• No results found

HOOFSTUK 2: RUIMTE, PLEK, LANDSKAP EN SITE_SPECIFIC KUNS

2.2 Plek as geaktiveerde ruimte

Die Site_Specific biënnale – soos die titel ook uitwys – is gekoppel aan ’n spesifieke site, of in Afrikaans: ’n plek.21 ’n Plek kan gesien word as ’n geaktiveerde ruimte, wat geskep word deur

menslike interaksie (vgl. Helfenbein, 2006:112). Weens menslike betrokkenheid is plek die konstruksie, metamorfose en transformasie vanaf ’n abstrakte ruimte tot iets meer konkreet en spesifiek – dit is ruimte wat gevul word met betekenis (Helfenbein, 2006:112). Die Site_Specific biënnale het plaasgevind op ’n spesifieke plek (nie ʼn ruimte nie) en elke kunswerk het plaasgevind op ’n site. Om hierdie rede is die biënnale gekoppel aan die teoretiese konsepte van plek, ruimte, landskap en site. Hierdie teoretiese konsepte omsluit historiese en filosofiese benaderings, wat elk ’n ander sienswyse na vore gebring het en op ’n ander wyse in die kuns manifesteer.

Om die teoretiese konsep van plek te kan situeer, is dit daarom eerstens nodig om ruimte te definieer, omdat die twee konsepte met mekaar verbind is. Gieseking, et al. (2014:xx) stel dat ruimte hoofsaaklik gesien word as ’n abstrakte, voortdurende en veralgemeende spasie. Ruimte is nie konkreet nie en is dus ontkoppel van die betrokkenheid van mense, omdat menslike betrokkenheid hierdie abstrakte konsep as nie-abstrak sou aktiveer. Gieryn (2000:465) beaam dat ruimte afgesonder is van ’n materiële vorm en kulturele interpretasie, met geen menslike teenwoordigheid, unieke betekenis of spesifieke aspekte daaraan verbonde nie. Ruimte is ’n vakuum, of onaktiveerde area, en dit is derhalwe nog nie ’n werklike plek nie. Helfenbein (2006:112) stel dat ruimte (as abstrak) in ’n plek verander, wanneer dit in aanraking kom met die mens en vervolgens gekonstrueer word deur diskursiewe, interpretatiewe, geleefde en verbeelde praktyke.22 Kuns, soos byvoorbeeld landskapskildering, kan om hierdie rede nie voorbeelde van

ruimte bevat nie, omdat ’n poging daartoe nie moontlik is nie. Die ruimte is dan reeds ’n plek as gevolg van menslike betrokkenheid en is dus nie meer abstrak nie. Gieryn (2000:464-465) definieer plek onder drie hoofopskrifte in sy artikel A space for place in sociology: hy stel dat ’n plek uit (i) ’n materiële vorm bestaan en (ii) ’n geografiese ligging het, waaraan daar (iii)

simboliese betekenis en waarde geheg word.

Vir ’n plek om te kan bestaan, moet dit volgens Gieryn (2000:465) (i) ’n materiële vorm hê, omdat ʼn plek ʼn samevoeging is van objekte op ʼn spesifieke punt in die wêreld. Die materiële vorm van die plek maak dit moontlik vir ’n plek om (ii) ’n geografiese ligging te kan hê. Dit, volgens Gieryn (2000:464), impliseer dat plek ʼn unieke area is, wat beteken dat onderskeid getref kan word

21 Die vertaling van site as plek (ook place) in Afrikaans is problematies, omdat plek (place) ’n ander

betekenis vervat as die plek (site) van die kunswerk. Hierdie vertaling word later in die hoofstuk in meer detail bespreek.

22 Hierdie definisie van ruimte is uiteraard nie ʼn absolute definisie nie, omdat daar ander

definiëringsmoontlikhede ook bestaan. Vir die doeleindes van hierdie studie word ruimte as ’n onaktiveerde plek beskou.

