• No results found

EKSTERNE FAKTORE WAT ‘N ROL SPEEL IN DIE TOEKOMSVERWAGTINGE VAN DIE SKOOLVERLATER

5.3 Eksterne faktore wat ‘n meer indirekte invloed op toekomsverwagtinge uitoefen (ekso en makrosisteme)

5.3.3 Demografiese gegewens 1 Taal

5.3.3.2 Ras 5.3.4 Geslag en toekomsverwagtinge 5.3.5 Sosio-ekonomiese faktore 5.3.5.1 Misdaad 5.3.6 Gesondheidsprobleme 5.3.6.1 MIV/vigs 5.4 Samevattende gevolgtrekkings

Die doelstellings van hierdie hoofstuk is om‘n duidelike beeld te vorm van die

 eksterne faktore wat ‘n rol in die toekomsverwagtinge van die Suid-Afrikaanse skoolverlater speel, naamlik die mikro-, meso-, ekso- en makrosisteme wat ‘n direkte en

indirekte invloed op die skoolverlater se toekomsverwagtinge uitoefen en

 mate waarin eksterne faktore die vlakke van hoop by die adolessente skoolverlater kan beïnvloed.

Hierdie hoofstuk moet in samehang met Hoofstukke II, III en IV gelees word, aangesien dit as basis hiervan dien en ook om onnodige herhaling te vermy.

5.1 Inleiding

‘n Onderskeid moet getref word tussen die eksterne faktore wat ‘n direkte en indirekte invloed uitoefen op die toekomsverwagtinge van die Suid-Afrikaanse skoolverlater. Soos in Hoofstuk 2.1.3 bespreek is, word die eksterne faktore wat die skoolverlater omsluit vanuit ‘n ekologiese perspektief bestudeer. Gevolglik word die eksterne omgewing van die adolessent/skoolverlater hier ingedeel in die mikrosisteem – wat die gesin as die primêre of kernsisteem behels, die eksosisteem – wat die verhoudings van al die mikrosisteme insluit en wat skool-, sport-, kultuur-, portuurgroepe en beroepsverhoudinge behels, asook die makrosisteem – wat die historiese oorsig van die Suid-Afrikaanse bevolking, huidige politieke faktore, demografiese faktore (ras en geslag), sosio-ekonomiese faktore (onder andere misdaad en studie- en beroepsmoontlikhede) en gesondheidsprobleme (soos MIV/vigs) insluit.

Die omgewingskonteks waarin die adolessent funksioneer, is hoogs bepalend vir risiko- of selfherstelvermoë-prosesse. Aspekte rakende die gesin, buurt, skool en portuurgroep bepaal die sosialiseringsproses van die kind. Wanneer akute en kroniese omgewingstressore aanwesig is (byvoorbeeld uiterste armoede), kan hierdie onderskeie ekologiese sisteme die negatiewe impak op die adolessent buffer of vererger. Die meeste hoë-risiko omgewings word deur die gesinsomstandighede bepaal – gesinsgeweld, geestesafwyking van die ouers en armoede beperk byvoorbeeld die groeimoontlikhede van die adolessent. Dié jeugdiges wat oor selfherstelvermoëns beskik, is dié wat mikro-nisse van ondersteuning met voldoende groeimoontlikhede self skep deur byvoorbeeld interpersoonlike verhoudinge met pro-aktiewe rolmodelle soos ander volwassenes op te soek.

5.2 Faktore wat ‘n meer direkte invloed op toekomsverwagtinge uitoefen (mikro- en mesosisteme)

Dit word algemeen aanvaar dat die gesin ‘n baie belangrike invloed sal uitoefen op die toekomsverwagtinge van die adolessent. Enige verandering wat dus in die gesinstruktuur voorkom, sal gevolglik die toekomsverwagtinge van die adolessent – in hierdie geval die skoolverlater – beïnvloed.

5.2.1 Gesin

Gesinsverbrokkeling is ‘n ernstige probleem in Suid-Afrika – en dit beïnvloed veral die tradisionele uitgebreide swart gesinsisteem. Dit is veral te wyte aan armoede. Weens die ekonomiese beleid van die apartheidsregering het trekarbeid ontstaan. Vaders moes dus noodgedwonge elders werk gaan soek en dit het meestal tot die gesin se verbrokkeling gelei. In ‘n Suid-Afrikaanse verslag (The State of South Africa’s Population Report 2000, 2000) word aangetoon dat: “… poor households are more dependent on state transfers and remittances from family members employed away from home than households not classified as poor. Almost 20% of the income of poor households come from family members who are migrant workers” (p. 10).

Die afwesigheid van die vaderfiguur veroorsaak dikwels ‘n inkorting van dissipline. Adolessente raak meer vatbaar vir anti-sosiale portuurgroepe en bendes se negatiewe invloed, wat weer kan lei tot blootstelling aan drank en dwelms. Straatkinders en ‘n verwante verskynsel – die sogenaamde latchkey children – is ‘n groot bron van kommer in veral stedelike gebiede, waar ouers hul kinders alleen tuis laat sonder enige toesig, aangesien hulle werk óf te onbetrokke is om om te gee. Navorsing het aangedui dat ‘n derde van Gauteng, en ongeveer die helfte van Soweto, se kinders in hierdie kategorie val (Van Zyl et al., 1994). Die gebrek aan ontspanningsgeriewe en sportfasiliteite in arm gemeenskappe werk verveeldheid, doelloosheid, verslawingstoestande en misdaad onder adolessente en jong volwassenes in die hand.

