• No results found

ROMAN VOORGELÊ TER GEDEELTELIKE VERVULLING VAN DIE VEREISTES VIR DIE GRAAD M.A. (KREATIEWE AFRIKAANSE SKRYFKUNDE)

109 Inhoudsopgawe

Saad: Hoofstuk 1 110

Verskiet: Kaart van Meconium soos uitgebeeld in Invaders 101 126

Verskiet: Georgie se kaart van Meconium en omgewing 127

Verskiet – 2081 128 Saad: Hoofstuk 2 147 Saad: Hoofstuk 3 167 Skyt – 2065 173 Saad: Hoofstuk 4 176 Skoot – 2061 192 Saad: Hoofstuk 5 200 Saad: Hoofstuk 6 210 Vet – 2057 228 Saad: Hoofstuk 7 238 Stof – 2037 244 Saad: Hoofstuk 8 266 Saad: Hoofstuk 9 269 Bronnelys 273

110 Hoofstuk 1

Dit is ’n platstof onwintersdag. Juliemaand het verloor nog voor hy begin het. Haar ouma sou gesê het die son is drie desembers sterk. As ’n mens te lank kyk, sal die Banghoekberge se gebewe jou die floute gee. Glare Gone-lense of te not. Amper kyk anderpad. Oorkant is die ou wasplek. Een van die min geboue in die nederset wat heel vensters het. Godliness. Keep your heart clean and your laundry

cleaner, staan dit in vier uit elke vyf letters. Die man voor haar draai sy mummie-kop en sien waarna sy

kyk.

“Hou jou gat skoon en jou dunderm skoner,” sê hy.

Amper ignoreer hom. Laventel. Jasmyn. Sitroengras. Sy het dit nooit self geruik nie, maar uit haar vals geheue kom dit uit die kaalgesteelde wasmasjiene aangesweef. Die ry beweeg vorentoe. In ’n glasbrok regs van haar gaan staan ’n meisie met ’n duikbril en ’n bruin boskaas wat aan ’n dread suig. Amper kyk weg. Die dread proe soos stof maar dis afwisseling – nog net haar duim- en wysvingernael sit. Die skren links van Meshitium se Weigh in-venster gaan aan. Jolige musiek. Noag rem aan sy leiband en blaf vir drie dansende blare op die skren. Die man voor haar buk by Noag en vryf aan sy lang ore. Die kwyl drup by sy mond uit op Noag se snoet. Amper trek te diep aan die lug. Die reuk van abses en drogies kom deur haar brilfilters. Sy blaas drie keer uit deur haar neus en katrol die hond in, maak die leiband korter waar dit aan haar belt vas is. Net liggies intrek, sodat die lug nie van verder as die streepsel aalwynvaseline onder haar neus kom nie. Verdomde neus. Verdomde man wat Noag se vel met sy oë afslag. Kan hy nie die ribbebene ruik nie? Hy kyk steeds agtertoe en steek sy arm uit om die mense te tel.

“Vyf, tien, vyftien, twintig, een-en-twintig. Meshitium het slim geraak met peak hour,” sê hy vir haar en wys na die skren.

Sy knik en probeer haar mondhoeke lig. Dis nie slimgeit nie; hulle het nie ’n keuse gehad nie. Drie MecSecs het seergekry in die chaos van die vorige LeegSkyt-kiem. Sy kou aan ’n velletjie langs haar duim. Sy kan nie onthou hoeveel sy geskyt het en of sy in die rye was met die bakleiery nie.

Sy onthou die dag van die inentloting. Die hele Kiefmor op die steeks teerstraat tussen die tentedorp en die biogastenke agter Meshitium. Amper se naam is dertiende getrek. Net na een van die Jafta-mans s’n. Haar ouma se naam het in die emmer gebly. “Bettina Moeletsi!” het Amper geskree. “Bettina Moeletsi!” Niemand het gehoor nie. Baie name is uitgeroep deur desperates. Afgekoude kneukels. Sonsteek wat onder ’n skedel inkruip. Mensvleisasem. Die reuke het haar huis toe laat hol. Daarna

111

onthou sy haar ouma se skedelgesig agter die kliniek se kwarantynvenster en haar laaste trooswoorde: “Jy moet weet, kindjie, ek sal lag soos wat ek my anderkant uitskyt. En as ek by die gooie aankom, sal jou oupa saam met my lag. Want om só te gaan in hierdie tye – jy maak wins en jy maak komedie en die geweld kom uit jou eie lyf.”