23

tussen hier en daar. Plekke is geskep en afgebaken deur sekere grense (soos byvoorbeeld aangeteken in kartografie) en hierdie grense het sogenaamde ruimtes in plekke verander (Helfenbein, 2006:112). Die grense van lande, hoewel gesien as vas en definitief, kan dikwels verskuif na gelang van politiese of religieuse behoeftes. Die grense van ʼn plek is nie vas nie en is dus buigbaar. Dit wil sê dat alhoewel hierdie grense deur sommige magsgroepe as absoluut beskou is, dit inteendeel ’n sosiale konstruksie is wat nie sentraal is tot die plek nie (vgl. Helfenbein, 2006:113; Gieryn, 2000:464). Ingold (1993:156) stel ook dat hierdie grense nie werklik bestaan nie, omdat dit nie altyd moontlik is om vas te stel wanneer een plek verlaat en ’n ander betree word nie, tensy dit definitief afgebaken word met ’n muur, ’n heining, ’n berg, ’n rivier, en so meer. Tog word ’n plek benoem en word dit ’n identiteit in sy eie reg, wat impliseer dat ’n plek dus meer konkreet is as ruimte. Ingold (1993:155) stel dat “Just as the word, for

Saussure, is the union of a concept with a delimited 'chunk' of sound, so the place is the union of a symbolic meaning with a delimited block of the earth's surface.” ’n Plek is derhalwe ’n spesifieke

area waaraan betekenis geheg word – plekke word geskep en is slegs ʼn plek as dit nie benoem of geïdentifiseer word nie (vgl. Gieryn, 2000:465).

Vroeë vorme van plekskepping is gesien in die wyse waarop mense met hulle omgewings in wisselwerking getree het en so die spesifieke area doelbewus gekonkretiseer het. Volgens Antrop en Van Eetvelde (2017:330) is antieke voorbeelde van doelbewuste plekskepping en veranderinge (konkretisering) van hierdie plekke te sien in megaliet monumente soos Stonehenge in Engeland (Figuur 2.1) en grafmonumente soos die piramides in Egipte (Figuur 2.2). Stonehenge is volgens Kleiner (2011:28) waarskynlik gebruik as ’n tipe sterrewag en sonkalender, wat ’n aanduiding is van die gemeenskap wat dit opgerig het se behoefte om die plek waarin hulle woon te konkretiseer. Hierdie gekonkretiseerde plek, Stonehenge, verrig ʼn bepaalde doel en dra ʼn sekere betekenis vir die gemeenskap. Daarom is die plek uniek en onderskeibaar van ander plekke. In die geval van die piramides is die mag van die farao’s uitgebeeld deur reusagtige grafte. Hierdie grafte was simbole vir die son (en die songod Ra), wat ’n aanduiding was van die Egiptiese konings se hergeboorte ná hulle dood – net soos die son elke dag ‘weergebore’ word met die sonsopkoms (Marien & Fleming, 2005:11; Chambers, 1979:14). Hierdie tipe plekskepping produseer nie slegs ʼn unieke plek (soos die grafte) nie, maar speel ook – deur die teenwoordigheid van die piramides – ʼn rol in die definiëring van die ruimte daar rondom. Plek kan gelyktydig verwys na die doel of gebruik van ʼn gekonkretiseerde ruimte, maar ook bydra tot die konkretisering van die ruimte daar rondom. Die ruimte om die piramides bestaan nie meer as abstrakte vakuum nie, maar verkry betekenis deur middel van die plek waaraan dit grens.

24

Figuur 2.1 Stonehenge, Salisbury Plein, Engeland. ca. 2550- 1600 v.C. (Marien & Fleming, 2005:6).

Figuur 2.2 Die piramides, Giza, Egipte. ca. 2528-2427 v.C. (Kleiner,

2011:59).

Antrop en Van Eetvelde (2017:330) stel dat die strukture hierbo ’n baie noue spirituele en religieuse verbintenis met die spesifieke plek het. Plek word deur mense geskep, maar dit is nie bloot deur ʼn fisiese proses nie, want daar word ook (iii) ’n simboliese konnotasie aan plekke gekoppel, waardeur betekenis en waarde aan ʼn plek, asook objekte in die plek, geheg word (Gieryn, 2000:465; Harner, 2001:661). Materiële dinge soos ’n berg of rivier kan op ’n simboliese wyse “geskep” word vir die doel van kulturele of religieuse betekenis (of ander vorme van betekenis) (Gieryn, 2000:465). Plek verkry waarde en betekenis, omdat mense daarin belê, hetsy dit deur middel van ekonomiese, politiese, sosiale of kulturele praktyke is (Helfenbein, 2006:112). Elke plek beliggaam ’n sekere eienskap (wat aan die plek toegeken word), met sy eie karakter, wat geskep word deur die mense wat tyd daarin bestee (Ingold, 1993:155).

