• No results found

Samevatting en gevolgtrekkings

HOOFSTUK 4: DATA-ANALISE EN BESKRYWING

4.6 Samevatting en gevolgtrekkings

Die doel van die data-analise was om tot 'n gevolgtrekking te kom oor hoe Afrikaanse kinders tussen die ouderdom van agt en 24 maande hul eerste vorm-betekenis-passings maak. Om hierdie doel te bereik, is die data vanuit sekere teoretiese vertrekpunte benader. Hierdie vertrekpunte het eerstens behels dat die data-analise vanuit 'n gebruiksgebaseerde benadering aangepak is en dat die kinders se eerste leksikale items beskou word as holofrases waardeur meer as een funksie met 'n enkele leksikale item vervul kan word. Tweedens het die vertrekpunte behels dat teorie vanuit die kognitiewe linguistiek, te wete teorie rakende die

Hoofstuk 4 Data-analise en -beskrywing

110

prototipe-kategoriseringsmodel, beeldskematiese struktuur, metaforiek en metonimie en konseptuele versmelting, die onderbou van die data-analise vorm.

Die kodering van die data is in drie fases aangepak, naamlik die skep van kodefamilies (fase een), die onderskeid tussen verskillende passings (fase twee) en kodering van passingskategorieë en -tipes (fase drie). Hierdie fases van kodering het daartoe gelei dat, wat die passings betref, daar twee kodefamilies onderskei is, naamlik dié van <simplekse passing> en <komplekse passing>. Die leksikale items wat as komplekse passing benoem is, kon verder verdeel word in drie kategorieë, naamlik metaforiese passing en metonimiese passing. Leksikale items wat as metonimiese passings benoem is, is nog verder verdeel in DEEL VIR GEHEEL, GEHEEL VIR DEEL en DEEL VIR DEEL.

Hierdie passingskategorieë is belangrik, aangesien dit gaan oor hoe die kinders vorm en betekenis aan mekaar heg en sluit derhalwe aan by die navorsingsvraag en -doel van dié studie. Vanuit die indeling van die passings word dus afgelei dat die kinders op verskeie wyses vorm en betekenis met mekaar in verband bring. Aangesien die kinders aan die beginfase van taalverwerwing is, kan aanvaar word dat sommige passings tydelik is en sal verander soos wat die kind se linguistiese sisteem meer uitgebreid raak.

Ter wille van die beantwoording van die vraag hoe jong Afrikaanse kinders hul eerste vorm- betekenis-passings maak, word 'n opsomming van die klassifikasiereëls van elke tipe passing hier onder in Tabel 5 verskaf.

TIPE PASSING EN KLASSIFIKASIEREËL

1. Simplekse passing

'n Eenvoudige vorm-betekenis-passing waar die konseptualiseringsproses meer volgens of nader aan konvensie is, alhoewel die passing tussen die leksikale item en die volledige holofrastiese gebruik (wat die funksie betref) moontlik verdere interpretasie verg.

2. Komplekse passing

Die passing tussen vorm en betekenis is nie so eenvoudig nie en die konseptualisering vind op 'n interessante wyse plaas. 'n Direkte passing tussen vorm en betekenis is derhalwe nie afleibaar nie. 2.1 Metaforiese passing

Hoofstuk 4 Data-analise en -beskrywing

111

Een ervaringsdomein word gedeeltelik op 'n ander ervaringsdomein gepas – die tweede ervaringsdomein word dan gedeeltelik verstaan in terme van die eerste een en die leksikale item van die eerste ervaringsdomein word gebruik om albei domeine in te sluit.

2.2 Metonimiese passing

Die leksikale item van een konsep (waarskynlik die mees prototipiese konsep vir die kind) binne 'n spesifieke konseptuele domein word gebruik om een of meerdere konsep(te) in dieselfde konseptuele domein te benoem.

2.2.1 DEEL VIR GEHEEL

Die leksikale item van die subordinaat word gebruik om die superordinaat te benoem. 2.2.1.1 O.g.v. interafhanklikheid

Die subordinaat en superordinaat is inherent verbind, dus kan hierdie konsepte nie sonder mekaar funksioneer nie, bestaan of tot stand kom nie 2.2.1.2 O.g.v. kenmerk

Die leksikale item van 'n lid word gebruik om die superordinaat van die kategorie waarvan die lede soortgelyke kenmerke het, te benoem.

2.2.2 GEHEEL VIR DEEL

Die leksikale item van die superordinaat word gebruik om die subordinate te benoem. 2.2.2.1 O.g.v. interafhanklikheid

Die superordinaat en subordinaat is inherent verbind, dus kan hierdie konsepte nie sonder mekaar funksioneer, bestaan of tot stand kom nie. 2.2.2.2 O.g.v. kenmerk

Die leksikale item van die superordinaat word gebruik om sy subordinatiese kategorielede, waarvan die lede soortgelyke kenmerke het, te benoem. 2.2.3 DEEL VIR DEEL

Die leksikale item van een hiponiem word gebruik om ander hiponieme met 'n gedeelde superordinaat, te benoem.

Hoofstuk 4 Data-analise en -beskrywing

112

2.2.3.1 O.g.v. interafhanklikheid

Die leksikale item van een lid word gebruik om hiponimiese kategorielede waarvan die lede inherent verbind is en nie sonder mekaar kan funksioneer, bestaan of tot stand kom nie, te benoem.

2.2.3.2 O.g.v. kenmerk

Die leksikale item van een lid word gebruik om hiponimiese kategorielede waarvan die lede soortgelyke kenmerke (soos toestand, funksie, ruimtelike oriëntasie en voorkoms) het, te benoem.

Tabel 5: Opsomming van klassifikasiereëls van passings

Uit hierdie klassifikasiereëls kan afgelei word dat die Afrikaanse kinders op 'n verskeidenheid wyses vorm en betekenis op mekaar pas. Wanneer die navorsingsvraag, naamlik hoe Afrikaanse kinders hul eerste vorm-betekenis-passings maak, dus beantwoord moet word, kan daar op grond van hierdie data-analise wat vanuit 'n gebruiksgebaseerde benadering aangepak is, tot die volgende gevolgtrekking gekom word: Die kinders maak op hierdie stadium vier tipes vorm-betekenis-passings, alhoewel nie al die passings ewe talryk figureer nie. Die verskillende passings is: simplekse passing, metaforiese passing en metonimiese passing. Verder kan die metonimiese passings ook nog verder gedifferensieer word. Hierdie passings verskaf ook meer inligting oor hoe die kinders konseptualiseer en kategoriseer. Deur middel van 'n verdere ondersoek met ouer kinders en 'n groter ondersoeksgroep, is dit moontlik dat hierdie tipes vorm- betekenis-passings nog verder uitgebrei en genuanseer kan word.

113