• No results found

HOOFSTUK 5: SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKING

5.3 Afleidings vanuit die data

Die doel van die data-analise was om afleidings te maak oor die wyse waarop jong Afrikaanse kinders tussen die ouderdom van agt en 24 maande hul eerste vorm-betekenis-passings maak. Deur middel van die data-analise kon hierdie doel wel bereik word.

Die kodering van die data het in drie fases verloop en die sagteware ATLAS.ti is hiervoor aangewend. Die eerste fase (4.2.1) het behels dat oorhoofse kategorieë, oftewel kodefamilies, geskep is om die data te organiseer. Hierdie kodefamilies is: <onbruikbaar/onseker>,

Hoofstuk 5 Samevatting en gevolgtrekking

117

<nabootsing>, <simplekse passing> en <komplekse passing>. Die leksikale items wat as <simplekse passing> of <komplekse passing> gekodeer is, is verder in die data-analise bespreek, aangesien dit handel oor 'n tipe vorm-betekenis-passing wat die kind maak.

'n Simplekse passing is 'n eenvoudige vorm-betekenis-passing waar die konseptualiseringsproses meer volgens of nader aan konvensie is, alhoewel die passing tussen die leksikale item en die volledige holofrastiese gebruik (wat die funksie betref) moontlik verdere interpretasie verg. 'n Komplekse passing is wanneer die passing tussen vorm en betekenis nie so eenvoudig is nie en die konseptualisering vind op 'n interessante wyse plaas. 'n Direkte passing tussen vorm en betekenis is derhalwe nie afleibaar nie.

Tydens die tweede fase (4.2.2) van kodering is daar gefokus op die leksikale items wat as <komplekse passing> geïdentifiseer is, aangesien hierdie tipe passing verdere interpretasie vereis. Hierdie leksikale items is toe verder verdeel in die kodes <metaforiese passing> en <metonimiese passing>.

'n Metaforiese passing word gemaak wanneer een ervaringsdomein gedeeltelik op 'n ander ervaringsdomein gepas word – die tweede ervaringsdomein word dan gedeeltelik verstaan in terme van die eerste een en die leksikale item van die eerste ervaringsdomein word gebruik om albei domeine in te sluit. 'n Metonimiese passing is wanneer die leksikale item van een konsep (waarskynlik die mees prototipiese konsep vir die kind) binne 'n spesifieke konseptuele domein gebruik word om een of meerdere konsep(te) in dieselfde konseptuele domein te benoem. Verder is die leksikale items wat voorbeelde is van metonimiese passings tydens die derde fase van kodering (4.2.3) nog verder geklassifiseer as DEEL VIR GEHEEL, GEHEEL VIR DEEL of DEEL VIR DEEL en hierdie klassifikasies is ook nog volgens nuanses verder gedifferensieer. Met 'n DEEL VIR GEHEEL-passing word die leksikale item van die subordinaat gebruik om die superordinaat te benoem. 'n GEHEEL VIR DEEL-passing verwys na die gebruik van die superordinaat om die subordinate te benoem. 'n DEEL VIR DEEL-passing is wanneer die leksikale item van een hiponiem gebruik word om ander hiponieme met 'n gedeelde superordinaat, te benoem.

Simplekse passings is in 4.3 bespreek in terme van die holofrastiese struktuur wat kinders se eerste leksikale items vertoon. Die verskillende funksies van holofrases wat deur Tomasello (2003:37) onderskei word, is gebruik in die analise van die simplekse passings. Aangesien die

Hoofstuk 5 Samevatting en gevolgtrekking

118

konseptualiseringsproses in hierdie gevalle wel gekonvensionaliseerd is, is hierdie tipes passings nie verder in terme van konseptualiseringsprosesse geanaliseer nie.

Komplekse passings vertoon ook 'n holofrastiese struktuur, maar in 4.4 is daar eerder gefokus op die konseptualiseringsproses van hierdie tipes passings. Daar is slegs twee moontlike voorbeelde van metaforiese passings geïdentifiseer en hieruit kan afgelei word dat metaforiek nog nie 'n produktiewe kategoriseringsmeganisme vir kinders van so 'n jong ouderdom wat net begin om taal aan te leer, is nie. Daar is egter 'n hele aantal voorbeelde (135) van moontlike metonimiese passings geïdentifiseer wat 'n aanduiding kan wees dat die jong kinders wel op hierdie stadium op grond van deel-geheel-verhoudings sekere konsepte met mekaar in verband bring. Die kinders wend dan die klein linguistiese sisteem wat hul tot hul beskikking het aan om na 'n verskeidenheid konsepte te verwys.

Begrippe van die prototipemodel as voorstelling van kategoriestruktuur is deurgaans in die besprekings van die tipes passings aangewend om te verduidelik hoe die kinders se kategorisering moontlik werk. Verder is daar waar toepaslik verwys na beeldskemas wat in die kinders se taalgebruik figureer, en die idee van konseptuele versmelting is ook onderliggend aan die verstaan van hoe die kinders konseptualiseer en kategoriseer.

Die tipes passings wat geïdentifiseer is en die beskrywing van die konseptualisering- en kategoriseringsproses wat daarmee gepaardgaan, verskaf inligting oor die wyse waarop die kinders op hierdie stadium hul eerste vorm-betekenis-passings maak. Daar kan afgelei word dat die kinders die kategoriseringsvermoë het om sekere konsepte met mekaar op grond van sekere assosiasies of verhoudings in verband te bring.

Die meerderheid van die leksikale items word as simplekse passings beskou, wat beteken dat die kinders tog die vermoë het om konsepte vanuit die staanspoor volgens konvensie uit te druk, alhoewel die simplekse passings ook aangewend word om 'n verskeidenheid funksies te vervul. Daar is egter ook 'n aantal passings waar die konseptualisering meer kompleks is en die kinders se kategorieë nog ongedifferensieerd is. Derhalwe kan met die volgende stelling van Nerlich et al. (1999:366) (soos ook weergegee in 4.4.2.4), afgesluit word: "[T]he children's semantic system as well as their systems of concepts and categories, although not altogether different from adult ones, are as yet incomplete and unstructured and will have to be adjusted and modified in the years to come."

Hoofstuk 5 Samevatting en gevolgtrekking

119