• No results found

EKSTERNE FAKTORE WAT ‘N ROL SPEEL IN DIE TOEKOMSVERWAGTINGE VAN DIE SKOOLVERLATER

5.3 Eksterne faktore wat ‘n meer indirekte invloed op toekomsverwagtinge uitoefen (ekso en makrosisteme)

5.3.2 Huidige politieke omstandighede

Tans is daar ‘n groot mate van apatie ten opsigte van die geskiedenis van die land onder die jeug te bespeur, aangesien hulle voel dat hulle nie tot rekenskap geroep kan word vir die onreg of beloftes van hul voorgeslagte nie. Van die swart jeugdiges voel gefrustreerd omdat baie steeds

nie kan deel in verbeterde sosio-ekonomiese omstandighede nie (Sidego, 2001). Suid-Afrika se tweede demokratiese verkose president, Thabo Mbeki, het veral met sy omstrede siening van MIV/vigs baie wit mense, maar ook lede van ander bevolkingsgroepe vervreem. Sy beeld is ‘n verdere knou toegedien met die hantering van die skandaal rondom ‘n wapentransaksie van miljarde rande, asook sy beleid van stille diplomasie teenoor die omstrede regering van Zimbabwe. Terselfdertyd het Mbeki egter by verskeie geleenthede die Afrikaner spesifiek die hand gereik.

In ‘n artikel oor die eerste dekade van demokrasie in Suid-Afrika skryf Jordaan en Joubert (2003b) dat kenners verskil oor vordering op spesifieke gebiede. Oor die algemeen is kenners dit egter eens dat daar groot vordering gemaak is veral ten opsigte van die omskakeling van die apartheidstaat. Aspekte wat die meeste vordering getoon het, is op ekonomiese gebied. Jordaan en Joubert (2003b) haal Dr. Chris Landsberg, direkteur van die Sentrum vir Beleidstudies aan, wat meen dat die begrotingstruktuur een van die beste aspekte van die eerste tien jaar van demokrasie was. Ten opsigte van onderwys is daar volgens dié outeurs ook baie vordering gemaak met die skepping van ‘n nie-rassige stelsel en veral die bevoordeling van arm skole in finansiering. ‘n Laagtepunt in die eerste tien jaar van demokrasie is die gebrekkige leierskap oor MIV/vigs (Jordaan & Joubert, 2003b). Die uitbreiding van primêre gesondheidsorg word egter beskou as die regering se grootste prestasie.

Uiteenlopende verklarings word gegee oor waarom die Afrikaners deur die destydse leier, FW de Klerk, hul as’t ware kunsmatig verkreë politieke mag prysgegee het. Dit wissel van die regse standpunt dat die Afrikaner uitverkoop is deur die Nasionale Party όf dat die Afrikaner geen ander uitweg gehad het nie, tot die ander uiterste, naamlik dat die Afrikaner die voorafgaande twee dekades ‘n hartsverandering ondergaan het namate die onreg van apartheid tot hom deurgedring het. Die werklike redes is waarskynlik tussen hierdie twee uiterstes.

‘n Jonger geslag Afrikaners het danksy selfondersoek en blootstelling aan alternatiewe denke tot nuwe insigte oor apartheid gekom. As gevolg van internasionale ekonomiese sanksies het die ouer geslag uiteindelik besef hulle loop die gevaar om ekonomies en polities alles te verloor. As pragmatiste het die Afrikaners hul moontlikhede oorweeg en gekies vir ‘n skikking met die swart

meerderheid. Aanvanklik was daar onderlinge verskil oor die wysheid van die besluit, maar teen 1999 het die meeste Afrikaners vir die Demokratiese Party (DP) gestem. In die proses is Afrikaanssprekendes - wit en bruin - grootliks binne die Demokratiese Alliansie – ‘n politieke huwelik tussen die DP en NNP - opgeneem en die ou regse partye is feitlik uitgewis.

‘n Nuwe geslag – net soos in die aanloop tot 1990 – is nou aanwesig. Hierdie keer is dit wit en bruin Afrikaanssprekendes wat ongemaklik begin voel en vrae vra oor hul toekoms. Elf jaar ná die verrassende aankondiging van die ontbanning van die ANC en SAKP deur FW de Klerk op 2 Februarie 1990 het die leierskap van die NNP, met Marthinus van Schalkwyk aan die hoof, besluit om met die ANC saam te werk. Afrikaanssprekendes soek ná sewe jaar van ANC- bewindname toegang tot politieke magshefbome, enersyds vir hul eie voordeel, maar ook om te help toesien dat die land behoorlik geadministreer word. Dit is ook in hul belang dat ekonomiese groei en werksgeleenthede vir hul kinders verseker word. Afrikaanssprekendes – wit en bruin - het ‘n behoefte daaraan dat hul bydraes op verskeie terreine geraadpeeg en gerespekteer word deur die swart gemeenskap (Pragmatisme. Weer ‘n nuwe geslag, 2001).

