• No results found

JAAR PERSENTASIE PAAIE IN ‘N GOEIE TOESTAND

1988 75%

1999 33%

2008 8%

Bron: Landbou.com

Weens die verswakking in die toestand van die paaie het die vervoerkoste van produkte vanaf die plaas na die silo verhoog as gevolg van verhoogde herstelkoste aan trekkers, waens en vragmotors (Southfood, 2010; Agri SA, 2010: mediaverklaring).

1.3 HUIDIGE SITUASIE

Bogenoemde veranderinge wat die sluiting van die Mielieraad, die omskakeling van die landbou-koöperasies na maatskappye, die verdeling van die landbou-maatskappye se winste deur middel van dividende, en die verswakking van die padnetwerk insluit, het ‘n omgewing geskep waar opberging op plase ‘n bedryfsrealiteit geword het. Volgens die nuutste opname van SIQ (2011) ten opsigte van opbergingskapasiteit in Suid-Afrika, verteenwoordig die opbergingskapasiteit op plase 9% van die totale opbergingskapasiteit in 2011 soos aangetoon in Figure 1a en 1b.

FIGUUR 1a: Besit van opbergingskapasiteit in1996 FIGUUR 1b: Besit van opbergingskapasiteit in 2011

Volgens Genis (2012) kan sinksilo’s, silosakke en graandamme gebruik word om mielies op die plaas op te berg.

1.4 PROBLEEMSTELLING

Soos bespreek in 1.3 kan produsente binne die vryemarkomgewing self hulle graan op plase opberg. Die oprigting en gebruik van opbergingsfasiliteite op plase gaan volgens Dhuyvetter (2007: 4-6) gepaard met bykomende kapitale investering en addisionele bedryfskapitaal. Internasionale studies deur Dhuyvetter (2007) en Sekumade & Akinleye (2009) het die effek van die opbergingsmetodes op die aanwending van boerderye se kapitaal evalueer deur van landbou-ekonomiese modelle gebruik te maak.

Ten einde goedere of produkte suksesvol te produseer is vier elemente, naamlik natuurlike hulpbronne (grond), arbeid, kapitaal en ‘n ondernemer nodig (Business Dictonary, 2012: aanlyn). Terwyl die keuse van opbergingsmetode nie die grond

beïnvloed nie, kan dit wel die hoeveelheid arbeiders wat benodig word en die insette van die ondernemer, beïnvloed. Weens die kapitale verpligting wat met sommige opbergingsmetodes soos aangetoon deur Dhuyvetter (2007) gepaard gaan, kan die keuse van opbergingsmetode moontlik die aanwending van kapitaal beïnvloed. Volgens BFAP (2012: 16-17) het die Suid-Afrikaanse landboubedryf ‘n skuldlasverhouding van 32%. Dit beteken dat gemiddeld 32% van ‘n boerdery se bates met vreemde kapitaal gefinansieer word. Dit is daarom belangrik dat die kapitaal so effektief moontlik aangewend word sodat die opbrengs op kapitaal hoër is as die koste van die vreemde kapitaal. Boere se eie kapitaal kan ook buite die boerdery belê word met die gevolg dat kapitaal wat binne die boerdery aangewend word, so aangewend word dat dit hoër opbrengste realiseer as wat buite die landbou verkry kan word.

Volgens Boehlje & Ehmke (2005: 1) is dit uiters belangrik dat kapitale investeringsbesluite sorgvuldig en deeglik gemaak moet word aangesien dit gewoonlik die spandering van groot bedrae geld behels wat die boerdery se prestasie oor ‘n lang periode van ‘n paar jaar kan beïnvloed. Besluite ten opsigte van kapitale spandering moet daarom op ‘n deeglike ontleding van al die alternatiewe en hulle bydrae tot die totale besigheid se volhoubaarheid en winsgewendheid (Boehlje & Ehmke, 2005: 1) gebaseer word.

