• No results found

HOOFSTUK 3: FENOMENOLOGIE: LANDSKAP EN LIGGAAM

3.3 Die landskap as ervaarskap

Die landskap, soos vanuit die vorige afdelings aanskou, is meer as net ’n idee-wêreld wat abstrak bestaan. So ook is dit nie ondergeskik aan menslike toedoen nie en is aktief betrokke by alle aspekte van die menslike bestaan en ervaring. Wylie (2013:58) beskryf die mens se wees in die wêreld as ’n ontmoeting: 'n geleefde, beliggaming en affektiewe ervaring, waaruit 'n gevoel van self en 'n gevoel van landskap ontstaan. Hierdie ontmoeting kom na vore as 'n gevoel van “eenheid” met die wêreld, of selfs as ʼn vervreemding, maar die fenomenologie van landskap behels bowenal ’n subjektiewe en geleefde ervaring in die landskap (Wylie, 2013:58). Vanuit ’n fenomenologiese perspektief is die mens as liggaam-subjek beïnvloedbaar, maar dit is deur die sintuie dat die mens se beliggaamde persepsie veral moontlik gemaak word (Cazeaux, 2017:131). Cazeaux (2017:131) stel dat volgens Merleau-Ponty bestaan die liggaam uit ’n versameling van verhoudings waardeur die mens in die wêreld georiënteer word (die liggaamskema). Die mens se sintuie koördineer die liggaam in die wêreld, sodat die liggaam dan ’n “ervaring-in-die-wêreld” word (Cazeaux, 2017:131). As wese-in-die-wêreld word die landskap ervaar deur die sintuie (sig, reuk, tas, gehoor, smaak) en dit is deur die sintuie wat mens en landskap vervleg raak. Hierdeur word beklemtoon dat die landskap die mens nie net visueel raak

76

nie, maar al die menslike sintuie inkorporeer – somtyds selfs met ’n sinestetiese71 element tot

gevolg. Elke sintuig is ook gekoppel aan die ander sintuie wat mekaar ook beïnvloed, omdat die liggaam-skema van die mens op so ’n wyse in die wêreld gesitueer word (Cazeaux, 2017:137). Die kunstenaar is dus ’n ervarende en beliggaamde wese-in-die-wêreld, wat die wêreld met die hele liggaam ervaar. Landkuns kan daarom multisensoriese ervarings na vore bring, wat die produktiewe spanning tussen mens en landskap moontlik maak.

Selfs al word al hierdie bogenoemde dinge aanvaar, is daar steeds ’n kulturele en kognitiewe neiging wat die landskap konstant terugskuif na die verafgeleë visuele uitbeelding van die landskap. Die term “landskap” met sy lang geskiedenis in kuns kan moeilik van hierdie visuele mens-landskap dualisme verwyder word en steeds word die landskap as apart van die mens in die volksmond aanskou. Die term leen homself daartoe om misdefinieer en misverstaan te word, wat beteken dat die essensie van die mens-landskap verhouding verlore gaan. Die misverstaan of misdefiniëring kan toegeskryf word aan die beperkings van taal, omdat daar nie ’n gepaste alternatiewe term bestaan wat die landskap werklik omvattend as deel van die mens beskryf nie. Daar bestaan wel konsepte soos natuur, land, wêreld, aarde, grond, spasie, ruimte, plek, landskap, maar hierdie woorde het diepgaande dualistiese konnotasies wat die mens daarvan skei, of die mens as heerser oor die element stel. Die taal wat gebruik word om oor die landskap te praat beïnvloed die wyse waarop daar oor die landskap gedink word, en hierdie konnotasies is in elke taal en kultuur anders. As Afrikaanssprekende is die term “landskap” baie keer gekoppel aan ’n beeldskone uitsig of Jacobus Hendrik Pierneef (1886-1957) skildery. Dit vloei vanuit ’n Westerse wêreldbeskouing met die ondersteuning van Westerse filosowe, wat vanuit ’n sekere filosofiese tradisie oor die landskap geskryf het. Daarbenewens word ’n taal met konstrukte soos ruimte, plek en landskap in hierdie studie bevat, en alhoewel ’n alternatiewe uitkyk op (veral) landskap aangedui word, is daar steeds die beperkings waarbinne daar geskryf word. Soms word die landskap in kontemporêre tye ook steeds gesien as die landskap van die Renaissance of Romantiek: die landskap as ’n visuele verbeelding waarna daar bloot gekyk word (vgl. Olwig, 2008:159; Andrews, 1999:15). Daar is tans nie ’n ander woord vir die “landskap” wat ’n meer relasionele en verstrengeldheid met die mens voorstel soos wat die fenomenoloë beoog om aan te dui nie. Wese-in-die-wêreld is ’n moontlike alternatief, maar hier word die kwaliteite van landskap weer ontneem, omdat wêreld soms slegs as ’n houer vir menslike aktiwiteit beskou word. Hierdie tekort aan ’n omvattende term lei konstant die leser terug na die visuele beeld waarna gekyk word, selfs al word daar gepoog om op ’n sekere wyse anders oor die landskap te dink.

