• No results found

1.1 INLEIDING

Mielies is Suid-Afrika se stapelvoedsel en 12 miljoen ton mielies word jaarliks verbruik (Graan Suid-Afrika 2012: aanlyn). Aangesien mielies seisoenaal geproduseer word, maar regdeur die jaar gebruik word, ontstaan die behoefte om mielies op te berg nadat dit gestroop is. Volgens Louw, A., Geyser, M., Troskie, G., Van der Merwe, M., Sceltema, N. & Nicholson, N. (2010: 81) vorm die hantering en opberging van mielies ‘n integrale deel van die totale mieliewaardeketting.

Die Suid-Afrikaanse Landboubedryf het oor die afgelope vyftien jaar wesenlike veranderinge ondergaan (Louw et al, 2010: 24). Hierdie veranderinge het ook binne die mieliebedryf en spesifiek die opbergingsomgewing plaasgevind (Suidwes Koöperasie, 1995: 4). Die belangrikste veranderinge in die graanhantering- en opbergingsbedryf sal in die hoofstuk bespreek word.

1.2 VERANDERINGE IN DIE GRAANOPBERGINGSOMGEWING

1.2.1 DIE UITFASERING VAN DIE EENKANAALBEMARKING-

STELSEL

Een van die belangrikste veranderinge hou verband met die sluiting van die beheerrade en die infasering van die vryemarkstelsel (Suidwes Koöperasie, 1995: 5). Die eenkanaalbemarkingstelsel is gedurende die 1944/45 seisoen implementeer en was tot en met die Mielieraad se sluiting in 1996 van krag (Liversage, 2003: 1). Die Mielieraad het gedurende die periode ‘n baie belangrike rol binne die mieliebedryf vervul en was ondermeer verantwoordelik vir die koop en verspreiding van mielies in Suid-Afrika, die hantering van in- en uitvoere, die bestuur van markinlingting, die doen van navorsing en die hantering van kwaliteitskontrole (Mielieraad, 1987: 134-147).

Landbou-koöperasies in die mielieproduserende gebiede van Suid-Afrika het as agente vir die Mielieraad opgetree. Die landbou-koöperasies het mielies namens die Mielieraad

by produsente gekoop, en die mielies vir die Mielieraad hanteer en opgeberg (Mielieraad, 1987: 38). Die agente se vergoeding het uit ‘n kapasiteits- en hanteringsfooi bestaan. Die kapasiteitsfooi is op die totale kapasiteit van die agent se silo’s baseer en die hanteringsfooi op die hoeveelheid mielies wat binne ‘n betrokke seisoen hanteer is (Oldewage, 2011: perssonlike mededeling). Die koöperasies kon ook gebruik maak van die Landbank se Silofinansieringskema om silo’s te bou (Joubert, 2010: persoonlike mededeling). Die siloboukomitee wat saamgestel was uit verteenwoordigers van verskeie rolspelers, soos die Departement van Landbou en die beheerrade, het onafhanklik opgetree en was verantwoordelik om te besluit waar nuwe silo’s opgerig moet word en hoe groot die komplekse moes wees (Louw, 2011: persoonlike mededeling).

Met die implementering van ‘n vryemarkstelsel vir landbou-kommoditeite tussen 1996 en 1998 is beheerrade soos die Mielieraad, die Koringraad, Suiwelraad en Vleisraad gesluit (Nasionale Bemarkingsraad 2004: 172, 158, 200). Produsente kan binne die vryemarkstelsel mielies direk aan eindverbruikers soos meulenaars en voerkrale verkoop (Murray, 2011: persoonlike mededeling).

Terwyl mielies gedurende die era van die eenkanaalbemarkingstelsel slegs deur die Landbou-koöperasies vir die Mielieraad opgeberg is, kan enige persoon of instansie tans mielies binne die vryemarkstelsel in Suid-Afrika ontvang, hanteer en opberg. Geen statutêre of bedryfsliggaam bepaal tans waar opbergingsfasiliteite opgerig moet word nie en produsente word nie meer verplig om mielies by die naaste silo van ‘n koöperasie/landboubesigheid te lewer nie (GOSA, 2004: 7). Produsente kan mielies ingevolge die nuwe bemarkingstelsel op plase opberg.

