• No results found

EKSTERNE FAKTORE WAT ‘N ROL SPEEL IN DIE TOEKOMSVERWAGTINGE VAN DIE SKOOLVERLATER

5.3 Eksterne faktore wat ‘n meer indirekte invloed op toekomsverwagtinge uitoefen (ekso en makrosisteme)

5.3.1 Historiese oorsig van die Suid-Afrikaanse bevolking

5.3.1.1 Historiese agtergrond van swart adolessente

Gedurende die koloniale tydperk is die inheemse volke van Suid-Afrika van hul grond (wat hulle vir eie lewensonderhoud benut het) ontneem. Wit mense het die swart inheemse bevolking aan gedwonge arbeidspatrone onderwerp, aangesien daar ‘n groeiende behoefte aan goedkoop swart arbeid ontstaan het. Die eerste bloed tussen Khoisan en kolonis het aan die Weskus by die Oude Post se fort gevloei toe inboorlinge die sersant in bevel en nog drie ander wit soldate vermoor het nadat hulle onder die voorwendsel dat hulle vee wou ruil na die pos gekom het (Behm & Walters, 1998).

Hierdie patroon van wedersydse wantroue het oor die jare verdiep en is vandag nog aanwesig in die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse gemeenskap voor 1948 is gekenmerk deur die ontmagtiging van swart mense deur wit mense deur van verskillende metodes soos oorloë en inperkende wette gebruik te maak. Dit het meegebring dat die status van swart mense in hierdie tyd vergelyk kon word met ‘n besitlose werker of bywoner op ‘n plaas.

Met verloop van tyd was die Suid-Afrikaanse bevolking – en veral die wit regering - bewus van die sogenaamde naturelle vraagstuk wat opgelos moes word. Die Nasionale Party het dié probleem gebruik om die verkiesing in sy guns te beklink deur sy voorstel van apartheid as oplossing. Kort na die Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, het die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 verseker dat alle landsburgers voortaan volgens ras geklassifiseer sou word. Terwyl die klem in die res van die wêreld na aanleiding van die Tweede Wêreldoorlog en veral Nazi-rassisme toenemend op die gelykberegtiging van alle rasse geval het, het die Nasionale Party met verloop van tyd ‘n beleid geïmplementeer wat juis klem op rasseverskille en -skeiding geplaas het (Pretorius, 2001).

Wette soos die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike (Wet 55 van 1949), die Bevolkingsregistrasiewet (Wet 39 van 1950), die Groepsgebiedewet (Wet 41 van 1950) en die

Bantoe-Onderwyswet (Wet 47 van 1953) het met verloop van tyd miljoene mense wat nie as wit geklassifiseer is nie van hul burgerregte ontneem. Verder het dit die vertraging in die groei van gemeenskappe in die hand gewerk, gesinne van mekaar verwyder en trauma, bitterheid en haat veroorsaak wat mettertyd tot verset en selfs gewapende verset aanleiding gegee het. Swart mense het hul heil gesoek in ‘n organisasie soos die South African Native National Congress (SANNC), wat op 8 Januarie 1912 tot stand gebring is en van 1923 af as die African National Congress (ANC) bekend staan (Louw, 2002; Pretorius, 2001; Terblanche, 2001). Van 1956 tot 1963 word verset-politiek oorheers deur die gebeure rondom die Rivonia-verhoor en die verbod op swart weerstandsorganisasies. Hierna volg een van die mees neerdrukkende periodes in Suid-Afrika se geskiedenis. Gedurende die 1970’s begin die politieke situasie verander met die swart jeug se mobilisasie vir radikale verandering. Die Soweto-oproer van 1976 stip ‘n sleutel-oorgangspunt uit – daarna het politieke aktivisme ‘n prominente kenmerk in die lewe van baie Suid-Afrikaners geword (Dawes & Finchilescu, 1999; Mischke, 2001).

