• No results found

HOOFSTUK III LAAT-ADOLESSENSIE EN TOEKOMSVERWAGTINGE

3.6 Sosiale ontwikkeling

Van die basiese behoeftes van die adolessent is om te behoort aan iets of iemand, asook aan liefde, respek en selfwaarde. Daarsonder ervaar hy angs, gaan gebuk onder gevoelens van onsekerheid, onveiligheid, eensaamheid en verstotenheid, voel ankerloos en geïsoleerd, verworpe en ongeliefd, onwaardig, gaan gebuk onder verlammende gevoelens van diepe waardeloosheid en minderwaardigheid (Baumeister & Leary, 1995; Maslow, 1967). Al bogenoemde vind plaas in die wedersydse wisselwerking tussen die adolessent en sy sosiale konteks.

Die status wat die adolessent in sy omgewing, veral die portuurgroep, beklee, asook die status wat sy gesin in die sosiale konteks beklee, is van kernbelang in die vorming van sy sosiale identiteit. Die skool en -aktiwiteite is gevolglik baie belangrik vir die adolessent, nie slegs weens die akademie nie, maar ook omdat dit die geleentheid voorsien om sy plek te vind op sosiale en emosionele gebied, wat uiters belangrik is vir sy toekomstige sosiale funksionering

Sosiale rypheid veronderstel die ontwikkeling na onafhanklikheid en dit word tot ‘n groot mate deur sy fisieke en kognitiewe rypheid bepaal. Omgewingsfaktore soos die sosio- kulturele konteks waarin hy hom bevind, die eienskappe van sy subkultuur (etniese, sosiale en ekonomiese faktore) en die houdings en gedrag van die groter (makrosisteem) samelewing teenoor hierdie subkultuur, die gesinstruktuur en die invloed van die ouers, speel ‘n belangrike rol (Louw et al., 1998).

Die algemene siening dat die invloed van die ouers tydens adolessensie sterk afneem en dat die portuurgroep die ouers se waardes noodwendig onaanvaarbaar vind, is nie noodwendig

korrek nie. Indien ooreenkomste bestaan ten opsigte van sosiale, ekonomiese, religieuse en opvoedkundige kenmerke, sal die waardes van die ouers en die van die portuurgroep grootliks ooreenstem. Adolessente kies eerder gewoonlik vriende wie se waardes ooreenstem met dié van hul ouers. Ouers beklemtoon dikwels gewildheid en sukses en moedig sodoende konformering met die portuurgroep aan, aangesien gewildheid grootliks op groepsaanvaarding berus. Die rol van die portuurgroep is dus eerder aanvullend as in konflik met die behoeftes van die adolessent se ouers. Die portuurgroep sal eerder ‘n groter invloed op die adolessent hê ten opsigte van verhoudinge met die teenoorgestelde geslag en kleredrag. Die ouers se houding en menings ten opsigte van basiese morele en sosiale waardes dra gewoonlik groter gesag as dié van die portuurgroep. Ouers en vriende se belangrikheid en invloed is dus meestal eerder aanvullend as in konflik met mekaar (Heaven, 1994; Louw et

al.,1998).

Uit die navorsing van Thom (1988, 1994), asook Thom, Louw, Van Ede en Ferns (1998) blyk dit dat Suid-Afrikaanse ouers die vriende van hul adolessente kinders oorwegend goedkeur. Hierteenoor keur swart ouers hul adolessente kinders se vriende in ‘n betekenisvolle mate minder goed as wit ouers. Swart moeders keur meer dikwels vriende goed, terwyl die swart vaders hulle seuns se vriende en dogters se vriendinne goedkeur, maar seuns se vriendinne en dogters se vriende afkeur. Swart ouers keur meestal die raad en leiding van hul adolessente kinders se vriende af.

Van Zyl Slabbert et al. (1994) het bevind dat die swart adolessente afkomstig uit benadeelde gemeenskappe nie noodwendig gebukkend gaan onder laer selfwaarde as hul wit eweknieë nie. Swart adolessente kan volgens hulle nie noodwendig as sielkundig benadeel beskou word nie. Die rede hiervoor is waarskynlik dat die adolessente wel tot ‘n mate psigologiese ondersteuning en aanvaarding in hul uitgebreide gesinne en gemeenskappe ervaar, ten spyte van talle ander fisieke tekortkominge. Die aanwesigheid van individue in lae sosio- ekonomiese gemeenskappe wat as positiewe rolmodelle dien en waarmee die adolessente kan identifiseer, word as rede aangevoer waarom sommige adolessente ten spyte van haglike huislike omstandighede tog psigies sterk is (Rutter, 1987; Saleeby, 1997; Werner & Smith, 1982, 1992).

‘n Goed gebalanseerde identiteit en positiewe selfkonsep berus op gesonde, positiewe interpersoonlike verhoudinge met sy ouers, portuurgroepe en gesagsfigure. Dit lei tot verhoogde selfwaarde wat selfvertroue in die hand werk, interne beheer versterk (Kwon, 2000; Seligman, 1975, 1990) en hoopvolle verwagtinge skep (Scheier & Carver, 1987, 1992; Snyder, 2000).

Volgens Snyder (2000) is persone met hoër hoop vriendelik en het gewoonlik goeie verhoudinge met ander mense, beskik oor ‘n goeie humorsin - dikwels ten koste van hulself - en geniet goeie gesondheid. Dit is in teenstelling met Tipe A-persone wat, alhoewel hulle ook hoë waarde aan die najaag van doelstellings heg, dit egter nie geniet nie. Ook is hulle interpersoonlike verhoudinge gewoonlik negatief en vyandig.