71 Die oorspronklike Griekse betekenis van sinestesie beteken “die samesmelting of kommunikasie van die

77

Om hierdie rede word ’n nuwe alternatief vir “landskap” gegee, wat moontlik die intrinsieke verbintenis tussen mens en landskap sal beklemtoon: “ervaarskap”.72 Die motivering vir

“ervaarskap” vloei dus uit die problematiek van landskap soos reeds in Hoofstuk Een aangedui: die term “landskap” is vloeibaar, gelade, en grotendeels nie definieerbaar nie. Die betekenis daarvan word ook deur elke individu en studieveld anders beskou en daarom kniehalter die woord “landskap” soms die diskoers van mens-landskap dinamika. Die voorheen visuele uitbeeldings van die landskap as “ongerep” dui op ’n minimale verhouding tussen mens en landskap, wat die landskap baie keer as slegs oop “ruimte” wou voorstel. Die term “landskap” word ook baie maal gesien as ’n passiewe agtergrond vir die agentskap van mense (Whiston Spirn, 2008:54); of ’n statiese visuele en estetiese uitbeelding van die “natuur” (vgl. Olwig, 2008:159; Andrews, 1999:15; Tilley, 2004:24). Alhoewel denkers soos Ingold (1993), Tilley (2004:25), Antrop en Van Eetvelde (2017), en Thompson et al. (2013:1) lankal reeds oor die gelade kwaliteite van die landskap-mens-verhouding filosofeer, is die “landskap” in die volksmond steeds ’n afgeleë ideale prentjie. Landskappe dra ontologiese gewig wanneer ons dit begin konseptualiseer as geleef/beleef, bemiddeld, deurwerk en veranderend – eerder as objekte wat van ver af aanskou en waardeer moet word vir estetiese waarde (Tilley, 2004:25).

Dit is juis om hierdie skeiding tussen mens en landskap te oorbrug, dat die landskap eerder as ʼn ervaarskap beskou moet word – en ook omdat dit die kern van landskap-fenomenologie vasvang. Deur die landskap as ervaarskap te aanskou, kan die agentskap van die landskap sterker na vore gebring word en word die moontlikheid van agentskap in die landskap makliker geartikuleer. Die skep van landkuns leen homself daartoe om hierdie alternatief te ondersoek, omdat die ervaring van die werk die kern is vir die produktiewe spanning tussen kuns en die ervaarskap. Die ervaarbaarheid van die landskap is een van die wyses waarop dit die mens die meeste kan beïnvloed en dit is ook hierdie eienskap van die landskap wat sy agentskap ten sterkste na vore bring. Die landskap word nie van ’n afstand af aanskou nie, maar vorm deel uit van die mens. Soos in die biënnale gesien, is die landskap ook nie ’n semiotiese teks wat leesbaar of skryfbaar is deur die kunstenaar nie. Inteendeel, die landskap speel ’n rol in die skep van die kunswerk en is nie ’n passiewe doek wat reg staan vir die skep van kuns daarop nie. Die landskap is ’n agent wat deur ervaarbaarheid die mens se keuses en beskouing van ’n kunswerk kan beïnvloed en verander – die landskap is ervaarbaar.

72 Die Engelse woord “experiencescape” word soms gebruik in die velde van diensverskaffing en toerisme

om die skep van ervarings te impliseer, wat die kliënt se beskouing van kwaliteit beïnvloed (Dahlgaard-

Park, 2015: 223-224). Volgens my kennis is die Afrikaanse weergawe – ervaarskap – nog nie in hierdie

78

Die Site_Specific biënnale is ’n platform vir ’n mens-ervaarskap interaksie, wat die rol van die ervaarskap in kuns sterker na vore bring. Om ’n landkunswerk daarom ten volle as ’n interaksie van agentskappe te verstaan, moet erken word dat die proses belangriker as die eindproduk is (as daar dan ooit ’n eindproduk sal wees). Daarbenewens ook dat die skep van landkuns ook ’n

performance (beliggaamde) element inhou, omdat liggaamlike beweging deel vorm van die skep

daarvan en die kunstenaar se agentskap ook so uitgeleef word. Landkuns gee ’n alom-sensoriese indikasie van die wyse waarop die mens die ervaarskap beïnvloed, maar terselfdertyd deur die ervaarskap beïnvloed word, wat wedersydse invloede fenomenologies moontlik maak. Die kunstenaar se liggaam, as bron van agentskap tydens die skep van landkuns, is in en deel van die ervaarskap. As gevolg van die mens-ervaarskap verhouding is die kunstenaar beïnvloedbaar, wat die ervaarskap se agentskap veral moontlik maak tydens die skep van landkuns.