Daar’s ’n gejeuk waar die duikbril bo haar oog vassuig. Sy maak dit los en stoot dit af om haar nek. Haar tong vang ’n straal sweet en sy vee haar gesig met haar mou af. Die son se gluur maak dat sy weer die benouing van die duikbril kies. Wakinyan het gesê sy lyk soos ’n ruimtewese uit ’n pre-Hardskip comic boek wat hy iewers gesien het: met die grys dungaree, die duikbril wat donker raak in die gluur en die seekatarms in ’n poniestert.

“Hi there, Kiefmor-kids,” sê ’n groen monster op die skren. “I am Div and I am your friend. Together we will learn everything there is to know about diversity and how Meconium, together with all the div- enthusiasts from the settlements, want to protect it.”

“Ek kan nie sien nie,” hoor Amper agter haar. ’n Meisiekind trek aan haar rugsak. Noag lek die kind se wang en sy lag. Sy lyk nie ouer as drie nie, maar sy dra twee vol Shitesavers soos ’n baba in haar arms. Amper tel haar op. Sy’s ligter as die Shitesavers.

“Did you know that Kiefmor is the settlement where we’ve seen the most animals and plants come back after the Hardship?” vra die monster. “In 2081 alone you have rediscovered three species in this area. Keep your eyes open and report anything you find to one of the Meconium security guards at your biogas facilities. What’s in it for you? You and your mom or dad can win a trip to Meconium!”

Die man kyk weer om. “In die kakgaslorrie, ja. Daai’s ’n belangrike ding om by te sit.”

Hy grinnik. Die tande wat sit, sit agtertoe. Amper blaas deur haar neus uit totdat hy sy gesig wegdraai. ’n Reeks video’s begin: ’n tier en ’n hond wat saam speel, ’n kat wat toertjies doen.

“Kom, Ulet,” sê ’n vrou langs Amper en steek haar arms uit. Die kind klim oor. “Dankie,” sê die vrou. Amper knik en sit weer ’n dread in haar mond. Haar maag kramp van leeg en onlekker wees – sedert Wakinyan twee dae vantevore verdwyn het, het sy en Noag saam twee Shitesavers volgemaak.

“Ekskrementorium, ontlaswoning, opelyftoring, blertsorium, bolliewinkel, tjortstjoekie, poefsalon, poefieplaas.” Die professor kom om die hoek van die gebou gehuppel. Sy’t hom lanklaas gesien. ’n MecSec stap in sy rigting.

112

Die MecSec haal sy laserstok uit. Amper kyk weg en op. Weerskante van die “Meconium” hoog teen die gebou is twee ewigheidstekens met cob uitgebou. Sy volg ’n teken met haar oë. Die enigste een wat vir die prof tyd gehad het, was haar ouma. Haar ouma kon enige reuk uitstaan. Sy het ’n hand op die professor se skouer gesit en gevra waar hy laaste sy besigheid gedoen het. Na haar ouma mooigepraat het, het van die MecSecs opgehou om hom toe te sluit as hy nie in Meshitium geskyt het nie – hulle het haar kom roep. Dan is sy met ’n Shitesaver na sy skytplek en sy’t dit kom inruil en vir hom Staple en water gaan haal.

“Is daai nie Bettina Moeletsi se kleinkind nie?” hoor sy die MecSec sê. Die stywe lap van sy weather gear kraak soos hy nader kom. Noag brom.

“Kyk jý nou na die malle?” vra hy. Sy roer nie.

“Hey, ek praat, meisie. Kyk jý nou na die malle?” “Nee,” sê sy sonder om die dread uit haar mond te haal.

Sy het genoeg om na te kyk. Die sade, die hond, haarself. Dis dié dat sy vir Wakinyan moet kry: vir hom is sy nie net ’n flippieng oppasser nie.

