• No results found

HOOFSTUK 2: RUIMTE, PLEK, LANDSKAP EN SITE_SPECIFIC KUNS

2.5 Slot

Die doel van hierdie hoofstuk was om die konsepte van ruimte, plek, landskap en site te situeer, en so die konteks-gebonde van die terme in kuns na vore te bring. Die konteks-gebondenheid word gekoppel aan geselekteerde kunswerke, veral landskapskildering, maar het dan ook vaslegging gevind in die landkuns van die 1960’s en 1970’s, waarvan die Site_Specific biënnale ’n kontemporêre uitvloeisel is. Die Site_Specific biënnale is afhanklik van die konsepte van plek, landskap en site, deurdat dit direk met hierdie konsepte in werking tree deur middel van ’n beliggaamde interaksie tussen die kunstenaar en die landskap. Daar is in hierdie hoofstuk gevind dat die landskap, en so ook verbandhoudende terme soos ruimte, plek, site en non-site, getuig van konstante ontwikkeling en vernuwing deur die ontwikkeling van verwante filosofieë – dus is geen definisie absoluut nie. Plek, as geaktiveerde ruimte, word in baie gevalle aan historiese en politieke denkraamwerke gekoppel, omdat dit in baie gevalle deel vorm van ongelyke magsverdeling. Plek is nie slegs iets wat fisies bestaan nie en dra ook ideologiese gewig – individue en kulture koppel identiteit aan plekke. In Westerse kunsskepping is die landskap egter vir eeue lank bloot gesien as ’n visuele element, wat verwyderd is van die mens en nie werklik deel het aan die vorming van die mens nie. Hierdie afstand tussen mens en landskap word volgens Wall en Waterman (2018:1) in kontemporêre tye verwerp en vandaar word die betekenis herondersoek.

Die Site_Specific biënnale is ’n direkte skakeling tussen die liggaam van die kunstenaar en die landskap, en sodoende word die skeiding tussen kunstenaar en landskap verbreek. Die kunstenaar aanskou nie meer die landskap van ’n afstand en maak vervolgens ’n visuele afbeelding daarvan soos die werk van Constable en Turner nie, maar is deel daarvan en lewer kommentaar deur middel van die landskap. Soos gesien in die kuns van vroeë landkunstenaars soos Agnes Denes, is landkuns ’n alternatiewe platform vir die skep van kuns, met ’n baie kragtige simboliese konnotasie, afhangend van die wyse waarop dit geskep is. Die kommentaar kan ekologies van aard wees met ’n aktivistiese motivering, maar dit kan ook selfs net ’n bewusmaking van die landskap wees. Die rol van die landskap in die kuns word sodoende vergroot, deurdat die kunstenaar afhanklik is van die effek van die landskap op die werk, maar ook die kwaliteite en aard van die natuurlike omgewing (vgl. Ryan, 2007:96; Beardsley, 1982:226).

Die Site_Specific biënnale, soos die titel van die werk voorstel, vind op ’n sekere site plaas. Smithson het die site as die werklike ligging van die kunswerk voorgestel, wat dit ’n belangrike deel van die kunswerk se betekenis maak (vgl. Smithson & Smithson, 1996:364). Tog word foto’s van hierdie werke geneem, wat weer die landskap as ’n visuele verbeelding voorstel – dit noem Smithson ’n non-site. Die site van die werke – Plettenbergbaai – kan vir die doeleindes van die studie uiteraard nie meer gebruik word vir interpretasies nie, maar die non-sites (die foto’s) kan

52

ondersoek word om die kunstenaar-landskap verhouding en ervaring te ondersoek. Die

Site_Specific biënnale, met ’n wye verskeidenheid werke in dieselfde biënnale, spreek van ’n

persoonlike en unieke interaksie tussen mens en landskap en dui ook aan hoe dieselfde projek op verskillende wyses geïnterpreteer kan word. Hierdie hoofstuk lê die grondslag in verband met kernaspekte van landskap en landkuns, sodat die Site_Specific biënnale vanuit ’n dieper teoretiese fenomenologiese paradigma aanskou kan word.

Na aanleiding van die ondersoek na landskap, is daar gesien dat die kunstenaar en landskap met mekaar in verbinding tree. Die vraag is dan op watter wyse hulle met mekaar in verbinding tree en hoe hierdie verbinding teoreties ondersoek kan word in die Site_Specific biënnale. In die volgende hoofstuk word die mens-landskap interaksie ondersoek vanuit ’n fenomenologiese perspektief, omdat fenomenologie steun op die ervaring van die mens in die wêreld. Hierdie perspektief maak beskouings vir ’n geïntegreerde kunstenaar-landskap-interaksie moontlik. Die fenomenologiese beskouing van kunstenaar-landskap-interaksie word beide vanuit ’n teoretiese aanslag gedoen, maar ook vanuit ’n interpretasie van gekose kunswerke in die Site_Specific biënnale. Hierdie werke is Andrew van der Merwe se Asemic beach calligraphy en Hannelie Coetzee se Familieportret. Die interpretasies bevat ’n fenomenologiese bespreking van die ervaring van die werke as aanskouer en ’n verbeelde ervaring as kunstenaar – dit wil sê dat daar verbeel word wat die kunstenaar se ervaring sou wees tydens die skep van so ’n kunswerk. Die ervaring word verbeel omdat ek, as skrywer van die verhandeling, nie hierdie ervarings gehad het nie en ook nie met elke kunstenaar ’n onderhoud kon voer om hulle ervaringe te ondersoek nie en om sodoende ’n interpretasie te kan maak. Die ondersoek na die werke steun daarom op die kunstenaar se bedoeling, sowel as ’n eie interpretasie, wat heel moontlik deur ander aanskouers anders geïnterpreteer sou kon word.51 Om hierdie rede geskied daar sintuiglike

beskrywings van die kunswerke, omdat kunswerke nie net visueel of ouditief met die aanskouer in gesprek tree nie, maar ander sintuie tree ook in werking: mense kan die growwigheid van die sand of koue van die water “voel” sonder om noodwendig daaraan te raak (Lankford, 1984:155- 158). Tesame met die perseptuele beskrywing en teoretiese interpretasie, word die kunstenaarsintensie en kernkomponente wat deel vorm van die kunswerke en direkte simboliese betekenisse, ontgin. Die simboliese betekenisse word gekoppel met interpretasie vanuit die fenomenologiese en agentskapsteorieë ten einde die agentskap van kunstenaar en landskap tydens die skep van landkuns na vore te bring.

51 Daar word aangesluit by Lankford (1984:154) wat stel dat geen interpretasie van ’n werk absoluut is nie

en dat kunswerke vir elke individu uniek (van ’n eie oogpunt) voorkom – interpretasies en besprekings van kunswerke is daarom altyd veranderend en veranderbaar.

53