• No results found

HOOFSTUK 3: METODE VAN ONDERSOEK

3.3 Data-insameling en kontrole

Aan die begin van die ondersoektydperk is daar per e-pos vir elke respondent drie elektroniese dokumente, naamlik (1) 'n Microsoft Word-templaat vir die dagboekinskrywings (Bylaag A), (2) 'n inligtingsdokument (Bylaag B), en (3) 'n videosnit met verdere toeligting, vir die respondente gestuur19. Die inligtingsblad het al die nodige inligting bevat rakende die studie. Die video het gedien as 'n verdere verduideliking van presies wat van die ouer as respondent verwag word wanneer hul die dagboekinskrywings voltooi. Daar is per e-pos gekorrespondeer met alle respondente wat ná hierdie aanvanklike kommunikasierondte nog onseker was oor enige aspekte van die data-insameling.

19

Hoofstuk 3 Metode van ondersoek

78

Die dagboekinskrywingsformaat bestaan uit 'n voorblad waarop inligting van die studie verskaf is en waarop respondente 'n dokument moes teken waarin hulle toestemming gegee het dat die data van hul kinders se taalgebruik in die studie geanaliseer mag word. Die daaropvolgende bladsye bestaan uit 'n tabel met ses kolomme wat gebruik is om die datainsameling te struktureer. In die eerste kolom word daar gevra wat die woorde en woordkombinasies20 is wat die kind gebruik het. In die tweede kolom moes die respondent drie voorbeelde noem van kontekste waarin die spesifieke leksikale item gebruik is. Die drie kontekste verskaf die belangrikste inligting vir die interpretasie van die leksikale item en is die sentrale stuk data vir die analise van die semantiese pool van die leksikale item. Die drie kontekste is ook die eerste betroubaarheidsmeganisme (reliability measure – vergelyk Rasinger, 2010:55) wat in die formaat ingebou is. Op hierdie manier kon verskeie perspektiewe op die data bekom word en seker gemaak word dat die woorde wat neergeskryf word, werklike leksikale items is wat patroonmatig deur die kinders gebruik word21.

In die derde kolom moes respondente aandui wat hul dink die moontlike betekenis is wat die kind aan 'n leksikale item heg. In die vierde kolom moes hulle dan aandui wat hul graad van sekerheid is rakende hierdie moontlike betekenis. Dit is aangedui deur 'n skaal van 1 tot 5, waar 1 heeltemal onseker en 5 heeltemal seker is. Hierdie aanduiding is die tweede betroubaarheidsmeganisme wat in die formaat ingebou is. Waar 'n respondent aangedui het dat sy onseker is oor die betekenis van die leksikale item, is dit in oorweging gebring tydens die analise van die data deurdat daar toe uit die konteks bepaal is of die leksikale item bruikbaar is of nie.

In die vyfde kolom moes die respondent die ouderdom waarop die kind vir die eerste keer die leksikale item gebruik het, aandui. In die sesde kolom moes die respondent aandui of daar 'n ouderdom was waarop die kind opgehou het om die leksikale item te gebruik en of dit toe met 'n ander leksikale item vervang is. Die doel van hierdie inligting was om vas te stel of daar sekere ontwikkeling in die kind se gebruik van 'n leksikale item plaasgevind het.

20

In hierdie geval word "woorde en woordkombinasies" gebruik in die plek van "leksikale items", aangesien dit vir die ouers meer verstaanbare terme is.

21

Leksikale items waarvan daar nie drie volledige kontekste verskaf word nie, word op meriete beoordeel voordat daar besluit word of dit in die datastel ingesluit word of nie.

Hoofstuk 3 Metode van ondersoek

79

Na een maand van datadokumentering het die respondente hul eerste weergawe van die dagboekinskrywings aangestuur sodat daar gekontroleer kon word of hulle op die regte spoor is. Vir sommige respondente is aanbevelings gemaak oor hoe hul die dagboekinskrywings kon verbeter of aanpas om die gepastheid van die data vir die ondersoeksdoel te verseker.

In die laaste maand van die ondersoektydperk is 'n vraelys22 aan die respondente gestuur wat sekere kontekstuele inligting versoek het. Die vraelys is nie as datastel hanteer nie, maar eerder gebruik as maatstaf vir drie doelwitte: (1) Om moontlike onduidelikhede wat daar kon ontstaan oor die kontekste waarin sekere leksikale items gebruik word, uit die weg te ruim; (2) Om die respondent te begelei om ander moontlike leksikale items te onthou wat nie aanvanklik by die dagboekinskrywings ingesluit was nie; en (3) Om die datastel, naamlik die dagboekinskrywings, so volledig as moontlik toe te lig.

Die vraelys bevat 'n voorblad waarop inligting rakende die studie weereens aangedui is. Verder moes respondente ook hierop toestemming gee vir die gebruik van die inligting wat op die vraelys ingevul is. Die vraelys is in afdelings ingedeel waarin sekere kontekstuele inligting versoek word23. Hierdie afdelings is: (1) Kind se taalgebruik en ouer se verstaan daarvan; (2)

Lede van die gesin en verhouding tot die kind; (3) Persone wat die kind gereeld sien wat 'n moontlike invloed op hul woordeskat het, en hul verhouding tot kind; (4) Permanente oppasser; (5) Troeteldiersoorte in die huishouding en hul name; (6) Speelgroep/Dagsorg; en (7) Aktiwiteite, speelgoed, kos en diere (spesifiek waarvoor die kind baie lief is).

Die respondente is in die inligtingstuk uitgenooi om videogrepe van hul kinders se taalgebruik te verskaf as verdere kontekstuele kontrolemaatstaf, alhoewel dit nie as verpligtend gespesifiseer is nie. Slegs vyf respondente het egter kort videogrepe verskaf, wat minder was as die aanvanklike verwagting. Hierdie video's was eindelik te min om sinvol gebruik te kon word en is derhalwe nie verder geanaliseer nie. Op sekere plekke waar die dagboekinskrywings verkeerd of onvolledig ingevul is (vergelyk 4.2.1), is die data ook nie by die analise betrek nie.

22

Vergelyk 1.6.3.

Hoofstuk 3 Metode van ondersoek

80