Suid-Afrika is vasgevang tussen die uiteenlopende sentimente van die Eerste Wêreld en die Derde Wêreld. Aan die een kant is daar die Afrika-kultuur wat die groepsbelange van die uitgebreide familie hoog ag en ‘n kollektiewe gemeenskapsiening het en aan die anderkant die Westerse kultuur wat individualisme en selfverwesenliking hoog opstel.

Volgens navorsing is die gesofistikeerde volwasse ideologiese denke te vind in sy neerslag in die psigo-sosiale ondervindinge wat dié persoon in sy vroeë en middel-adolessente jare ervaar het. Met ander woorde, die ideologiese houding of ingesteldheid van ‘n persoon word bepaal deur sy

persoonlike interpretasie of perspektief op die samelewing waarin hy hom in sy adolessente jare bevind het (Branch, 1999; Dawes & Finchilescu, 1999). Dit verklaar waarom dit so lank neem en

moeilik is om ideologieë te verander, aangesien dit reeds dekades vroeër vasgelê is. Die adolessent het ‘n behoefte om sy sosiale en intellektuele realiteit te struktureer en betekenis daaraan te verleen. Pretorius (2001) stel dit soos volg:

Honderd jaar na afloop van die Anglo-Boereoorlog moet daar teruggekyk word op Suid- Afrika se politieke en sosiale ontwikkelingspad in die loop van die 20ste eeu, wat besaai lê met die nadelige gevolge van onverwerkte trauma. Ten einde die bose kringloop van traumatisering te stop, moet alle Suid-Afrikaners opnuut – of vir die eerste keer - behoorlik van hul omstrede en traumatiese geskiedenis kennis neem, bestek opneem en rekenskap gee (p. 257).

Sodoende is dit moontlik om probleme in die hede op te los en die toekoms te beplan.

Straker et al. (1992) waarsku egter dat:

...there is no doubt that the psyches of white youth, like those of their black counterparts, have been affected by the context of civil strife in which they live. The violent context of news reports, the security gates in their homes, the bomb drills at school, the militarisation of cadets, and for those in the army the violence active duty has brought will all take their toll as will the notions of racial superiority and racial hatred on which many have been reared. The violence to which white youth have been exposed, and in which they have participated, may have been more subtle, involving prejudice, petty cruelty in the home toward domestic workers, and indifference to the humanity of blacks in general, but it will require no less attention and redress in the future. In fact the subtle, less obvious nature of this violence as well as its pervasiveness might make its effects even more difficult to remedy. It is well known that what is more detrimental to the development of youth is not particular incidents of trauma but the existence of enduring conditions which distort their ability to develop their true potential. (p. 141)

Wanneer tot ‘n gevolgtrekking oor die politieke situasie tans in Suid-Afrika gekom moet word, is dit nodig om so wyd moontlik te dink. Enige vordering – of gebrek daaraan – moet gemeet word aan die grootte en intensiteit van die ongelykhede wat uitgewis moet word. Ook moet die agtergrond waarteen uitsprake gemaak word, inaggeneem word. So byvoorbeeld het die trauma van die Anglo-Boereoorlog baie Afrikaners blind gemaak vir die behoeftes van ander Suid- Afrikaanse bevolkingsgroepe. Hulle het deur hul apartheidsideologie gepoog om alles vir hulself

in te palm. Hierdie ideologie het op sy beurt weer die ander bevolkingsgroepe van hulle basiese menseregte ontneem, wat weer intense lyding, verliese, vernederings, bitterheid en haat veroorsaak het.

Die totstandkoming van demokrasie het nie onmiddellike sosio-ekonomiese verbeteringe meegebring nie. Groot gedeeltes van die bevolking – en veral swart mense – leef steeds in haglike omstandighede. Intussen het ‘n persepsie van ontmagtiging by baie wit mense ‘n gees van pessimisme laat posvat wat gekenmerk word deur negatiwiteit, moedeloosheid en ‘n gebrek aan positiewe toekomsverwagtinge.

Dit kan gestel word dat alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika ‘n mate van ontnugtering sedert 1994 ervaar. Hetsy ten opsigte van die stadige vordering met die regstelling van ongelykhede of die persepsie dat nuwe ongelykhede geskep word, is dit nodig dat Suid-Afrikaners moet besef dat versoening ‘n proses en nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie.

Al hierdie faktore het ‘n invloed – hetsy positief of negatief – op al die bevolkingsgroepe se toekomsverwagtinge. Navorsing deur Van Zyl Slabbert et al. (1994) toon egter dat adolessente gewoonlik meer positief voel oor die toekoms as volwassenes (vgl. Snyder 1994, 1995, 2000).

Ten opsigte van swart skoolverlaters het Dawes en Finchilescu (1994) gevind dat swart leerders in Graad 8 tot 11 se toekomsvisie radikaal verskil van wit, bruin en Indiër leerders. Die studie het bevind dat dié swart leerders met die politieke veranderinge ‘n toename in rykdom en ‘n dramatiese verbetering in algemene lewenstandaard verwag het. Die sosio-ekonomiese omstandighede van baie van hierdie kinders is egter steeds nie op standaard nie, of verbeter teen ‘n baie stadige tempo.