Tans vind die hantering en opberging van graan in Suid-Afrika binne die bepalings van die gemenereg plaas en nie volgens die bepalings van ‘n spesifieke Wet soos byvoorbeeld Zambië se Warehouse Receipts Act nie (Murray, 2011: persoonlike mededeling). Die Suid-Afrikaanse graanhantering- en opbergingsbedryf is egter nie uitgesluit van wetgewing nie. Behalwe vir die gemenereg beïnvloed verskeie ander wette soos die Wet op Landbouprodukstandaarde, (Wet 119 van 1990), die Wet op Voedingsmiddels,

Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels (Wet 54 van 1972), die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landboumiddels en Veemiddels, (Wet 36 van 1947), die Occupational Health and Safety Act, (Wet 85 van 1983), en die Wet op Handelsmetrologie, (Wet 77 van 1973) die hantering en opberging van graan in Suid-Afrika (GSI 2011). Die Mededingingswet (Wet 89 van 1998) beïnvloed ook die graanbedryfsomgewing in Suid-Afrika aangesien landboubesighede volgens die bepalings van die Wet dominant kan wees en tariewe volgens bepaalde riglyne moet vasstel (Linde, 2011).

Behalwe vir die bepalings van bostaande Wetgewing word die Suid-Afrikaanse Graanhantering- en opbergingsomgewing ook beïnvloed deur die toepassing van voedselkwaliteitstelsels soos HACCAP en die bepalings en vereistes van Safex. Die voldoening aan die vereistes van HACCAP is noodsaaklik ten einde graan te kan uitvoer (Van Heerden, 2011).

Safex is ‘n divisie van die Johannesburgse Effektebeurs en dien as platform waar produsente en eindverbruikers hul risiko ten opsigte van veranderende pryse kan bestuur (Sturgess, 2011).

Alhoewel slegs twee persent van die graan wat op Safex verhandel, op Safex gelewer word, is ‘n stelsel gevestig waar silo’s regoor die land as leweringspunte vir Safex geregistreer is (Sturgess, 2011). Ten einde as Safex-silo geregistreer te word, moet daar aan bepaalde vereistes ten opsigte van die strukture en die bestuur van die voorraad voldoen word (Safex, 2011).

1.2.2 OMSKAKELING VAN KOöPERASIES NA MAATSKAPPYE

Die tweede belangrike verandering wat plaasgevind het, hou verband met die besigheidsvorm van landbou-koöperasies. Soos reeds genoem, het koöperasies as agente vir die Mielieraad opgetree. ‘n Gedeelte van die koöperasie se wins is jaarliks deur middel van ledefondse na produsente verdeel. Die verdeling was gebaseer op die volume besigheid wat die produsent met die koöperasie gedoen het. Indien die lid sy boerderybedrywighede gestaak het, is die fondse aan die produsent uitbetaal (Van Graan,

1976: 54). Na 1996 het die groot mielie-koöperasies soos die Oos-Transvaalse Koöperasie, die Sentraal-Westelike Koöperasie, Noord-Wes Koöperasie en die Suid- Westelike Transvaalse Landbou-Koöperasie hulle besigheidsvorm verander en maatskappye geword. Die landbou-maatskappye verdeel tans hul wins deur middel van dividende aan aandeelhouers. Die winsverdeling word baseer op die aandeelhouding wat die aandeelhouer het en produsente word nie meer direk vergoed vir die besigheid wat hulle met die landboubesigheid doen nie (Smit, 2012). Produsente se besluit om graan by die landboubesigheid te lewer, berus nou grootliks op die mededingendheid van die landboubesigheid se tariewe en die waarde wat die landboubesigheid kan toevoeg (Van Heerden, 2005).

Die vervoer van mielies tussen die plaas en die silo is ‘n belangrike komponent van die produksieproses en word deur die toestand van die padnetwerk beïnvloed. Die effek en invloed van die padnetwerk se toestand word vervolgens bespreek.

1.2.3 DIE VERSWAKKING VAN DIE PADNETWERK

Die toestand van die Suid-Afrikaanse padnetwerk het oor die afgelope twee dekades tussen 1988 en 2008 dramaties verswak soos aangetoon in Tabel 1 (Landbou.com, 2011: aanlyn).