Om kortliks tot hier saam te vat: Plekke word dubbeld gekonstrueer: i) dit word materieel uitgekerf (deur middel van die bou van grense, huise en infrastruktuur) en ii) dit word ook geïnterpreteer, ervaar, verstaan, en verbeel deur middel van kuns, literatuur, simbole en so meer (Gieryn, 2000:465). Die materiële vorm, die fisiese (en denkbeeldige) grense, geografiese ligging en simboliese konnotasie van ’n plek dien as ’n meganisme vir die definiëring daarvan. Die grense wat geskep word dien weer as ’n sosiale, ekonomiese, geografiese, kulturele en politieke skeiding tussen plekke (asook idees en oortuigings). Hierdie grense is beide ’n onsigbare (ideale, emosionele of psigologiese) en sigbare (materiële) entiteit. Die Site_Specific biënnale vind byvoorbeeld plaas op ’n spesifieke plek – naamlik Plettenbergbaai – binne die grense van die plek (en land), genaamd Suid-Afrika. Die plek word ook van die omliggende plekke soos Keurboomstrand, Wittedrift, Kwanokuthula en Kranshoek onderskei deur middel van denkbeeldige grense wat deur mense geskep is (sien Figuur 2.3 hieronder). In die geval van die area van Plettenbergbaai, kan gestel word dat voor menslike betrokkenheid hierdie plek beskou

25

was as bloot ’n ruimte. Dit is eers met menslike interaksie in Suid-Afrika (en ook tydens die biënnale) wat Plettenbergbaai as ’n plek gesitueer is.

Figuur 2.3 Die ligging van Plettenbergbaai in Suid-Afrika (Google Maps, 2019).

Die teenwoordigheid van mense in die spesifieke en omliggende areas van Plettenbergbaai is reeds vanaf die Middel Steentydperk argeologies gedokumenteer; Voortgaande opgrawings van die Nelsonbaai-grotte te Robberg (buite Plettenbergbaai) en die Matjiesriviergrot (buite Keurboomstrand) toon die lang teenwoordigheid van mense in hierdie area (vgl. Deacon & Brett, 1993:98; Cradle of human culture, 2019; Cape Nature, 2019). Soos enige ander bewoonde of mens-ervaarde plek in die wêreld, is die grond van Plettenbergbaai onderhewig aan wisselende menslike teenwoordigheid en interaksie, waar verskillende groepe op verskillende tye hulself as

eienaars of bewoners van ʼn spesifieke plek beskou. Die Khoi-Khoi kan beskou word as die eerste

“ware” inheemse bevolking van die area. Die eerste koloniale magte wat die area ingevaar het, was vroeë Portugese ontdekkingsreisigers – spesifiek Bartholomeüs Dias in 1478 – wat die plek

Bahia das Alagoas genoem het (vgl. Stapleton, 2010:3; Plettenberg Bay, 2019). Hierdie naam

beteken Baai van die lagunes. 90 jaar daarna het ʼn volgende groep Portugese die baai Bahia

Formose genoem, wat beteken Beeldskone Baai (vgl. South African History Online, 2019). In

1779 besoek Baron Joachim van Plettenberg (die Kaapse goewerneur onder die VOC)23 hierdie

area en herbenoem dit na homself, naamlik Plettenbergbaai (Stapleton, 2010:4). Hierdie

plekskepping deur Europese magte lê die grondslag vir voortdurende verwisseling van eienaarskap en mag in Suid-Afrika.24 Waar eertydse Europese ontdekkingsreisigers en

kolonialiste dit voor die hand liggend gevind het om plekke te benoem en verower as “nuwe land”,

23 Die Nederlandse maatskappy, Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), het die Kaapkolonie beheer

sedert 1652 tot 1795, voor Brittanje vir die eerste keer beheer oorgeneem het in 1795 (vgl. Worden, 2007:3; Viljoen, 1996:156).

24 Sien ook Besten (2006:44,46,51) se artikel oor die grondtwiste in Plettenbergbaai tussen die Griekwas

26

het die ingesteldheid teenoor kolonialisme oor die laaste dekades sodanig verander dat daar herbesin word hieroor en ook oor die gevolge daarvan.