“Next,” roep die MecRep agter die venster. “Gasnumber?” “One-three-five-eight-eight-nine-five-eight,” antwoord Amper. Sy stoot die vol Shitesavers onderdeur die tralie op die skaal. “850 grams,” sê die man.

“Can I have five Shitesavers,” sê sy.

“That’s worth a 100 grams.” Hy wys na ’n plank bo die venster: Cheaper to number two at a

Meconium loo.

“Yes. I want five Shitesavers.”

Hy tel haar koeponne af en gee dit saam met die Shitesavers aan.

“Standaardpakket?” vra die vrou agter die Supplies-venster toe Amper die koeponne, ’n bakkie en leë bottels ingee.

“Nee. Nie gas nie. Een porsie Staple-Protein mix. Helfte van die orige vir water en helfte vir hempklompe.”

Toe die bakkie kos, een liter water en een hempklomp voor haar op die toonbank lê, skrik sy. Sy’t vergeet hoe duur die klompe is.

113 “Hoeveel kred oor op die ... family account?” vra Amper. “75 Biogrands.”

“Nog water en hempklompe. Asseblief.” “Vir die hele lot?”

Amper knik.

“Wag.” Die vrou loop uit die hokkie en skree iets na agter.

Amper kou aan haar duimnael. Die laaste van haar LeegSkyt-erfporsie daarmee heen. Die vrou kom terug met ’n houer vol hempklompe. Sy kry nog drie daarvan en drie liter water.

Amper loop ompad terug winkel toe. Voor die tentedorp se ingang kry Noag ’n ruik en begin rondspring.

“Wat is dit, hond?” ’n Dassie wat gehou word vir die MecSecs se diepslaaptyd? Sy loop vinniger. By die koorsboomlaning maak sy vir Noag aan die tyreswaai vas. Sy kyk op na Jafta Holdings en Dealings se tweede verdieping. Die gordyne is toe – Mev. Jafta het seker haar porsie uitloerdery vir die dag ingekry. Sy klim teen die hoogste van twee peperbome in die hoek van die erf op en gaan sit in die skadu van ’n paar steeks blare. Die humanureland en die hempland lyk naby. ’n Ent verder loop ’n groen skeur bergop na die dunblou lug. Daar waai haar ouma tussen die aalwyne en die bergsoutseepbos. Amper moes die as op die humanureland gaan gooi – oor dit te gevaarlik is om alleen berg op te loop. Maar sy kon nie. Vir vier maande het die Mayonnaise-bottel langs die music box in die winkel gestaan. Totdat sy dit een laatmiddag in ’n mik in die boom kom vasmaak het. Uit hierdie selfde boom het sy gesien hoe Wakinyan hom aan die koorsbome verkyk. Hy’t gevra of sy weet van blyplek en sy’t soos ’n mal mens gesê hy kan op die futon in die winkel kom slaap. Vir twee weke lank het sy die deur en hek na die slaapkamer agter in die winkel gesluit. Op die Saterdag van die tweede week is hy saam met haar teen die berg op en sy’t nie eers haar fluitjie en darts saamgeneem nie. Dit was die eerste dag wat hy haar teen hom vasgedruk het. Sy kon eers nie die reuk in sy nek plaas nie – dit was soveel anders as die geure in haar houertjies. Sy’t hom gewys hoe om die stof met seepbos van jou lyf af te skrop en dan met aalwynblaar jou vel in te smeer. Hy het drie aalwynkoppe gepluk en toertjies daarmee gedoen wat hy in die sirkus geleer het. Sy wou nie hê hulle moet te veel pluk nie, maar hy was so opgewonde en het ekstra blare saam met die parfuumbottel in sy rugsak gebêre. Amper het die storie van die Kanniedoodaalwyn vertel terwyl sy haar ouma se as gestrooi het en hy het haar weer vasgehou. Die aand het sy hom op haar ouma se bed laat slaap. Dit was snaaks en hartseer. ’n Man in haar ouma se bed. Haar ouma se reuk flouer as vantevore. Sy het die langwerpige pilhouer onder haar kopkussing

114

uitgehaal en dit vir hom gewys en laat ruik. Twee rye van sewe vierkante. M, T, W, T, F, S, S. Veertien dae waarin haar ouma parfuum of plantolies in ’n mengsel van vaseline en was ingelê het.