Baie Suid-Afrikaanse kinders woon nie by hul ouers nie. Volgens die 1996-sensusopname is daar in Suid-Afrika 99 000 huishoudings waar die hoof van die gesin kinders tussen die ouderdomme van 10 en 17 jaar is. Volgens die 2001-sensusopname is daar by ongeveer 3% van alle huishoudings kinders (tussen 12-18 jaar) aan die hoof van die gesin (South African Survey 2002/2003). Volgens Statistieke Suid-Afrika se Oktober 1995 huishoudelike opname het meer as die helfte van Suid-Afrika se kinders nie by albei hul ouers gewoon nie – 12% van die kinders het nie by een van hul ouers gewoon nie, 42% was woonagtig by hul moeders en net 1% by hul vaders. Swart kinders het in teenstelling met die ander bevolkingsgroepe meestal nie by een van die ouers gewoon nie óf slegs by een ouer.

Die afbreek van die gesinstruktuur in Suid-Afrika sal nog verder deur MIV/vigs vererger word – na raming sal daar 900 000 weeskinders in 2005 as gevolg van dié siekte wees. UNAIDS se vooruitskatting is dat daar teen 2010 as gevolg van MIV/vigs tussen 3.5 en 4.8 miljoen weeskinders onder die ouderdom van 15 jaar in Suid-Afrika sal wees (Fast Facts, 1999, no. 11).

Meer en meer kinders word tans in enkelouergesinne groot vanweë die hoë voorkoms van egskeidings in die land. Meer as 46 000 minderjarige kinders word elke jaar deur nuwe egskeidings geraak (Benghiat, 2001). Navorsing dui aan dat kinders ná ‘n egskeiding probleme ondervind met verlaagde selfbeeld en lewenskwaliteit, verlaagde skoolprestasie en laer verdere kwalifikasies. Hulle tree ook vroeër tot die arbeidswêreld toe en toon verhoogde risiko vir die ontwikkeling van depressie en alkohol-afhanklikheid later in hulle lewens (Hage & Nosanow, 2000).

Vroeë verlies deur die dood van ‘n moeder word weer verbind met ernstige volwasse depressie, terwyl jong seuns ernstig benadeel word deur die verlies van ‘n ouer – ongeag of dit die vader of moeder is (Miars, 2000; Mireault & Bond, 1992; Finkelstein, 1988). Verstedeliking, werkskaarste en werksdruk veroorsaak bykomend dat die gesinsbelange noodwendig op die agtergrond gedruk moet word om te oorleef. Petersen (2000) beskryf dit soos volg:

The breakdown of important social groups, especially the family has created more stress on young people and has frequently left them without socializing and supportive guidance as well as without parents or other adults who love and care for them. The now legion cases of angry, destructive adolescents who were neglected or abused as children provide stark testimony to the costs of our failures as adults and the failings of the ‘advanced technological societies’ we have created (p. 297).

Verskeie navorsingstudies het bevind dat moeders se opvoedkundige vlak hul dogters se akademiese aspirasies bepaal (Sherwood-Hawes, 2000). Jacobson en Crockett (2000) het gevind dat ouerlike betrokkenheid (raadgewing en toesig) ‘n beduidende rol in adolessente van albei geslagte se psigo-sosiale aanpassing speel. Effektiewe, warm ouerlike raadgewing/monitoring (eerder as direkte toesig) blyk volgens dié outeurs ‘n meer effektiewe buffer teen

probleemgedrag en mislukking op skoolgebied by jonger tienermeisies en ouer tienerseuns te wees. Hoë-risiko omgewings vereis strenger ouerlike opvoeding en beheer ten einde sosiaal goed aangepaste kinders te hê. Ouerlike betrokkenheid en skakeling tussen die skool en ouers word ook in verband gebring met beter akademiese prestasies by kinders en adolessente (Masten & Coatsworth, 1998).

Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat, aangesien die gesin dié belangrikste en eerste skakel van eksterne faktore en interpersoonlike verhoudinge is, al bogenoemde faktore uiters onrusbarend ten opsigte van die geestesgesondheid van die Suid-Afrikaanse kind is. Die erodering van die gesin lei tot psigo-sosiale onsekerheid by die adolessent – wat wyd kring en lewenslange gevolge kan inhou. Die gesin is van kernbelang vir die adolessent se vorming van ‘n sosiale identiteit, selfwaarde en die beskerming teen risiko faktore en –prosesse. Die kind wat sonder die ondersteuning en sekuriteit van sy gesin oor die weg moet kom, word van hierdie primêre en lewensbelangrike psigiese kragbron beroof. Hieruit kan dus die aanname gemaak word dat die gesin ‘n baie belangrike rol speel in die vorming van die adolessent se toekomsverwagtinge.