• No results found

Gevolgtrekkings tot die kunstenaar-ervaarskap intra-aksie in Site_Specific

HOOFSTUK 5: SLOTBESKOUINGE

5.3 Gevolgtrekkings tot die kunstenaar-ervaarskap intra-aksie in Site_Specific

Na aanleiding van die teoretiese ondersoek, hou ek voor dat die Site_Specific International Land

Art Biennale (2011) ’n manifestasie is van die intra-aksie en produktiewe spanning van

kunstenaar en ervaarskap, wat ’n wederkerige agentskap tussen beide moontlik maak. Die geselekteerde vyf kunstenaars van die Site_Specific biënnale wat onderskeidelik ondersoek is, belig die wyse waarop kunstenaarsliggaam in die ervaarskap funksioneer en gevolglik ook beïnvloedbaar is. Verder dui die werke ook aan hoe landkuns afhanklik is van ’n verskeidenheid agentskappe en hoe die simboliek van die werk ook aan die ervaarskap gekoppel is. Tog is die agentskap van die ervaarskap nie altyd sigbaar of moontlik nie en is dit afhanklik van die kunstenaar se bereidwilligheid om hierdie agentskap te aktiveer en laat uitvoer. Die ervaarskap kan immers nie die ’n kunstenaar onder dwang lei nie, maar noodsaak ’n bewuswording van die kuns-moontlikhede wanneer die ervaarskap se agentskap “toegelaat” word.

Tel illustrasie is gekyk na die kunstenaars, Strijdom van der Merwe en Andrew van Der Merwe, wat beide met die sand op Plettenbergbaai se strand gewerk het. Strijdom van der Merwe dui aan hoe sy keuse van kunswerk eerstens geïnspireer is deur die ervaarskap – deurdat hy gesien het hoe objekte op die strand uitspoel en gevolglik die idee gekry het vir Circles washed up by the

tide. Die ervaarskap se agentskap as katalisator vir die werk word hier sigbaar gemaak.

Hierteenoor het Andrew van der Merwe teks op die strand ingewerk in sy Asemic beach

calligraphy. Beide kunstenaars het as beliggaamde wesens deel geword van die ervaarskap en

het deur middel van hulle bewegings (beide doelbewus of motories) hulle agentskap uitgeleef. Die simboliek in die werke was ’n tydelikheid van die mens se agentskap en die ervaarskap se rol om die werk uit te vee. Die tydelikheid van die werke is gesetel in die ervaarskap se onvermydelike agentskap om die werke uit te wis.

Die onvermydelike agentskap van die ervaarskap is ook te sien in Hannelie Coetzee se

Familieportret, waar die golwe haar klipfamilie omgespoel het en haar gedwing het om dit

konstant te herbou. Die proses van herbouing en omspoel het ’n spanning tussen Coetzee se liggaam en die strand na vore gebring, wat allegories is vir die konstante spanning tussen mens en ervaarskap. Die spanning dui ook op ’n produktiewe spanning, waar die kunswerk ’n ander betekenis sou hê as die ervaarskap nie op ’n sekere wyse verandering aangebring het nie. Soos byvoorbeeld, as die see nie die klippe omgespoel het nie, sou die simboliek van Coetzee se konstante herbouing van haar familie nie teenwoordig wees nie. Die afhanklikheid van die agentskap van objekte is ook te sien in Angus Taylor se Ongegronde grond op Woensdag se

koerant. In hierdie werk is dit nie net die kunstenaarsliggaam en die ervaarskap betrokke nie,

maar daar is ook gebruik gemaak van ander objekte en hulpmiddels om die werk te realiseer. Hier is genoem dat indien die objekte in die ervaarskap (soos die hout, grond, saag en graaf) nie

115

hulle onderskeidelike take uitgevoer het, sou die kunswerk wat Taylor so deeglik beplan het, nie moontlik gewees het nie. Die kunstenaar is dus afhanklik van die saag om te saag en die graaf om ’n holte in die grond te kan maak. Buiten hiervoor was daar ook die vraag na die rol van hierdie objekte tydens die skep van kuns. Hier kan die objekte ook dien as ’n verlenging van die kunstenaarsliggaam se agentskap, omdat die agentskap van die kunstenaar deur middel van hierdie objekte uitgeleef kan word. Hierdie stelling impliseer ook dat die kunstenaar afhanklik is van ander objekte en nie ’n totalitêre agentskap besit nie, omdat hy, byvoorbeeld, nie sou kon saag sonder ’n saag nie. Die kunstenaars se agentskap is geleë in die agentskap van ander agente en ook die agentskap van die ervaarskap.

Die bogenoemde kunstenaars was almal Suid-Afrikaners, wat deelgeneem het aan die

Site_Specific biënnale, maar daar was ook twee Italiaanse kunstenaars teenwoordig, naamlik

Gabriele Meneguzzi en Vincenzo Sponga. Hierdie kunstenaars het weer deur middel van hulle landkunswerk, Cucitura (Sewing), kommentaar gelewer op skeurings wat in ’n landskap veroorsaak word weens die ongelykheid van die verlede. Die kunstenaars het hierdie “wonde” in die ervaarskap probeer herstel deur die grond weer aan mekaar vas te werk. Tog bly die letsels in die landskap steeds daar. Die werk sinspeel op die agentskap van mense, wat die ervaarskap verwoes en dan weer gedwing word om hierdie wonde te herstel. Cucitura beklemtoon die belangrikheid daarvan om bewus te wees van menslike impakte op die ervaarskap, sowel as op ander mense wat in die ervaarskap leef. Alhoewel die ervaarskap dus ’n agentskap kan uitleef, bestaan daar ook die moontlikheid dat menslike agentskappe ander agente kan onderdruk – ook tydens die skep van kuns.

In die studie is aangedui dat die kunstenaar nie die enigste agent tydens kunsskepping is nie en dat die ervaarskap ook ’n rol speel in die skeppings proses. Tog is die ervaarskap se rol in die skeppingsproses nie altyd so sterk teenwoordig nie, aangesien kunstenaars soms teësinnig is om toe te laat dat die ervaarskap hulle beïnvloed. Die mens se geneigdheid om die ervaarskap te oorheers, laat soms nie toe vir ’n werklike agentskap van die ervaarskap nie, omdat die mens die agentskap van die ervaarskap soveel moontlik probeer onderdruk. Die onderdrukking spruit vanuit ’n wil om ’n spesifieke idee (soos met ’n kunswerk) op die ervaarskap af te dwing en nie die ervaarskap toe te laat om werklik deel te hê aan die proses van kunsskepping nie. Vir die ervaarskap om ’n noemenswaardige rol te speel tydens kunsskepping, moet dit meer ruimte gegee word vir agentskap, soos in die Site_Specific biënnale – die ervaarskap gaan immers nie die mens oorrompel nie (tensy daar ’n groot gebeurtenis is). Die werklike teenwoordigheid van die ervaarskap se agentskap tydens die skep van kuns, noodsaak die kunstenaar om gewillig te wees om die ervaarskap werklik te ervaar en sy/haar keuses hiervolgens te kan aanpas. As die kunstenaar nie bereid is om beïnvloed te word en keuses aan te pas nie, sal die kunswerk nooit werklik site-spesifiek wees nie, maar eerder mens-spesifiek.

116