“Vir Ampertjie Stampertjie met die neus van ’n mol. Vir Amperlekamper wie se verneuklonge saam met die grootstof hol.”

Amper besef dat sy haar ouma se rympie hardop gesê het. Noag blaf vir haar.

Wakinyan kon niks in die pilhouer ruik nie. Hy’t gesê sy verbeel haar. Hoe verduidelik jy vir ’n stofneus hoe skoon asem en die wêreld anderkant die stof ruik? Sy was vies vir hom. Behalwe vir die boek met saadstories was dit haar kosbaarste besitting. Die volgende oggend het sy daarvan vergeet: sy gesig was oor haar gebuk en hy’t ritmes in haar nek geblaas. Mensasem. Onharde swart hare op haar voorkop.

***

Amper sak teen die hangkas af. Die nag is besig om stof op te tel. Die lig tussen haar voorkop en die houtrenoster langs die wiegstoel is korrelrig.

Vyf pakkies dooigoed in die mannekyn.

Die swart polonek en geel jas lê langs die pop en agter die ritssluiter op haar rug is net vyf pakkies dooigoed. Daar was twaalf – Amper is byna seker. Die dooigoed is nie die ergste nie – dis die oorblysaad waarmee haar ouma vir Sias Smous betaal het.

Die boek met saadstories is weg.

Sy was die hele nag besig met wegsteek en inpak. Sy het die goed in die pop vir laaste gelos. Dit sou die maklikste wees.

“Etter, Noag. Hoe nou? Om sonder die boek hier te moet weg.”

Die donnerse saadboek wat moes sorg dat die sade vrugbaar bly. Die hond is al om haar. Hy weet iets is fout. Sy hol kamer toe, stamp teen die rak met radio’s en platespelers – iets neuk af – maar haal die oop Shitesaver langs die bed. Die vroegaand-Staple ruk deur haar lyf. Dan die water en die ingelegde froetangs wat Mev. Jafta hier aangebring het. Noag kom ruik aan die kots. Met Januarie se LeegSkyt- kiem het sy begin opgooi wanneer haar keel huiltrek. Van toe af is Noag nie meer ’n watse trooster nie. Agter sy nek trek sy die velle saam en stryk dit uit.

“Ja, hond. Jou ounooi is weg. Wakinyan is weg. Die saadboek is weg. Jy’s oud maar jy bly. Wat ons iets terugkry ... Ek weet nie.”

115

Sy gooi haar koplig op die muur agter die twee beddens. Daar is lyste van diere en plante wat haar ouma bang was hulle sou vergeet. In die een hoek is Amper se lengtes tussen vyf en tien jaar oud ingestreep. In die ander hoek, agter haar ouma se bed, is die doodsbesoeke met kruisies langs jaartalle aangedui. Vir Wakinyan het sy gesê dit was familielede en vriende. Dit was die kere van die eenskootsaad. Amper gaan op haar knieë nader. Laas in 2075. Ses jaar laas wat ’n saadsoeker op hulle spoor was. Nou’s haar ouma nog nie ses maande weg nie en hoeveel is reeds onder haar uit? Dis toeval. Moet wees. Als wat gelyk soek is. Is Wakinyan deur saadsoekers ontvoer? Het hulle die saad kom soek en hom gekry? Dalk aan Meconium se diversiteitsentrum uitgelewer? Mev. Jafta sê dis die naaste ding aan ’n sirkus wat die Hardskip oorleef het, en Wakinyan het gesê hy gaan nooit terug sirkus toe nie. Plaas sy hom van die saad vertel het – dan het hy ten minste geweet waarvoor hy hom inlaat deur in die winkel te bly. Noag grom. Voetstappe voor die winkel verby. Sy moet opskud. Die oggend is naby as die MecSec sy rondtes doen. Sy kyk weer na die lysie wat Mevrou Jafta gebring het. Sy’t als gedoen en gepak. In die lessenaar se laaie begin sy krap vir flenters papier en druk dit saam met ’n potlood in ’n plastiekhouer wat sy raakvat. Sy prop dit in haar rugsak.