Goeie sosiale verhoudinge dien as veiligheidsnetwerk in krisistye en optimistiese persone met hoër hoop maak hiervan gebruik. Hoër hoop lei ook tot verbeterde sport en akademiese prestasies (Snyder et al., 1997). Dit lei weer tot hoër verwagtinge, veral ten opsigte van toekomstige beroeps- en studiemoontlikhede, waar die adolessent in beheer van homself, sy keuses en sy omgewing voel.

3.6.1 Ras en etnisiteit as sosiale prosesse en selfwaarde

Die navorsing van Cooley (1902) en Mead (1934) oor ras en selfwaarde het die weg gebaan vir verdere navorsing. Cooley het die bron van selfwaarde beskou as hoofsaaklik geleë in sosiale prosesse, naamlik die interaksie aanwesig in interpersoonlike verhoudinge. Hy het met sy looking glass-selfkonsep selfwaarde/selfpersepsie beskou as die refleksie van die evaluering van ander. Volgens Mead vorm die individu ‘n beeld van homself uit die terugvoering van ander en reflekteer hierdie beeld weer terug in sy algemene selfbeeld (in Gray-Little & Hafdahl, 2000).

Selfwaarde ten opsigte van ras behels die evaluering van die persoon se eie rassegroep (makrosisteem). Dit is ‘n vorm van kollektiewe waarde - die persepsie van die waarde van die persoon se eie sosiale groep en hoe gunstig dit met ander groepe vergelyk. Eiewaarde ontwikkel binne ‘n sosiale sisteem en gevolglik is die status van die individu en sy groep

belangrike faktore in die ontwikkeling van sy selfkonsep en die gevoel van eiewaarde. Dit is van kernbelang dat die adolessent geborgenheid in die sosiale omgewing waarin hy lewe, ervaar. “Belongingness appears to have multiple and strong effects on emotional patterns and on cognitive processes. Lack of attachments is linked to a variety of ill effects on health, adjustment and well-being…the need to belong is a powerful, fundamental, and extremely pervasive motivation” (Baumeister & Leary, 1995, p. 497).

Navorsing het bewys dat swart adolessente in die VSA, teen vorige aannames en navorsingsbevindinge in, wél ‘n toename in selfwaarde met ouderdom ervaar ná ‘n aanvanklike afname in vroeë adolessensie. Verrassend genoeg is ‘n hoër selfwaarde by swart as by wit adolessente gevind. Daar is ook groter geslagsverskille ten opsigte van selfwaarde tussen wit adolessente seuns en meisies as swart adolessente seuns en meisies aangetoon. Ten opsigte van selfevaluering van liggaamlike voorkoms en aantreklikheid is dit hoër by swart as wit adolessente - wit meisies het ‘n laer evaluasie van hulself in dié opsig getoon. Dit verklaar die laer selfwaarde-tellings vir meisies relatief tot seuns gedurende adolessensie wanneer voorkoms baie belangrik geag word, veral by wit adolessente meisies (Gray-Little & Hafdahl, 2000).

Etnisiteit is meer verwant aan selfwaarde by swart minderheidsgroepe in die VSA as by die wit bevolkingsgroepe. Die feit dat swart adolessente met ouderdom toenemende selfwaarde ervaar, word toegeskryf daaraan dat hulle identifiseer met hul onmiddellike etniese groep, waar hulle baie aanmoediging en ondersteuning ervaar van die uitgebreide familie. Die self word in ontwikkelende gemeenskappe as “...permeable and malleable” beskou en “…the self is often viewed as subject to influence from external forces and the spirit world” (Saleeby, 1997, p. 189).

In navorsing ten opsigte van die Suid-Afrikaanse adolessent se selfwaarde het Amoateng en Kulule-Sabiti (1994) gevind dat swart adolessente (gemiddelde ouderdom 17 jaar en 7 maande) oorwegend en konstant ‘n hoër selfwaarde as wit adolessente toon, ongeag hul gesinstruktuur. Wit adolessente uit gebroke huise het die laagste selfwaarde getoon. Verder het hulle gevind dat die uitgebreide gesinstruktuur onder swart en Asiatiese adolessente die negatiewe gevolge van egskeiding, buffer.

Wit adolessente wie se vaders werkloos was, het die laagste selfwaarde getoon. Moeders se opvoedkundige vlak toon ‘n positiewe verband met adolessente se selfwaarde, ongeag die ras of geslag van die adolessente. Seuns het deurlopend ‘n hoër selfwaarde as dogters getoon, ongeag gesinstruktuur, werkstatus van die vader of moeder se opvoedkundige vlak. Alhoewel dogters van werklose vaders egter ‘n hoër selfwaarde as hul manlike eweknieë getoon het, het die dogters wie se moeders ‘n hoër opleidingspeil bereik het, laer selfwaarde as hul manlike eweknieë getoon.

Hierdie navorsing het egter die diepgaande en verreikende invloed van sosio-ekonomiese en kulturele sisteme waarin adolessente ontwikkel, beklemtoon. Die feit dat die swart adolessent tog die ondersteuning en versorging van sy uitgebreide gesin ervaar, is waarskynlik verantwoordelik daarvoor dat die swart adolessent, ten spyte van swak sosio- ekonomiese omstandighede, nie verlaagde selfwaarde ervaar nie.