Behalwe vir die keuse tussen kommersiële silo’s en plaasopberging moet daar ook tussen die verskillende metodes waarvolgens mielies op die plaas opgeberg word, gekies word as die mielies op die plaas opgeberg word. Soos aangetoon deur Dhyuvetter (2007) kan die oprigting van opbergingstrukture ‘n wesenlike kapitale investering verg en kan dit volgens Boehlje & Ehmke (2005) se beskrywing van kapitale uitgawes ‘n invloed op die boerdery se prestasie oor die langtermyn hê. Die keuse van opbergingsmetode moet daarom sorgvuldig oorweeg word en op deeglike ontledings baseer word. Die aspekte wat moontlik die effek van die verskillende opbergingsmetodes op die effektiewe aanwending van ‘n boerdery se kapitaal kan beïnvloed behoort in ag geneem te word as bogenoemde ontledings gedoen word. Tans bestaan daar nie ‘n geheelplaasbeplanningsmodel wat in Suid-Afrikaanse toestande gebruik kan word om al

die aspekte te integreer wat nodig is om die effek van die verskillende opbergingsmetodes op die aanwending van ‘n boerdery se kapitaal te evalueer en te vergelyk nie. Die effek van die verskillende opbergingsmetodes op die aanwending van ‘n boerdery se kapitaal onder Suid-Afrikaanse toestande is nog nie op ‘n ekonomies- wetenskaplike basis evalueer en vergelyk nie.

1.5 DOEL VAN DIE STUDIE

Die doel van die studie is om die effek wat verskillende opbergingsmetodes op die aanwending van die kapitaal binne ‘n mielieboerdery in Suid-Afrika kan hê, te evalueer deur op die volgende doelwitte te fokus:

1. Die ontwikkeling van ‘n geheelplaasbeplanningsmodel wat gebruik kan word om die effek van verskillende opbergingsmetodes op die aanwending van ‘n mielieboerdery se kapitaal te evalueer.

2. Die gebruik van bogenoemde geheelplaasbeplanningsmodel om die effek van die verskillende opbergingsmetode op die gebruik van die boerdery se kapitaal te evalueer.

Die studie bestaan uit die volgende hoofstukke soos aangetoon in 1.6.

1.6 HOOFSTUKUITEENSETTING

Die hoofstukverdeling binne die studie is soos volg:

 Hoofstuk 2: Literatuurstudie  Hoofstuk 3: Navorsingsontwerp  Hoofstuk 4: Resultate

 Hoofstuk 5: Gevolgtrekking en aanbevelings

Die aspekte wat in die studie ondersoek word en die aspekte wat moontlik die studie kan beïnvloed, word in die volgende hoofstuk bespreek.

HOOFSTUK 2 LITERATUURSTUDIE

In die hoofstuk word daar gefokus op die aspekte wat die opberging van mielies beïnvloed en op die verskillende opbergingsmetodes wat gebruik word om mielies op te berg. Die komponente wat deel vorm van ‘n geheelplaasbeplanningsmodel sal ook in die hoofstuk bespreek word.

2.1 GRAANBESTUUR

Doeltreffende graanbestuur behels die onderhoud van toerusting en strukture, die bepaling van die graan se vog tydens inname, die handhawing van higiënestandaarde binne die opbergingstrukture en die deurlopende monitering van graan binne opbergingstrukture (Van Aswegen, 2012). Goeie graanbestuur is nodig ten einde die kwaliteit en kwantiteit van opgebergde graan te verseker (Geldenhuys, 2012). Ten einde goeie graanbestuur te verseker, moet die opbergingstrukture volgens Andrews (1996) aan die volgende vereistes voldoen:

 Dit moet die graan kan binnehou.

 Dit moet waterdig wees en die graan drooghou.  Dit moet insekte en plaagdiere kan uithou.  Dit moet die beheer van insekte vergemaklik.  Dit moet die in- en uitlaai van graan vergemaklik.

Die instandhouding van bogenoemde strukture en toerusting is volgens Van den Berg (2007) belangrik ten einde te verseker dat die strukture water- en lugdig is en opbergingstrukture en toerusting in ‘n goeie toestand is. Opbergingstrukture moet waterdig wees aangesien muf kan onstaan as water deurgelaat word (Van den Berg, 2007). ‘n Lugdigte struktuur is belangrik omdat dit die doeltreffendheid van beroking beïnvloed (Rher, 2004). Die gereelde skoonmaak van toerusting soos awegaars, bakkieshysers, graanbakke, vervoerbande en suigblaasmasjiene asook die terrein, is nodig ten einde goeie skuurhigiëne te verseker (Suidwes a, 2012). Die toepassing van goeie higiënepraktyke binne die opbergingstrukture beperk die moontlike ontwikkeling van insekte en moet deurlopend toegepas word (MKB, 2004).

2.2 FAKTORE WAT OPBERGING BEÏNVLOED

Vog en temperatuur is die belangrikste omgewingsfaktore wat die veilige bewaring van