“Kom, hond,” sê sy en sluit die kamerdeur agter hulle.

Op die Welkom-matjie staan Amper en wag vir Sias Smous se toete. Sy kyk om na die winkel. Die vroegoggendlig is yl deur die donderstof en als lyk meer antiek as wat dit is. Die meubels, die bordspeletjies en beeldjies en juwele, die 2030-platespeler wat stukkend op die futon lê, die versameling fone en oorfone. Noag blaf en volg elke beweging. Hy’s bang sy los hom. Sy buk, vryf sy ore en skuur haar neus teen syne.

“Ons sê vir eers baai vir jou ounooi se kierangkak. Niks hier hoef meer te kierang nie.”

Die saad is nie meer in die plastiekbaba se oë nie. Die konsertina se knoppies is leeg. Ook die Coke- doppies wat vir motorwiele op ’n skildery vasgeplak was. Die papierwerk van die pop-up boek oor insekte waaraan Wakinyan hom verkyk het. En die sleutelbord van ’n rekenaar waarop haar ouma gesê het ’n halwe leeftyd se gedagtes fossiele geword het.

Twee toete. Amper skuif die duikbril oor haar oë en neus voor sy die deur oopmaak. Sias beduie dat sy Noag agterop die bakkie moet tel. Tussen die donker lense van sy bril bult sy neus soos ’n uitdaging aan die stof. Sweerlik nuwe Mec-tech in sy neusgate. Sias maak die metaalboks waarin hy diere vervoer oop, maar wanneer Noag bo-op kom, mik hy vir die hoek by die drywerkant. Hy blaf. Hy grom. Hy krap met sy voorpote op die bak se vloer.

116 “Kry jou hond stil,” sê Sias. “Of hy bly.”

Amper klim agterop, kry die basterbassett beet en dwing hom op haar skoot. Sy oë is aan’t agteruit gaan, maar daar’s nie fout met sy neus nie. Sal sy oorgeërfde geheue weet watter diertjie Sias smokkel? Sias hou die hokdeur oop terwyl sy Noag indwing. Hy spin in die rondte en wanneer die deur toeklap, tjank hy. Eers wanneer Amper deur die gaasvenster loer, sien sy ’n stuk van een bruin oor sit in die deur vas.

“Etter!” Sy gryp oop en trek hom aan sy pote uit. “Sorry, hond,” sê sy en vryf haar wang teen sy kop. Sy sweer dit: Saam met die stof kom neuk haar ouma se as vandag hier rond. Oor sy nie ’n oppasser se gat werd is nie.

“Jafta wag,” sê Sias.

Nog een keer kyk Amper om. Kierang Collectibles. Vir sestien jaar lank was sy elke dag meestal net in die winkel, behalwe vir ’n trip na Meshitium, die kliniek, en in die laaste jare die Community Centre en die lande. ’n Bolling in haar derms wil nie weggaan nie, maar blý sit ook nie meer reg in haar lyf nie. “Dooigoed,” sê Sias toe sy inklim. “Upfront payment.”

Dooigoed. Kodewoord. Sy haal die sade wat hy gevra het uit haar rugsak. Haar ouma het nooit die nederset se mense met saad betaal nie, maar sy het by Sias se diskreetheid gestaan. Hy maak die koevert oop. Daar’s kosbare goed.

“Dalk groei dit,” sê Amper.

“Die kopers verstaan dit so,” sê hy.

“Hoe’t jy met Jafta deurmekaar geraak?” vra hy terwyl hy die sleutel draai.

“Na my ouma se dood het sy by die winkel begin omkom. Iets gekoop, iets neergesit. Wat ek by die kliniek vra of ’n vriend opgeneem is, was sy daar.”

“En toe offer sy om jou te help om die vriend te kry?” Amper knik.

“Wat’s haar agenda?”

“Sy sê sy wil weet wat met haar voorkindseun gebeur het en die antwoord moet iewers rondom Meconium lê.”

“As oppasser en chaperone het nie een van julle veel street cred nie.”