvan die funksie nie is om betekenis, begrip, kompromie en interpretasie te fasiliteer nie, maar om te getuig van ’n sekere horison of liminale punt (sien bl. 41-42 in hierdie opstel). Beukes se alternatiewe wêreld fasiliteer juis betekenis: Dit gee vertroostende begrip vir die Suid-Afrikaanse situasie; dit laat die leser beter voel oor ons land en sy uitdagings. Vervolgens dan ’n bespreking van Animal’s People, ’n roman wat myns insiens wel van ’n liminale punt getuig en die kantlyne herorden.

78 Hoofstuk 4

Animal’s People (2007) as krities-etiese heterotopie

In hierdie hoofstuk sal Animal’s People, ’n roman wat ook breedweg in die genre van spekulatiewe fiksie val, betrek word. ’n Bespreking van hierdie roman – geskryf deur die Indies-gebore Britse skrywer, Indra Sinha – kan nie direk bydra tot die gesprek rondom tendense in die Suid-Afrikaanse letterkunde wat deur Beukes en skrywers soos Deon Meyer en Margie Orford ontlok word nie (sien De Kock, 2013). ’n Mens sou kon argumenteer dat die betrekking van ’n Suid-Afrikaanse roman meer lig op die groter gesprek sou kon werp. Met my keuse van Animal’s People wil ek ook nie te kenne gee dat daar nie in die Suid-Afrikaanse letterkunde romans is wat dieselfde fasette van heterotopiese literatuur sou kon belig nie. Ek is egter nie bewus van ’n ander Suid-Afrikaanse roman wat tematies, ruimtelik en op die vlak van genre soveel duidelike ooreenkomste met Zoo City vertoon nie. Myns insiens maak dit dus meer sin om binne die bestek van hierdie hoofstuk die Suid-Afrikaanse literêre toneel ter syde te skuif (iets waarvoor ’n verskoning in die ‘postnasionale’ era vir sommige oorbodig sou lyk) en te fokus op ’n vergelyking van die gekose romans. Beide romans val binne die raamwerk van heterotopiese literatuur. In hierdie hoofstuk wil ek egter argumenteer dat Animal’s People, anders as Zoo City, ook as roman ’n krities-etiese heterotopie konstitueer.

Aangesien Animal’s People nie in soveel detail as Zoo City bespreek sal word nie, gaan ek begin met enkele opmerkings oor die agtergrond waarteen die roman afspeel. Daarna sal die mees voor die hand liggende gronde vir vergelyking van die twee romans ter sprake kom. Vervolgens sal die heterotopiese lae van die hoofkarakter, Animal, die heterotopiese ruimtes binne die roman en die heterotopiese aspekte van die taalgebruik en die siening van taal en letterkunde wat na vore tree, bespreek word. In die gevolgtrekking sal ’n argument daarvoor uitgemaak word dat Animal’s People as krities-etiese heterotopie funksioneer.

79