3.4 Slot

In hierdie hoofstuk is ondersoek ingestel na drie verhoudingsaspekte binne fenomenologie ten einde die kunstenaarsliggaam en die landskap as ervaarskap met mekaar te verbind. Eerstens is die verhouding tussen die verstand en die liggaam vanuit ’n fenomenologiese oogpunt beskou as nie-skeibaar. Dit wil sê dat daar nie binêre onderskeid tussen verstand en liggaam is nie, aangesien die mens ’n vervlegte wese van beide is. Die liggaam kan nie sonder die verstand funksioneer nie, maar so ook kan die verstand nie sonder die liggaam nie. Die liggaam is die wyse waardeur die verstand inligting verkry en verwerk en daarom ervaar die mens eerstens die wêreld sonder teoretiese kennis deur middel van die liggaam. Hierdie vervlegtheid van liggaam en verstand kan ook toegepas word op die verhouding tussen die mens en die wêreld, waarin daar ook nie onderskeid getref kan word nie. Die mens as ’n wese-in-die-wêreld is ’n geleefde liggaam wat deur beliggaming aan die wêreld verbind word. Die mens is immers binne in die wêreld en aanskou dit nie net van ’n afstand nie. Die mens is nie net ’n subjek in die versameling van objekte in die wêreld nie, maar is egter ook ’n objek as gevolg van liggaamlikheid. Die liggaamlikheid van die mens maak dit net so onderworpe aan die invloede van ander as wat nie- menslike objekte is. Die liggaam, as wese-in-die-wêreld, is die werktuig waardeur die landskap ervaar word.

Dit is bowenal in die bogenoemde ervaring waar die verhouding tussen kunstenaarsliggaam en die landskap van belang is. Deur die skep en ervaring van landkuns word die landskap gesien, gehoor, gevoel, geruik, en somtyds selfs geproe. Landkunstenaars poog om hulleself en hulle aanskouers deur ’n ruimte te laat beweeg en sodoende hulle eie persepsie van die ruimte, plek en die landskap uit te daag (Rigaud, 2012:4). Die veelvoudige invloed wat die landskap op die mens het deur middel van die sintuie dui op landkuns se vervlegting van mens, landskap en kuns, teenoor ’n meer afgesonderdheid tussen die mens en landskap by skilderkuns. Die beskouing

79

van die landskap as ervaarbaar eerder as leesbaar/skryfbaar kom hier ter sprake, omdat die landskap nie staties bly of slegs gelees of geskryf word nie. Die landskap het ’n daadwerklike impak op die kunsproses en is daarom nie onderworpe aan die menslike lees en skryf daarvan nie. Die landskap as ervaarskap dui op die landskap as ’n ervaarbare entiteit wat deel vorm van die mens en waaraan die mens ook deel het.

Volgens Fusar-Poli en Stanghellini (2009:92) beskou Merleau-Ponty die liggaam as die kern vir die hoof dimensies van menslike ervaring: die ervaring van die self en selfbewustheid; die ervaring van objekte; betekenisgewing en die ervaring van ander mense as mede-agente. Om ander mense as intensionele agente te sien verskaf ook die geleentheid om te besin oor die self se agentskap deur middel van die liggaam. Tog moet daar nouer ondersoek ingestel word na die aard van hierdie agentskap vanuit ’n fenomenologiese perspektief en die verhouding tussen kunstenaar en landskap. In die opvolgende hoofstuk word die wisselwerking tussen kunstenaarsliggaam en die ervaarskap na vore gebring om vervolgens die agentskap van beide te ondersoek. Die wyse waarop die kunstenaar se agentskap uitgeleef word, en tog ook beperk word tydens die skep van kuns, word hier na vore gebring deur middel van ’n bespreking van die

Site_Specific biënnale. Benewens word die agentskap van die ervaarskap as rolspeler tydens die

skep van landkuns geargumenteer, wat aandui hoe die ervaarskap inderdaad ’n mede-agent is in die proses van kunswerkskepping. Die agentskap van die kunstenaar op die ervaarskap en die agentskap van die ervaarskap weer op die kunstenaar (selfs die agentskap van die aanskouers), dui op die vervlegte netwerk van agentskappe wat betrokke is tydens die skep van landkuns.

80