In vorige eeue het beskouings van ruimte, plek en landskap dikwels deel gevorm van kartografie vir koloniale uitbouing (vgl. Bender, 2002:105). Kartografie opsigself is deur koloniale magte en Westerse moondhede ingespan ter wille van dokumentering sodat plek wat besit kan word, ten volle geken kan word (Penn, 2010:340). Eienaarskap en plekskepping is geleë in die idee dat ruimte (of space) hoofsaaklik ’n geografiese betekenis omsluit en verwys het na ’n eindelose oop area wat bestaan om verower te word (vgl. Lefebvre, 1991:1). Plekke is telkemale ook sinoniem met hierdie verowerbare ruimte beskou – soos in koloniale diskoers – en gevolglik ook die

eienaarskap van Plettenbergbaai, afhangend van welke groep aan bewind was (vgl. Lefebvre,

1991:1).25 Larsen (2004:947) en Harner (2001:60) stel dat plek meer toepaslik gekonsepsualiseer

kan word as ’n proses wat sosiale, politiese en ekonomiese aktiwiteite vermeng en wat konstant gekonstrueer en transformeer word en dus onstabiel en veranderend is. Plek is daarom die interaksie tussen politiese magte, geskiedenis, kulturele konstrukte en individuele menslike agentskap en ervaring (Harner, 2001:661). Wattchow (2013:90) benadruk dat plek die fragmente van menslike omgewings bevat waar betekenis, aktiwiteite en spesifieke landskappe almal met mekaar ineengestrengel is. Plek is dus ook vloeibaar en word toenemend materieel en kultureel ontwikkel, selfs al word sogenaamde “permanente” grense gestel. Die vraag is vervolgens hoe die konsep van plek aansluit by die konsep van landskap. Tilley (2004:25) beskryf die skakeling van hierdie twee konsepte as volg:

Plekke is ’n samevatting van mense, herinneringe, strukture, geskiedenisse, mites en simbole. Plekke kan ook verstandelik en materieel; simbolies en prakties; wild en getem

wees – saam vorm hierdie plekke landskappe, wat ’n versameling van plekgebonde

strukture en betekenisse is. Landskap word dus gestruktureer binne die konteks en

verband van die plekke wat daarin vervat is.26

Die aanhaling deur Tilley (2004:25) hierbo dui hoe plekke veelvoudige eienskappe bevat, en

landskap is die versameling van hierdie plekke. Hy wys ook uit hoe die betekenis van ’n landskap

verband hou met die identiteite van die plekke wat daarin teenwoordig is, wat die landskap dan ook, net soos plek, konteksgebonde maak. In ’n landskap kan daar baie plekke wees, aangesien die landskap nie aan dieselfde grense as plekke voldoen nie – die landskap is deurlopend en kan nie in terme van grense beskou word nie. Wattchow (2013:87) stel ook dat elke plek ’n voortdurende interaksie tussen die natuurlike en menslike elemente is. Die wyse waarom mense

25 Die kompleksiteite van Plettenbergbaai word in Hoofstuk Vyf aangespreek.

27

in ʼn spesifieke omgewing leef vorm daardie gebied, maar word ook deur die gebied gevorm. Die landskap is (nes plek) ook nie ’n abstrakte ruimte nie, maar eerder ’n versameling van plekke waar sekere idees, belewenisse en gebeure die betekenis daarvan verander soos die konteks van die mense daarin verander. Vir Gieseking, et al. (2014:xix) is dit ook belangrik om te onthou dat mense verbind is aan die omgewing, plekke, ander mense, ook materiële en kulturele geskiedenisse en die geografie waarin hulle hulself bevind. Mense is gekoppel aan ander mense, sowel as hulle omgewing, en dit is hier waar die betekenis van plek ontstaan. Beide plek en landskap impliseer derhalwe menslike betrokkenheid – tog is die definisie van landskap ook nie so ooglopend eenvoudig soos hierbo beskryf nie, want die landskap is nie slegs ’n versameling van plekke nie, maar bevat tydsgebonde ideologiese beskouings.

Hierdie tydgenootlike ideologiese beskouings is, onder andere, te sien in die wyse waarop kunstenaars die landskap uitbeeld (in kuns) en daarmee in wisselwerking tree. Vir die doeleindes van hierdie studie fokus ek op geselekteerde werke wat dui op die ontwikkeling van Westerse kuns wat die landskap betrek, omrede die konseptualisering van landkuns as kunsvorm gesitueer is binne die Westerse arena.27