Hierdie neiging het in die 1980’s vererger. Veral in 1984 nadat swart mense deelname aan die driekamerparlement ontsê is, het die swart jeug in hul skole, kolleges en in die strate hierdie aktivisme voortgesit. Terselfdertyd het militêre aksies teen enige verset teen die apartheidstaat toegeneem. Die swart jeug was onderworpe aan ‘n wye reeks onderdrukkende praktyke.

Die swart-op-swart geweld en die toenemende optrede van die ANC se militêre vleuel, Umkonto we Siswe (MK) het verdere traumatisering van die Suid-Afrikaanse samelewing veroorsaak. Die Suid-Afrikaanse samelewing het met afgryse vir die eerste keer kennis geneem van die skokkende praktyk van necklacing – die vigilante teregstelling van mense deur ‘n motorband om die nek te plaas, petrol oor die persoon te gooi en hom dan aan die brand te steek. Die aanranding, steniging en die uiteindelike verbranding van ene Maki Skosana deur ‘n groep swart jeugdiges te Duduza-plakkerkamp (Straker, Moosa, Becker & Nkwale, 1992) wat op televisie aan die publiek vertoon is, het skokgolwe deur die wêreld gestuur. Met verloop van tyd sou die Suid-Afrikaanse samelewing egter noodgedwonge en teen hul sin aan hierdie gewelddadigheid gewoond moes raak.

In die jare sestig was dit regeringsbeleid om hoërskoolonderwys vir swart kinders tot die tuislande te beperk. Onder druk word dié beleid van 1970 af laat vaar en staatskole vir swart kinders kom ook in die stedelike townships tot stand. Dié skole is gou oorvol en moet met die minimum hulpbronne klaarkom, wat aanleiding gee tot broeiende ontevredenheid onder die skoliere. Die swartbewussynsbeweging het vinnig veld gewen onder die jeug. Gedurende 1974 begin die departement van Bantoe-onderwys ‘n ou regulasie aan swart skole opdwing, naamlik dat die helfte van hoërskoolvakke in Engels en die ander helfte in Afrikaans onderrig moet word. Van Mei 1976 begin leerlinge teen Afrikaans in opstand kom. In Soweto word ‘n opmars vir 16 Junie 1976 beplan en onluste bars in dié township los wat sou uitbrei oor die hele land sodat in verskeie distrikte noodtoestande deur die apartheidsregering afgekondig is (Mischke, 2001).

Dit het duisende jong lewens vir altyd ingrypend verander. Sonder dat dit in soveel geskrewe woorde uitgestippel word, het duisende mense, kinders van Soweto en die ander onlusgeteisterde

townships wel sedert 1994 bevryding beleef, maar gaan steeds gebuk onder die las van die

bevrydingstryd. Vandag is hulle tussen 35 en 50 jaar oud en is veronderstel om die ruggraat van ‘n stabiele samelewing te wees. Hulle het as kinders feitlik alle gesag verwerp en op straat grootgeword – ontneem van die beskerming van ouerlike liefde en sekuriteit. Baie van hulle is vandag die ouers van adolessente en selfs skoolverlaters en die kwelvraag hier ter sprake is of dit vir hulle moontlik is om positiewe rolmodelle van goeie ouerskap aan hul kinders voor te hou.

Met die vrylating van Nelson Mandela in Februarie 1990 was Suid-Afrika reeds ‘n hoogs gepolariseerde samelewing. Vlakke van politieke geweld het gestyg toe die onderhandelinge vir ‘n nuwe bedeling begin is en was besonder hoog in die periode van 1992 tot Mei 1994. Verskeie ondersoeke het wit vrese vir chaos en revolusie gerapporteer en navorsing gedurende 1992 het bekommernisse oor geweldpleging en die toekoms van die land onder adolessente aangetoon. Hoë vlakke van ras-antagonisme, veral uitgedruk deur wit adolessente teenoor swartes, is gevind (Dawes & Finchilescu, 1994).